.

Resensie: Die Pes, van Albert Camus

Die Pes

Albert Camus: Die Pes. Uit die Frans vertaal deur Piet de Jager. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012. 280 bladsye. ISBN: 978-1-86919-452-9.

Die gevierde Franse naoorlogse filosoof, romansier, joernalis, essayis en dramaturg, Albert Camus (1913–1960), word in 1957 die tweede jongste wenner ooit van die Nobelprys vir Letterkunde. Dit was tien jaar na die publikasie van een van sy twee gepubliseerde romans, Die pes. Nou, vyf-en-vyftig jaar later, het Protea Boekhuis 'n Afrikaanse vertaling van dié groot roman die lig laat sien.

Soos in die roman waarmee nog 'n Afrikawenner van dieselfde prys, J. M. Coetzee, in 1983 sy internasionale deurbraak gemaak het – Waiting for the Barbarians – wentel die verhaal grootliks om 'n simpatieke, magtelose, stoïsynse hoofkarakter uitgelewer aan kragte veel groter as hyself. In Waiting for the Barbarians is dit die naamlose magistraat, in Die pes is dit dokter Bernard Rieux. Soos die onbenoemde buitepos van die Ryk waaroor die magistraat in Barbarians toesig hou, is die Oran van Die pes 'n stad oorgelewer aan sy lot – in die geval van laasgenoemde 'n pesepidemie.

Dit is dan juis die onbeholpe amptelike hantering van die epidemie wat dr. Rieux in die besonder as stoïsynse held in die aangesig van die noodlot na vore laat tree, baie soos die magistraat in Barbarians ook sy lot met stilswyende waardigheid deurstaan.

Die stoïsynse element in Die pes is vandag ewe relevant as toe die roman aanvanklik verskyn het, maar destyds misgekyk is ten gunste van die populêre wanbeeld van Camus as eksistensialis – 'n etiket waarteen hy herhaaldelik geprotesteer het. Om die stoïsisme van Die pes na waarde te skat, is dit nodig om eers kortliks by die verhaal stil te staan.

'n Onbekende verteller, wie se identiteit doelbewus tot naby die einde van die roman verswyg word, vertel die verhaal van hoe die Algerynse stad, Oran, rofweg vanaf April een onbekende jaar tot Februarie die volgende jaar deur 'n pesepidemie leef. Vroeg in die roman begin die rotte van die stad skielik aan dieselfde onverklaarbare, aaklige simptome sterf. Nie lank daarna nie, word die portier van die gebou waar Rieux woon een van die eerste slagoffers van die pes, wat Rieux kort hierna as sodanig identifiseer.

Na die voorspelbare aanvanklike ontkenning van die dreigende epidemie van owerheidskant, slaag Rieux en van sy kollegas tog daarin om die owerheid van die erns van die situasie te oortuig. Gevolglik word die stad gesluit en verkeer dit in 'n de facto staat van beleg, wat dikwels deur die verteller met ballingskap vergelyk word. In hierdie uiterste omstandighede – waar die epidemie op sy hoogtepunt meer as 130 mense per dag in 'n stad van sowat 200 000 mense eis – kom die slegste en die beste van die menslike karakter na vore.

Wat die slegste betref, verlustig Cottard, 'n vlugteling voor die gereg, hom byvoorbeeld in die stad se lot aangesien hy in die omstandighede nie vasgetrek kan word nie. Op sy beurt beplan die Paryse joernalis, Rambert, wat in die stad vasgekeer is, hoe hy so gou moontlik kan ontsnap om met sy geliefde herenig te word.

Maar die pes bring ook die beste in die mense na vore. Wanneer Rambert op die vooraand van sy gewaagde ontsnappingspoging vir die eerste keer besef dat Rieux self sy vrou voor die epidemie laas gesien het omdat sy weens siekte vir behandeling elders moes heen, kom hy tot inkeer en werp sy lot in by die spanne vrywilligers wat die stad staande hou. Vader Panteloux, die vurige en hoogs geleerde Jesuïet, bewandel self 'n weg vanaf liefdelose veroordeling na liefdevolle nederigheid en lotsaanvaarding.

Maar dit is veral Rieux wat uitstaan as stoïsynse held. Vir die ou Stoïsyne was die beoefening van deugde soos geduld, mede menslikheid, gelykmatigheid en selfbewustheid in alle omstandighede nastrewenswaardig. Vanuit die staanspoor pak Rieux sy dikwels eensame stryd teen die pes, teen amptelike ontkenning, teen selfsugtige gedrag, aan. Nie een keer lees die leser dat Rieux sy lot bekla nie.

Daar is egter ook 'n ander belangrike opsig waarin Rieux as eietydse stoïsyn onthul word, naamlik as belangrike getuie van die gebeure onder beskrywing. Daarmee sluit hy hom aan by die stoïsynse praktyk van selfbewustheid deur literêre waarneming. Hierdie stoïsynse getuienislewering is waarskynlik ook die sleutel vir die bykans apatiese vertelstyl van die verteller, die ideaal van apatie as integrering en oorstyging van die emosies synde sentraal by die Stoïsyne.

Soos die Australiese kenner van Camus, Matthew Sharpe, tydens 'n onlangse lesing in Bloemfontein oor Camus se notaboeke uitgewys het, was Camus sterk beïnvloed deur die Stoïsisme, en ek bedank hom ook dan graag hier vir die sleutels wat hy sodoende vir die lees van Die pes aan my beskikbaar gestel het. Dat die apatiese vertellerstrant nie so maklik in die huidige loslitklimaat van die Afrikaanse letterkunde te vertale is nie, is seker.

Dit maak dan ook daarvoor dat die Afrikaanse vertaling tegelyk effens stram, maar ook aantreklik ouwêrelds lees. Oor die algemeen blyk daar min ooglopende foute in die vertaling te wees, buiten vir 'n aantal kere waar die vertaler in gebreke bly om konsekwent in dieselfde sin binne dieselfde tyd te vertaal, byvoorbeeld "dat die waarheid wat daarin steek 'n bietjie van 'n veralgemening was" (102) in plaas van die meer gepaste "is".

Dit is die soort fout wat 'n vertaler vanaf Frans met sy meer as tien tye na Afrikaans maklik kan maak, en dis jammer dat die redakteur van die boek nie die soort foute uitgestryk het nie.

Hoe ook al, in tye van massahisterie, nimmereindigende krisisse en literêre vervlakking is Die pes 'n tydige toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde, veral vir diegene vir wie die vraag "Hoe leef ek die goeie lewe?" belangrik is.

Eben Meiring

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.