.

Die Evangelie van Thomas: Vir meditasie en oorpeinsing

Deur Dr. Piet Muller op 1 April 2021

.

Inleiding en oorsig

Toe twee Egiptiese kleinboere in 1945 in die berg naby die dorp Nag Hammadi 'n reuse kleipot met dertien kodekse (die eerste gebonde boeke) ontdek het, was dit stellig die belangrikste Christelike argeologiese ontdekking in duisend jaar. Dit het ons begrip van die ontstaansjare van die Christendom volkome op sy kop gekeer.

Die fonds is gemaak naby die ruïne van die klooster van St. Pachomius, een van die Christendom se heel vroegste kloosters. Die boeke is waarskynlik deur monnike versteek, toe 'n bevel deur Athanasius, biskop van Alexandrië, uitge­vaardig is dat alle "ketterse" geskrifte vernietig moet word. "Ketters" was alles wat geskryf was deur Christene wat nie deelgeneem het aan keiser Konstantyn se "Sinode" van Nicea (332), waar die sinodegangers, onder druk van die keiser, ooreengekom het op één leerstelling en één belydenis vir die jong kerk.

Die Romeinse Ryk was reeds vir soveel geslagte gewikkel in burgeroorloë, dat die ver-siende jong keiser eenheid probeer bereik het op die beginsel van één God, één Keiser, één Ryk. In ruil vir hul samewerking het die kerkleiers wat aan die byeenkoms deelgeneem het die reg verkry om purper te dra, soos adellikes, en ringe wat deur hul ondergeskiktes gesoen moes word uit eerbied vir hul amp.

Maar ook die Christendom moes toegewings maak: Die Joodse sabbat is byvoorbeeld vervang met Sondag, omdat Sonaanbidding een van die gewildste godsdienste onder Romeinse soldate was. Jesus het ook later die titel Sol Invictus, Son Onoorwinlik, ontvang; maar die Christendom het ook hul visteken opgegee, wat 'n anagram was vir Jesus Christus seun van God, vir die kruis as simbool. Nie die kruis van Romeinse teregstellings nie, want die het soos 'n hoofletter T gelyk, maar die kruis van die sonkultus, wat lyk soos die skaduwee wat gevorm word as 'n sonaanbidder met uitgestrekte arms na die opkomende son kyk.

Die Roomse Christendom se ontstaansmite, soos verwoord deur die kerkhistorikus Eusebius, het egter gelui dat die ortodoksie (letterlik regdenkendheid) ontwikkel het uit die leer van Jesus en van sy vroegste volgelinge, en dat dit altyd die meerderheidstandpunt binne die kerk was. Alle ander variante van die Christendom is gevolglik "ketters" – korrupte latere afwykings van die ware leer en was altyd ook intellektueel minderwaardig. So deeglik is die geskrifte van "ketters" deur sowel die kerk as die staat onderdruk, dat al wat ons tot onlangs van hulle geweet het, aanhalings was wat deur hul teenstanders opgeteken is as getuienis teen hulle. Maar hieraan het die Nag-Hammadi-fonds 'n einde gemaak. Vir die eerste keer kan ons die gedagtegang van sogenaamde ketters in hul eie woorde volg. Die onmiddellike gevolg was die besef dat die vroeë Christendom uit 'n veel groter verskeidenheid van opvattings bestaan het as wat ons ooit vermoed het. Buitendien het die gedagtes van "ketters" intellektueel niks agtergestaan by die van die "ortodokses" nie. 'n Mens dink aan geskrifte soos Gesprek met die Verlosser, Die Onderwysing van Sylvanus, Valentinus se Evangelie van Waarheid, en aan veral die "kroonjuweel" van die Nag Hammadi-fonds: Die Evangelie van Thomas.

Na die ontdekking by Nag Hammadi begin die besef deurdring dat daar naas die Hellenistiese (Grieks-Romeinse) Christendom ook 'n onafhanklike Judese kerk bestaan het met sy eie evangelies, soos die Evangelie van die Hebreërs, die Evangelie van die Nazoraëers en die Evangelie van die Ebioniete, wat spreuke uit die oorspronklike Judese bron van Thomas vermeng met spore van Markus, Mattheus en Lukas (Quispel, Het Evangelie van Thomas). Die Ebioniete – letterlik "die armes (van gees") was die oorspronklike Judese Christene, wat die maagdelike geboorte verwerp het en Jesus as die ware profeet beskou het.

Talryke woorde van Jesus is ook opgeteken deur Arabiese Moslem-skrywers. "Dit is waarskynlik dat die Sabiërs (Dopers), wat herhaaldelik in die Koran genoem word as Mense van die Boek, en godsdiensvryheid geniet het, doopgesinde Joodse Christene was." (Sien Quispel, op cit, pag 34.)

Die Bybelse evangelies

Die enigste evangelies wat uiteindelik in die Nuwe testament opgeneem is, was geskrifte uit die sendingveld van Paulus. Niks wat deur die oorspronklike Christene van Jerusalem en groter Palestina geskryf is, is ooit gekanoniseer nie. Een van die talle redes het te doen met internasionale politiek: In die jaar 67 het die Selote, fanatieke Judeërs wat die Romeine die see wou injaag om 'n teokrasie te vestig, Jerusalem beset en 'n vernietigende oorlog teen die Romeinse Ryk begin. Hierdie stryd het teen almal se verwagting in, drie jaar lank geduur, voordat die Romeine die stad kon binnedring. Die oorlog het 'n enorme hoeveelheid geld gekos om te voer, maar nog belangriker, dit het die Romeine groot verlies aan aansien besorg. Hul uiteindelike wraak was onverbiddelik: Die Tempel is afgebrand en met die grond gelyk gemaak en die Jode is uit die stad verdryf en verbied om terug te kom. Die heilige tempelvoorwerpe is later in 'n triomftog deur die strate van Rome gedra en die Judeërs, wat eens 'n geëerde volk was, het nou veragte Jode geword, wat in ballingskap was waar hulle ook al gaan woon het.

Duidelike tekens van die veranderende houding teenoor "die Jode", sien 'n mens al in die heel eerste evangelie, die van Markus, wat in dieselfde jaar geskryf is as wat Jerusalem tot 'n val gekom het. Jesus se kruisiging word nie deur Markus beskryf as 'n politieke Romeinse teregstelling nie, maar die gevolg van Joodse verraad en agterbaksheid.

Mattheus en Lukas, wat kort hierna gevolg het, en selfs die latere Evangelie van Johannes, dra hierdie mite verder: Dat die Seun van God deur die Jode vermoor is. Pontius Pilatus, wat later teruggeroep is Rome toe, omdat sy optrede selfs vir die Romeine dikwels buite perke was, word voorgestel as die onskuldige, en niksvermoedende slagoffer van "die Jode" se geknoei om Jesus om die lewe te bring. Hierdie Christelike meesterverhaal het uiteindelik tot Hitler se massale volksmoord op die Jode gelei.

Die Evangelie van Thomas

In talle opsigte is die Evangelie van Thomas die teenpool van die vier Bybelse evangelies. Die kern daarvan het waarskynlik reeds teen die jaar 40 in Jerusalem gesirkuleer (Quispel, op cit) en dit maak nêrens melding van 'n maagdelike geboorte, 'n liggaamlike opstanding of 'n hemelvaart nie. Trouens Jesus maak nêrens daarop aanspraak dat hy die eniggebore seun van God is nie, maar druk dit herhaaldemale op sy volgelinge se hart dat as hulle hulself leer ken het, hulle sal besef dat hulle self die kinders van God is.

Quispel (op cit) vat die leer van Jesus netjies saam in die volgende woorde: "Die Christen wat geproe het van die innerlike water wat Jesus in hom oopgeboor het, is nie 'n kneg of 'n dienaar van Jesus nie; hy het 'n vriend en gelyke geword van Jesus. Dit is die teologie van die Evangelie van Thomas."

Aanvanklik is daar baie geredekawel oor die ouderdom van die Thomas-evangelie. Sommige het dit selfs so laat as die eerste kwart van die tweede eeu geskat. 'n Deeglike vergelyking tussen Thomas en die Q-teks het egter meer duidelikheid gebring. Ons weet dat Mattheus en Lukas, benewens Markus, ook gebruik gemaak het van 'n ander teks, waarvan hulle die spreuke vryelik gebruik maar dit telkens op ander plekke plaas in hul onderskeie evangelies. Deur hierdie verse uit Mattheus en Lukas te lig en naasmekaar te plaas, kon die bronteks (Duits Quelle, vandaar die afkorting Q-teks) gerekonstrueer word. Talle van Q se spreuke kom ook in Thomas voor, maar in 'n "ouer" en meer Semitiese vorm. Quispel reken dus dat die skrywer van Q 'n teks van die eerste laag van Thomas byderhand gehad het, maar van die Semitiese spreuke goeie Grieks gemaak het.

Tot dusver is slegs fragmente van 'n Griekse Thomas-teks gevind (op 'n ashoop van die antieke stad Oxhyrrinchus in Egipte) en natuurlik 'n volledige vertaling in Kopties. Maar sekere aspekte wat die vertalers misverstaan het (soos die saaier se saad wat langs die pad val, pleks van op die pad), sowel as sekere Semitiese stylfigure wat behoue gebly het, verraai dat die vertalings onderlê word deur 'n Aramese teks (Quispel, op cit). Aramees was natuurlik die taal wat Jesus gepraat het en ook die taal van die Joods-Christelike kerke wat eens op die oosgrens van die Romeinse Ryk gedy het, en ontwikkel het in die Oos- en die Wes-Aramese kerke, sowel as die Assiriese Kerk van Babilon, wat so onlangs nog as 1996 amptelik van Babilon na San Francisco in Amerika verhuis het, as gevolg van die diktator Saddam Hussein se vervolging.

Geen evangelieteks is ooit regtig as "finaal" en afgerond beskou nie. Daar is dikwels aan tekste gepeuter, soos wat 'n mens kan sien uit die vele bestaande tekste van die vier Bybelse evangelies (Slavenburg, Walburg Pers, Nl.)

Daarom kon die Enkratiete, van Alexandrië, wat teen die huwelik en geslagtelikheid gekant was, ook in 'n stadium verse in die Thomas-teks invoeg.

John Dominic Crossan bestempel hierdie evangelie (in 'n private tafelgesprek, tydens sy besoek aan Pretoria) dan ook as "sarkofagies" (liggaam-vernietigend), terwyl Gilles Quispel dit asketies noem, weens die verbintenis met die Enkratiete (Quispel, op cit). Wat beide myns insiens miskyk is dat al haal 'n mens alle aantoonbaar Enkratiese spreuke uit die versameling, die kern van die Thomas-evangelie steeds ongeskonde behoue bly. Thomas is in die eerste plek 'n wysheidsteks wat berus op 'n deurdagte sielkunde wat 'n mens gerus met Carl G. Jung se Analitiese Sielkunde kan vergelyk. Die merkwaardige ooreenkomste tussen Thomas en Jung kan moontlik verklaar word deur te onthou dat Jung self diep gedrink het uit die bronne van Noord-Afrika uit die eeue net voor en net na Jesus. 'n Mens dink hier aan Jung se belangstelling in die Egiptiese Hermetiese skool, die Alchemie en selfs in die werk van Philo van Alexandrië en die Afrikaanse kerkvaders.

Die Jesus Seminar huiwer nie om die Thomas Evangelie as "die vyfde evangelie" te bestempel nie (The Five Gospels, R.W. Funk et al, Harper San Francisco) en beskou dit as 'n onafhanklike tradisie wat minstens net so oud is as Q.

Die Jesus wat in Thomas aan die woord is, is nie 'n intelligente maar onopgeleide mens, wat op 'n dag sy ambag vaarwel sê om 'n lekeprediker te word nie. Hy verkondig 'n sistematiese "leerplan" vir selfontwikkeling en "heiligmaking", wat eweneens 'n sistematiese opleiding veronderstel. Cynthia Bourgeault (The Wisdom Way of Knowing, John Wiley & Sons) noem Jesus 'n moshal mashalem (meester van die gelykenis) en 'n verteenwoordiger van die "noordelike skool", wat voorheen in die antieke staat Israel geblom het. Galilea, wat spesifiek met Jesus verbind word, was voorheen deel van die staat Israel. William Schniedewind (Ancient Schools in Israel, Cambridge University Press) sê dat daar tot dusver geen direkte getuienis vir die bestaan van skole in Israel gevind is nie – nóg literêr nóg argeologies – maar dat daar heelwat indirekte getuienis bestaan. So getuig die Bybelse geskrifte en die talle argeologiese inskripsies van "'n robuuste skryfkultuur" wat nie sonder deeglike opleiding moontlik was nie. Dit lyk waarskynlik dat wysheidsliteratuur die grondslag was van die Israelitiese opvoedingstelsel, net soos wat dit in Mesopotamië en Egipte die geval was. Nadat Israel in ballingskap weggevoer is, het die tempel van Jerusalem, in die staat Juda, egter die kultiese sentrum van die Judese godsdiens geword, en ons het prakties geen feite oor óf die wysheids­tradisie hierdie verskuiwing oorleef het en op watter wyse dit moontlik oorgedra en voortgesit is.

Al wat ons met sekerheid weet is dat Jesus in die Thomas-evangelie 'n "wysheidsleer" verkondig wat veel meer intellektuele diepgang het as enige van die wysheidsgeskrifte wat in die Ou-Testament opgeneem is. Daar is egter fassinerende inligting, wat nie gewoonlik verreken word as daar oor Jesus se jeugjare gepraat word nie. Soos dat Johannes die Doper, Jesus se nabye familielid, die seun van 'n priester was en dus die een of ander vorm van opleiding sou gekry het. Reken hiermee saam die Rosekruiser-tradisie dat Maria in haar pre-puberteit in die tempel diens gedoen het en dus een van die bevoorregte vroue was wat ook 'n rudimentêre opleiding sou gekry het; en met die aanbreek van haar puberteit aan 'n geskikte man uitgehuwelik sou gewees het (sien J. Spencer Lewis).

Nog interessanter word dit wanneer 'n mens Jesus met sy broer en opvolger, Jakobus die Regverdige, vergelyk (oor wie later meer), wat volgens kerklike tradisie eenmaal die taak van 'n "alternatiewe hoëpriester" in die allerheiligdom van die tempel verrig het.

Geheime woorde

Die openingsparagraaf van die Thomas-evangelie verraai egter dat die redakteur(s) van hierdie versameling hulle vereenselwig met die wysheidsgeskrifte van die Ou Testament (Quispel, op cit, kommentaar by spreuk 1).

"Dit is die geheime woorde wat die lewende Jesus gespreek en deur Didymos Judas Thomas opgeteken is. En (Jesus) sê: Wie die betekenis van hierdie woorde vind, sal die dood nie smaak nie." Die aanhef begin dramaties met "geheime woorde" en net daarna volg 'n "raaisel": Hoekom noem die optekenaar van hierdie spreuke homself Didymos Judas Thomas, wat letterlik beteken die tweeling Judas die tweeling? "Geheime woorde" is gewoon woorde wat nie hul betekenis maklik openbaar nie, daarvoor moet 'n mens diep dink en diep in jouself delf, soos wat dit vandag nog die praktyk is met Zen-koans.

Daar is wel 'n leidraad tot die betekenis van die "raaisel" van die tweeling gevind in nog een van die vroeë Christelike boeke wat in 1945 in 'n kleipot by Nag Hammadi in Egipte gevind is. Die Boek van Thomas die Atleet (=askeet) bevat, volgens sy skrywer, ook "geheime woorde van Jesus." In dié boek sê Jesus aan Thomas: "Terwyl daar gesê word dat jy my tweeling en ware metgesel is, moet jy jouself ondersoek ... want dit is nie goed dat jy onkundig is oor jouself nie ... want iemand wat homself nie ken nie, ken niks nie, terwyl iemand wat homself leer ken het, kennis oor die diepte van die Al bekom het."

As ons onsself stap vir stap laat lei deur Jesus se "geheime woorde" sal ons nie net vind dat ons deur selfkennis sy geestelike tweeling en metgesel kan word nie, maar dat dit inderdaad moontlik is "om ons eie tweeling" te word.

Elkeen van ons bestaan uit 'n "aangeleerde" self of ego, maar ons ware Self skuil in die dieptes van ons onbewuste lewe en is die Imago Dei, of beeld van God, soos die sielkundige Carl Jung dit genoem het. Dit is ons plig om aan hierdie "Beeld van God" uitdrukking in ons lewe te gee.

Hierdie deel van ons Self is deur die Grieks-Romeinse Christene die Innerlike Christus genoem. Soos die skrywer van die Brief aan die Kolossense dit stel (Kol. 1:26-27 ): "Dit is die misterie wat deur die eeue verborge was ... maar nou geopenbaar is aan sy heiliges ... Die geheim is dit: Christus woon in julle." Die Duitse mistikus van die sewentiende eeu, Angelus Silesius, gaan nog verder: "Word Christus duisend maal in Bethlehem gebore, maar nie in jou, helaas, dan is jy steeds verlore."

Die "lewende Jesus" is natuurlik Jesus die Leermeester wie se woorde binne onsself lewend geword het, sodat ons met vertroue word – soos wat iemand wat die Boeddha se dharma sy eie gemaak het daarna kan streef om self ook 'n Boeddha te word.

Die Grieks-Romeinse Christene se klem op die Innerlike Christus teenoor die Judese Christene se "Lewende Jesus", is van die vroegste dokumentêre getuienis van wat uiteindelik 'n fatale splitsing sou word tussen 'n Hellenistiese Christendom en die oorspronklike Judese kerk.

Geskiedenis van die kerk

Met hierdie inligting word dit moontlik om die buitelyne te trek van 'n meer omvattende geskiedenis van die Christendom, as wat ons tot nou toe gehad het: Wat later bekend sou staan as die Rooms Katolieke Kerk (en waaruit die Grieks Ortodokse Kerk later sou afsplyt) is gestig deur Hellenistiese (Griekssprekende) Christene uit Jerusalem, wat klaarblyklik na 'n traumatiese gebeurtenis omstreeks die jare 36–37, na Antiochië verhuis. Hoewel Lukas se Handelinge van die Apostels nie 'n besonder betroubare historiese bron is nie, vind 'n mens die eerste spore van hierdie Christene reeds daarin. Ons lees van die klaarblyklik welgestelde Maria, in wie se huis Jesus se volgelinge na sy dood bymekaar gekom het. Sy was ook die moeder van Johannes Markus, die latere evangelieskrywer Markus.

Ons lees ook van die Griekssprekende Christene wat kla dat daar slegter na hul weduwees omgesien word as na Judese weduwees. Dit lei tot 'n reorganisasie van die eerste gemeente. Dit wil voorkom of Handelinge se eerste elf hoofstukke sterk geredigeer is en dit maak selfs nie eens melding van Jakobus (die Regverdige, soms ook genoem Justus) die broer van Jesus, wat na sy dood die onbetwiste leier van die die gemeente in Jerusalem geword het.

Sy naam kom eers in hoofstuk twaalf ter sprake, wanneer Petrus, wat uit die tronk ontsnap en 'n boodskap stuur aan "Jakobus en die ander broers." Dan word daar klaarblyklik aanvaar dat die leser sal weet van wie gepraat word. Uit Paulus se brief aan die Galasiërs, weet ons egter dat Jakobus die leier was van die gemeente, en van die jong kerk in die algemeen, en dat Petrus as sy gesant en boodskapdraer tussen Jerusalem en Antiochië opgetree het. Paulus is ook taamlik bitsig oor die "pilare van die gemeente" (Jakobus, Johannes en Simion bar Cleophas).

Wanneer Handelinge begin het Jesus pas gesterf, maar die dissipels kies nie 'n nuwe leier vir die gemeente nie, maar iemand in die plek van Judas wat selfmoord gepleeg het, sodat daar weer twaalf dissipels kan wees! Hoekom dit nodig was word nie gesê nie.

Lukas vertel ook dat die ontevredenheid oor die versorging van Griekssprekende weduwees lei tot 'n drastiese struktuurverandering deur die skynbaar leierlose gemeente, wat nou die nuwe amp van diaken instel.

Op watter tydstip Handelinge geredigeer is om iemand so belangrik as Jakobus die Regverdige uit te skryf – indien dit nie al in die oorspronklike skryfproses gebeur het nie – weet ons nie, maar iemand wat die "broer van Jesus" genoem word moes 'n yslike verleentheid gewees het vir die ontluikende Hellenistiese Christendom, wie se ontwikkelende teologie eers van Maria 'n maagd gemaak het en daarna ook sommer 'n "immermaagd". Sy "mag" dus nie ander kinders ook hê nie!

Die skrywer(s) van Handelinge vertel ook dat Christene daagliks tempel toe gegaan het om te bid. Dit moes tot baie spanning binne die gemeente gelei het, want die Joodse (en dus besnyde) Christene sou toegang hê tot dele van die tempelkompleks waar onbesnede bekeerlinge nie toegelaat sou gewees het nie het. Dink maar daaraan dat Romeinse soldate sowat twee dekades later moes ingryp om Paulus van 'n moontlike steniging te red, omdat die volk gemeen het hy het 'n Griekse bekeerling by hom.

Op hierdie tydstip berig Handelinge oor iemand wie se naam nog nooit voorheen genoem is nie, Stéphanos, wat oor 'n "tempelkwessie" gestenig word. Lukas se beskrywing van Stéphanos (wie se Griekse naam veelseggend 'kroon' beteken en 'n mens laat dink aan Jakobus se "kroon" van onge­skeerde hare) kom egter merkwaardig en plek-plek selfs woordeliks ooreen met die moord, in die jaar 62, van Jakobus, soos beskryf deur Josephus sowel as verskeie vroeë Christelike geskiedskrywers (Sien Eisenman, R, James the Brother of Jesus, Watkins, Londen). Dit kan dus wees dat die skrywers van Handelinge twee gebeurde as een saamvat: Die eerste keer toe Jakobus deur 'n woedende teologiese student (volgens die Pseudo-Celementynse Recognitiones 'n student met die naam Saul) van die tempeltrap afgestamp is en hy sy enkel gebreek en vir die res van sy lewe kreupel geloop het; en die tweede keer toe hy van die trappe afgestamp is en op sy knieë beland het en daarna om die lewe gebring is, terwyl hy vir sy aanvallers bid.

Wat ook al in die jare 36-37 gebeur het, het klaarblyklik soveel vrees by die Griekssprekende bekeerlinge ingeboesem, dat waarskynlik die meerderheid van hulle besluit het om na Antiochië te verhuis, waar hulle 'n gemeente gestig het, vanwaar die jong geloof na die res van die Romeinse Ryk uitgedra is, met Paulus as hul belangrikste sendeling. Hulle was gedrenk in die Grieks-Romeinse gedagtegoed en dit was vir hulle heel natuurlik om Jesus se lewe en sterwe in te pas in die verhale en mites van hul eie kultuur.

Die universele godsdiens rondom die Middellandse See was die van die god-mens wat tydens sy lewe nie herken word vir wie hy is nie, om die lewe gebring word en dan weer opstaan om die kosmiese orde te herstel. Hierdie god-mens, wat gewoonlik uit 'n maagd gebore is, is onder verskillende name op verskillende plekke vereer: Horus, Baal, Bacchus, Attis, Mithras en Dionysos.

Laasgenoemde is selfs gekruisig en het weer opgestaan, en "neergedaal na die hel," om sy moeder uit die doderyk (hades) te bevry. In sy tempels het ook jaarliks die "wonderwerk" plaasgevind van water wat in wyn verander (Freke en Gandy, The Jesus Mysteries).

Dit was vir Grieks-Romeinse Christene bloot natuurlik om Jesus se lewe en dood ook in hierdie terme te beskou, met díe verskil, dat dit alles "regtig" met Jesus gebeur het, terwyl die Mediterreense godsdiens berus op "mites".

Op hierdie tydstip was daar nog 'n groot belangstelling in die Judese godsdiens, deels weens die oudheid daarvan en deels weens 'n belangstelling in hul streng monoteïsme. Daar was gevolglik heelwat mense wat probeer het om die Judese godsdiens ook aan Grieke en Romeine te verduidelik, veral hoe dit inpas by die Griekse filosofie, wat op daardie tydstip as die hoogtepunt van kennis beskou is.

Een van hierdie skrywers was die Joodse filosoof, Philo van Alexandrië. Hy het onder meer die moeilike Griekse begrip van die "logos" in Bybelse terme probeer verduidelik. "Logos" beteken enersyds "woord", maar tegelyk ook die skeppende beginsel van God. Philo het dit die Christus (gesalfde van God) genoem. In sommige groepe het dit spoedig ook die betekenis verkry van die bemiddelaar tussen God en die mens, en selfs as die eersgeborene van God. Die maatskaplike klimaat was dus gunstig vir sendingwerk deur die jong gemeente van Antiogië – waar Jesusvolgelinge vir die eerste keer Christene genoem is.

Jakobus en Johannes

Hoewel Jakobus die Regverdige na Jesus se dood as die belangrikste figuur in die jong beweging beskou is (hoe belangrik sou ons eers werklik besef na die ontdekking by Nag Hammadi) kom sy naam nooit voor in die lys van Jesus se twaalf dissipels, soos aangegee deur die vier evangeliste nie. Ons lees wel van Johannes en Jakobus die seuns van Sebedeus. Johannes word as so belangrik beskou dat baie Christene vandag nog reken dat hy die vierde evangelie en/of Openbaringe geskryf het. Die historiese waarheid is egter dat sowel Johannes as Jakobus in die jaar 43 deur Herodus Antipas onthoof is (Quispel, op cit.) 'n Mens moet aanvaar dat dit 'n verdere trauma vir die Jerusalemse Christene was, en dat waarskynlik nog meer Griekssprekendes daarna na Antiogië verhuis het.

Nog twee dekades later, in die jaar 64, tref 'n ramp van so 'n aard die gemeente, dat hulle as groep uit Jerusalem na Pella in Transjordanië vlug: Jakobus die broer van Jesus word, op aanstigting van die hoëpriester Ananus van die tempeltrappe afgestamp, en toe hy hom nie doodval nie, deur 'n klerewasser met sy knuppel doodgeslaan. Ons beskik oor veel meer historiese getuienis oor Jakobus as oor sy beroemde broer Jesus. Nie alleen skryf Josephus oor hom in die Joodse Oudheid nie, maar noem selfs dat die verhaal onder die volk in omloop was dat die tempel verwoes is weens God se ontevredenheid met die moord op Jakobus.

Nie net die Christelike geskiedskrywers Heggesipus, Eusebius en en Epiphanius skryf oor Jakobus nie, maar ook Orígenes en Clement van Alexandrië. Hulle vertel dat hy nie net 'n Nasireër was wat nie wyn of vleis het nie, ook nie sy hare geskeer het nie, en boonop 'n lewenslange maagd was; ook dat sy knieë so hard was soos die van 'n kameel van al die lang ure per dag wat hy in gebed deurgebring het. Op 'n keer het hy op die Groot Versoendag (Joom Kippur) die allerheilige van die tempel binnegegaan om vir die volk se oortredinge te bid (Eisenman, op cit.) – 'n bewering, wat as dit waar is, verreikende implikasies het, omdat Jakobus (en Jesus dus ook!) uit 'n priesterlike geslag moes gekom het en ook opleiding moes ontvang het.

Eisenman (op cit), wat veral bekend is as navorser van die Dooie See-rolle, probeer selfs om 'n verband tussen Jakobus en die Essene van Qumram te vind. Die Essene – en 'n groot deel van die Joodse volk – was gekant teen die priesters wat deur Herodes aangestel is, omdat hulle hul as onrein beskou het. Na Jakobus se dood vlug die gemeente eers oor die Jordaanrivier na Pella, en later vandaar na die stadstaat Edessa, 'n belangrike stad op die handelsroete na Indië.

Volgens oorlewing het die gemeente van Jerusalem reeds sedert Jesus se tyd bande met die stad Edessa gehad en met die klein koninkryk van Adiabene ('n klein staatjie wat tussen die Romeinse Ryk en die Parthiese Ryk ingewig het). Koning Abagus van Edessa het met Jesus gekorrespondeer en gevra vir genesing van sy ongenoemde siektetoestand, wat daartoe gelei het dat Judas Thomas (van ons evangelie) en 'n sekere Thaddeus sendingwerk in die noorde van Mesopotamië gaan doen het. Dit is ook hoe koningin Helena van Adiabene (vandag in Kurdistan) bekeerd geraak het (Eisenman, op cit.)

Josephus skryf dat hulle tot die Judaïsme bekeer is, maar 'n mens moet besef dat daar voor die val van die tempel in die jaar 70 nog geen sprake was van 'n verskil tussen die Christendom en Judaïsme nie. Trouens, Jesus self het stellig nooit die woord Christen geken nie en die moderne rabbynse Judaïsme kom eers tot stand na die val van die tempel.

In Edessa het die spreuke van Jesus, wat hulle uit Jerusalem saamgebring het, deel geword van 'n meer omvattende versameling, wat reeds in die tweede eeu as gesaghebbend beskou is in die Aramese kerk (die "oorspronklike" Christendom), met as middelpunt die stad Edessa (vandag die stad Urfa in Turkye).

Hier is eeue lank 'n eiesoortige Christendom in stand gehou, met eie rituele en die opvatting van die Heilige Gees as God-die-Moeder (Quispel op cit). Hulle het sendingwerk in die Ooste gedoen, en het ook die kerk in Kerala in Indië gevestig, waar die gemeente hulself vandag nog beskou as die produk van die apostel Thomas se sendingwerk. Weens Edessa se strategiese ligging het die stad nie 'n baie vreedsame geskiedenis gehad nie. Daar het byvoorbeeld verskeie oorloë tussen Rome en Parthië, en later tussen Rome en Persië plaasgevind. Toe dit wel later deur Rome verower is, het die Hellenistiese Christendom van Antiogië ook na Edessa uitgebrei en later die Joodse Christendom verdring. Nog later is dit deur Islam verower. Tog het Christene sowel as Jode in hierdie wêrelddeel, waar drie ryke mekaar ontmoet. redelike godsdiensvrede geken. 'n Mens merk dit aan die feit dat nie net Palestynse Christene nie, maar later ook Nestoriaanse Christene na hierdie gebied gevlug het.

Biskop Nestor, die Patriarg van Konstantinopel is die vader van die gedagte dat Jesus twee nature, 'n menslike en 'n goddelike natuur, gehad het. Dit op sigself het al genoeg probleme binne die ontwikkelende Hellenistiese kerk veroorsaak, maar toe hy tydens die Sinode van Chalkedon (451) weier om te aanvaar dat Maria die Theotokos (Moeder van God) is, is hy tot ketter verklaar.

Hy is nog in dieselfde jaar oorlede, maar sy volgelinge het ook na die grensgebiede van die drie ryke gevlug en later tot in Persië. Hiervandaan het hulle in die agste eeu biskop Aleben en 'n groep monnike na China gestuur om die Christendom ook daar te plant. Hulle was so suksesvol dat hulle selfs uitgebrei het tot teenaan die Stille Oseaankus (Martin Palmer, The Jesus Sutras, Piatkus. Sien ook Ray Riegert en Thomas Moore se The Lost Sutras of Jesus, Ulyssis Press 2006.)

Die Chinese Christendom

Die Nestoriaanse Christendom en die Manichese Christendom, wat in China wortel geskiet het bykans 'n 1000 jaar voordat die Jesuïete in China begin sendingwerk doen, was klaarblyklik veel suksesvoller omdat hulle oper en ontvankliker vir plaaslike invloede was as die Katolisisme van die Jesuïete, wat eintlik maar beskou kan word as 'n verlengstuk van Westerse kolonialisme. Hierteenoor was die Christendom wat uit Mesopotamië en Persië in China aangekom het ten volle bewus van die intellektuele krag van die Taoïsme en die Boeddhisme en was oop om van hulle te leer.

Waar die Christendom in die Weste op dieselfde tydstip ons barbaarse voorvaders langs die Ryn moes bekeer, het die Christene in China deeglik kennis geneem van die intellektuele krag van die plaaslike godsdienste, met wie hulle daagliks omgegaan het. Hulle neem nie net terminologie oor nie. Onbekend met Augustinus se leer van die erfsonde, aanvaar hulle byvoorbeeld die Taoïstiese opvatting oor die mens se oorspronklike goedgeaardheid. Hier moet 'n mens byvoeg dat dit perfek resoneer met Jesus se standpunt in die Evangelie van Thomas dat die gemiddelde mens aan die slaap geraak en geestelik dood is. Eers as hy ontwaak sal hy besef dat hy van nature eintlik goed is en op daardie goedheid moet voortbou. Dit gee 'n mens oneindig respek vir die soort geestelikheid wat die Christene na China uitgedra het – en laat mens byna met heimwee wonder oor wat so 'n mensvriendelike Christendom, vandag vir die wêreld sou kon beteken. Kyk gerus na hoe die Tien Gebooie en die Bergpreek vermeng in die "Klipsoetra":

Die eerste gebod is dat almal wat kwaad doen gestraf sal word, veral as hulle nie ouer mense respekteer nie.
Die tweed gebod is om ouer mense te eer en te versorg. Hulle wat dit doen sal ware volgelinge wees van die Weg van die Hemel.
Die derde gebod is om te erken dat ons in die lewe gebring is deur ons ouers. Niks bestaan sonder ouers nie.
Die vierde gebod beteken dat almal wat dit begryp vriendelik en bedagsaam sal wees teenoor almal, en geen lewende wese kwaad sal aandoen nie.
Die vyfde gebod is dat geen lewende wese die lewe van 'n ander lewende wese mag neem nie, en ook ander sal leer om so op te tree.
Die sesde gebod is dat niemand owerspel mag pleeg of iemand oorreed om dit te doen nie.
Die sewende gebod is om nie te steel nie.
Die agste gebod is dat niemand 'n lewende se vrou of sy landerye of sy huis of sy bediendes mag begeer nie.
Die negende gebod is om nie toe te laat dat jaloesie oor iemand se vrou, sy seun of sy geld jou verlei om valse getuienis geen hom te gee nie.
Die tiende gebod is om net aan God te gee wat joune is om te gee.

Daarna volg daar selfs 'n paar "toegifte": "As 'n arm mens by jou bedel, gee mildelik. En as jy nie kan help nie, wees so hoflik om te verduidelik waarom jy hom nie kan help nie.

"As iemand ernstig siek is of gestrem, moenie met hom spot nie, want dit word veroorsaak deur karma en is niks om mee te spot nie."

Wat is die vier belangrike reëls van die Christelike Dharma?

Die eerste is om nie te begeer nie. Wanneer jou hart obsessief is oor iets, kom dit tot uiting op verskeie verkeerde maniere. Verkeerde gedagtes is die wortel van verkeerde dade.

Die tweede is om niks (verkeerds) te doen nie. Moenie 'n masker opsit en voorgee wie jy nie is nie. Laat vaar die moeite om voor te gee. Laat daar slegs aksie en reaksie wees. Bewandel die Weg van Geen Aksie.

Die derde is om nie vroom te probeer wees nie. Moenie jou goeie dade aan die groot klok hang nie. Doen wat reg is om mense tot die waarheid te lei, maar nie om daardeur 'n goeie reputasie te verkry nie. Almal wat die Triomfantelike Weg volg of die Weg van die Lig, sal vreugde saam met ander mense ervaar, maar moenie hierdie seëning weg verduidelik nie. Dit is die Weg van Geen Vroomheid.

Die vierde is geen (absolute) waarhede.

Moenie als probeer beheer nie. Behandel almal gelyk. Moenie kant kies in argumente oor reg en verkeerd nie. Behandel almal eenders en lewe van dag tot dag. Wees soos 'n groot spieël wat alles eenvoudig weerspieël:

Groen of geel of enige kombinasie. Dit wys alles, selfs die kleinste detail. Wat doen die spieël? Dit weerkaats sonder oordeel.
(Vertalings na Martin Palmer, The Jesus Sutras)

Edessa en die Askete

Die wêreld rondom die Middellandse See en Klein Asië was 'n "geglobaliseerde wêreld" waarin handelsware en idees ewe maklik van plek tot plek gevloei het. Dit het gevolglik nie lank geduur voordat idees wat in die wêreldstad Alexandrië se Joodse gemeenskap ontstaan het, Edessa bereik het nie. Alexandrië van daardie tyd kan 'n mens beskryf as iets soos Kalifornië van die 1970's, waar idees vanuit die hele wêreld bymekaar kom om 'n soort "New Age"-denke te vorm. Seksuele onthouding en die afskaffing van die huwelik is klaarblyklik daarheen gedra deur die Stoïsynse filosofiese skool, wat geglo het dat seks tot geboorte lei en geboorte tot lyding en dood.

Hierdie gedagte is binne die Joodse gemeenskap opgetel deur die Enkratiete (onthouers) wat geglo het dat toe Jesus uit die graf opgestaan het die eindtyd ook aangebreek het. Daarom is die huwelik afgeskaf, omdat Jesus eenmaal verduidelik het dat daar in die hiernamaals geen huwelik meer sal wees nie. Die evangelis Apollos het dit selfs vanaf Alexandrië na Korinte gedra, waar die apostel Paulus groot moeite gehad het om dit te bestry, omdat van sy bekeerlinge selfs hul huwelike wou opsê.

Dit is egter veral in Alexandrië en Edessa waar hierdie gedagte geblom het en uiteindelik aanleiding gegee het tot die Christelike kloosterwese. Hulle aanvaar die Evangelie van Thomas se ideaal van eenlingskap, maar ontken die psigologiese pad tot heelwording. Hulle sien net één weg daarheen: seksuele onthouding en akese. Hoewel dit aanvanklik as bloot nog 'n 'n stroming binne die jong kerk beskou is, het dit gaandeweg sterker gevoelens uitgelok, totdat dit in die vierde eeu as "ketters" beskou is.

In Edessa was daar ook 'n ander groep Christene, die Messaliane of bidders, wat in baie opsigte die teendeel van die Enkratiete was. In die somers het hulle van stad tot stad getrek om te evangeli­seer en snags mans en vroue deurmekaar op stadspleine geslaap. Die Enkratiete het hulle as onsedelik beskou en die huwelik as 'n vorm van hoerery.

Die "middelgroep" van Christene was klaarblyklik sterk genoeg om albei hierdie afsplytings te oorleef.

Mani die godsdienshervormer

Die godsdienshervormer Mani (217–277), wat 'n wêreldgodsdiens gestig het, wat eenmaal vanaf Spanje tot aan die Stille-Ooseaankus van China gestrek het, was Arameessprekend en het sy jeug­jare deurgebring in 'n Joods-Christelike baptistegemeenskap, die Elkasaïete, in die omgewing van Edessa (sien Quispel, op cit, waarin hy verwys na die Keulse Mani-kodeks).

Mani was duidelik ook aangetrokke tot die Enkratiete. Laasgenoemde onderskei in hul Liber Gradium, tussen grade van Christene, naamlik regverdiges en volmaaktes; Mani maak daarvan auditores (toehoorders) en electi (uitverkorenes). Van hulle neem hy ook die verbod op seks oor, sowel as die verbod op die eet van vleis en die drink van wyn. Hierdie onthouding is 'n voorwaarde vir vordering tot die rang van electi.

In Edessa het hy ook sy Epistula Fundamenti (Brief oor die Grondslag) geskryf, waaruit blyk dat hy goed bekend was met die Evangelie van Thomas, want hy begin sy brief met die woorde: "Dit is die heilsame woorde uit die ewige lewende bron: wie dit gehoor en geglo het en daarna sy opdrag nagekom het, sal nooit aan die dood onderwerp word nie, maar 'n ewige, verheerlikte lewe geniet." (Quispel, op cit).

Vir die Manicheërs was die Evangelie van Thomas heilige skrif en dit is waar die jong Augustinus met hierdie evangelie kennis gemaak het in die jare toe hy 'n "toehoorder" van die Manicheërs was. Toe hy hom tot die Rooms-Katolike Christendom bekeer het, was die Thomas-evangelie reeds 'n verbode boek. Nogtans haal Augustinus vers 3 aan wanneer hy uit die vuis 'n preek oor die Bergrede lewer, wat deur sy sekretaris opgeteken word (Quispel, op cit).

Later sou 'n mens dieselfde soort onderskeiding tussen auditores en electi aantref by die Kathare, Christene van Suid-Frankryk(ook genoem Albigense), teen wie die Roomse-katolieke kerk in die dertiende eeu 'n "kruistog" afkondig. Hoofsaaklik wens hul rykdom en omdat die lewe van Roomse priesters meesal sterk afgesteek het by die toegewyde klewe van hul electi (Sien Oldenbourg, Zoé, Massacre at Montségur, Phoenix Press).

Dit bring 'n mens by 'n laaste vraag: Wat het geword van die Essene, wie se Dooie See-rolle in 1948 in grotte naby Qumraam ontdek is? Ook hulle het twee grade van lidmaatskap geken en was uiters asketies. Boonop was hulle uitgesproke krities teen sowel die Fariseërs as die Sadduseërs. Dit lyk dus uiters onwaarskynlik dat hulle na die val van die tempel in die jaar 70, hul toevlug tot die rabbynse Judaïsme sou gevind het. Die Essene het heel waarskynlik hul toevlug tot die Christene geneem en hul geesgenote gevind in die Enkratiete.

In die vierde eeu vind daar 'n groot afsplitsing plaas in die gemeenskap van Edessa. Die Messaliane slaan hul eie koers in en versprei aanvanklik soos 'n veldbrand oor Klein-Asië. Die asketiesgesinde Enkratiete en hul geesgenote vorm, volgens Quispel, "'n eie sekte ... met 'n eie organisasie, kloosters, priesters, martelare en diakonesse. In opskrifte wat op klip uitgekerf gevind is, skel hulle die Katolieke uit vir 'wynsuipers' ... Dit loop alles uit op 'n Christelike kerk, wat oor die hele bekende wêreld versprei, 'n kerk van vegetariërs, geheelondhouers en selibate: die Manicheïsme".

Hoewel hulle in die Weste deur sowel die Katolieke Kerk as die staat vervolg is, strek hul invloed uiteindelik vanaf die Atlantiese Oseaan tot aan die Stille Oseaan. Later word hulle in Klein-Asië deur Islam vervolg, vir wie die hele gedagte van seksuele onthouding vreemd was, maar in die Verre Ooste behou hulle 'n teenwoordigheid tot minstens in die veertiende eeu.

Aramese Christene en Islam

Die Moslemgeleerde van die twaalfde eeu, Al-Ghazali, wat ook 'n sterk invloed uitgeoefen het op die filosowe van die Christelike middeleeue, het 'n groot versameling van Jesus se spreuke bymekaar­gemaak. Van hom kry ons die volgende episode: Jesus en sy dissipels het op 'n dag by die karkas van 'n dooie hond verbygeloop. "Sies, hoe stink so 'n dooie hond," sê een van sy leerlinge. Waarop Jesus antwoord: "Kyk hoe wit is sy tande."

Sy versameling was maar een van vele wat onder Moslems in omloop was. Een van Jesus se mooiste spreuke is selfs gevind op die ruïne van 'n moskee in die ou Mogulhoofstad Fatepuh Sikri: "Die wêreld is 'n brug, stap daaroor, moenie jou huis daarop bou nie." In die tiende eeu het die Moslem-skrywer Abd al-Jahpar 'n "alternatiewe" geskiedenis van die Christendom geskryf. Daarin beweer hy dat die Aramese Christendom die ware Christendom is, en dat Paulus die Westerse kerk op 'n ketterse dwaalweg gelei het. In so 'n mening steek waarskynlik meer as net toevallige waarheid, want as 'n mens 'n idee wil vind van hoe die vroeë Aramese kerk geleer en gedoen het, kan 'n mens kwalik beter doen as om te kyk na wat Islam leer en doen. Die kultuurgeskiedkundige, William Dalrymple, wat in sy boek From the Holy Mountain, beskryf hoe hy die voetreis van 'n sewende eeuse monnik vanaf die Berg Athos in Griekeland, deur die Midde-Ooste tot in Egipte gevolg het, vertel dat die groepies Aramese Christene wat hy steeds op sy reis raakgeloop het, nog steeds bid soos dit in die vroeë kerk gedoen is: Eers word met die twee hande oor die gesig gevee, daarna sak hul op hul knieë en eindig met hul voorkoppe teen die grond, presies soos wat Mohammed hulle dit sien doen het.

Elke kerkie het ook 'n venster wat in die rigting van Jerusalem kyk en dit is ook die rigting waarin Christene kyk as hulle bid. Mohammed het sy volgelinge aanvanklik beveel om 'n mighrab, of oop venster, in hulle moskees aan te bring wat in die rigting van Jerusalem, die tweede heiligste stad van Islam, uitkyk. Dit was eers nadat hy vrede gesluit met met die Koreisj-stam van Mekka, dat hy opdrag gegee het dat die mighrab voortaan na Mekka moet uitkyk, en na die Ka'aba – die heiligste heiligdom van Islam – soos wat Moslems vandag nog doen. William Dalrymple skryf (op cit.) dat toe Saladin Jerusalem in 1187 inneem en die Kruisvaarders verdryf, baie Christene aanvanklik gemeen het dat die Moslems net maar nog 'n Christelike sekte was.

Mohammed moes duidelik 'n goeie kennis van die Aramese Christene gehad het, en die Jode waarna hy verwys as Mense van die Boek, was die Sabiërs, 'n Christelike Joodse sekte.

Naas Moses en Josef neem Jesus (Isa) in die Koran sy plek in as "ware profeet", terwyl Mohammed God (Allah) se finale profeet is. Islam aanvaar natuurlik nie dat Jesus aan die kruis gesterf het nie, maar glo dat hy op 'n wonderbaarlike manier gered is, omdat sy teregstellers gereken het dat hy reeds dood is.

Hoewel Islam, anders as die Helleense Christendom nie Jesus as goddelik beskou nie, word hy in die eerste eeue van Islam nogtans dikwels beskryf as die "volmaakte mens" (insaan al-kamil) en kom sy naam (Isa) 25 keer in die Koran voor. Selfs van sy wonderwerke – soos die genesing van die man wat blind was – word daarin beskryf.

Hy is net so dikwels die onderwerp van Moslem-mistici se religieuse poësie. Rumi, Ibn al-Arabi, sowel as Hafez dig oor hom en dit is interessant dat almal van hulle ook Sufi-meesters was. Die Sufi-isme is vandag steeds die één punt waar Islam en Christendom mekaar sonder wrywing kan ontmoet, en om die Sufi "pad van heiligmaking" te vergelyk met Jesus se weg, soos uiteengesit in die Evangelie van Thomas, behoort 'n boeiende studie te wees.

Jesus se moeder, Maria (Merriam in die Koran), word steeds hoog geag in Islam. Sy is trouens die enigste vrou wie se naam (32 keer) in die Koran genoem word, waarin ook die verhaal van die maagdelike geboorte vertel word. Dalrymple (op cit.) beskryf hoe hy twee ortodokse kapelle besoek het, wat aan Maria gewy is, en dat daar elke keer minstens net so veel Moslemvroue as Christenvroue daar aanbid het.

Die handjievol Ebioniete wat uit Jerusalem gevlug het na Jakobus se dood, het inderdaad vrugbare aarde gevind in Klein-Asië en Mesopotamië, en geboorte gegee aan verskeie groot godsdienstige tradisies.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.