.

Resensie: God se oë is blou

God se oë is blou

Skrywer:  Abel Pienaar
Uitgewer:  Naledi (prys R189).
Resensie gepubliseer in Rapport

'Dagboek' van opregte soeke na lewensin

Wanneer 'n agnostiese Zen-Christen of 'n "Boer-Boeddha" vir jou sê God se oë is blou kan mens nie anders as om te wonder oor dié man se godsbegrip nie.

In sy jongste boek, God se oë is blou, wat tydens die US Woordfees in Stellenbosch bekend gestel word, keer die gewese NG predikant Abel Pienaar die tradisionele kerk se gevestigde dogma oor God onderstebo.

Hy neem die leser op 'n avontuur van sy eie spirituele reis sedert hy as negejarige seun vrae oor God begin vra het.

Dit is 'n reis wat niemand wil oortuig om soos hy te dink nie. Dit word 'n reis wat nooit ophou nie, nêrens heen gaan nie, maar ook nooit stilstaan nie.

Pienaar laat die leser toe om naas sy eie reis self te besluit watter kleur God se oë is. Vir tradisionele gelowiges sal van die uitsprake vreemd op die oor val.

Uitgesproke ateïste sal ewe min aanklank vind by sy denke.

Maar dit is nie sy gehoor nie. Pienaar spreek 'n ál hoe groter wordende deel gelowiges en andersdenkendes aan wat in sogenaamde ballingskap verkeer. Soekers en vrydenkers wat ewe ontuis voel in die kerk se voorste gestoeltes as tussen diegene wat met stellige sekerheid verklaar dat God nie bestaan nie.

Sy boek is die produk van 'n voortdurende soeke na sin; 'n soeke na die goddelike. Wysheid is volgens hom die vermoë om uit verskillende hoeke na 'n saak te kyk. Amper soos om te kyk na 'n groot diamant. Dit is presies wat Pienaar in die boek probeer doen.

Nadat hy verskillende godsdienste begin bestudeer het, onder meer Hindoeïsme en Boeddhisme, het hy hom oorgegee aan filosofie.

Terwyl hy groot waardering het vir moderne ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris, Stephen Hawking en wyle Christopher Hitchens is hy nie oortuig van die sekerhede waarmee hulle werk nie.

Hy vind hom gemakliker tuis binne die ruimte van skrywers soos Julian Müller, John Shelby Spong en Karen Armstrong – maar sou ook graag saam met Dawkins, Harris en George Claassen van die ander kant af wou nadink oor nuwe moontlikhede.

As predikant in die NG Kerk het Pienaar deur 'n "dark night of the soul"-tyd gegaan. "Ek het geworstel met my geloof." Vandag voel hy heel gemaklik as mense hom 'n Zen-Christen of 'n Boer-Boeddha noem.

Om Zen-Boeddhis en Christen te verbind is volgens sy eie erkenning dalk 'n vreemde kombinasie. Maar volgens Pienaar glad nie onakkuraat nie. Hy sê in Zen ('n mistieke vorm van Boeddhisme) gaan dit immers oor direkte en eerstehandse belewenisse en denke – presies dit wat hom so aantrek daarheen. "Zen-Boeddhisme is in vele opsigte eerder 'n etiese en filosofiese sisteem as wat dit 'n geloof in, of die aanbidding van 'n god is."

In Pienaar se boek soek jy vergeefs na geloofsekerheid óf 'n sekerheid dat daar geen God is nie. Dit is eerder die dagboek van 'n agnostiese denker met 'n opregte soeke na lewensin, die geloofsbelydenis van 'n soeker.

Resensent Jean Oosthuizen is 'n vryskutjoernalis.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.