Resensie: Agter die somber gordyn

Johannes Bertus de Villiers: Agter die somber gordyn

Woordfees-onderhoud (Maart 2011) deur Annemarie de Villiers met skrywer Johannes Bertus de Villiers. 'n Studie oor die vergete geskiedenis van die Afrikaanse spiritisme. Griffel gee die boek uit.

Annemarie:  Wie beskou jy as die teikenlesers van Agter die somber gordyn? Dink jy daar is wêreldwyd 'n hernude belangstelling in die geestelike in al sy fasette? (Hierdie stelling is deur Piers Morgan gemaak in sy onlangse onderhoud met Anthony Hopkins oor sy jongste fliek, The Rite.)

Johannes:  Oor teikenlesers: ek dink daar is baie mense wat nogal – soos ek – in hulself 'n openheid beleef vir iets wat as "esoteriese spiritualiteit" beskryf kan word, mense wat glo dat die geesteswêreld soms op onverwagte en kleurvolle maniere kan manifesteer. 'n Eenvoudige woord daarvoor sal wees die "bonatuurlike" en deesdae sal baie mense dit gelykstel aan kristalle en numerologie en idees oor Tibettaanse lamas. Ek dink baie mense sal verras wees om uit te vind dié gedagtes is eintlik glad nie so volksvreemd of aardskreiend nuut nie, en dat daar onder die ou voorgeslagte van Afrikaners reeds eeue lank mense is wat hul met alternatiewe geestesverskynsels bemoei.

Een van die mistastings wat ek met die boek wou aantoon, is dat ons op die oomblik in 'n tyd van ongekende spirituele diversiteit lewe terwyl die ou mense deur die bank gereformeerd en konserwatief in hul belewenis van die geesteswêreld was. As mens teruggaan en die eietydse geskrifte van Afrikaanse mense en hul voorsate lees, dan vind jy 'n verskeidenheid religieuse opvattings, volksgelowe en selfs populêre okkulte wat oor eeue heen strek. Hulle het geglo in spoke, het geeste opgeroep, het boeke van Hindoe-swami's gelees, het probeer opstyg en astrale reise aangepak. Al in die ou Boererepublieke en Kaapkolonie.

Die setlaars en slawe wat vanuit Europa en Suidoos-Asië hier aangekom het om die stamvaders van die Afrikaanssprekendes te raak, was allermins eenvormig vroom en het met hulle 'n klomp idees uit die pre-Christelike gelowe van Europa, die Indonesiese sjamanisme en ander rare geestelike strome saamgedra. Deur die eeue is dit hier mondelings lewend gehou sodat jy in die 1800's (wanneer geskrewe rekords volop raak) onder Afrikaanse mense 'n ywerige en redelik beweeglike vorm van spiritualiteit aantref. Vir die grootste deel van die laat 1800's en 1900's was een van die NG Kerk se vernaamste bedrywighede "sektebestryding" – om wal te gooi teen al die geestelike rigtings wat onder die volk gewildheid geniet het.

Die idee dat geestelikheid eenvormig en vroom moet wees, is eintlik 'n redelik onlangse verskynsel onder Afrikaanse mense en het maar daarvan gekom dat 'n maatskaplike en politieke elite vanaf die middel 1900's 'n bepaalde idee van "ordentlikheid" gevestig het. Daardie idee is later op die geskiedenis teruggeskryf om dit te laat lyk asof esoteriese en "alternatiewe" gelowe volksvreemd aan Afrikaners was. Die realiteit was iets heel anders en het gemanifesteer in spiritisme, spookgelowe, Boeresieners, teosowe en ander soortgelyke verskynsels.

Annemarie:  Hoe betroubaar is die bronne wat jy vir jou navorsing gebruik het? Het jy dit op 'n akademies verantwoordbare wyse getoets?

Johannes:  Daar sal uiteraard verskillende menings wees oor wat presies so 'n "akademies verantwoordbare wyse" sal behels en ek kan nie dink dat ek almal sal bevredig nie. Maar die navorsing wat ek gedoen het, is grotendeels uit oorspronklike brondokumente saamgestel – mense wat vanaf die 1800's hul ervarings van spoke, geeste, goëlery ensovoorts in hul eie woorde opgeteken het.

Daar is byvoorbeeld 'n geval van 'n Boerewoning in die ou Natalkolonie – hier in die 1860's – waar daar goëlgeeste was wat saans pampoene en pierings rondgeslinger het en 'n paar mense byna beseer het – so reguit uit die rolprent Poltergeist. Verskeie ooggetuies het verslae van soortgelyke goëlgevalle neergepen waarin hulle breedvoerig vertel het wat hulle gesien het. Elders is daar 'n ooggetuieverslag van 'n man wat gesien het hoe 'n ander man in die 1870's in die lug opstyg en by die venster uitvlieg. Elders vertel 'n vrou hoe sy in die 1920's die tegniek van astrale reise bemeester en gereeld buite haar liggaam rondgesweef het. Elke keer deur eietydse ooggetuies neergeskryf.

Dat dié mense regtig so iets opgeteken het, is nie te betwyfel nie – enigeen kan die bronne in argiewe nagaan. Maar of jy nou glo dat die mense die waarheid gepraat het ... daar kom jy nou by iets wat moeiliker is om te bewys. En dit is ook nie die doel van die boek om die waarheid van dié mense se aansprake te beoordeel nie – eerder om hul woorde en stories op te teken vir 'n nageslag wat dit vergeet het.

Annemarie:  Jy verwys na die "enorme invloed" wat spiritisme op die "Afrikaanse intelligentsia" gehad het. Is jy nie nou besig om die geskiedenis "agteruit" te skryf nie, met ander woorde, die invloed van spiritisme à la Dan Brown te oordryf nie?

Johannes:  Die feit dat ons onbewus van die spiritisme se rol in die Afrikaanse geskiedenis is, is eintlik 'n gevolg van die "agteruit" skryf van geskiedenis – die wyse waarop dié dinge deur latere geslagte uitgetippex is. Wanneer ons vandag na die Afrikaanse geskiedenis kyk, dan moet ons onthou dat ons dit beloer deur die lens van dinge soos Christelik-nasionale geskiedskrywing, wat in die 1960's 'n enorme invloed gehad het, asook die groot Satanisme-histerie van die 1980's, wat mense 'n geweldige weersin in enige geesteverskynsels gegee het.

Die geskiedenis van die spiritisme en spokery onder Afrikaners is een wat nou as't ware herontdek moet word. Mens moet bo-oor die ontwrigtings spring wat intussen gebeur het. En as jy dan in die 1930's of 1950's land, dan sien jy hoe C Louis Leipoldt en FJM Potgieter en TJ Haarhoff in hul eie woorde oor dinge soos geeste en telepatie skryf. In die dae toe Die Huisgenoot nog die Afrikaanse New Yorker was (die 1930's en 1940's) het daar nouliks 'n maand verbygegaan dat daar nie oor die spiritisme of karma of parapsigologie berig is nie. Spookbeheptheid was oral en is onmoontlik om mis te kyk. En die spore lê steeds daar in die letterkunde van mense soos GA Watermeyer en DJ Opperman. Of in die verslae wat parapsigoloë aan universiteite soos Wits of Pukke agtergelaat het. Of in 'n verskeidenheid kommissieverslae in kerkargiewe.

Annemarie:  Wat is jou opinie van mediums wat in die openbaar optree, soos Marietta Theunissen van Die Ander Kant of John Edward van Crossing Over with John Edward? Dink jy dit is net 'n geldmaak-foefie wat teer op mense se verlies?

Johannes:  My studie was meer oor die invloed van outydse spiritiste (so vanaf die 1870's) as onder hul hedendaagse nasate. Maar uiteraard het ek ook moeite gedoen om bietjie by hedendaagse dodebesweerders te gaan inloer net om 'n begrip te probeer kry vir wat hulle doen en hoe dit werk.

Een van die interessantste dinge vir my was dat dié mediums se teenstanders dadelik die argument ophaal dat mediums vir eie gewin op hartseer mense "teer". En dis sekerlik moontlik. Maar onder die verskeie mediums wat ek ontmoet het, kon ek nie een vind wat treurendes uitbuit vir finansiële gewin nie. Ek sou graag so iemand wou vind – dit sou dalk meer balans in my narratief kon inbring, maar ek kón gewoon nie een opspoor nie.

Aan Marietta Theunissen het ek in die boek die somtotaal van een paragraaf afgestaan. Ek haal dit vir jou hier aan, want ek dink dit kan dalk 'n idee gee van hoe ek oor dié mense en hul werk voel:

Ek het in 2009 'n byeenkoms van Theunissen in 'n skoolsaal op Potchefstroom bygewoon. Dit het min van die uiterlike van ou séances gehad – Theunissen het bloot op die verhoog gaan sit en aan mense boodskappe van afgestorwenes oorgedra sonder dat 'n glasie, planchette of tafel ingespan is. Buitekant het 'n beswaarde groep plaaslike Christene pamflette versprei, maar binne was die gehoor van sowat 300 redelik konvensioneel – middeljarige vroue van ander plattelandse dorpe, mans in two-tone khaki-hemde wat met hul oorlede oupas wou praat. ("Ek kan sien jou oupa was 'n Afrikanerman met so 'n Boerenaam," het Theunissen vir een jong Boer in khakiklere gesê.) Mens het die idee gekry dat daar tog dalk weer iets van die okkulte onder gewone mense roer. Een vrou het huilend opgestaan en gevra vir 'n boodskap van haar oorlede seun. "Jou seun sê jy moenie meer vir hom kwaad wees nie, hoekom is jy vir hom kwaad?" het Theunissen die vrou in haar haastige stem geantwoord. Die vrou se seun was 'n polisieman wat onlangs doodgeskiet is, het dit geblyk. "Jy het hom gewaarsku om nie 'n polisieman te word nie, en nou is jy kwaad omdat hy nie na jou geluister het nie en jy nou alleen is," het Theunissen voortgepraat terwyl die vrou geween het. "Dit is tyd dat jy hom vergewe. Hy sê vir jou as hy weer kon kies, sou hy dieselfde werk gedoen het, dit was 'n edel werk en hy kon baie mense help, jy moet trots wees, jy moet vergewe en jy moet hom nou laat gaan." Die vrou, wat 'n eenvoudige blomrok gedra en waarskynlik nooit by 'n sielkundige raad sou vra nie, het opgekyk asof 'n lig oor haar geval het. Mens kon sien sy hoor Theunissen se raad asof dit van haar seun self kom. Sy het geglo en ek vermoed sterk sy was vanaf daardie oomblik op 'n pad na heling.

Annemarie:  Is jy self 'n skeptikus of 'n "bekeerling"? Met watter historiese figuur sou jy die graagste wou kommunikeer (indien moontlik) en hoekom?

Johannes:  Ek het nog nooit met 'n dooie gekommunikeer nie en weet nie of ek regtig sou wou nie. Maar ek was meer van 'n skeptikus voordat ek die boek geskryf het as wat ek ná die tyd was. Daar is mense wat in die spiritisme iets gevind het wat vir hulle heilig is, wat vir hulle troos en sin gee, en ek dink ek kan hulle daardie ruimte gun.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za