.

Resensie – Blydskap: Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe

Blydskap: Mindfulness-wenke vir 'n vreugdevolle lewe

Uitgewer: Tafelberg

Johannes Bertus de Villiers wys hoe geluk 'n haalbare doel vir enigiemand is. Sy nuwe boek, Blydskap: Mindfulness-wenke vir 'n vreugdevolle lewe, is 'n omvattende kyk na lewensvreugde, met praktiese wenke en ware verhale as ondersteunende voorbeelde. Hy stel die kyker op 'n gemaklike manier bekend aan tegnieke wat jou kan help om meer vreugdevol en bewustelik te leef. Vind in hierdie boek 'n blik op lewensvreugde; alles van teorieë oor wat presies blydskap behels tot praktiese wenke om dit te bereik, met inligting van spiritueles sowel as sielkundiges. Ware verhale staaf sy voorstelle. Hierdie boek is 'n moet lees!

Hier is 'n kort uittreksel uit Blydskap, dit illustreer hoe gemaklik en boeiend De Villiers skryf:

"Nie te lank gelede nie is ek in Thailand vir 'n kongres oor mindfulness en meditasie. Dié sort kongresse trek gewoonlik al wat 'n monnik, non of vrome mens is uit Japan, Korea, en soortgelyke plekke, so ek het verwag om meestal met Oosterse Zen-meesters te gesels. Maar op die bussie vanaf die lughawe in Bangkok beland ek langs 'n vreemdeling uit Serwië. Vermoedelik het baie min mense wat hier lees al ooit die Suidoos-Europese land Serwië besoek of selfs al daaraan gedink om daar 'n draai te maak. As mens die naam Serwië hoor, dink jy waarskynlik aan afgryslike nuusberigte uit die negentigerjare, stories oor die ingewikkelde Balkan-oorloë waar mens nooit presies geweet het wie baklei nou eintlik teen wie en waaroor nie, maar waar jy gereeld gelees het van volksmoorde, massagrafte en sluipskutters wat burgerlikes in die strate afmaai. Dit was die eerste keer dat ek 'n Serwiër ontmoet het. Nugter weet wat ek verwag het – dalk 'n oorlogmisdadiger vol tattoeërmerke met 'n wrede kyk in sy oë. Maar my reisgenoot was 'n saggesproke jong man wat met my 'n geselsie oor die waarde van omgee en deernis aangeknoop het. Binne 'n paar minute het ons so lekker gesels dat ons soos ou vriende gevoel het. Mediteerders ruil soms snaakse stories oor en weer uit.

Het ek geweet daar bestaan in Thailand mense wat so baie mediteer dat hulle net tyd kry vir een maaltyd per dag, meestal bestaande uit goggas in visolie? het hy my gevra. Het hy geweet daar is in Tibet mense wat tot drie jaar en drie maande op 'n slag roerloos in 'n boks sit en mediteer? het ek hom gevra. En het ek geweet, wou hy weet, daar is in Serwië 'n mediteerder wat in die kop geskiet is en vandag as 'n vredesaktivis werk? Gits, nee. Die laaste een, moes ek bieg, was 'n storie waarvan ek nog nie gehoor het nie. My nuwe Serwiese vriend vertel my toe van die merkwaardige Bosko Cirkovic en hoe meer die storie gevorder het, hoe meer het dit my joernalistieke nuuskierigheid geprikkel. Dít was nou iemand wat ek sou wou ontmoet. Selfs nadat die kongres verby was, het ek aangehou om oor Bosko te wonder. Uit die artikels waarop ek aanlyn afgekom het, het ek vasgestel Bosko is iets in die vyftig jare oud, woon in Belgrado en werk as 'n wiskundeonderwyser aan 'n hoërskool. Wat Bosko veral interessant gemaak het (benewens natuurlik die feit dat hy in die kop geskiet is), was die feit dat hy die Serwiese verteenwoordiger van 'n internasionale organisasie genaamd die Stille Vredemakers was.

Die Stille Vredemakers is 'n internasionale organisasie wat meditasie gebruik om mense van onreg op aarde bewus te maak. Hulle bied meditasiekursusse aan in die Nazi-uitwissingskampe in Pole of in skuilings vir haweloses in die VSA. Die Stille Vredemakers se beleid is dat mediteerders nie net leunstoelpatats moet wees wat heeldag hul asem dophou nie; hulle moet die wêreld se swaarkry in die oë kyk en planne maak om dit te help genees. In Serwië is daar baie geleenthede om die monsters van die verlede in die oë te kyk. Toe die destydse Joego-Slawië in die vroeë negentigerjare in 'n klomp kleiner lande opgebreek het, het 'n regs-nasionalistiese regering in Serwië, die grootste van dié state, aan bewind gekom en 'n veldtog begin waarin hul die een massamoord en oorlogsmisdaad ná die ander in hul buurlande soos Bosnië, Kroasië en Kosovo gepleeg het..."

Meer by https://www.instagram.com/johannesbertus/

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.