Resensie: Die God van Genesis

Willie Esterhuyse: Die God van Genesis

Skrywer: Willie Esterhuyse
Uitgewer: Christelike Media Publikasies

"Die Griekse filosowe van klassieke tye het my gedurende my studentejare baie geïnspireer. Uit Klein-Asië was daar Tales van Milete wat in sy kosmologie byvoorbeeld gesê het dat water die oersubstansie van alles is. Ek kon dit verstaan. In my lees van Genesis 1 en 2 was daar ook sprake van water en mistigheid. Ek het selfs in 'n stadium gewonder of Tales dalk die Bybel gelees het. Hy is immers in plus-minus 640 vC gebore, ongeveer 300 jaar ná Genesis 2 geskryf is en 100 jaar voordat Genesis 1 die lig gesien het. Dit is nou as 'n mens die tradisionele J- (Jahwistiese) en P- (priesterlike) skrywertradisies in ag neem. Die J-skrywertradisie kom hiervolgens uit vóór 722 vC, toe Samaria deur die Assiriërs verwoes is, en die P-tradisie uit die tyd kort voor en/of ná die ballingskap (ca. 538 vC). Anaksimander (611-549 vC), 'n ander vroeë Griekse filosoof, het weer die woord apeiron gebruik. Daarmee wou hy iets vertolk van die oneindigheid, en die onmeetbaarheid van die oersubstansie. Dit is 'n woord waarvan ek tot vandag toe hou. Ek het altyd gedink dié woorde wou sê dat ons as mense nie so wonderlik is soos ons dink nie. Daar is dinge waarvan ons niks verstaan of selfs weet nie, en waarskynlik ook nooit sál weet nie..." So skrywe Prof. Willie Esterhuyse in sy nuwe boek, Die God van Genesis.

Hierdie boek lees nie altyd maklik nie. Dit is so vol gepak met inligting van antieke filosowe, ou geskrifte en historiese interpretasies, dat 'n mens 'n paar keer een stuk moet oor en oor lees. Esterhuyse kry dit wel reg om 'n mens in hierdie antieke wêreld in te trek.

"Die stories na aanleiding van die Genesisverhaal wat hier in Die God van Genesis voorkom, sou oorspronklik deel gevorm het van God en die gode van Egipte, maar uiteindelik was dit nie moontlik nie vanweë integrasie- en ander probleme. Die outobiografiese benadering in God en die gode van Egipte is egter behou omdat dit 'n persoonlike verhaal verder voer. Hierin word wel aan sommige skrywers van die Bybelwetenskaplike storie aandag gegee, maar daar is só 'n oorweldigende magdom van stories oor Genesis dat 'n keuse onvermydelik was. En omdat dié keuse gemaak moes word deur iemand wat nie 'n teoloog, Bybelwetenskaplike of Ou-Testamentikus is nie (of wat die beskrywing van kundiges in dié verband ook al mag wees), het die keuse van literatuur baie te make met persoonlike oorwegings en oortuigings. Dit is mý storie!" Hierdie boek is dan ook presies dit – Esterhuyse se persoonlike storie met God.

In hierdie storie ontdek Esterhuyse dan ook 'n sekere verstaan van God. Die metafoor wat hy dan gebruik om hierdie verstaan te verduidelik gryp die leser se verbeelding aan. Sy metafoor is 'n "Amfiteater van die Oneindige". Esterhuyse se beskrywing van hoe hy by die beeld van God uitgekom het is wonderlik gedoen: "Onlangs, op besoek aan 'n gedeelte van die Sinaiwoestyn en ook aan Petra in Jordanië, kon ek en Annemarie, my reisgenoot, verstaan waarom daar in dié wêrelddeel met sy geskiedenis en uiteenlopendheid van mense en natuurlike omgewing, drie baie belangrike monoteïsmes ontstaan het: die Judaïsme, Christendom en Islam. Stap 'n mens deur Petra en beleef jy empiries hoe natuur en kultuur hier soos 'n goeie versnitwyn vermeng is, en dit in voor-Christelike tye, begin jy iets verstaan van die teenwoordigheid van dit wat mense die Onsienlike en Oneindige noem. Jy 'sien' wat alles gedoen is: die uitgebeitelde grafkelders, die asembenemend uitgekerfte fasades. Jy 'sien' wat natuurlike prosesse hier vermag het: die kloof van meer as 'n kilometer lank in die sandsteen, asof met 'n sterk hand uitgesny; die groot kom met berge wat omhoog gryp, en waarin die kloof uitmond. En dan "hoor" jy deur die "sien" ook die geheel, soos 'n goed uitgevoerde musiekstuk waar nie die individuele note nie, maar die geheel in die ore klink."

Die boek is vir stadig lees. Dit is wel die moeite werd!

Boekwurm

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za