Resensie: The Science Delusion

The Science Delusion

Dr. Rupert Sheldrake is 'n bekende bioloog en outeur van 10 boeke, o.a. A New Science of Life. Hy was 'n "Fellow" van Clare College, Cambridge, waar hy Direkteur was van Studies in Selbiologie. Hy was boonop 'n "Research Fellow" van die Royal Society. Vanaf 2005 tot 2010 was hy Direkteur van die Perrott-Warrick Project for research on unexplained human abilities, wat gefinansier was deur Trinity College, Cambridge. Hy het sy doktorsgraad in Biochemie verwerf vanaf Cambridge Universiteit.

Gedurende die Middeleeue het die Rooms-Katolieke Kerk nie slegs 'n geweldige invloed gehad op die besluite van konings en prinse nie, maar het kerkleiers ook besluit watter wetenskaplike stellings en ontdekkings (on)aanvaarbaar is. Die vooruitgang van die wetenskap tydens die Era van Verligting in Europa gedurende die 18de eeu, was 'n reaksie teen daardie voorgaande era van bygeloof. Ongelukkig het baie wetenskaplikes se sienings lateraan ontaard in 'n nuwe "blinde" dogma wat die kerklike dogmas grootliks vervang het. Sir Isaac Newton (1642-1727) se idees waarvolgens die heelal soortgelyk is aan 'n meganiese masjien met Natuurwette wat nie verander nie, het 'n groot invloed gehad op die latere materialiste se idees omtrent die meganiese aard van alles, insluitende alle lewende wesens. Terwyl Newton nog geglo het in die onsterflikheid van die menslike siel en 'n Persoonlike God wat die heelal as't ware soos 'n masjien aan die gang gesit het, het die latere materialistiese wetenskaplikes hierdie dualistiese siening vervang met hul aannames dat lewe per toeval op aarde ontstaan het en dat alles uiteindelik bestaan uit slegs elementêre deeltjies en kragte soos o.a. die elektromagnetiese krag.

In sy nuutste boek The Science Delusion, ontleed die skrywer 10 dogmatiese oortuigings van materialistiese wetenskaplikes, soos o.a. dat lewende organismes "robotagtige" komplekse meganiese wesens is in plaas daarvan dat hulle doelgerigte lewende wesens is; dat die Natuurwette en konstantes soos die spoed van lig, nie verander nie; dat die menslike bewussyn basies 'n byproduk van materiële aktiwiteite binne die brein is en dat geheue materiële stringe (Engels: material traces) binne-in die fisiese brein is wat verdwyn met die afsterwe van die fisiese liggaam. Die skrywer verduidelik dat hierdie oortuigings klakkeloos aanvaar word deur baie hedendaagse wetenskaplikes, maar dat daar hoegenaamd géén voldoende bewyse vir die geldigheid daarvan is nie.

Die skrywer noem dat sy idees oor morfiese resonansie (Engels: morphic resonance), 'n beter verklaring is vir sekere verskynsels waarvoor materialiste geen voldoende verklaring het nie. Hiervolgens is daar 'n universele geheue, soortgelyk aan Carl Jung se "kollektiewe onbewuste", wat veroorsaak dat die verskyning van 'n lewensvorm of aktiwiteit 'n bloudruk is vir ander soortgelyke lewensvorme of aktiwiteite. Voorbeelde hiervan is die sg. honderdste aap sindroom en die vorming van kristalle. Hoe meer dikwels 'n mengsel kristalliseer, hoe makliker vorm dieselfde soort mengsel lateraan dieselfde soort kristalle. Hierdie universele geheue word nie beperk deur afstand nie. Die skrywer erken dat DNS wel belangrik is betreffende die kodering van die struktuur van proteïne, maar dat dit nié die belangrikste bepalende faktor is t.o.v. die latere ontwikkeling en optredes van 'n lewensvorm nie. Morfiese velde bied volgens hom 'n beter verklaring vir instinkte en gewoontes wat deur lewende organismes "oorgeërf" word vanaf hul voorsate.

Die skrywer verwys na troeteldiere wat aanvoel wanneer hul eienaars by die huis gaan opdaag, 'n persoon wat aan iemand anders dink en dan bel die ander persoon hom binne die volgende paar minute; en wanneer iemand anders aanvoel wanneer jy na haar rug staar. Hy verwys ook na ander "bonatuurlike" verskynsels wat daarop dui dat die "gees" (Engels: mind), méér is as slegs die aktiwiteite binne-in die brein. Toe die skrywer gevra is om deel te neem aan 'n dokumentêre program van Richard Dawkins, Enemies of Reason, het hy gepoog om sy wetenskaplike getuienis vir die werklikheid van telepatie met Richard Dawkins te bespreek. Richard Dawkins het egter geweier om die data te ontleed vóór sy ontmoeting met Rupert Sheldrake en het aangevoer dat die getuienis te ingewikkeld is en dat daar nie genoeg tyd is om dit in sy program te bespreek nie!

In 'n sekere sin verswak die skrywer se beskrywing van buitengewone en "bonatuurlike" verskynsels soos telepatie en heldersiendheid, sy hoofargument en sou dit voldoende gewees het as hy verwys het na meer "ooglopende" dinge soos mense se geheue en hul bewussyne, as voorbeelde van verskynsels wat nié deur materialiste voldoende verklaar word nie. Hy bespreek die teenstrydige idees wat materialiste het aangaande "vrye wil". Op bladsy 17 verwys hy na baie wetenskaplikes se aanname dat vrye wil 'n illusie is omdat die brein se aktiwiteite deur masjien-agtige prosesse bepaal word en omdat daar dus geen nie-meganiese "self" is wat keuses kan maak nie. Die Britse neurowetenskaplike Patrick Haggard, erken dat hy onderskei tussen sy persoonlike lewe en sy wetenskaplike "geloof" omtrent die voorafbepaalde aard van sy besluite: "I still seem to decide what films I go to see, I don't feel it's predestined, though it must be determined somewhere in my brain"!

In die hoofstuk oor mededingende medisyne verwys die skrywer na die belangrikheid van die plasebo uitwerking. Materialiste wat daarop aandring dat slegs "meganistiese" medisyne "werk", kwansuis omdat selfs menslike emosies op die ou end volledig afhanklik is van chemiese reaksies in die brein, kan volgens die skrywer, nié verklaar waarom 'n plasebo pil dikwels dieselfde uitwerking as 'n "regte" pil het nie. Mense se verwagtinge en gemoedstoestande kan 'n wesenlike invloed hê op hul gesondheid. Oumense wat 'n hartoperasie ondergaan het en wat 'n eggenoot, troeteldier of goeie vriend het, oorleef dikwels langer ná die operasie, as eensame oumense.

Die skrywer moedig samewerking tussen wetenskaplikes met verskillende lewensuitkyke aan indien dit gepaardgaan met dialoog i.p.v. debattering. Hulle moet bereid wees om saam te soek na antwoorde, in plaas daarvan om blindelings sekere dogmas te probeer afdwing. Wetenskaplikes behoort ook te erken dat hul vooroordele en vooropgestelde idees dikwels 'n wesenlike invloed het op die uitvoering en resultate van eksperimente en dat objektiwiteit dikwels 'n illusie is. Op die laaste bladsy spreek die skrywer die wens uit dat die erkenning van die feit dat die wetenskappe nog nié oor al die antwoorde beskik nie, sal lei tot nederigheid in plaas van hoogmoed en tot openheid in plaas van dogmatisme.

Jaco Steyn

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za