Resensie: Praat verby grense

Frits & Laurie Gaum

Beskrywing

Die tragedie wat Ds. Laurie Gaum tref, sou hom en sy pa, Dr. Frits Gaum, uitmekaar kon dryf, maar die teenoorgestelde gebeur. Hulle ontdek onmeetlike gemene grond om saam te verken – die pa 'n swaargewig in sy kerk; die seun 'n predikant oor wie daar op 'n dag sensasionele voorbladnuus is.

Dié nuus vererger wanneer Laurie se lewensmaat homself enkele dae later om die lewe bring. 'n Lewenskrisis word 'n krisis vir die kerk. Laurie word uit sy amp ontslaan, maar hy appelleer suksesvol. Intussen woed daar 'n debat oor homoseksualiteit, 'n saak wat dreig om kerke wêreldwyd te skeur.

In kalmer dae wissel pa en seun e-pos oor talle kwessies wat hiermee verband hou. Hulle praat ernstig en reguit maar ook met respek en liefdevol oor die Bybel en seksualiteit, verdraagsaamheid en vergiffenis, oor die dood en oor hoop, geregtigheid, mens-wees, die samelewing, die kerk, rassisme, bevrydingsteologie ... en altyd weer oor God.

'n Voorbeeld uit Praat verby grense:

Hi Pa
Ek het Pa se roman Lente van '66 klaar gelees gekry. Geluk daarmee! Plek-plek klink dit vir my bra outobiografies, al is dit 'n roman, en hier en daar het ek tussen die reëls myself ook herken! Iets wat my opgeval het, is die tema van eindigheid (die dood) in die boek wat, soos by die filosoofteoloog Søren Kierkegaard, tot nuwe insigte lei (Verwoerd se ontkoming wat lei tot rigting-veranderende denke en optrede; Julian se dood wat skuiwe teweegbring in ander se denke; selfs by Pieter-Jan). Nou wonder ek: hoe identifiseer Pa hiermee en is daar ook in dié verband ooreenkomste met Pa se eie lewe?
xLaurie

Hallo Laurie
Dankie dat jy Lente van '66 toe deurgelees het. As 'n mens 'n storie goed wil vertel, is dit die beste as jy van dinge vertel wat jy so half en half self deurgemaak het. Lente van '66 is 'n roman, dis fiksie, en tog...

Die dood lewensgroot

Jy vra oor die dood in die boek. Nou ja, toe ek 35 was – dis jonger as wat jy nou is; jy was toe vier – het 'n dokter op 'n dag vir my gesê dat ek 'n siekte het wat my my lewe kan kos. Dit het my geruk. Ek dink sulke nuus sou die meeste mense ruk, aan die fondamente van hulle lewe ruk. In daardie tyd het ek baie nagedink oor die dood, wat skielik lewensgroot voor my kom staan het. Veral, natuurlik: waarom ek? Waarom hierdie konfrontasie met die dood terwyl ek nog jonk is, die grootste deel van my lewe nog voor my (behoort) te lê, ek 'n vrou met drie klein kinders het ... Maar ook: watter sin is daar in die lewe as daar op 'n dag 'n streep getrek word, en dis oor en uit, finies en klaar, en al het jy nou ook hoe hard gewerk en jou bes probeer (wat jou "bes" nou ook al is), dis gedane sake?...

Hierdie boek is 'n besonderse ervaring om te sien hoe pa en seun deur verskillende moeilike sake van hulle verhouding, die lewe en hulle dood werk en stadig maar seker sin vind. Ek beveel die lees van hierdie boek aan vir almal wat smag na meer insig en verstaan as dit kom by homoseksualiteit, pa en seun verhouding en vele meer. Dit word 'n ontroerende en inspirerende gesprek tussen twee begaafde mense wat hulle eie en mekaar se grense uitdaag en verskuif.

Om hierdie boek te koop, besoek www.exclus1ves.co.za of www.kalahari.net

Boekwurm

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za