Resensie: The Human Faces of God: What Scripture reveals when it gets God wrong (and why inerrancy tries to hide it)

Thom Stark: The Human Faces of God

Skrywer: Thom Stark. Uitgewer: Wipf & Stock.
Resensie deur Prof. Sakkie Spangenberg.

So dan en wan verskyn daar 'n boek oor die Bybel wat fundamentaliste en vele kerklike teoloë se aansprake oor die Bybel op 'n wyse ondermyn soos geen vorige een nie. Thom Stark se boek The Human Faces is die jongste een in hierdie reeks. Dit het vanjaar by die uitgewery Wipf & Stock verskyn. Die boek staan vir my op dieselfde vlak as Fundamentalism en Escaping from fundamentalism van James Barr. Hy het laasgenoemde twee boeke respektiewelik in 1977 en 1984 gepubliseer en baie Christene se Bybelbeskouing in die vorige eeu radikaal verander. Stark se boek behoort dit ook reg te kry. Sy hoofdoel is om uit te wys dat die oortuiging dat die Bybel onfeilbaar is, nie steek hou nie. Diegene wat dié oortuiging deel, weier doodgewoon om die waarheid aangaande die Bybel vierkantig in die oë te kyk. Daardie waarheid is dat die Bybel 'n doodgewone menslike boek is en dat die perspektiewe wat daarin voorkom, doodgewone menslike perspektiewe is en dit geld selfs van Jesus van Nasaret.

Hy skop af deur in drie hoofstukke die probleem rondom die onfeilbaarheid van die Bybel op tafel te sit en deeglik te bespreek. Hy omskryf mense wat in die onfeilbaarheid van die Bybel glo, soos volg: "An inerrantist, simply put, is someone who believes that everything the Bible affirms is true, and good, and that it comes from the mind of a kind, loving, merciful, and just God" (2011:15). In Suid-Afrika is daar baie Christene wat hierdie oortuiging deel en daarom hoor 'n mens dat hulle met oortuiging verkondig dat "die God van die Bybel" liefdevol en regverdig is. Wanneer 'n mens egter indiwiduele Bybelboeke bestudeer, blyk die teendeel waar te wees. Dit is presies wat Stark in die res van die boek uitwys. Na die drie inleidende hoofstukke volg daar vyf hoofstukke waarin hy uitwys dat die Bybel nie onfeilbaar en die godkarakter van menige Bybelboeke nie onkreukbaar is nie. Die boek sluit met twee kort hoofstukke waarin hy sy argumente kortliks saamvat en stel waarom hy nie van die Bybel kan en wil afskeid neem nie.

Ek gee die hoofstukke en hul opskrifte hieronder weer en omdat ek na enkele hoofstukke gaan verwys. Van die hoofstukke dra titels wat menige Bybelleser se oë sal laat rek. Let maar net op die titels van hoofstukke 5, 6 en 8.

  1. The Argument: In the beginning was the words
  2. Inerrantists do not exist: Dispelling a myth of biblical proportions
  3. Inerrancy stunts your growth, and other fundamentalist health hazards
  4. Yahweh's ascendancy: Whither thou goest, polytheism?
  5. Making Yahweh happy: Human sacrifice in ancient Israel
  6. Blessing the nations: Yahweh's genocide and their justifications
  7. The Shepherd and the giant: Government propaganda
  8. Jesus was wrong, or, it's the end of the world as we know it and I feel fine
  9. Textual interventions: On the need for direct confrontations with Scripture
  10. Into the looking glass: What Scripture reveals when it gets God wrong

Weinig Christene is daarvan bewus dat heelwat Ou-Testamentici nie meer die idee huldig dat Israel se godsdiens aan die begin monoteïsties was nie. Met "begin" bedoel ek "sedert die tyd van die uittog uit Egipte". Hierdie siening is weer onlangs deur Willie Esterhuyse in sy boek God en die Gode van Egipte (2009:158) as 'n feit verkondig. Die Israeliete het egter soos alle ander Wes-Semitiese volke in 'n panteon van gode geglo. Hulle het geglo dat daar 'n oppergod was wat 'n vrou en kinders gehad het. Voorts dat hulle 'n hofhouding gehad het met bediendes en stuurjonge. Elkeen van hierdie groepe was gode van 'n laer rang. Heel bo aan die leer van gode was die oppergod en sy vrou. Heel onder aan die leer was die stuurjonge en ons ken hulle as die "engele". Stark bespreek in hoofstuk 4 die nuwere siening baie kursories, maar goed genoeg sodat gewone lesers sal besef dat hulle hul oorspronklike sienings sal moet heroorweeg.

Hoofstuk 4 dien as basis vir hoofstuk 5. In die betrokke hoofstuk wys Stark uit dat Jahweh soos ander Wes-Semitiese gode mensoffers waardeer het en dat hy op grond van 'n mensoffer bereid sou wees om van besluit te verander. Hierdie hoofstuk sal menige leser laat regop sit. Maar dit is goed so. Lesers behoort te weet dat die Israeliete nie moderne mense met moderne lewensbeskouings was nie.

Hoofstuk 6 is een van die juwele in die boek. Stark bespreek die kwessie dat Jahweh die Israeliete opdrag gegee het om die Kanaäniete en ander volke uit te roei. Hy vra tereg: "As Jahweh, 'die God van die Bybel' sulke opdragte kan gee, hoe is dit te rym met die leerstelling dat hierdie god regverdig en liefdevol is?" Nog erger – hoe rym ons die doodmaak van onskuldige babas met die idee van 'n liefdevolle god? In hierdie hoofstuk bespreek hy 'n aantal teoloë se argumente rondom hierdie saak. Een hiervan is William Lane Craig wat nou ook in Suid-Afrika voorgehou word as een van die groot verdedigers van die Bybel en die Christelike geloof. Volgens Craig kan Jahweh sulke opdragte gee, want hy streef 'n bepaalde doel na: "God knew that if these Canaanite children were allowed to live, they would spell the undoing of Israel. The killing of the Canaanite children ... served to prevent assimilation to Canaanite identity" (Stark 2011:103). God se doel – om 'n godvresende volk in Palestina te vestig wat uiteindelik vir alle volke tot seën sal wees, dien as regverdiging van sy wrede opdragte om vreemdelinge uit te roei. Die doel heilig dus die middel! Stark (2011:110) maak dan die volgende opmerkings na aanleiding hiervan:

This end-justifies-the-means mentally has manifested itself elsewhere in history. An immediate example would be the United States of America. Like ancient Israel, early European Americans believed they had a special calling from God, a calling to be a light to the nations. To them, their destiny was plainly manifest. God had brought them to this bountiful new land, flowing with milk and honey, and although it was necessary to eradicate the malignancy of the savage natives, in the end, the blessings the United States had to offer the world would far outweigh any necessary evils committed along the way.

Dis skrikwekkend hoedat mense hul wrede dade kan vergoelik met 'n oproep op die Bybel en die Christelike leerstellings aangaande God. Ook hoedat sommige teoloë ons presies kan vertel hoe God se logika werk.

Hoofstuk 7 is 'n kort, maar interessante een. Dit bespreek die verhaal van Dawid en Goliat en wys dan uit hoedat daar meer as een verhaal oor hierdie gebeure in die Ou Testament is. Weinig Bybellesers is daarvan bewus dat daar meer as een verhaal oor Goliat se dood bestaan, want geen predikant of Sondagskoolonderwyseres sal kinders ooit aan die teenstrydighede bekendstel nie. Ek het die eerste keer hiervan te hore gekom toe ek in 1979 Ferdinand Deist se boek Historiese Heuristiek, Teologiese Hermeneutiek en Skrifgesag gelees het. Hierdie boek het voortgevloei uit 'n klag van leerdwaling wat destyds, toe hy dosent aan die Universiteit van Port Elizabeth was, teen hom ingedien is. Met hierdie hoofstuk wil Stark lesers daarop wys dat die Bybel ook politieke propaganda bevat. Die Bybel is 'n altemenslike boek.

Hoofstuk 8 is vir my een van die bestes in die boek. Dit handel oor Jesus se eindtydverwagting en die feit dat hy hieroor verkeerd was. Hy het geglo dat Jahweh binnekort die Jode van die Romeinse oorheersing sou bevry en dat hulle weer deur hul eie koning regeer sou word. Stark (2011:167) skryf soos volg hieroor: "Jesus was an apocalyptic thinker in a time when apocalyptic strands in Judaism were numerous and dynamic. As noted above, an essential part of this burgeoning apocalyptic worldview was belief in resurrection." In die hoofstuk argumenteer hy oortuigend dat Jesus bloot 'n mens was en dat hy as mens ook feilbaar was in sy verwagting dat Jahweh beslissend in sy dag sou handel. Hy kruis in hierdie hoofstuk swaarde met die Nuwe-Testamentikus N.T. Wright en wys uit hoedat laasgenoemde homself dikwels met rare soort redenasies uit die moeilikheid probeer redeneer en die oortuiging dat Jesus nie 'n fout gemaak het nie, orent probeer hou. Sommige lesers mag hierdie gedeelte van die hoofstuk dalk vervelig vind, maar vir enigeen wat in die historiese Jesus-navorsing belangstel, is hier heelwat stof tot nadenke. Stark (2001:207) sluit die lang hoofstuk met die volgende veelseggende vrae: "Does it mean he [Jesus] just got the timing wrong? Should Christians continue to expect his coming 'like a thief in the night?' Or is a two-thousand-year margin of error indication enough that we ought to abandon the apocalyptic framework wholesale?" Sy antwoord op hierdie vrae word in hoofstuk 10 gegee. Maar voor hy daarby uitkom, lewer hy 'n pleidooi dat Christene die probleme in die Bybel vierkantig in die oë moet kyk en nie met allerlei jakkalsdraaie die onfeilbaarheidsidee orent te probeer hou nie (hoofstuk 9).

In hoofstuk 10 bied Stark sy antwoord op van die probleme wat hy bespreek het en gee hy sy perspektief op die Bybel. Ek haal 'n lang gedeelte daaruit aan omdat ek myself tuisvind binne hierdie sinne (Stark 2011:242):

I am a Christian. Not an orthodox one, because no such thing exists, but one who strives to be an honest one. I am a Christian because my parents were Christians, as were theirs, and so on. I am a Christian because I chose to be a Christian. I am a Christian because I am a white male living in the West. I am a Christian because I happen to like Jesus, warts and all. For all of these reasons, I am a Christian. Because I am a Christian, this book we call the "Holy Bible" is uniquely my own book. Whether I want it or not, I am stuck with it. Even if I were never to pick it up again, I could never put it down. It has shaped me in irrevocable ways. I am formed by the Hebrew and Christian scriptures. And although I will always be changing, transforming, regressing, and progressing (toward something or the other), I will always be formed by these scriptures in ways that I never be able to fully understand.

Die Bybel is 'n wonderlike en unieke boek, maar ongelukkig is daar 'n klomp Christene wat dit steeds soos 'n wetboek of handleiding gebruik omdat hulle in 'n buiksprekende god glo en in 'n Jesus wat as godeseun geen foute kon maak nie. Saam met Stark is ek oortuig dat eerlikheid die uitnemendste weg vir Christene is om te bewandel. Dit geld ten opsigte van die Bybel (dis 'n menslike boek), ten opsigte van Jesus van Nasaret (hy was 'n mens soos ander mense) én ten opsigte van God (ons beskik slegs oor menslike perspektiewe).

Sakkie Spangenberg, Departement Ou Testament en Ou Nabye Oosterse Studie, Universiteit van Suid-Afrika.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za