Resensie: Without Buddha I could not be a Christian

Without Buddha I could not be a Christian

Resensie deur J. W. Semmelink.

Paul F. Knitter se ondeunde titel lok reaksie uit, en mens moet menings verwag wat in sekere kringe as skokkend ervaar kan word. Knitter verras egter ook met wysheid en warmte wat hy uitstraal. Die tema word oorgedra in 'n nederige vertelling van die outeur se eie innerlike geloofsworsteling. Die boek is op die populêre mark gerig en lees meestal maklik en onderhoudend. Hy sê hy speel in die ruimte tussen fundamentalisme en materialisme. Ek meen hy spreek Christen lesers aan wat met 'n geloofskrisis oor die Christelike simbole probeer sin maak of hulle nog kan glo. Vir hom is die kernprobleme 'n transendente verstaan van God, en ondeurdagte letterlike woorde. Met deernis en insigte vanuit die Boeddhisme probeer hy so leser bekend stel aan 'n simboliese verstaan.

Die voorwoord bied 'n kort biografie op die outeur Paul F Knitter. Hy is in 1966 as Katolieke priester in Rome georden, doen 'n doktoraat in Marburg en keer terug na die VSA waar hy meer as 30 jaar teologie doseer. In 1975 het hy die priesterskap laat vaar en in 1982 getrou. Na aftrede sluit hy op uitnodiging by Union Theological Seminary (N.Y) aan. Hy noem sy vrou is jare al self 'n Boeddhis, en sy deelname as vredesaktivis met 'n organisasie CRISPAZ (Christians for peace in El Salvador). Hy is of was ook by die Interreligious Peace Council betrokke, en hy het 'n aantal vorige boeke geskryf.

Die boek se titel en Knitter se selfbeskrywing as "Boeddhistiese Christen" sal in sekere kringe as 'n vermenging van godsdienste (sinkretisme) beskou word. Knitter noem immers sy "groot besluit" om Bodhisattva te deurgaan [p.216], maar nogtans beskryf hy sy kern identiteit as Christen [p. 215]. Hy probeer nie alle gelowe onder een sambreel van 'n enkele onderliggende godsdiens plaas nie, hy wil 'n Boeddhistiese flitslig skyn [p.16] op die Christendom en haal "ou en nuwe skatte" [p. 14, Mt 13:52] daaruit. Hy belig Nuwe Testament briewe, vaders uit die Katolieke tradisie, veral Thomas Aquinas, maar ook Eckhart en Johannes van die Kruis, sy leermeester Karl Rahner; en ook Paul Tillich, na wie die leerstoel wat Knitter tans beklee, vernoem is. In 'n Boeddhistiese lig begin die ou bekende woorde met nuwe betekenis gloei [p. 88], maar hy sit ook iets by [p.15] – 'n mistieke, simboliese aksent.

Die voorwoord se opskrif: "Am I a Christian?", word volgens Knitter tot in die Vatikaan gevra. Hy verwoord 'n worsteling: "Do I really believe what I say I believe or what I'm supposed to believe as a member of the Christian community?" Hy stoei nie met die gewone vrae in sy kerk soos die "pelvic issues" (geboortebeperking, selibaat, homoseksualiteit, egskeiding) nie. "No, when I say I'm struggling, I mean with the big stuff" [p.x], vervolg hy in eg Amerikaanse idioom. Hy worstel met kwessies soos die Twaalf Artikels wat ander vertakkings van die Christendom ook raak: God die Almagtige Vader; Skepper van hemel en aarde; sy Eniggebore Seun; die konsep dat Jesus gesterf het vir ons sondes; dat hy weer kom, en oor die lewendes en die dooies gaan oordeel [p.x].

Die persoonlike worsteling definieer Knitter se teiken leser. "I'm writing it mainly for those Christians who like me are struggling, often painfully, with trying to hold together what they believe personally and intellectually as Christians" [p.xiv]. En dit maak die boek relevant: hy verwoord die vrae wat telkens in gesprekke, die populêre pers en op die Internet voorkom. Hy hanteer nie die vrae deur af te breek, geloof te vernietig nie. Ek wil dit 'n pastorale benadering noem: hy erken die vrae, erken hy worstel self daarmee, en bied dan 'n raamwerk om die Christendom met nuwe oë te bekyk en nuwe (onkonvensionele) sin te maak van bekende simbole.

Knitter volg 'n dialektiese patroon: sy hoofstukke begin met probleemstellings: die outeur se ongemak met 'n bepaalde aspek van die Katolieke leer (en die veronderstelde leser behoort daarmee te identifiseer). In die tweede deel ontgin die skrywer 'n bepaalde aspek van Boeddhisme en verduidelik dit aan Christelike lesers in leke taal. En dan "kliek" dit, waarskynlik vir die leser ook. In die derde (sintetiese) deel vind Knitter konsepte of idees in die Christelike tradisie wat aansluit by die Boeddhistiese gedagtes, of daarvolgens geïnterpreteer kan word.

Twee basiese lyne loop deur die talle probleemstellings: Dualisme, en woorde.

Knitter lees dualisme in die Christelike transendente Godsbeskouing [p.7]. Hy sê mense erf van hulle ouers en onderwysers 'n blinde geloof in 'n Goddelike wese "up in heaven running the show" [p.2]. As volwassenes so kinderlike geloof in die lig van eie volwassewording of wetenskaplike uitsprake beoordeel, beleef mense spannings, soos die Christelike leer van God as Transendente Ander, die skepping uit niks, God as Persoon, en Gebed onderskryf die transendente [p.135]. "That's the crux of the problem: Christian dualism has so exaggerated the difference between God and the world that it cannot really show how the two form a unity" [p.7-8].

Knitter se probleem met woorde is dat mense te veel en te maklik oor die goddelike praat. Mense praat onnadenkend, letterlik en eksak: ses letterlike skeppingsdae, of 'n letterlike vuur in die hel, asof hierdie uitsprake op presiese, konkrete kennis berus [p. 57]. Die antropomorfismes oor die Misterie wat God is, plaas 'n menslike gesig aan die goddelike. Dit lei onvermydelik tot misbruik of misverstand, – hy sonder veral die beeld van God as "Vader" uit [p.25], en t.o.v. gebed: hy glo nie God is 'n "almagtige Vader" wat letterlik ons gebede verhoor nie. Die tweede Vatikaanse Konsilie onthef hom as Katoliek van 'n letterlike verstaan, maar hoe behoort dit verstaan te word? [p.57].

Die sinteses aan die einde van die hoofstukke spreek die probleme van dualisme en woorde aan.

Teenoor die dualisme bespreek Knitter die Boeddhistiese konsepte van Nirvana (verligting) en Sunyata ("Emptiness /Interbeing /Groundlessness"). Hy sê die Christen moet weer 'n mistikus word. "Unless God is an experience, whatever words we might use for the Divine will be without content, like road signs pointing nowhere..." [p. 15]. Dis nie genoeg om 'Amen' te sê op 'n credo of 'n wet na te kom of 'n liturgie by te woon nie, 'n persoonlike mistieke ervaring 'n vereiste. Die mistieke ervaring is "unitive" – om jouself een of bewus te voel van Iemand of iets groter as jyself. Dis 'n verskuiwing van selfgesentreerdheid na Ander – of Realiteit – gesentreerdheid. En hierdie eienskap van Mistiek kom vir hom ooreen met dit wat Boeddhiste "verligting" noem [p.17].

Knitter stel ook voor om God binne die simbool van Sunyata ("Interbeing /Emptiness") te verstaan. Hy verwys na 1 Joh. 4:8, "God is liefde" – nie 'n Vader wat liefhet nie, maar hy is liefde [p. 18]. Om lief te hê, is om jouself leeg te maak, uit jouself te beweeg en met ander te verbind. Die konsep van Sunyata vind hy in uitdrukkings soos "een met Christus", "deelneming aan die Goddelike natuur" of Tillich se uitspraak dat God die grond van bestaan ("ground of being") is. God is nie 'n persoon nie, nie 'n selfstandige naamwoord nie, maar 'n werkwoord [19-20,45].

Oor die probleem van letterlike woorde, sê Knitter "The solution for such problems is to remind myself and my liturgical community that all our words are symbols and that we have to take them with a grain (or a spoonful) of hermeneutical salt" [p.136]. Enige taal oor die goddelike is simbolies; of analogies. Selfs die woord 'God' is 'n simbool. Taal wat God as "U" aanspreek is dus simbolies, en liturgie wat "ons hemelse Vader" aanspreek, is ook simbolies [p.40], en as ons sulke simbole letterlik verstaan, loop ons gevaar om dit so op te blaas dat ons dit in afgode verander [p.41]. In die Boeddhisme word woorde gebruik (bv. die Dharma), maar die ervaring van verligting staan voorop en woorde is onvoldoende daarvoor. As simbool ontplof die storie met dieper en kragtiger betekenis [p.68]. Simbole word soos digkuns gelees – dit spreek tot die verbeelding, en betekenis word in universele waarhede eerder as die partikuliere gesoek [p. 69]. Die kernvraag is nie meer of dit werklik gebeur het nie, maar wat dit beteken.

Hoofstuk 4, Nirvana and Heaven illustreer Knitter se simboliese hermeneutiek aan die hand van sy opmerking dat al minder Christene die hel ernstig opneem. "there are grave, lasting consequences for the choices we make. And the Buddhist image of being reborn as a slug or other apparently lower forms of life, as well as the Christian image of hellfire, inform us that when those choices are selfish and harmful to others the consequences are so serious that they can extend into the reality of what comes after our individual death" [84]. Die hel is dus 'n simbool vir 'n universele waarheid dat ons dade langtermyn negatiewe gevolge kan hê.

In Hoofstuk 5 Jesus Christ and Gautama the Buddha, is Jesus se goddelikheid simbolies – iets wat hy geword het: "He 'woke up' to it, much like Gautama woke up to Awakening". Die term 'Seun van God' word verstaan via Jesus se Geesvervuldheid – hy het 'n "presence" gehad. Om by hom te wees, was om Goddelike teenwoordigheid te voel. Jesus is nie 'n goddelike Superman wat neerdaal om ons te red nie, hy het sy volle potensiaal as mens bereik, en ons word opgeroep om dit ook te bereik.

Die voorafgaande deel van die boek het die konseptuele (filosofiese) sy van godsdiens behandel – 'n mistieke verstaan van God, en 'n simboliese hermeneutiek van sake soos die opstanding, of Jesus se redding. Dit lê die grondslag vir 'n praktiese spiritualiteit [p. 132]. "Practice" word van twee kante bekyk, hy noem eersgenoemde die Boeddhistiese betekenis – 'n daaglikse roetine, en die tweede noem hy 'n Christelike – sosiale betekenis [p.167].

In Hoofstuk 5 Prayer and Meditation sê Knitter woorde moet eenkant gaan lê. Gebed versmoor die liturgie in woorde [p. 136]. Stilte is nodig. Hy stel dan voor dat die Christen 'n ekstra Sakrament van Stilte benodig – daaglikse meditasie. Boeddhisme kan Christene help om te leer wat in hul tradisie vergete geraak het [154].

Hoofstuk 6 Making peace and Being peace gaan om die Christelike agape (Knitter vertaal dit as "charity"); en hy interpreteer die Nuwe Testamentiese konsep van die Koninkryk van God as bevrydingsteoloog – om die Koninkryk hier te help realiseer deur vrede te maak.

Knitter se spiritualiteit is dus gegrond op 'n herverstaan van Christen simbole. Dit begin by sy Godsverstaan. God is "the Mystery of Interbeing that surrounds me and animates me" [p. 41]. Die mens word nie gered om as letterlike persone na 'n fisiese hemel 'n "ewige lewe" te beleef nie, maar word opgeroep om "en christo einei"; om die eie self in Christus te verloor, en die "ek" wat aanleef is die Christus-Gees wat in ons is (Gees nou as onpersoonlike mistieke energie). Redding beteken om "verligting" te bereik deur ons goddelike natuur as "kinders van God" te ontdek. Die Boeddhistiese meditasie kyk verby die self, en ander se lyding, en voel 'n eis of verantwoordelikheid op mensself, en hanteer dit in wysheid (prajna) en medelye (karuna) [145-153] om vrede te bewerk deur die Koninkryk van God te help realiseer.

Knitter illustreer aangrypend hoe hy en sy vrou in die 1970's en 1980's in El Salvador as aktiviste gewerk het teen regeringsgesteunde moordbendes. Vrede is eers in 1992 onderteken en hy was later moedeloos soos die mitiese Sisyphus wat 'n klip teen die berg oprol, en dan rol dit net weer terug. 'n Zen meester het vir hom gesê hy sal nie die bendes kan stop tensy hy sy eenheid met hulle besef nie [173]. Hy het slegs die kant van die onderdrukte ingesien, en daar was 'n sekere hoogmoed en haat in sy houding teenoor die teenstanders [p.175v]. Hy moes by die Zen leer om die teenstander nie te oordeel of af te skryf nie; nie te haat nie – "if you want peace, be peace". Hy sê Christene neem soms te gou aksie wat op die keper beskou, uit die ego gemotiveer is: haat, vrees, jaloesie, selfverheerliking. Hy moes leer om te laat gaan.

Oor die aard van sy teologie sal die professionele teoloog die stemme van Paul Tillich en Karl Rahner herken, en vra hoe oorspronklik Knitter is, of sy eksegese ontleed, of sy prentjie van Boeddhisme, of sy verteenwoordiging van die tradisionele Christendom kan bevraagteken. Is laasgenoemde nie net populêre teologie wat op die kontroversiële vrae fokus nie? As dit 'n "straat teologie" aanbied, moet mens bysê hy verwoord die besorgdheid van die "man op straat" of die vrou wat geloofsvrae koester. Vir my lewer Knitter sy bydrae met 'n pastorale inslag. Lesers wat nie regtig met die Christendom wil breek nie, en met die dilemma sit hoe om dit dan te hanteer as jy nie letterlik kan glo nie [p.57] identifiseer met staaltjies en vrae en kom geleidelik agter dat sy verhaal hulle eie word.

Ek twyfel of die hoofstroom kerke gou van transendente denke en van hoofsaaklik letterlike Skrifverstaan gaan afsien. Knitter se teologie sal nie orals entoesiasties ontvang word nie.

Knitter probeer die letterlike lae afskil na die dieper waarheid wat hy wel kan glo; en meer nog, hoe 'n nuwe konsep vir spiritualiteit gestalte kan kry. Laasgenoemde aspek het na my mening nog te min na populêre vlak deurgedring. Hy bied meer as 'n slim spel met semiotiek – die nie-dualistiese mistiek en simboliese hermeneutiek vorm 'n geloofsfondament waarop 'n diep spiritualiteit van stilte (meditasie), medelye, wysheid, betrokkenheid by die ander bou. Spiritualiteit in sy geval is deeglik geïntegreer met wat hy glo, en dit lei tot aksie (soos sy betrokkenheid in El Salvador). Die Boeddhistiese "mindfulness" of "awareness" lei die Christen om realiteit, ook die bose, in die oë te kyk; om "in Christus" of "Geesvervuld" te wees in ons reaksie, en met wysheid (prajna) en medelye (karuna) te reageer.

Kan mens nie die insigte uit die Christelike mistieke tradisie kry nie? Moet mens werklik by Boeddhisme gaan leer? Of as jy moet, hoekom dan nie sommer by Islam, Judaïsme en ander ook nie? Knitter antwoord op p.137-140. Hy dink nie die mistieke Christelike tradisie op sy eie is sterk genoeg om die dualisme en die afhanklikheid van woorde waaraan Christene ly, aan te vat nie. Daarom bied Knitter 'n Boeddhistiese emmer om uit die Christelike fontein te skep [p.154]. Hy wil die leser by die doel van 'n nie-dualistiese, mistieke ervaring bring [p. 155].

Die boek se ontsettende eerlikheid maak dit aangrypende leesstof. Knitter gooi sy worsteling en sy soeke na antwoorde in die ope. Mens identifiseer maklik met Knitter se geestelike pad en dit konfronteer jou met jou eie menings en insigte, en laat die leser weer dink oor die betekenis van die bekende Christelike simbole. Die boek is sterk aan te beveel – ek kon dit nie neersit nie.

Jan-Willem Semmelink het na studies in Teologie en in Grieks ook rekenaarwetenskap gestudeer en hy is tans stelsel ontwikkelaar en amateur fotograaf.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za