.

Resensie: Waking, Dreaming, Being

Waking, Dreaming, Being

Skrywer: Evan Thompson
Columbia University Press eBoek, R332
Resensie deur Karen Fitzgerald

Deesdae is dit moeilik vir die gewone ou op straat om te weet wanneer wetenskap behoorlik gedoen is.

Hoewel oordadige hoofopskrifte deur pop-joernaliste steeds 'n kopseer vir wetenskaplikes bly, is een van die grootste probleme die wetenskap-liefhebber wat nie werklik die wetenskaplike metode verstaan of 'n belegging in kritiese of analitiese denke maak nie.

In my vakgebied, neurowetenskap, kry ek byna daagliks met hierdie wetenskap-liefhebber-fenomeen te doen. Stories oor linkerbrein/regterbrein word steeds gesmous, al het talle funksionele studies die teendeel bewys.

My ander liefde, kontemplatiewe neurowetenskap – die komplekse interdissiplinêre vakgebied tussen biologie, sielkunde, meditasie en breinnavorsing – word ook deur vals bewerings en oordadige vergrype geteister. Korporatiewe smouse word sommer lekker glibberig, soos "leer mindful meditasie en beheer só jou amigdala."

'n Onlangse Scientific American-artikel ("Mind of the Meditator," November 2014) het juis so 'n kleurvol ingekleurde brein wat kwansuis aantoon waar meditasie in die brein lê. Ai, as breinfunksie en struktuur maar so lynreg was.

Dit is dus besonder lekker om 'n nuwe boek in die kontemplatiewe neurowetenskaplike vakgebied nader te trek wat toeganklik is vir sowel die toegewyde wetenskaplike as die wetenskap-liefhebber.

Evan Thompson se Waking, Dreaming, Being: Self and Consciousness in Neuroscience, Meditation and Philosophy is 'n ryk, poëtiese kragtoer wat die leser tot diep nadenke sal bring.

Dit bly 'n komplekse taak om die funksie van die brein te verstaan. Maar Thompson gebruik bewyse en insigte vanuit neurowetenskaplike navorsing, filosofie, fenomenologie, Indiese filosofie en Tibetaanse Boeddhisme om 'n helder beeld van die menslike bewussyn te skep.

Dit is ook 'n verfrissende en welkome sosiopolitieke verklaring oor hoe om met subjektiwiteit in navorsing om te gaan.

Neurowetenskaplikes word tradisioneel opgelei om nie die eerste-persoon-perspektief by te reken in 'n raamwerk oor menslike bewussyn nie (myns insiens 'n ernstige tekortkoming).

Thompson bou op sy vorige fenomenologiese werk, wat hy in samewerking met die formidabele Francisco Varela opgestel het. Daarvolgens is subjektiwiteit en die eerste-persoon-belewenis net so belangrik soos objektiewe waarneming en metings. Hy bou 'n brug tussen eerstepersoon-belewenisse en objektiewe derdepersoon-waarnemings.

Thompson het die boek geskryf omdat hy oor 'n opmerking van die Dalai Lama begin wonder het: Is subtiele bewustheid inderdaad afhanklik van 'n fisieke liggaam?

Hiermee takel Thompson een van die grootste tameletjies in die Westerse neurowetenskaplike wêreld en Boeddhisme. Tibetaanse Boeddhisme beweer dat reïnkarnasie 'n feit is, en dat subtiele bewustheid nie 'n fisieke vorm (soos 'n liggaam) benodig nie. Wetenskaplikes verwerp gewoonlik die idee dat hierdie subtiele bewustheid bestaan, veral sonder 'n liggaam. Thompson bevind nie een van hierdie benaderings aanvaarbaar nie. Hy streef daarna om vanuit sowel die neurowetenskaplike perspektief as Boeddhisme 'n nuwe beeld oor die aard van werklikheid en bewussyn te vorm.

Die boek is opgedeel in hoofstukke oor verskillende toestande van bewussyn, soos wakker, dwalende gedagtes, meditasie, aan die slaap raak, helder drome en droomlose slaap, en bewusteloosheid. In elke hoofstuk word 'n deeglike bespreking vanuit die jongste neurowetenskaplike navorsing gedoen, en aangevul met studies vanuit die Boeddhisme.

Hoofstuk 9 se bespreking oor die aard van bewustheid wanneer ons doodgaan, was my persoonlike gunsteling. Ek het 'n neurowetenskaplike geword omdat ek hieroor gewonder het (ek, en elke liewe mens wat nog ooit bestaan het). Wat word van bewustheid as jy doodgaan? Thompson verwys na onlangse neurobiologiese navorsing wat die prosesse tydens sogenaamde byna-doodervarings (BDE) ondersoek. Die gevoel van buite jou eie liggaam wees tydens 'n BDE kan toegeskryf word aan die ineenstorting van die brein se vermoë om sensoriese inligting in die regter-temporopariëtale aansluiting te integreer. Hy vergelyk dit met navorsing oor langtermyn-mediteerders wat oefen om 'n suiwer bewustheid te kweek tydens die dood.

Dis hierdie suiwer bewustheid wat oorleef tydens reïnkarnasie.

In Boeddhisme word slaap, helder drome en die kweek van 'n suiwer bewustheid as uiters belangrik beskou vir 'n suksesvolle reïnkarnasie.

Uiteindelik kom hy tot die gevolgtrekking dat 'n BDE geen bewys vir reïnkarnasie of subtiele bewustheid ná die dood is nie.

Waking, Dreaming, Being is 'n belangrike bydrae binne die neurowetenskaplike en kontemplatiewe dissiplines.

Karen Fitzgerald is 'n doktorale student in neurowetenskap aan die Universiteit van Kaapstad.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.