.

Resensie: Living with a Wild God

Living with a Wild God

Living with a Wild God deur Barbara Ehrenreich.
Uitgewer: Granta Books. Prys: R257.

Wanneer 'n uitgesproke ateïs 'n boek skryf oor 'n mistieke ervaring in haar kinderjare kan dit nie anders as om die belangstelling te prikkel nie.

As die skrywer boonop 'n wetenskaplike met uitgebreide joernalistieke ervaring is, raak dit al interessanter. Die boek is nie in alle opsigte oortuigend nie, maar bied beslis stof tot nadenke vir diegene wat graag buite die boks dink oor geloof.

Barbara Ehrenreich waag om dit wat vir baie ateïste ondenkbaar is onder die vergrootglas te plaas. Sy oorweeg die moontlikheid van een of ander mistieke werklikheid wat 'n invloed op ons lewe het ná 'n voorval wat in haar tienerjare plaasgevind het.

Dit laat haar met 'n ongemaklike vraag: Kan sy haarself nog 'n ateïs noem as sy die moontlikheid van 'n niemenslike agent of agente erken wat ons lewens beïnvloed? Die misterieuse "Ander" waarvan sy praat, is myle verwyder van gelowiges se godsbegrip.

Die boek is geen outobiografie nie. Dit is 'n terugblik op haar eie mistieke ervaring. Tog lees dit soos 'n outobiografie omdat sy dié ervaring wat haar jare daarna opnuut aan die dink gesit het, op 'n outobiografiese manier aan die leser skets.

Sy kom uit 'n effens disfunksionele gesin met albei ouers wat te diep in die bottel gekyk het, 'n besitlike pa en hardhandige ma. Albei haar ouers was hoogs intelligent en oortuigde ateïste. Anders as die meeste van haar tydgenote word sy groot in 'n huis waar geloof geen rol speel nie.

Op pad huis toe ná 'n ski-naweek in die berge slaap sy en haar vriende in die motor.

Terwyl die ander nog slaap, gaan stap sy 'n ent. Dit is hier waar sy onverwags en regstreeks met die mistieke gekonfronteer word en 'n soort Damaskuservaring opdoen.

Dit is nie 'n godsdienstige ervaring soos Paulus s'n in die Bybel nie. Sy bly 'n ateïs. Tog vra sy later in die boek die vraag "Wat is 'n ateïs?" en kom dan met interessante antwoorde vorendag.

Huiwerig maar met innerlike oortuiging verklaar sy daar is dalk 'n groter "bewussyn" in die heelal teenwoordig waarvan ons onbewus is. Mistieke ervarings is volgens haar nie net gelowiges beskore nie.

Die teïsme wat sy verwerp, is monoteïsme. Spesifiek soos dit bely word in die Christelike, Joodse en Islamitiese godsdienstradisies.

Die geloof dat daar een almagtige, alwetende alomteenwoordige, liefdevolle God is, het nie vir haar sin nie.

Sy sluit aan by die teodisee-vraagstuk waaroor teoloë al deur die eeue heen debatteer: " 'n God wat tegelyk almagtig, alomteenwoordig, alwetend en liefdevol is, is 'n onlogiese teenstrydigheid en verdien nie veel aandag nie."

Ongelukkig ploeter sy te lank in die eerste deel van die boek voort oor onbenullighede en, vir 'n ervare skrywer, sukkel sy om op dreef te kom. Dit is eers in die laaste paar hoofstukke dat sy die verbeelding aangryp en met interessante hipoteses vorendag kom.

Die leser moet self besluit of Ehrenreich se mistieke ervaring die verbeeldingsvlug van 'n verwarde tiener uit 'n disfunksionele gesin was en of daar iets diepers in haar denke in steek. Vir my was dit iets van albei.

"Ateïsme en die mistieke onder die soeklig," deur Jean Oosthuizen (vryskutjoernalis).

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.