Resensie: Honest to God

Honest to God deur John A. T. Robinson. SCM Press, London. 1963.
Resensie deur Dr. Renier Holtzhausen.

"Selfs 'n geleerde man soos Lukas is onbeskaamd oortuig dat Christus in 'n wolk na die hemel opgeneem is." (Hand 1:9-11). Só begin John Robinson, destydse biskop van die Anglikaanse Kerk in Engeland, sy opspraakwekkende boek met die titel Honest to God. En hy is ewe verbaas dat twee ander gesiene teoloë van die Nuwe Testament, Paulus en Johannes, nie skroom om oor "opstyg" en "neerdaal" te skryf nie. Hulle kon hierdie taal gebruik omdat dit nie vir hulle 'n verleentheid was nie. Almal in daardie tyd het 'n God daarbo aanvaar. So ook beskryf die Bybel 'n God "daar bo" of "daar buite", en 'n drie-verdieping heelal van hemel, aarde en waters onder die aarde.

'n Koerantopskrif het die boek op 'n Sondag in 1963 só aangekondig: "Biskop sê God daarbo of daarbuite sal moet wyk." Geen wonder nie dat dié boekie waarvan aanvanklik net 'n paar duisend gedruk is, gou tot meer as 'n miljoen gegroei en skokgolwe deur die Christelike wêreld veroorsaak het. John A. T. Robinson het oornag 'n prominente figuur geword.

Die kernboodskap van die boek was om Christene anders oor sowel God as Christus te laat besin.

"Ek glo ons is geroep om oor die jare wat voorlê, die tradisionele ortodoksie in moderne terme te herskep. Dit sal egter vereis dat al die fundamentele begrippe van ons teologie – van God, van die supernatuurlike, en van ons godsdienstige praktyke, deur die smeltkroes moet gaan. Ons sal moet volg waar die waarheid ons lei; ons sal eerlik oor God moet wees."

Wat egter ontstellend is, sê Robinson, is die venyn – en daaragter die onsekerheid – waarmee die "behoudendes" die voorstanders van verandering, as vyande en ketters brandmerk.

Hy sluit sy voorwoord só af: "Wat ek in 'n tentatiewe en eksploratiewe manier probeer sê, mag radikaal klink en vir sommige selfs godslasterlik. Maar ek is redelik seker dat dit in retrospek sal blyk dat dit nie radikaal genoeg was nie."

Robinson gee toe dat die God wat spiritueel of metafisies "daar buite" is, nie maklik afgeskryf sal word nie. Dit is tog die God van ons kinderjare, van ons voorvaders, en dit is moontlik, meen hy, dat dit 'n eeu of selfs langer kan neem om 'n ander godsbegrip te ontwikkel.

Hy was reg. Die kerk het laer getrek en 'n fel kerklike debat ontketen. Die aartsbiskop van Kantelberg het Robinson veroordeel, en beklemtoon dat sulke vrae binne die kerk aangespreek behoort te word. Dit is omdat die gewone mense daarbuite nie die nodige "breinkrag" daarvoor het nie!

Robinson is gemarginaliseer en sy loopbaan as biskop en akademikus is belemmer – hy het 'n assistentbiskop in die Anglikaanse Kerk gebly. Nadat hy uit die kerk bedank en teruggekeer het as lektor by Cambridge Universiteit, het hy ook dáár die godsdienstige negatiwiteit aan sy lyf gevoel.

Deur Honest to God het Robinson ook drie gerekende teoloë se geskrifte vir die gewone mens toeganklik gemaak: Rudolf Bultmann, 'n leidende Nuwe-Testamentikus, het reeds in 1941 voorgestel dat die Bybelse boodskap van 'n vervloë antieke wêreld, in 'n nuwe idioom herskep moet word. Die buitewêreldse, supranaturalistiese Godheid moet agtergelaat word.

Paul Tillich, 'n wydgelese teoloog van die 20ste eeu, was oortuig dat God nie langer as 'n persoon of 'n aparte entiteit gesien kan word nie. God is basies die grondslag, die kernbestaan – hy noem dit die "oneindige en onuitputlike diepte" van menswees.

Dietrich Bonhoeffer, 'n Lutherse predikant wat in 1945 in 'n Duitse konsentrasiekamp opgehang is, het gepleit vir 'n Christelike geloof sonder godsdiens. Om die goddelike te ervaar hoef 'n mens nie deel te wees van georganiseerde godsdienstige rituele en gebruike nie. God, sê Bonhoeffer, is nie buite om die mens se grense nie, maar in sy diepte.

Robinson voel egter dat die wonder van Kerfsfees behoue kan bly – as 'n mite. 'n Mite om die impak van Jesus en die diepte van sy bediening te beklemtoon.

Robinson wy een hoofstuk, Die Mens vir Ander, aan die vergoddeliking van Jesus. Jesus het nêrens 'n aanspraak gemaak dat hy die letterlike Seun van God, of God self is nie. Trouens, in Markus 10:18 ontken hy dit in soveel woorde: "Waarom noem jy my goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen".

In Markus 14:61 beantwoord Jesus Pilatus se vraag, "Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?" met 'n eenvoudige "Ek is". Maar in Matteus 26:64 sê hy, "Dit is soos u sê". Robinson meen dat Jesus in die oorspronklike teks van Markus bloot gesê het: "U het gesê dat ek is", en dat Matteus dit verkort het na: "U het gesê". In latere vertalings is ook die antwoord in Markus verkort, na "Ek is".

As die dogma van Jesus se goddelikheid dan uit die weg geruim is, kom sy doodgewone menslikheid te voorskyn. Hy is daardie man in die geskiedenis waarvan alles wat hy gesê en gedoen met God verband gehou het. Dit was as 't ware 'n openbaring van God. Hy was op dieselfde vlak as genieë, digters en denkers.

Wat is die plek van aanbidding en gebed sonder godsdiens? Robinson voel dat in plaas daarvan om van die wêreld te onttrek om by God te wees, jy jouself eerder oop moet stel om God in normale lewensomstandighede buite die kerk te ontmoet. En om meer sensitief te wees vir ander mense in nood. Ook is dit nie nodig om tyd vir gebed opsy te sit nie, maar om die moment van goddelike aanraking te vind in die onvoorwaardelike gee van liefde aan iemand wat dit nodig het. Gebed, sê Robinson, is om God in die kern van jou binneste ("the ground of our being") te ervaar.

Robinson sluit die boek af deur te pleit dat die huidige vorm van Christelike geloof wat tot 'n vergange era hoort, oorgegiet moet word. In sy eie woorde: "recasting the mould". Hy is oortuig dat dit die basiese boodskap van die evangelie sal laat voortleef. Dat dit nodig is, word geïllustreer deur Paulus se debat met die Grieke op die Areopagus in Athene (Hand 17:16-34). Sy boodskap is met minagting verwerp – "wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê"? Dié twyfel is soortgelyk aan dié waarmee die skare Jesus se prediking begroet het (Markus 1:27).

Dit is 'n nimmereindigende debat omdat die Christelike boodskap in konflik is met die beelde van God in die mens se gedagtes. Slegs wanneer die mens bereid is om elke beeld wat hy of sy van God het te verwerp, sal die oortuiging van Romeine 8:38 'n werklikheid word: "...geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus."

Dít, glo Robinson met sy hele wese, is wat dit beteken om 'n Christen te wees. Die liefde soos uitgeleef deur Jesus gee ons 'n venster deur die oppervlakte van die lewe na God.

Alhoewel John Robinson, ietwat ontnugter, in 1983 aan kanker oorlede is, word sy invloed tot vandag toe nog ervaar. Dit word deur sommige gelowiges verwelkom en deur ander verkleineer. Sy moedige en opregte ontleding van geloof het die deure na die toekoms oopgesluit. Honest to God het momentum aan die nuwe postmoderne Christelike debat gegee.

Die boekie van honderd en veertig bladsye in A5 formaat, lees moeilik. Dit kos harde werk om deur die breedsprakerige Engelse styl van daardie tyd – lang sinne en groot woorde – by die pitkos uit te kom.

Twee boeke het oor Robinson verkyn: A life of Bishop John A. T. Robinson: Scholar, pastor, prophet deur Eric James en The Roots of Christian Freedom: The Theology of John A. T. Robinson deur Alistair Kee.

Kommentaar oor Honest to God verskyn steeds gereeld:

Bishop John Spong: "Ek onthou die dag toe ek die boek oopgemaak het. Ek het dit nie neergesit voor ek dit driekeer deurgelees het nie. Van daardie oomblik het ek geweet my lewe sal nooit weer dieselfde wees nie."

Radical Faith: "Die twyfel wat in die boek uitgelig word, het mense van daardie tyd diep geraak. Tradisies en ortodoksie was bevraagteken, en 1963 was die begin van godsdienstige afvalligheid en afname in kerkbywoning. Vandag leef al hoe meer mense asof die tradisionele Christelike geloof niks meer beteken nie. Die wat op die ou manier aanbid kry dit blykbaar reg om hul brein tussen die kerklike en werklike lewe te verdeel."

Dr. Howard A. Jones: "Hier is 'n prominente teoloog eerlik genoeg om te aanvaar dat godsdiens en die Skrif mensgemaak is."

Dr. Renier Holtzhausen kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za