.

Resensie: Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef

Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef

Johannes Bertus de Villiers is 'n vaardige joernalis wat hom soms met eksotiese en esoteriese dinge besig hou – soos sy boek verlede jaar oor die spiritisme, Agter die somber gordyn, getuig.

In sy jongste boek, Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef (Tafelberg, 2012) skryf hy oor sieners en bekommerdes, teoretici en kristalbalkykers wat nadink of nagedink het oor hoe die wêreld tot sy einde sal kom. Veral die sogenaamde Maja-kalender – wat volgens sommige berekenings aandui dat "die einde" op 21 Desember 2012 sal aanbreek – het baie goedgelowiges op hol.

De Villiers beskryf talle moontlike "eindes": uitbarstings op die son, planete wat bots, vyandige ruimtewesens wat op die aarde land, 'n ruimterots wat die aarde tref, 'n supervulkaan wat uitbars, die ekostelsel wat in duie stort, dooie mense wat uit die graf uit opstaan en dan lewendes begin jag, vuur vanuit die hemele...

En hy gee (meestal tong in die kies) raad oor hoe 'n mens aan dié katastrofes kan ontkom, en alhoewel die boek lig geskryf is, het De Villiers baie goeie navorsing gedoen.

Self meen hy nie die mensdom se bestaan op aarde gaan binne die volgende twee of drie jaar tot 'n einde kom nie. Hy gee ons nog so honderd of tweehonderd jaar.

"Maar dan gaan dit oor wees. Ons gaan nie veel langer as dit hou nie. Die ekologiese ramp wat ons op die aarde ontketen het, is reeds onomkeerbaar," skryf hy. Maar as die mensdom van die aardbol verdwyn, hoef dit nie die einde van ál wat leef en beef te wees nie. Inteendeel, dit wat ná die katastrofe oorbly, sal waarskynlik beter daaraan toe wees. Sonder ons...

Dit is 'n interessante boek. De Villiers sal jou help om verskeie teorieë vinnig onder die knie te kry en met 'n glimlag hier en daar ook sommer 'n paar belangrike waarskuwings deur te gee oor hoe ons sinvol moet leef op hierdie enigste woning wat ons het.

Resensie deur Jean Oosthuizen.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.