.

Resensie: My geloofsent het nie gegroei nie! Vind sin en betekenis in ‘n geloofsvrye lewe

My geloofsent het nie gegroei nie!

Skrywer: Trichardt Malan. Publikasiedatum: 15 September 2014.

Ons ken almal die scenario: Volwassenes, veral die ouers, asook oupas en oumas (tot almal se eie goedige vermaak), oortuig klein kindertjies maklik dat daar iets soos 'n tandmuis en 'n kersvader bestaan. Afgesien van visuele voorstellings, word die bestaan van hierdie wesens heel dikwels in die denkwêreld van kindertjies versterk deur dit aan positiewe belonings te koppel soos 'as jy soet is sal kersvader vir jou dit of dat bring.' Ook die omgekeerde negatiewe: 'Aas jy nie jou groente eet nie sal die tandmuis nie jou tand wil hê nie en gaan jy nie 'n geldjie kry nie.' Hierdie kindertjies glo aanvanklik só onvoorwaardelik in hierdie kindermites dat hulle tot huilend toe teleurgesteld is as iets positief nie gebeur het soos wat hulle verwag het dat dit sou gebeur nie. Maar, mettertyd begin hulle egter self tot ander insigte te kom deur klein ontdekkingkies wat hulle self maak – soos, 'Waarom lê die tand wat die tandmuis nou die dag kom haal het dan in mamma se laaikas?', of 'Waarom lyk sussie se fiets dan net soos die een wat ons nou die dag in die winkel gesien het'? Na die mate wat hulle ouer word, hoor hulle ook by maatjies, of lig hulle ouers hulle ook oor verloop van tyd in, en oortuig hulle daarvan dat dit alles sommer net storietjies vir klein kindertjies is en nie regtig waar is nie.

Daarom is dit so dat as 'n volwassene steeds in 'n tandmuis of 'n kersvader glo, hy/sy maklik as psigies sertifiseerbaar beskou sal word. Daarom is dit ook so dat wanneer 'n geloof en godsdiens op die bestaan van buiteruimtelike wesens gebaseer word – hierdie gelowe bestaan – en dit met allerlei rituele gepaard gaan om uiting aan daardie geloof te gee, die geloofsaanhangers geredelik as 'mal' en 'geklik' beskou sal word en daar ook maklik vir hulle gelag sal word oor hulle onsinnighede. En in die geval van God-gelowiges?

Saam met hierdie vraag gaan ook die vraag na waarom die meeste gelowiges steeds bly glo waarin hulle glo, ten spyte van opstapelende inligting tot die teendeel? Antwoorde op hierdie vrae is deels te vind in die indoktrinerende outoritêre geloofsmodel waarin álle gelowe en die gepaardgaande godsdienspraktyke gegiet is – daar is weinig, indien enige, demokratiese eienskappe in enige godsdienspraktyk teenwoordig. Vanuit die outoritêre geloofsmodel vereis ieder en elke geloofspraktyk onkritiese en blinde navolging van wat ook al die dogma is wat voorgehou word. Geïndoktrineerde intellektuele luiheid van volgelinge gaan hiermee saam. Dit is veel makliker en minder inspannend om nét dít te doen wat jou geestelike gesagsfigure en jou heilige geskrifte vir jou sê om te doen – glo onvoorwaardelik en met volle vertroue soos wat 'n kind in die mitiese verhale van kinders glo, máár bly onwrikbaar om soos 'n kind in jou voorgeskrewe geloof te glo. Moenie vrae vra nie, moenie twyfel nie, glo net in vaste vertroue op 'n hoër hand wat jou aardse lewensweg rig en jou pad is oop na 'n heuglike hiernamaals as 'n beloning vir jou getroue nakoming van die geloofsvoorskrifte. Maar, as jy dit nié doen nie, dan wag daar 'n afskuwelike plek op jou waar jy net ewige pyn en ellende sal ervaar. En onthou, nét jóú godsdiens en jóú wyse van geloofsbeoefening is reg – ál die ander is op die minste 'n dwaling, of heidens! Maar is dit so?

Die geloofskultuur waarin 'n kind gebore word bepaal die besondere geloofsent wat op hom of haar geokuleer sal word. 'n Kind het geen keuse hierin nie. Moet ek erg jammer voel, of besonder bly wees indien ek in die geloofskultuur van Islam gebore is, of Hindoe, of Joods, of Christelik, of as 'n Afrikaan iewers in midde-Afrika waar voorvadergeeste 'n beduidende geloofsrol speel? En wat is my situasie as ek as 'n kind in een van die grootliks geloofsvrye Skandinawiese lande gebore is en ek geen geloofsopvoeding gekry het nie? Is ek daarom direk vir die hel bestem?

'n Aantal geloofsmolshopies op die skrywer se lewenspad het later ongeloofsberge geword en wat meegebring het dat hy toenemend skepties teenoor sy gebore en getoë Christelike godsdiens en Gereformeerde geloof begin staan het. Anders as om tot geloofsinkeer te kom, iets wat dikwels in 'n enkele emosionele oomblik kan gebeur, was dit 'n lang en eensame alleentog vir hom om uiteindelik by 'n punt te kom waar hy rasioneel openlik kon verklaar: 'My geloofsent wou ná al die jare van probeer en weer probeer net nie groei nie. Nou neem ek afskeid van geloof en soek en vind ek lewensin en -betekenis in 'n geloofsvrye lewe.'

Kritiese bevraagtekening het vir hom bevestiging gebring dat geloof en die meegaande godsdienstige rituele, mensgeskepte sosio-kulturele konstrukte en praktyke (illusies) is wat klakkeloos van een generasie na 'n ander oorgedra word en deur outoritêre geloofstrukture in stand gehou word. Mitiese verhale deurspek die Bybel en die inhoud is in vele opsigte weersprekend, dubbelsinnig, ontoepaslik en ongeloofwaardig, selfs vir 'n moderne begryping van die Bybel. As gevolg hiervan kan die Bybel (so ook die Koran) nooit die toets vir die 'onfeilbare woord van God' slaag nie. Verder, enige gebed is op die meeste slegs 'n psigiese ontlading van wense en begeertes en sogenaamde gebedsverhoring is bloot 'n statistiese waarskynlikheid dat iets kan gebeur, al dan nie. Dit het ook vir hom duidelik geword dat die Bybelse God van Abraham (in effek alle gode/superwesens in alle gelowe, insluitend buiteruimtelike wesens) net so veel van 'n mitiese god is as enige van die antieke gode wat op 'n stadium in die verre verlede ernstig deur hulle volgelinge gedien en geëer was, maar wat mettertyd in die vergetelheid verval het. Insgelyks was die Jesusfiguur, soos wat hy in die Evangelies verbeeld word, na die hoogste waarskynlikheid nie 'n histories-werklike vlees en bloed persoon nie.

Die skrywer wys daarop dat om sin en betekenis aan die leef van 'n lewe in die hier en die nou te gee, geen verbintenis met 'n godsdienssiening, geloof of spirituele belewing hoef te hê nie. Daarmee saam word 'n Christelike dwaling na die gespreksfront gestoot, naamlik dat voorgehou word dat dit die Christelike moreel-etiese waardes is wat van mense 'beter' mense maak. Vele van hierdie waardes is egter pre-geloof en pre-Bybels. As gerespekteerde kultuurgoedere van gemeenskappe is dit mettertyd as waardestelsels oorgeneem en in godsdiens en geloof ingedra en word dit verkondig as synde waarhede wat op geloof gebaseer is en uit geloof voortspruit. Die ironie is dat vele van hierdie Bybelsbegronde morele kodes en waardes, vandag, deur gelowiges self, as immoreel, oneties en onaanvaarbaar beskou word, ten spyte van aangetekende uitsprake in die Bybel dat dit ewigdurend van toepassing is. Maar, deur netjiese 'cherry-picking' word gewoonlik net die 'goeie waardes' uitgelig en gespieël as die navolgenswaardige Christelike waardes wat volgelinge dan sou vorm om die 'gewenste' moreel-etiese mense te word wat hulle veronderstel is om te wees.

Hierdie navolgenswaardige 'goeie waardes' is volgens die skrywer gewoon kultuurgebaseerde universeel-geldende lewenswaardes wat niks met enige godsdiens- en geloofsiening te doen het, óf daarmee te doen hoef te hê nie. (Hy wys daarop dat die fabels van Aesop, byvoorbeeld, meer geskik is om grondliggende lewenswaardes aan kinders te leer as wat die inhoud van die Bybel enigsins kan hoop om te bereik.) Die relatief geloofsvrye Skandinawiese lande is sprekend hiervan in terme van sake soos die lae vlakke van algemene misdaad, geweld in die samelewing, lewens- en werksetiek, asook stabiliteit van hul samelewingsordes. Die subtema van die publikasie, 'Vind sin en betekenis in 'n geloofsvrye lewe', is dan ook daarop gerig om gedagtes te deel oor sin- en betekenisgewing aan 'n lewe in die hier en die nou, veral aan die hand van Frankl se siening oor sin en betekenis van lewe.

Dit blyk dat die emosionele geloofskleed van 'n aangebore skuldige, onbekwame, en onbevoegde mens, wat deur geloofsindoktrinasie in gelowiges ingeprent word, afgegooi kan word. Dit is 'n geïndoktrineerde illusie wat geskep word dat gelowiges slegs 'gered' kan word as hulle onkrities aan die toneelspel van geloof deelneem, sodat wanneer die gordyn vir hulle sak, die beloning vir 'n mooie lewensbestaan 'n ewigdurende lewe van geluk en vrede sal wees. Die toutjies waarmee met mense in die hierdie outoritêre poppespel gespeel word, kán geknip word en verantwoordelikheid kán geneem word vir 'n eie vreugdevolle lewe in die hiernoumaals.

Net miskien kan hierdie verhaal van die skrywer, soos ook die verhale van duisende ander, help om 'n deur vir iemand anders oop te maak na die belewing van 'n bevredigende geloofsvrye lewe.

Hierdie publikasie is as 'n e-boek by Amazon.com beskikbaar, óf 'n kan by die skrywer aangevra word.

Boekwurm

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.