.

Resensie: Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë

Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë

Afrikanerdenkers in die skadu van apartheid: Oor Pieter Duvenage se Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë (Bloemfontein: SUN Press, 2016, ISBN: 9781920382780, R300, 306 bladsye)
LEES OOK:

Volgens een van die bekendste uitsprake van die Tsjeggiese filosofiese romansier Milan Kundera is die stryd van die mens teen mag die stryd van herinnering teen vergeet. Die mense van Suid-Afrika is tans gewikkel in 'n nuwe stryd teen mag, 'n mag wat ten regte én ten onregte deur die naam Zuma verteenwoordig word – ten regte, omdat Zuma inderdaad in die naam van die mense teen die mense en ten gunste van sy familie en vriende regeer; ten onregte, omdat Zuma maar net die jongste van 'n lang lys leiers is wat voordeel trek uit die koloniale staatstruktuur wat die land vanaf 1910 tot vandag het.

Een van die kenmerke van die Suid-Afrikaanse koloniale staatstruktuur is hoe dit sy sentralistiese mag handhaaf deur die burgery te verdeel en oor hulle te heers. Omdat die verwagtinge wat aan die ANC gestel is, groter was as dié van sy voorgangers, was die risiko van burgerlike weerstand en politieke opposisie vir hulle van meet af ook groter. Hierop het hulle reeds vanaf die laat 1990's met hernude verdeel-en-heers-taktiek gereageer, soos ingelui met Thabo Mbeki se berugte tweenasiestoespraak in 1998. In die toespraak het Mbeki grof veralgemeen deur te verklaar dat Suid-Afrika nie een nasie is nie, maar twee – "die een ryk en wit, die ander arm en swart". Hiermee is 'n dramatiese breuk aangekondig met die retoriek van versoening en nasionale eenheid wat die Mandela-bewind gekenmerk het, en is 'n eerste wig tussen Suid-Afrikaners ná apartheid ingedryf.

Mettertyd het die ANC-regering meer en meer geswig voor die versoeking om sy eie mislukkings te verdoesel deur verskillende groeperinge en rolspelers plaaslik en buitelands te blameer vir wat in die land verkeerd loop – "ongetransformeerde minderhede", "groot kapitaal", "dislojale werkers", die CIA en die Amerikaners, 'n "derde mag" en wie weet wie nog. Die netto effek hiervan was om die ou verdelingslyne van die verlede nog skerper te trek, mense se algemene vervreemding te verdiep, maatskaplike spanning in die land te verhoog en 'n algemene gevoel van gatvolheid te laat posvat. Laasgenoemde word gedemonstreer deur die feit dat die Afrikaanse woord "gatvol" die prominentste Afrikaanse woord is wat wyd in die samelewing inslag gevind het, nes die woord "apartheid" voor 1994.

'n Betekenisvolle keerpunt het gekom met die #FeesMustFall-studentebeweging verlede Oktober. Hoewel die beweging teen e-tol al betekenisvol was as 'n nuwe burgerlike bondgenootskap wat 'n mate van sukses met sy eise teen die regering kon behaal, was die #FMF-studentebeweging die eerste nuwe burgerlike bondgenootskap wat vanaf sy beplanning vroeg Oktober binne drie weke nie net nasionaal uitgekring het nie, maar ook daarin kon slaag om sy eis vir 'n 0%-klasgeldverhoging af te dwing. Dit het ook daartoe gelei dat die ganse burgery vir die eerste keer bewus geword het van hoe skandalig die ANC-regering die hoër onderwys oor jare onderbefonds het.

Sedertdien bly studente landswyd die mees prominente bron van verset teen die huidige orde, maar ongelukkig het harde rassistiese en geweldsondertone die studenteprotes begin ontsier. Afgesien daarvan dat radikale elemente van buite kampusse die studentebeweging met wisselende grade van sukses by verskillende kampusse probeer kaap het, het 'n ander hoogs ontstellende feit onder die betogende studente aan die lig gekom, naamlik hoe swak hierdie studente se historiese kennis en bewussyn is. Hierdie gebrekkige historiese bewussyn is ongetwyfeld die gevolg van die oudiovisuele kultuur waarbinne hierdie studente grootgeword het, maar eweneens van die ANC-regering se skandalig eensydige skoolgeskiedeniskurrikulum. By daardie studente wat wel geskiedenis as 'n skoolvak tot graad 12 geneem het, vestig die kurrikulum gebrekkige historiese kennis wat maklik daartoe lei dat sulke studente kan glo aan 'n Suid-Afrikaanse geskiedenis waarin die "swart kant" goed en die "wit kant" boos is.

Aan die "wit kant" is daar ruim getuienis dat geskiedenis as skoolvak tussen graad 10 en graad 12 'n stille dood sterf, aangesien Afrikaanse skoliere ongeag kleur afgeskrik word deur die eensydige geskiedenisleerplan. So byvoorbeeld is daar volgens my inligting vandag nie meer 'n enkele Afrikaanse openbare skool in die Vrystaat waar geskiedenis van graad 10 tot 12 as skoolvak aangebied word nie. By een van die voorste Afrikaanse hoërskole in Bloemfontein het 'n poging om 'n geskiedenisklub te stig ook misluk. So kan 'n mens aangaan.

Een van die rektore wat onlangs militante studentebetogings moes trotseer, het aan my vertel dat wat hom die meeste van die militante studente bekommer, hulle "absolute irrasionaliteit" is. Volgens sy ervaring is die studente met wie hy moes onderhandel, totaal onversetlik en geensins bevatlik vir enige ander argumente as hulle eie nie. Ongeag wat die militante studente se siening van die betrokke rektor mag wees, klop sy ervaring met myne. Hierdie onversetlike irrasionaliteit is 'n regstreekse gevolg van die gebrekkige historiese bewussyn waarmee hierdie studente op universiteit aankom.

'n Duidelike manifestasie van hierdie gebrekkige historiese bewussyn is militante studente se bewering dat die kurrikulum "Eurosentries" is en "gedekoloniseer" moet word. Soos uit my opmerkings oor Suid-Afrika se koloniale staatstruktuur hier bo behoort te blyk, is ek ook sterk ten gunste van Suid-Afrika se dekolonisering, insluitende die kurrikulum aan universiteite. Maar waar ek van die militante studente verskil, is in my taksering dat die meeste universiteite se kurrikula inderdaad al in 'n redelike mate gedekoloniseer is. Wat ek hiermee bedoel, is dat daardie vakgebiede wat oor plaaslike kennis en omstandighede handel – veral in die geestes- en menswetenskappe – kurrikula inderdaad dalk nog sterker as voorheen gerig is op plaaslike omstandighede en plaaslike kennis. Oënskynlik voel die meeste militante (swart) studente egter dat dekolonisering van die kurrikulum gelyk is aan die bestudering van slégs denkers wat in Afrika gebore en getoë is, of ten minste dan hoofsaaklik gemoeid met Afrika en die (post)koloniale vraagstuk. Dit is egter nie dekolonisering nie, maar 'n soort bisarre selfkolonisering, waarvolgens ek my op heel parogiale wyse beperk tot my eie konteks – so asof Afrika nie deel van die wêreld is nie, en so asof toonaangewende denkers van elders nie ook op Afrika betrekking het nie. Dit is niks anders nie as die gevaarlike soort sug na suiwerheid wat die Nazisme en die Sowjetunie met sy satellietstate gekenmerk het.

Intellektuele dekolonisering in Suid-Afrika behels dat die plaaslike denker erns met die plaaslike konteks maak en met behulp van idees wat, om welke rede ook al, plaaslik relevant is, daarna streef om 'n vrye en regverdige Suid-Afrika te bevorder – ongeag die plek van oorsprong van die idees wat plaaslik ingespan word. Die toets van of intellektuele dekolonisering plaasvind, is dus nie die plek van oorsprong van die idees wat ingespan word nie, maar of die idees wat ingespan word, 'n vrye en regverdige Suid-Afrika bevorder. Indien idees van elders plaaslik aan universiteite en ander plekke van onderrig gedoseer word op so 'n wyse dat die plaaslike steeds ondergeskik aan elders gehou word, dan is daar wel sprake van 'n plaaslike handhawing van die koloniale toestand – nes die militantes eis om slegs "Afrika-idees" te gebruik die koloniale toestand op 'n ander manier handhaaf, omdat dit ons verdoem tot intellektuele parogialiteit en "suiwerheid" wat ons van meet af beperk tot 'n kleiner poel van idees. As ons in sokker bewegings van die Spanjaarde of die Brasiliërs kan aanleer, waarom nie ook idees van elders in ons leerplanne nie?

In hierdie verband is die filosofiese werk wat oor die afgelope eeu deur medium van Afrikaans aan die universiteit verrig is, 'n besonder leersame gevallestudie vir enigiemand wat met intellektuele dekolonisering erns maak. Waarom so? Wel, die opkoms van Afrikaans as akademiese taal in die algemeen en filosofiese taal in die besonder hang ten nouste saam met die strewe om in 'n plaaslike Afrikataal te antwoord op die koloniale erfenis van Suid-Afrika wat ten nouste met die Engelse taal verbind word. (Dit is inderdaad so dat belangrike en bepalende skeppende en filosofiese werk in Engels in Suid-Afrika ook oor die afgelope eeu gedoen is, wat dit eweneens 'n belangrike gevallestudie vir die projek van intellektuele dekolonisering maak, maar vir die doeleindes van hierdie resensie word die aandag by Afrikaans bepaal.)

.

Die sentrale begrip in die Afrikaanse antikoloniale strewe is natuurlik die begrip vryheid, waaroor Pieter Duvenage self elders verhelderend geskryf het (lees sy opstel oor Afrikaners se politieke denke in Peter Vale, Lawrence Hamilton en Estelle H Prinsloo se Intellectual traditions in South Africa, Durban: UKZN Press, 2014). So gesien, is die verhaal van Afrikaanse filosofie oor die afgelope eeu die verhaal van hoe drie geslagte Afrikaanse filosowe teen die agtergrond van 'n antikoloniale vryheidstryd en later apartheid in hul moedertaal in en oor die plaaslike konteks gedink het – maar ook wyer.

In 'n tyd waarin Afrikaans as akademiese taal onder ernstige druk verkeer, waarin vele Afrikaans-opgeleide filosowe stil-stil vir Engels as akademiese taal kies, waarin die afgryslike gevolge van 'n gebrekkige historiese bewussyn onder studente al hoe duideliker word, kom Duvenage met 'n tydige en dapper intellektueel-historiese oorsig oor die Afrikaanse filosofie. In 'n onlangse onderhoud met DeKat-TV vertel Duvenage dat ofskoon die bydrae van Afrikaanse filosofie oor die afgelope eeu ewe belangrik as die bydrae van die Afrikaanse letterkunde is, eersgenoemde nog nie naastenby die geskiedkundige aandag geniet het wat laasgenoemde te beurt geval het nie. Sy boek is dan 'n poging om dié saak reg te stel.

Duvenage se werk oor die Afrikaanse filosofiese geskiedenis die afgelope twee dekades – wat nou in hierdie boek 'n hoogtepunt bereik – is natuurlik nie die eerste nie. Twee van sy leermeesters, Hermann Giliomee en André du Toit, het wel al in die 1980's baanbrekerswerk gedoen met hulle boek Afrikaner Political Thought (Los Angeles: University of California Press, 1983), soos ook een van Du Toit se ander studente, Andrew Nash, met sy The Dialectical Tradition in South Africa (Londen: Routledge, 2009). Maar Duvenage se fokus in hierdie boek val spesifiek op die belangrikste filosofiese werk in Afrikaans aan die universiteite van Stellenbosch, Pretoria, Potchefstroom (nou Noordwes-Universiteit) en die Vrystaat. Werk deur filosowe aan die Universiteit van Suid-Afrika en die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) figureer ook.

.

Meer spesifiek is die fokus op wat breedweg beskryf kan word as die analitiese tradisie, en veral die kontinentale tradisie. Wat laasgenoemde betref, gee Duvenage aandag aan Afrikaanse eksponente van die eksistensialisme, die fenomenologie, die poststrukturalisme, die postmodernisme, die Reformatoriese wysbegeerte, en die meer klassieke Christelike tradisie.

Voor ek egter verder ingaan op die verskillende filosowe en temas wat Duvenage in sy boek by wyse van opstelle oor of gesprekke met geselekteerde Afrikaanse filosowe aan die orde stel, eers net een en ander oor die gebreke in die skopus van sy boek – gebreke wat amper onvermydelik met hierdie soort boek is.

Ten eerste figureer figure wat buite die universiteitswese of selfs buite die formele filosofie belangrike filosofiese werk in Afrikaans gedoen het, nie in die boek nie. In hierdie verband het een van die keurders van Duvenage se boek, Desmond Painter, verwys na figure soos Breyten Breytenbach en Antjie Krog. Hier sou ek ook die naam van WA de Klerk wou byvoeg. In die tweede plek is minstens een wesenlik belangrike bruin filosofiese stem afwesig, naamlik Adam Small. In die derde plek ontbreek twee ander figure van wie 'n enorme invloed binne en buite die universiteit uitgegaan het. Ek verwys in die eerste plek na Marthinus Versfeld, wat oor dekades aan die Universiteit van Kaapstad grondige werk met betrekking tot die plaaslike konteks in gesprek met die Katolieke tradisie en die Oosterse denke gedoen het, en ook 'n wesenlike stem teen apartheid was. In die tweede plek verwys ek na Fanie de Beer (gebore 1936), wat in die veelbewoë jaar van 1976 'n student van Paul Ricœur in Parys was en feitlik eiehandig sedertdien die vernaamste eietydse Franse denkers in Afrikaans bly bekendstel het.

Die voordeel van hierdie tekortkominge in Duvenage se boek is dat dit die leser in staat stel om baie spesifiek te fokus op hoe 'n aantal Afrikanerdenkers in die plaaslike konteks gedink het, en dan veral in die skadu van apartheid. Anders gestel: vir diegene wat erns maak met intellektuele dekolonisasie, is Duvenage se boek 'n gevallestudie van hoe Afrikanerdenkers in wisselende mate met intellektuele dekolonisering besig was te midde van apartheid, wat eens in die anti-apartheidstryd deur Joe Slovo beskryf is as 'n spesiale soort kolonialisme.

.

Om in fyner besonderhede op die tema van Afrikanerdenkers in die skadu van apartheid in te gaan, kan begin word deur aansluiting te vind by 'n gedagte wat die belangrikste Afrikaanse filosoof in die klassieke Christelike tradisie naas Marthinus Versfeld, Danie Goosen, ontwikkel in sy Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae (Pretoria: FAK, 2015). Aan die hand van die spanning tussen die voormoderne wêreld – die tradisie – en die moderne wêreld – die moderniteit – ontwikkel Goosen naamlik 'n insiggewende vertolking van die Afrikaners as 'n gemeenskap tussen tradisie en moderniteit. Goosen voer aan dat die Afrikaners as gemeenskap nie net hulle beslag in hierdie spanning kry nie, maar ook dat indien Afrikaners die een pool ten koste van die ander pool beklemtoon, dit rampspoedig sou wees. Hy is van mening dat dit presies is wat gebeur het met die apartheidsprojek, wat hy lees as die beklemtoning van moderniteit ten koste van tradisie.

Die relevansie van Goosen se vertolking blyk om veral twee redes by die lees van Duvenage se boek. Eerstens, soos wat Duvenage telkens in sy onderhoude met die filosowe wat hy hier aan die woord stel, die vraag opper van wat dit beteken om kontekstueel te dink, word dit weer en weer duidelik dat elkeen van die filosowe wat hier aan die woord is, niks anders as denkers in die tussentoestand was nie – tussen, enersyds, die tradisionele wêreld van hulle grootouers en hulle ouers en, andersyds, die moderniserende wêreld van hulle volwasse lewens, tussen Afrika en die Weste, met denkgereedskap ontleen aan die Weste (in al sy skakerings, soos byvoorbeeld Bert Olivier dit toelig) in gesprek met die plaaslike konteks van Suid-Afrika tydens en ná apartheid. Tweedens – en dit is eintlik reeds geïmpliseer – omdat elkeen van die filosowe hier aan die woord duidelik van meet af en dwarsdeur hulle lewens bewus was van hulle eie tussentoestand as denkers wat as't ware boer met implemente van 'n ánder plaas op hiérdie plaas.

.

Die eerste twee filosowe wat Duvenage hier aan die orde stel, Tobie Müller (1884–1922, foto: Wikipedia) en CK Oberholzer (1904–1983), behandel hy by wyse van intellektueel-historiese oorsigte oor hul lewe en werk, omdat dit uiteraard vanweë hulle afsterwe nie moontlik was om onderhoude met hulle te voer nie. Die eerste filosoof met wie Duvenage dan wel 'n onderhoud voer, is PS (Piet) Dreyer (1921–1999), kollega en tydgenoot van Oberholzer. Wat Müller, Oberholzer en Dreyer onder meer van die ander filosowe in die boek onderskei, is dat hulle almal voor 1948 gebore is, en almal sterk gevorm is deur die konserwatiewe landelike en meer tradisionele wêreld waaroor Goosen dit in bovermelde boek en ook in sy eie onderhoud in die boek met Duvenage oor sy eie ouers het. Ofskoon daar, soos Duvenage uitwys, by Müller vroeë tekens van 'n merkwaardige tussenbewussyn was, ook en veral oor Afrikaners as gemeenskap tussen Europa en Afrika, het sy vroeë dood verhoed dat hierdie tussenbewussyn behoorlik filosofies uitgewerk kon word. Daarteenoor is daar by Oberholzer en Dreyer as tydgenote van Afrikaners se omhelsing van modernisering (verstedeliking, verburgerliking, apartheid) 'n opvallend swakker tussenbewussyn. Om die waarheid te sê, klink Dreyer in vele opsigte by al sy goeie hoedanighede soos 'n mens sou dink een van sy Europese tyd- en vakgenote in veral, sê, die konserwatiewe Nederlandse teologiese kringe waarin hy oënskynlik self tuis gevoel het.

Vanaf die onderhoud met AMT (René) Meyer (geb 1922), Dreyer en in mindere mate Oberholzer se tydgenoot, klink 'n teenstem op wat protesteer teen die soort politiek en teologie van die hoofstroom Afrikanerwêreld van daardie jare. Dit is ironies in die sin dat waar die analitiese filosofie dikwels van 'n pretensie tot konteksloosheid en ahistorisiteit beskuldig word, Meyer juis in die analitiese filosofie die instrumente gevind het om vanuit 'n kontekstuele bewussyn skerp krities te reageer op die gebrekkige sin vir konteks wat syns insiens by filosowe soos Dreyer en Oberholzer aanwesig was. Tot die mate waartoe 'n mens van jou konteks bewus is, is jy ook van (die) ander bewus – en ewe ironies straal 'n onbegrip vir (die) ander ongelukkig ook uit Meyer se kritiek.

Waarskynlik die vernaamste verweer wat die voorstanders van apartheid in veral die 1950's en 1960's teen buitelandse kritici van apartheid aangevoer het, is dat diesulkes geen begrip vir die uitdagings van die plaaslike Suid-Afrikaanse konteks het nie. Waar apartheid, agterna beskou, vandag gelees kan word as 'n soort perverse erkenning van kontekstualiteit, het dit, te oordeel aan die geslag Afrikanerfilosowe ná bogenoemdes met wie Duvenage hier onder in gesprek tree, ironies genoeg 'n bepalende rol gespeel om Afrikanerfilosowe veel groter erns met die plaaslike konteks te laat maak. Die verskillende nuanses en vorme wat hierdie erns verkry in die gesprekke met Johan Degenaar (1926–2015), André du Toit (geb 1938), Danie Strauss (geb 1946), Bert Olivier (geb 1946), Johan Snyman (geb 1947) en Danie Goosen (geb 1953), vertel 'n boeiende verhaal.

Dit is 'n verhaal waarin blyk hoe elkeen van hierdie filosowe, ongeag of hulle van 'n armer agtergrond (bv Degenaar en Snyman) of meer middelklas agtergrond (bv Du Toit of Olivier) afkomstig was, of nader aan die kulturele en politieke establishment grootgeword het (bv Strauss of Goosen), almal in hulle ontwikkelingsfase vroeër of later met die heersende orde in botsing gekom het. Dit is ook 'n verhaal waarin blyk dat in weerwil van die geweldige poging tot eenvormige denke wat daar veral in die 1960's en 1970's van die apartheidsestablishment uitgegaan het, elkeen van hierdie filosowe 'n gesonde kritiese afvalligheid met onderling baie verskillende denkapparate ontwikkel het. So word die leser opnuut bewus van hoe geskakeerd en uiteenlopend selfs die Afrikanerwêreld van daardie jare was. Dit is dus geen wonder nie dat so te sê elkeen van hierdie filosowe langs verskillende weë 'n bykans instinktiewe sin vir die veelheid van die werklikheid en 'n pluralistiese politiek in die plaaslike konteks vertoon.

.

Johan Degenaar (foto deur Jean Oosthuizen), wat sekerlik die bekendste en invloedrykste van die filosowe in die boek is, word aan die leser bekendgestel as 'n skerp, speelse denker wat ondanks sy Afrikaner-nasionalistiese opvoeding in 'n arm huis in die destydse Natal baie vroeg al met die Stellenbosse establishment gebots het. Die verskillende fases van Degenaar se loopbaan – waarin hy belangrike werk gedoen het in die politieke filosofie, die etiek en die estetika – word behandel, en dit laat die blywende indruk dat sy beroemde verset teen apartheid miskien ten diepste gerig is vanuit sy gevoel dat apartheid as stelsel die verwondering vir die wêreld waaruit die filosofie vir die Sokratiese Degenaar ontspring het, wou versmoor en vervang deur 'n strakke wêreld waarin kleur nie meer kleurvol mog wees nie.

Degenaar se bekende student en latere kollega André du Toit kom vervolgens aan die orde. Ook Du Toit onderskei hom heel vroeg in sy studentejare as rebel teen die Stellenbosse establishment. Later in sy loopbaan doen hy nie net baanbrekerswerk oor Suid-Afrikaanse intellektuele geskiedenis nie, maar onderskei hy hom veral – ook internasionaal – vir sy werk oor oorgangsgeregtigheid, waarmee hy dan ook 'n wesenlike bydrae tot die totstandkoming van die Waarheid-en-Versoeningskommissie gelewer het.

Ná Du Toit ontmoet die leser die Bloemfonteinse Reformatoriese filosoof Danie Strauss, wat veral bekendheid verwerf het – plaaslik sowel as internasionaal – vir sy werk in gesprek met die Nederlandse Reformatoriese denker Herman Dooyeweerd. Hoewel Strauss – wie se pa, die staatsleerkenner, Herman Strauss, invloedryk in die Broederbond en die Nasionale Party was – nader aan die NP-establishment as Degenaar en Du Toit was, ontdek die leser dat Strauss die jongere ook vanuit die Reformatoriese tradisie sy eiesoortige kritiek op die apartheidsbedeling ontwikkel het. Strauss is egter meer bekend vir sy werk as kennisfilosoof, en die leser word ingelei in Strauss se belangrike werk in die gesprek tussen wetenskap en geloof.

Vervolgens kom die Oos-Kaapse filosoof Bert Olivier aan die beurt. Buiten Fanie de Beer en Danie Strauss is Olivier waarskynlik die mees interdissiplinêre Afrikaanse filosoof van die laaste 50 jaar. Hoewel Olivier lewenslank 'n baie skerp kritiese houding jeens die regering van die dag ingeneem het, is hy nie soseer 'n politieke filosoof nie as 'n estetiese filosoof met 'n sterk etiese sin. Die leser word bewus gemaak van hoe Olivier se kinderjare in die landelike Oos-Kaap by hom 'n lewenslange sin vir die omgewing en vir skoonheid gevestig het, wat veral neerslag gevind het in sy werk oor die poststrukturalisme, films en die ekologie. Olivier blyk dan ook een van die skerpste Afrikaanse kritici van die kapitalisme te wees, ofskoon nie soseer vanuit 'n Marxistiese hoek nie.

Ná Olivier is dit die beurt van Johan Snyman. Ook Snyman het reeds tydens sy studiejare aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderrig (nou NWU) vanweë sy verset teen apartheid in botsing gekom met die universiteitsowerhede. Hieruit volg sy belangstelling in die Duitse kritiese teorie van die Frankfurt-skool, wat uitloop op sy belangrike werk oor, enersyds, die estetika en, andersyds, die verwerking van kollektiewe historiese trauma. Wat laasgenoemde betref, word die leser ingelei in die belangrike en histories verantwoorde werk wat Snyman gedoen het om Duitsland ná Nazisme en Suid-Afrika ná apartheid te vergelyk – sonder om 'n te maklike, vulgêre gelykstelling van die twee stelsels te maak.

.

Die laaste woord in die boek behoort aan Danie Goosen (foto: LitNet). Goosen, wat waarskynlik beter bekend aan die publiek is vir sy werk as voorsitter van die FAK, het hom tussen omstreeks 1980 en 1995 gevestig as waarskynlik die voorste Suid-Afrikaanse vertolker van Nietzsche, Heidegger en Derrida. Dan, vanaf die laat 1990's, ondergaan Goosen se loopbaan 'n wending wat meer radikaal is as enige van die ander denkers in Duvenage se boek, wanneer Goosen hom wend tot die klassieke Christelike tradisie en mettertyd 'n hoogs oorspronklike tradisiegebonde kritiek van die moderniteit ontwikkel in twee manjifieke boeke wat in voortreflike Afrikaans geskryf is, naamlik Die nihilisme: Notas oor ons tyd (Johannesburg: PRAAG, 2007) en sy bogenoemde Oor gemeenskap en plek. In vir my een van die mooiste sinne in die boek waarsku Goosen dat indien die staat se druk op die Afrikaanse universiteite nie weerstaan kan word nie, "sal ons van ons Afrikaanse universitêre erfenis gestroop word, en daarmee ook van die ryk dog breekbare tradisie van Afrikaanse filosofiese denke wat in die 20ste eeu gestalte begin kry het" (248).

Ter afsluiting: Oor 'n periode van byna twee dekades, wat nagenoeg saamval met die eerste twee dekades ná die einde van apartheid, het Duvenage in samewerking met sy gespreksgenote 'n merkwaardige tydsdokument saamgestel. In hierdie tydsdokument blyk nie net watter boeiende denkarbeid in die skadu van apartheid – dit wil sê baie beslis ook in die lang geskiedkundige skaduwee wat apartheid vandag nog gooi en nog lank gaan gooi – deur hierdie denkers in Afrikaans verrig is nie, maar ook watter reuse-denkuitdagings die plaaslike konteks steeds stel.

Die vraag waarmee Duvenage en sy gespreksgenote my uiteindelik gelaat het, is: Wie sal verantwoordelik en dapper genoeg wees om hierdie uitdagings vandag en môre te aanvaar?

Van die antwoord op hierdie vraag sal afhang of die morele en nog onvoltooide taak om die denke van elders hier, in Afrikaans, te laat tuiskom, voortgesit sal word.

Want dit is 'n taak wat nog wag.

Johann Rossouw, Seminare en essays (soos verskyn op Litnet)

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.