.

Resensie – Rykdom in Eenvoud

Rykdom in Eenvoud

Rykdom in Eenvoud deur Dr. Willem Nicol

Byna almal glo dat 'rykdom' te make het met hoeveel besittings, status en mag 'n mens het. En dat jou lewe gejaagd en verwikkeld moet wees om te tel. Maar hoe leeg en arm laat dit jou uiteindelik innerlik? Daarom vra Willem Nicol of daar nie groter rykdom in die teenoorgestelde rigting lê nie: in 'n alternatiewe leefstyl en waardestelsel van eenvoud.
Die rotteresies het 'n gepaste simbool vir ons tyd geword: 'n mal gejaag ... waarheen?
Mense, veral, kan besluit om hul lewe te vereenvoudig, sodat hulle meer tyd en krag het om te fokus op die wesenlike waardes. Dan sal daar iemand wees om vir die gejaagdes hoop te gee dat vryheid en 'n rustiger lewe wel moontlik is.
Rykdom in eenvoud handel oor hierdie pad na so 'n alternatiewe leefstyl. Dit wys die leser hoe eenvoud haar lewe op verrassende wyse kan verryk.
Alhoewel Nicol vanuit die Christelike verstaan skryf, is hierdie nog steeds 'n verfrissende en relevante boek vir mense wat oorweldig en emosioneel uitgebrand voel.
Hier is 'n uittreksel:

Wees wakker vir wat met jou aan die gebeur is

In ons moderne industriële samelewing heers daar 'n atmosfeer waarvan die invloed op ons so subtiel is dat ons dit meestal nie agterkom nie. Die doel van hierdie hoofstuk is om ons bewus te maak van wat met ons aan die gebeur is. Dalk bring dit ons weer onder die indruk van die waarde van eenvoud. Kom ons luister na 'n klompie los uitsprake wat die heersende geestesklimaat in ons samelewing tipeer.
Die predikant van 'n taamlik gegoede woonbuurt sê: "In my gemeente is daar net drie vrae waardeur 'n mens se waarde bepaal word: Wat kry jy? Waar bly jy? Wat ry jy?" 'n Plakker op 'n motor lui: "Happiness is a cash flow."
Iemand het opgemerk: "Die moderne stad het mos nie meer tempels en katedrale nie. Maar hy het sy winkelsentrums waar die mense offer, en sy sportstadions waar hulle juigend hulde bring."

In Afrikaans praat ons van "lewenstandaard" as ons materiële standaard bedoel! Iemand sê die moderne Amerikaanse feëverhaal gaan só: "More possessions means more happiness; anyone who does or produces more, is more important." Tradisioneel het die Rooms-Katolieke Kerk geleer dat daar sewe doodsondes is: hoogmoed, jaloesie, hebsug, vraatsug, seksuele begeerte, woede en traagheid. Die industriële samelewing sê: ses van die sewe sondes word heilig verklaar, behalwe die laaste een, waarvoor al die straf uitgemeet word...

Boekwurm

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.