.

Resensie – God Is daar ‘n ander antwoord?

.

Soos gepubliseer op LitNet.
Resensie: Sakkie Spangenberg
Skrywer: Ben du Toit

LAPA Uitgewers (Wenkbrou)
ISBN: 9780639601083 (Sagte band)
ISBN: 9780639601120 (e-boek)

Skrywers beplan gewoonlik nie wanneer ’n boek moet verskyn nie. Hulle skryf, en as dit hulle geluk, vind hulle ’n uitgewery wat bereid is om die manuskrip in boekvorm te publiseer.

Ek vermoed Ben du Toit het nie, toe hy begin skryf het, beplan dat sy boek God Is daar ’n ander antwoord? in 2020 móét verskyn nie. Die verskyning van sy boek val egter nou saam met die verskyning van die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Dis ’n toevalligheid, sal sommige mense sê. Vir diegene wat in die Bybel en die teologie belangstel, is hierdie toevalligheid egter nie betekenisloos nie. Veral nie omdat die Bybel só ’n belangrike rol in die Protestantse tradisie van die Christelike godsdiens speel nie. Die Bybel word immers beskou as die Drie-eenheid se onfeilbare Woord waarin Hy sy wil en raadsplan aan die ganse mensdom bekend maak.

.

Die hervormers: Heinrich Bullinger, Girolamo Zanchi, John Knox, Huldrych Zwingli, Pietro Martir Vermigli, Martin Bucer, Hieronymus von Prag, William Perkins, Jan Hus, Philipp Melanchthon, Martin Luther, Jean Calvin, Theodore Beza en John Wyclif. In die voorgrond ’n kardinaal, ’n duiwel en ’n pous. (Bron: WikiCommons)

Sedert die tyd van die Hervorming (16de eeu) het dit praktyk geword om die Bybel so spoedig moontlik in die moedertaal van Christene waar ook al ter wêreld te vertaal. Mense moet die Drie-eenheid via die Bybel in hulle moedertaal kan hoor praat. Sendelinge van die Rooms-Katolieke Kerk het hierdie praktyk mettertyd oorgeneem en Katolieke teoloë is deesdae self ywerige Bybelvertalers. Ben vertel iets hiervan vroeg in sy boek wanneer hy oor sy militêredienspligjare skryf. Hy moes tydens een van sy kampe die pas gepubliseerde Nuwe Testament in Kwangali aan die Kavango-bevolkingsgroep in Namibië uitdeel. Katolieke vertalers was vir die vertaling verantwoordelik, maar hier werk Katoliek en Protestant nou saam. Aan die Grens word hy egter gekonfronteer met vrae oor die relevansie van die Nuwe Testament. Van die mense vir wie die Nuwe Testament bedoel was, was al vertroud met die Ou Testament en kon met die verhale daarin identifiseer, maar hoe nou gemaak met die verhale in die Nuwe Testament wat vertel van liefde vir die vyand? Hoe gemaak as die vyand jou volksgenote in twee kampe verdeel – na regte aan twee lande toewys? Hoe gemaak as hulle van jou verwag om jou rug op jou eie mense te keer en hulle as deel van die vyand te sien bloot omdat hulle (vanweë koloniale magte wat landsgrense lukraak in Afrika getrek het) burgers van ’n buurland geword het? Ben wonder ook of dit geskik gepas is om die Bybel sommer net in mense se hande te stop sonder begeleidende materiaal wat hulle kan help om dit reg te verstaan.

 

Aan die Grens word hy egter gekonfronteer met vrae oor die relevansie van die Nuwe Testament. Van die mense vir wie die Nuwe Testament bedoel was, was al vertroud met die Ou Testament en kon met die verhale daarin identifiseer, maar hoe nou gemaak met die verhale in die Nuwe Testament wat vertel van liefde vir die vyand? Hoe gemaak as die vyand jou volksgenote in twee kampe verdeel – na regte aan twee lande toewys?

 

Vreemd genoeg is dit nie in die eerste plek die Bybel wat Ben tot nadenke gestem het nie, maar die kerklike leerstellings en kerklike praktyke. Tydens sy teologiese studies op Stellenbosch vind hy aanklank by die sistematiese teoloë en nie by die Ou- of Nuwe-Testamentici nie. Dis die sistematiese teoloë wat studente bekendstel aan die teologiese nadenke deur die eeue. Dis by hulle dat teologiese studente leer dat die Vadergod die Skepper is; dat die Seun van God (Jesus) die Verlosser is en dat die Heilige Gees die Trooster en Onderhouer is. Dis ook die Gees wat die kerk (so word geglo) deur die eeue begelei in sy teologiese nadenke en uitlewing van die geloof. Ben meld dat FJM Potgieter, Willie Jonker en Flip Theron hom beïndruk het. Tydens sy diensjare as predikant in die Oos-Kaap ontmoet hy egter die jonger Wentzel van Huyssteen (ook ’n sistematiese teoloog) wat aan die hoof van die Departement Bybelkunde aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) staan. Hy, meer as die vorige drie, sou ’n blywende indruk op Ben maak en hom dieper in die rasionele nadenke oor die teologie inlei. By hom leer Ben hoe ’n teoloog die Christelike geloof rasioneel kan verantwoord. Onder sy leiding voltooi Ben dan ook sy meestersverhandeling en doktorstesis, en ’n lewenslange vriendskap word gesluit.

.

Hierdie boek is Ben se derde een wat oor die Christelike godsdiens, die NG Kerk en die teologie handel. Die eerste van hierdie trilogie dra die titel God? Geloof in ’n postmoderne tyd (2000). Die tweede heet Sprakeloos oor God: Hoe bly ek glo in ’n vreemde wêreld? (2005). Die derde, wat nou, 15 jaar later verskyn, dra die ietwat vreemde titel God Is daar ’n ander antwoord? Daar is geen leesteken na God op die voorblad of die titelblad nie en ’n mens wonder: Moes daar dalk ’n punt, ’n komma, ’n dubbelpunt, of ’n uitroepteken na die woord gestaan het? Suggereer die titel ’n wanhoopskreet? Iets soos: “God! Is daar ’n ander antwoord?” of “God, is daar ’n ander antwoord?!” Die pragtige voorblad van ’n plaashek wat oopstaan, dra daartoe by dat ’n mens oor die titel en die inhoud van die boek wonder. In die binneblaaie van die boek is daar egter op elke ewebladsy 'n dubbelpunt na die woord God.

 

Hy het gehoop dat hy en sy tydgenote daarin sou slaag om die liefde van God sigbaarder te maak in die NG Kerk. Om die NG Kerk mensvriendeliker te maak. Dit moes ’n instelling word waar alle mense, van welke geslag, kleur, geur en/of seksuele oriëntasie ook al, tuis moes voel.

 

Om anders te wees as die “Ooms”

Wie die vorige twee boeke gelees het, sal weet dat Ben (soos dit ’n goeie teoloog betaam) diep nadenkend leef. Hy is wyd belese, en lief vir musiek, die natuur en sy familie. Hy het voorts nóú saam met ander NG predikante gewerk en op verskeie rings- en sinodale kommissies gedien. Hy ken die NG Kerk en die teologie soos weinig ander NG predikante en teoloë. Hy het naby aan die hart van die NG Kerk geleef en hom met hart en siel aan hierdie kerk toegewy, soos sy sendelingouers. Hy en sy tydgenote wou anders wees as die “Ooms” van die destydse NG Kerk wat verantwoordelik was vir die gebruik en misbruik van die Bybel om apartheid teologies te ondersteun. Ben het gehoop om ’n verandering in die NG Kerk teweeg te bring. Hy het gehoop dat hy en sy tydgenote daarin sou slaag om die liefde van God sigbaarder te maak in die NG Kerk. Om die NG Kerk mensvriendeliker te maak. Dit moes ’n instelling word waar alle mense, van welke geslag, kleur, geur en/of seksuele oriëntasie ook al, tuis moes voel.

Maar nou, na 50 jaar, is Ben ontnugter. Hy het op ’n harde manier geleer dat kerke doodgewone menslike instellings is en dat niemand wat ’n lidmaat daarvan is, ’n heilige is nie. Jaloesie, wedywering, ondermyning en liefdeloosheid kom ook hierin na vore.

.

Jürgen Moltmann (Foto: Maeterlinck, WikiCommons)

Ek het Ben se derde boek as ’n soort outobiografie beleef. Dis ’n bestekopname van sy reis met die NG Kerk en die teologie die afgelope 50 jaar. Terwyl ek dit gelees het, het sy vertellings my herinner aan die gesprekke wat die Duitse teoloog Jürgen Moltmann (1926–) en sy tydgenote na hul aftrede met mekaar gevoer het. Moltmann en sy teoloog-vrou, Elisabeth Moltmann-Wendel, het ’n simposium gereël waartydens elkeen kon vertel hoe hulle teologiese insigte en oortuigings verander het. Hulle het immers die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) en al sy ellendes en wreedhede beleef. Hierdie gesprekke is nie alleen op die Duitse TV gebeeldsend nie, maar is ook gepubliseer, onder die titel Wie ich mich geändert habe (1997).

Wat bogenoemde boek en Ben s’n gemeen het, is die oortuiging dat die teologie nie vir tyd en ewigheid dieselfde kan bly nie. Net soos Moltmann se geslag predikante en teoloë het ook Ben se geslag dramatiese veranderinge beleef. Moltmann-hulle moes nadink oor die Christelike godsdiens en teologie en dié se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog: Hoe het dit gekom dat Christen-nasies só wreedaardig teenoor mekaar kon optree? Ben-hulle (die leerlinge van Willie Jonker, Flip Theron, Johan Heyns, Conrad Wethmar en Wentzel van Huyssteen) moes nadink oor die Christelike godsdiens, die apartheidsteologie en die verontmensliking van ander landsburgers. Tydens die Moltmann-simposium het Dorothee Sölle onderstreep dat die teologie ná Auschwitz godsonmoontlik dieselfde kon wees as die teologie vóór Auschwitz. In Ben-hulle se geval kon die teologie ná apartheid nie dieselfde wees as die teologie vóór en tydens die apartheidsera (1948–1994) nie.

Ben se eerste boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd, was vir my die eerste teken van ’n herbesinning in die NG Kerk. Dit is immers gepubliseer kort na die bewindsoorname in 1994 en Ben het nagedink oor watter impak die nuwe wêreldbeeld op die tradisionele teologie het. Vir baie predikante en lidmate was dit ’n onthutsende boek en hy moes bontstaan om homself teen aanklagte te verdedig. Dit het tot sy tweede boek, Sprakeloos oor God: Hoe bly ek glo in ’n vreemde wêreld? gelei. Hierin het hy probeer aantoon dat sy nadenke hom nie van die NG Kerk en die Christelike teologie vervreem het nie. Hy het as’t ware ’n tweede naïwiteit in die sin van Paul Ricoeur (die Franse filosoof-teoloog) beleef.

Ben het met dié boek daarin geslaag om die wolwe van die deur weg te hou, maar die “tweede naïwiteit” is met sy jongste boek duidelik daarmee heen. Ricoeur (1913–2005) se betoog vir ’n tweede naïwiteit nadat ’n mens ’n kritiese fase in jou geloofslewe beleef het, het nog nooit vir my sin gemaak nie. Wie deur die “dal van doodskaduwee” beweeg het, kan nooit terugkeer na ’n soort naïwiteit nie. Wie die Kopernikaanse omwenteling in die sterrekunde en die Darwiniaanse omwenteling in die biologie hul eie gemaak het, kan die meesterverhaal van die tradisionele Christelike teologie eenvoudig nie meer onderskryf nie. Die oortuiging dat daar ’n perfekte skepping was wat deur menslike toedoen in duie gestort het, en dat die Skepper-Vadergod sy Seun na die aarde gestuur het om die sondeval en sy gevolge om te keer, maak doodgewoon geen sin meer vir mense wat kennis dra van ’n uitdyende heelal, ’n aarde wat miljarde jare gelede uit ’n planetêre newel ontstaan het en van ander kennis soos dat mense genetiese materiaal van sowel plante as diere in hulle omdra nie. Die mens is deel van die boom van lewe op aarde en is onderworpe aan dieselfde lewensprosesse as ander lewende organismes, plante en diere. Om die waarheid te sê, mense hoort tuis by die primate. Hulle word gebore, groei en sterf, en geen haan kraai daarna oor hulle bestaan nie.

.

Ben se derde boek gee blyke daarvan dat hy sy leermeesters ontgroei het en aanklank vind by onder andere Harry Kuitert (1924–2017) die Nederlandse sistematikus. Kuitert het twee treffende “one-liners” geskep: “Eerst waren er mensen en toen God” en “Alle spreken over Boven komt van beneden, ook de uitspraak dat iets van Boven komt.” Hierdie “one-liners” weerklink in Ben se boek. Maar hy gaan ook te rade by Dick Swaab, die Nederlandse neuroloog, wat oortuigend skryf oor die brein en godsdiens in sy boek Ek is my brein (2014). Dis in ons breine waar die gode gebore word. Dis in ons breine waar godeverhale hul oorsprong het.

Ben het deur die “dal van doodskaduwee” beweeg en aan die ander kant uitgekom – bevry van antieke teoloë se godsdienstige oortuigings wat duidelik verweef is met die idee van ’n drieverdiepingheelal waar die Drie-eenheid en die engele in die boonste verdieping leef, mense op die middelvlak en die Bose en sy trawante in die benederyk. Voorts dat die bewoners van die boweryk en die benederyk mense ten goede of ten kwade kan beïnvloed. Die Kopernikaanse omwenteling het die drieverdiepingheelal finaal vernietig en sedert Edwin Hubble (1889–1953) weet mense wat lees dat hulle in ’n uitdyende heelal leef waar hemel en hel nie meer aanwysbare en bewoonbare plekke is nie – al wys rugby- en sokkerspelers graag na bo uit dankbaarheid vir die gode se guns dat hulle ’n drie kon druk, of ’n doel kon skop. Ben maak hieroor kritiese opmerkings, asook oor mense wat glo dat hulle weerpatrone deur gebed kan verander, of die koronavirus in sy spore kan stuit.

 

Hy aanvaar die verwerping wat hom te beurt gaan val. Dis onafwendbaar. Hy kleineer nie diegene wat steeds aan die meesterverhaal van die Christelike godsdiens vashou nie.

 

Ben klop homself nie triomfantelik op die skouer omdat hy daarin kon slaag om bevry te word van die tradisionele Christelike leerstellings en tot die insig kon kom dat ménse gode skep nie. Hy staan grootliks verleë voor sy eie vroeëre naïwiteit en vra om begrip. Net soos ’n baba moet kruip voor hy/sy kan loop en hardloop, só aanvaar ons almal aanvanklik die godsdienstige verhale waarmee ons grootword as waar en eg. Dis eers wanneer ons volwasse en selfstandig word en wyd lees dat ons ons vroeëre naïwiteit kan insien en prysgee. Hy weet kerklidmate gaan hom veroordeel en predikante en vriende gaan hom die rug toekeer. Hy aanvaar die verwerping wat hom te beurt gaan val. Dis onafwendbaar. Hy kleineer nie diegene wat steeds aan die meesterverhaal van die Christelike godsdiens vashou nie. Hy trek ook nie ’n streep deur sy verlede nie, maar skryf: “Ek vereenselwig my met die Christelike tradisie as deel van my historiese verlede amper op dieselfde manier as wat daar mense is wat hulleself as niepraktiserende Jode (‘non-religious Jews’) beskou” (bl 168). Hy omskryf sy posisie tans as “post-teïsties” en distansieer hom van aggressiewe ateïste met hulle oordrewe sekerhede en hovaardige houdings.

.

Nadat ek die boek klaar gelees en daaroor begin nadink het, het ek skielik ’n aha-oomblik beleef. Ek het weer na die voorblad gekyk, en die simboliek van die plaashek het verder ontvou. Ek wou vir Ben skryf en sê: “Ben, hier kan die verhaal tog nie eindig nie ... Kyk wat lê anderkant die plaashek – dis die groot grasvlaktes van Afrika! Daar waar ons mensspesie (Homo sapiens) sy oorsprong het!”

Hoe het die vroeë mense op daardie grasvlaktes met sy groot katte en ander gevare oorleef? Nie as individue nie, maar as klein gemeenskappies. Wat het daardie gemeenskappies bymekaar gehou? Hulle het saam gedans, saam gesing, saam musiek gemaak, terwyl van hulle in beswymings verval en later vir die res van die “onsigbare wêreld” vertel het.

Die mens is ’n sosiale wese, en sang, musiek, dans en stories is die gom wat mense bymekaar hou. Dit lê aan die basis van alle godsdienste. Ook die groot godsdienste van die groot ryke. Om ’n groot, magtige ryk bymekaar te hou, vereis ’n goeie godsdienstige verhaal – ’n meesterverhaal. Daardie verhaal moet ook deur sang, musiek en selfs dans weergegee en beleef kan word. Keiser Konstantyn (275–337) en keiser Theodosius (346–395) het dit gesnap en daarom neem hulle die Christelike godsdiens oor en word dit die staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk. Hierdie godsdiens het nie net die Romeinse Ryk byeengehou nie, maar al die groot ryke van die Westerse wêreld. Waar daardie ryke ook al hul tentakels ingeslaan het, daar het die Christelike godsdiens gevolg. Sendelinge was maar net diensknegte van die ryk. Daarom is die ander mense van die verre lande nooit op gelyke voet ontmoet nie (ook hier in ons eie land). Hulle was heidene, barbare en onbeskaafdes. Hulle moes hulle verhale laat vaar en die enigste ware verhaal van die Christelike godsdiens aanvaar. Hulle moes klone van die burgers van die groot ryk word.

Wetenskaplike navorsing het die meesterverhaal van die Christelike godsdiens sedert die 15de eeu begin ondermyn en dit het in ons dag uitgeloop op ’n totale ineenstorting van hierdie verhaal. Die onsigbare wêreld met sy gode het verdwyn, maar mense het steeds behoefte aan verhale om sin te maak van die lewe. Mense wil ook steeds musiek maak, sing, dans en kuns beoefen. En vreemd genoeg, mense wil ook steeds beswymings beleef. Daarom speel drank en dwelms so ’n groot rol in ons samelewings.

 

Ons moenie meer ons oë rig na die hemel en na die Skepper-Vadergod verlang nie, maar op Moeder Aarde fokus. Die tyd is min en die werk baie.

 

Op diegene wat afskeid geneem het van die Skepper-Vadergod en die Christelike verlossingsverhaal rus nou ’n plig om verhale te skep waarmee hul kinders en kleinkinders kan leef en sin kan ervaar. (Hiermee sal jy moet help, Ben!) Ek sing egter reeds dankbaar saam met Coenie de Villiers sy lied “Katedraal” en saam met David Kramer sy lied “Die ou aarde”, want hier hoor ek die elemente van die nuwe verhaal. Ons moenie meer ons oë rig na die hemel en na die Skepper-Vadergod verlang nie, maar op Moeder Aarde fokus. Die tyd is min en die werk baie.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.