Resensie: God? Gesprekke oor die oorsprong
en uiteinde van alles

God? Gesprekke

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen & Frits Gaum. Tafelberg, R210.

Is dit moontlik om 'n oop gesprek oor godsdiens en die wetenskap te voer? Sakkie Spangenberg en Cas Vos verskil oor die geslaagdheid van George Claassen en Frits Gaum se gesprekke-boek.

"Die boek is uiteindelik ... meer as net 'n gesprek oor godsdiens en wetenskap; geloof en ongeloof. Hier word diepsinnig oor die lewe nagedink en gepraat – soms vanuit 'n Christelike perspektief, soms vanuit 'n sekulêre perspektief." – Sakkie Spangenberg

Die gesprek oor godsdiens en wetenskap wil maar nie tot bedaring kom nie – veral nie onder Afrikaanssprekendes nie. Die groot God-debat op LitNet (2002-'03) vlam telkens weer op. Vanjaar verras Tafelberg lesers met God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen en Frits Gaum is die samestellers, maar ook die ondervraers. George het 12 mense genader en Frits 12. In elke groep is vier uit die 12 vroue. 'n Derde dus. Hulle verdien om vermeld te word: Cecile Cilliers, Antjie Krog, Rhoda Kadalie, Lizette Rabe, Willemien Brümmer, Julie Claassens, Christina Landman en Christi van der Westhuizen.

Die ondervraers het tien vrae aan hul gespreksgenote gestel, maar die vrae wat George stel, verskil van die vrae wat Frits aan sy gespreksgenote stel. Die gesprekke uit die twee kampe wissel mekaar in die boek af. George voer eers 'n gesprek met byvoorbeeld Abel Pienaar. Dit word dan opgevolg met Frits se gesprek met byvoorbeeld Christina Landman. Dan volg daar weer 'n George-gesprek.

Dis byna soos in die Bybelboek Job, waar Job en sy drie vriende om die beurt met mekaar gesprek voer en Job die vergeldingsleer wat die vriende so intens verdedig, betwyfel en aan grondige kritiek onderwerp. Deur hul boek só te struktureer dwing die samestellers lesers om tussen die twee groepe en hul sienings deur te slinger. Só lees hulle van mense wat nog gemaklik is met die meesterverhaal van die Westerse Christendom en hoor hulle waarom ander hierdie verhaal die rug toegekeer het. Tussen die reëls deur kom 'n ander ewe singewende verhaal na vore.

Hierdie verhaal kan opgesom word met die woorde "geboorte-groei-dood", terwyl die Christelike verhaal opgesom kan word met die woorde "sondeval-verlossing-eindoordeel". Van die vrae wat Frits stel, hou met die sondeval, die idee van verlossing en eindoordeel verband. Van die vrae wat George stel, hou meer verband met waarom mense die Christelike verhaal die rug toegekeer het. Maar dit gaan by hom om meer as net hierdie soort vrae. Dit gaan ook oor hoe mense sin gee aan hul lewe nadat hulle van die Christelike verhaal afskeid geneem het.

Die boek is uiteindelik in sy totaliteit meer as net 'n gesprek oor godsdiens en wetenskap; geloof en ongeloof. Hier word diepsinnig oor die lewe nagedink en gepraat – soms vanuit 'n Christelike perspektief, soms vanuit 'n sekulêre perspektief.

Soms vanuit 'n Christelike perspektief deurweef met wetenskaplike kennis. Soms vanuit 'n sekulêre perspektief met spatsels van die Christelike verhaal. Elke gespreksgenoot vertel uiteindelik haar/sy eie lewensverhaal. Sodoende leer die lesers die gespreksgenote beter ken en hoe hulle met die lewe omgaan en sin daaraan gee. Toe die boek onlangs in By bekendgestel is, het die illustrasie by die artikel die indruk gewek dat sommige gespreksgenote die "smal weg" bewandel, terwyl ander op die "breë pad" loop.

Dis jammer dat hierdie illustrasie gebruik is. Dit wek die indruk dat mense wat die tradisionele Christelike meesterverhaal as uitgedien beskou en daarvan afskeid neem, gevaarlike mense is. Meer nog, dit wek die indruk dat dié mense nie 'n morele lewe lei nie – dít terwyl baie van hulle veel meer vir die aarde omgee as die meeste Christene. (Die verrassende in die boek is dat die woord "Aarde" deurgaans met 'n hoofletter geskryf word. Die rede hiervoor is vir lesers om te ontdek en te oordink.)

Dié boek bied heelwat stof tot nadenke. Nie alle gespreksgenote se antwoorde is ewe goed geformuleer nie, maar daar is gesprekke wat 'n mens weer wil lees en oordink. Teen die einde van die boek hang die vraag bokant jou kop: Hoe sien ek die begin en einde van alles? Waar staan ék ten opsigte van die Christelike meesterverhaal?

Sakkie Spangenberg is professor verbonde aan die Departement Ou Testament en Ou Nabye-Oosterse Studie by Unisa.

"Anders as Sokrates versamel Claassen en Gaum slegs gespreksgenote wat alleen saam met hul gespreksleier om die vuur sit en aan die murg van hul eie woorde suig. Daarom kom 'n oop gesprek nie tot sy reg nie." – Cas Vos

Sokrates het daagliks op die markplein gestaan en met vriende en vreemdelinge oor die probleme van die lewe gesels. Sy metode van dialoog was bekend as die maieutiese metode. Die woord "maieuties" hou verband met 'n vroedvrou. Sy ma was een. Sy vraag-en-antwoordmetode was 'n soeke na 'n nuwe lewe en die verlossing van die waarheid. Die redakteurs gebruik hierdie metode van vraag en antwoord.

Die vrae aan die deelnemers kom uit die dampkring van die gespreksleier en die antwoorde is meestal klinkklaar. Dit raak effens vervelig om byna elke keer dieselfde vraag te lees, maar gelukkig is die antwoorde nie uit een mond nie. Al die deelnemers stel hulle aan die leser voor. Die uitgangspunt van Claassen se gespreksgenote is: Ek glo nie daar is 'n G(g)od nie. Hierteenoor staan Gaum se deelnemers vas met: Ek glo in God. Vir Gaum se groep is God 'n Rots op wie 'n mens kan bou en vir Claassen se deelnemers is G(g)od 'n rots waaroor jy struikel.

Wat die deelnemers wel gemeen het, is 'n verwondering vir die skepping. Alles wat hy sien of buite sy verwagtingsveld gebeur, is vir Breyten Breytenbach 'n wonderwerk soos 'n nagtegaal se lied in die nagstilte van 'n kloof. Diegene wat in God glo, sien en ervaar óók die verwondering, maar sien agter die skeppingshorison die Skeppergod. George Claassen se gespreksgenote gee die redes waarom hulle nie glo nie of minstens skepties teenoor die geloof staan.

Daar is genoeg bewyse dat 'n skeppende Intelligensie se bestaan hoogs onwaarskynlik is. 'n Evolusionêre biologie sonder die bestaan van 'n God is moontlik. Te midde van kanker en onnoembare lyding kyk "god" van ver af toe. Die voorstelling van God as manlik vervreem en verneder die vrou. Voorts is "god" net 'n metafoor vir die wonder van die lewe. Hoe versoen 'n mens die gruwels in die Bybel (oorloë, moord, ens.) met 'n liefdevolle en genadige God? Die skeppingsvertellings steek sleg af teen fisika se noukeurige radiodatering.

Christus se bestaan word deur Claassen se gespreksgenote ontken. Sonde en die hiernamaals bestaan nie. Die Bybel is 'n onbetroubare bron van lewenskennis. Ná 'n oomblik van stilte is daar nog 'n paar sugte wat nie opgeteken kon word nie. Gaum se gespreksgenote gee weer redes waarom hulle in God glo. Die skeppingsverhale moet nie deur die oog van die natuurwetenskap bekyk word nie. God gebruik evolusie in die skeppingsproses. Al gaan die skepping en skepsel mank aan die wonde van die sonde, is die wonder dat God die skepping en sy skepsel onderhou. Geloof in God is die direkte ervaringsmatige uitdrukking van 'n band met iets of iemand wat ons "God" noem.

Asof uit een mond bely Gaum se gespreksgenote dat Jesus Christus gekruisig is en opgestaan het. Daar moet ook met die kulturele bepaaldheid van die Bybel rekening gehou word, en sonde is méér as net mense se dade. Daaragter lê mense se sondige geneigdhede.

Anders as Sokrates versamel George Claassen en Frits Gaum slegs gespreksgenote wat alleen saam met hul gespreksleier om die vuur sit en aan die murg van hul eie woorde suig. Daarom kom 'n oop gesprek nie tot sy reg nie. Nietemin is elke groep se sienings sterhelder en stem die leser tot nadenke. Dit kan hopelik nog die pad oopmaak vir die oop gesprek mét mekaar. Eindigheid blaas in al die deelnemers en lesers se nek. As iemand val, val hy of sy, wie weet, dalk na God toe. Maar tot dan móét die gesprek tussen godsdiens en wetenskap al struikelend voortgaan.

Cas Vos is afgetrede dekaan van die departement Teologie aan die Universiteit van Pretoria en 'n digter.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za