.

Resensie: Geagte Jahwe

Geagte Jahwe

Geagte Jahwe deur Willie Esterhuyse.
Uitgewer: Naledi. Prys: R220

Lesers wat Willie Esterhuyse se boeke ken, weet al: Soveel mense, soveel gode. In sy jongste boek, Geagte Jahwe, tree dié bekende Stellenbosse filosoof in gesprek met die Bybelse God Jahwe deur middel van 11 briewe wat hy direk aan hom rig.

Hiermee sluit hy 'n trilogie van boeke oor God af. Dit volg op die publikasies God en die gode van Egipte (2009) en Die God van Genesis (2010). Dit is die einde van 'n soort geestelike intellektuele reis met God en 'n terugbeskouing met hope vraagtekens in die teks.

Sy briewe aan Jahwe het hy in 'n tydperk van baie jare geskryf voordat hy dit in 'n boek gebundel het. Soms is dit baie persoonlik en ander kere met 'n tikkie wanhoop wanneer hy skryf oor die stryd tussen Christene en Moslems asook die politiek.

Reeds in die 1970's was Esterhuyse baie van sy tydgenote ver vooruit met die verskyning van sy boek Afskeid van apartheid in 1979 . In sy jongste boek neem hy, soos in sy vorige twee boeke, afskeid van die tradisionele godsbeeld waaraan baie gelowiges nog vasklou.

Hy doen dit vlymskerp en met die grootste respek aan wat hy die "Onsienlike" of "Oneindige" noem. In sy briewe verkies hy God se Bybelse noemnaam Jahwe as aanspreekvorm. Daarmee dekonstrueer hy die vaste idees van gelowiges se tradisionele godsbegrip op 'n manier wat die leser ernstig laat nadink.

Wat Esterhuyse se skrywes lekker maak, is dat hy nie soos 'n bul in 'n porseleinwinkel instorm en mense se geloof vertrap nie. Hy gee erkenning aan die krag van geloof en hoe dit baie mense deur die eeue heen geïnspireer het. Mense hét troos nodig, sê hy. Ondanks alles bly die Bybel vir hom belangrik. Maar as 'n boek óór God en nie ván God nie.

Hoewel hy straks soms te veel tussen die lyne skryf, skram hy nie weg van die dogmatiese teenstrydighede wat 'n mens in die kerk teëkom nie. Met 'n goeie skoot humor herinner Esterhuyse Jahwe in sy briewe telkens aan die vele dinge wat "die kroon van U skepping" aanrig.

Esterhuyse is geen slaaf van die wetenskap nie. Die evolusie van kennis is egter vir hom 'n groot bevryding. "Dit kan ek u darem sê," skryf hy vir Jahwe: "Mense het deur die wetenskap en die tegnologie soveel bygelowe, onsinnighede, wanpraktyke en onregverdigheid oor U en die wêreld opgeruim."

'n Kerk- en Christenmens in die geykte sin van die woord is Esterhuyse beslis nie. Hy sien homself eerder as 'n tussenin mens: tussen godsdiens en geloof, hoop en wanhoop, sekerheid en onsekerheid waarvan daar baie mense soos hy is. Hy dink lankal nie meer aan God soos wat hy in die Stellenbosse Teologiese Kweekskool wysgemaak is nie.

Net soos ná sy eerste boek van dié trilogie kan Esterhuyse hom gereed maak vir skerp kritiek vanuit fundamentalistiese geledere. Hy het byvoorbeeld 'n reuseprobleem met die idee van 'n persoonlike skeppergod. Nie dat dit hom veel behoort te pla nie.

Vir fundamentalisme het hy min ooghare. Jahwe, God en Heilige Skrif is vir hom niks meer en niks anders nie as menslike metafore van die "Onsienlike" wat hy respekteer, maar sonder enige teologiese of dogmatiese toertjies beredeneer.

Vir Esterhuyse gaan dit oor die soeke na die sin van die lewe hier en nou. Geloof is vir hom 'n verbintenis wat veral met waardes, oortuigings en aardse toekomsverwagtings te make het teenoor godsdiens wat gegrond is op mensgemaakte gebruike, rituele, dogmas, geykte patrone, belydenisse en 'n aanvaarde reëlsisteem.

Die onverdraagsaamheid wat 'n mens so dikwels in die tradisionele godsdiens vind, gaan nie ongemerk by die skrywer verby nie. "Dis erg, nè?" merk hy teenoor Jahwe op – dat die droom van verdraagsaamheid dikwels in 'n groter mate deur niegodsdienstige organisasies eerder buite-kerklik moet geskied as deur kerke en geloofsgemeenskappe.

Sy ervarings op die onstuimige klein eilandjie Malta het hom 'n renons gegee in dogmatiek, apologetiek en selfs in 'n mate hermeneutiek. Hy voel eerder aangetrokke tot die etiek en om die daad by die woord van omgee en sorgsaamheid te voeg.

"Dink verder, wyer oor God en gode" (soos verskyn het in Rapport) deur Jean Oosthuizen (vryskutjoernalis).

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.