Resensie: The Case for God

Karen Armstrong: The Case for God

Peter Louw, 'n taalpraktisyn, skrywer en digter (en seun van NP van Wyk Louw) het vir ons 'n resensie van Karen Armstrong se nuwe boek The Case for God – What Religion Really Means geskryf. Uitgewer: The Bodley Head, Londen, 2009. 316 bladsye.

Karen Armstrong het as tiener 'n non geword, maar sewe jaar later die orde ontnugterd verlaat. Hoewel sy hierna 'n ateïstiese fase beleef het, het sy sedertdien weer meer spiritueel geword. Vandag is Armstrong een van die mees gerespekteerde en produktiefste skrywers oor religieuse sake, en sy is veral bekend vir die topverkoper A History of God (1993). Haar boeke word gekenmerk deur 'n uiters helder, kernagtige skryfstyl en enorme belesenheid wat nie net die Christendom nie, maar ook ander religieuse tradisies en die filosofie dek. Onder meer het sy biografieë oor Mohammed en Boeddha geskryf. Sy is ook 'n lid van die Jesus Seminar.

Armstrong gebruik haar eie ondervinding as bloedjong non en haar ontnugtering om die punt te maak dat die oorgrote meerderheid mense se religieuse opvoeding erg gebrekkig is. Mense word as kinders blootgestel aan bepaalde opvattings, wat egter met volwassenheid nie veel verder gevoer word nie: "We learned about God at about the same time as we were told about Santa Claus. But while our understanding of the Santa Claus phenomenon evolved and matured, our theology remained somewhat infantile. Not surprisingly, when we attained intellectual maturity, many of us rejected the God we had inherited and denied that he existed."

Dan kyk sy na die geskiedenis in 'n poging om groter helderheid te bring oor "God", en of dit wel hoegenaamd moontlik is om, via die rede en die menslike taal, iets sinvols oor God en goddelikheid te sê. Heelwat wanopvattings moet "ontleer" word voordat tot groter insig gekom kan word.

In Deel I, "The Unknown God" (30 000 VC tot 1 500 NC), bespreek sy die vroeë Godsbegrip asook ander tradisies soos die Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam, en toon sy aan dat die vroeë wetenskap en die godsdiens nie in botsing was nie en mekaar aangevul het. In hierdie tydperk was daar twee erkende maniere waarop gedink, gepraat en kennis verwerf kon word, nl. logos en mythos (soos die ou Grieke dit genoem het). Logos was die rede; mythos was die simboliese, mitologiese verhale wat 'n ander soort waarheid behels het, wat mense gehelp het om die wêreld wat buite die domein van die rede lê, beter te verstaan. "Myth has been called a primitive form of psychology ... When Freud and Jung began to chart their scientific search for the soul, they instinctively turned to these ancient myths."

'n Voorbeeld van 'n Christelike religieuse mite is die skeppingsverhaal van Genesis. Volgens Armstrong is die gebeure in Eden nie 'n moraliteitsverhaal nie, maar 'n vertelling oor die begin van die mensdom. Adam en Eva is as 't ware nog in die baarmoeder; "...they have to grow up and the snake is there to guide them through the perplexing rite of passage to maturity ... We can see Adam, Eve and the serpent as representing different facets of our humanity. In the snake is the rebelliousness and incessant compulsion to question everything that is crucial to human progress; in Eve we see our thirst for knowledge ... and our longing for a life free of inhibition. Adam, a rather passive figure, displays our reluctance to take responsibility for our actions ... The rabbis of the Talmudic age understood this perfectly. They did not see the 'fall' of Adam as a catastrophe ... The characters of Genesis have moments of vision and insight but they are also presented as flawed human beings who have to contend with a perplexing God."

In hierdie Deel I probeer sy dan aantoon dat, vir die mense van daardie tyd, God en/of heiligheid onsegbaar was en nie vir die menslike verstand vatbaar nie. God kan net geken word via 'n toegewyde lewenstyl, geestelike dissiplines en/of rituele. Moderne mense het nie meer altyd hierdie insig nie en behoort hierdie ou spiritualiteit te herontdek.

In Deel II, "The Modern God" (1 500 NC tot vandag), toon sy aan hoe die sukses van die logos, die menslike verstand, in die tyd van die Renaissance en die Verligting só oorweldigend was dat mythos gediskrediteer is – in só 'n mate dat wanneer mense bv. vandag sê: "Dis 'n mite", hulle bedoel dat dit nie bestaan nie. Ongelukkig het die teoloë onder die invloed van die kragtige logos gebruik begin maak van die kriteria van die wetenskap, sodat die mythoi van die Christendom as empiries, rasioneel en histories bewysbaar geïnterpreteer is. Sodoende het 'n breuk ontstaan tussen teologie en spiritualiteit, 'n breuk wat tot vandag voortduur.

Met die nuwe kennis van bv. die werking van die sonnestelsel danksy Newton e.a. is God beskou as 'n rasionele meester van die heelal. God het dus 'n "plek" gekry en kon verstaan word. So het die teologie afhanklik en 'n onderafdeling van die wetenskap geword. Dit het die teologie egter kwesbaar gemaak – toe die wetenskap in verskillende golwe op sy kop gekeer is, eers deur Darwin en later deur Einstein, het ook die teologie onder verdenking gekom. Twee moderne fenomene het hieruit ontstaan: fundamentalisme en ateïsme. "The defensive piety popularly known as 'fundamentalism' erupted in almost every major faith during the twentieth century." Christelike fundamentaliste, onder die invloed van die rasionalisme, wou 'n volkome rasionele, "wetenskaplike" en menslik verstaanbare geloof skep wat mythos sou afskaf ten gunste van logos, sonder enige onsekerheid. Die Bybel is dus letterlik gelees en as histories juis beskou.

Armstrong argumenteer dat die ateïsme van die huidige tyd 'n reaksie op fundamentalisme is eerder as op godsdiens as sodanig: "Historically atheism has rarely been a blanket denial of the sacred per se but has nearly always rejected a particular conception of the divine. At an early stage of their history, Christians and Muslims were both called 'atheists' by their pagan contemporaries..." Sy het egter nie veel ooghare vir die "Nuwe Ateïste" soos die skrywers Richard Dawkins, Christopher Hitchens en Sam Harris nie en beskou hul kritiek as oppervlakkig. Dis nie moeilik om die meer ekstreme, fundamentalistiese verskyningsvorms van religie af te skiet soos wat die Nuwe Ateïste doen nie; laasgenoemdes weier egter om met verteenwoordigers van die meer tradisionele hoofstroom in gesprek te tree.

In haar laaste hoofstuk kyk sy met optimisme na die postmodernistiese teologie, omdat dit praktyke, houdings en ideale herontdek wat vóór die moderne tydperk sentraal was. So bv. is die postmodernistiese fokus op relatiwiteit en die subjektiewe (bv. die mens en hoe hy/sy 'n belewenis ervaar) eerder as die objektiewe (bv. dit wat aanbid word) meer versoenbaar met die pre-modernistiese onsekerheid en mythos. Wat die nie-Christelike geloofstradisies betref, skryf sy dat Onsegbaarheid en Heiligheid in elke tradisie verskillend geformuleer word. Daar is belangrike verskille tussen Brahman, Nirvana, God en Dao, maar dit beteken nie dat die een 'reg' en die ander 'verkeerd' is nie: "...nobody can have the last word. All faith systems have been at pains to show that the ultimate cannot be adequately expressed in any theoretical system, however august, because it lies beyond the reach of words and concepts."

My Reaksie

Vir my as leek op hierdie gebied was hierdie boek 'n skatkis met 'n massa inligting, temas en oorwoë menings, sodat dit meerdere male herlees behoort te word om alles te internaliseer. Haar bespreking van die Drie-eenheid is sensitief vir die subtiliteit van hierdie konsep, en het my nuwe respek daarvoor gegee. Net so het haar simpatieke siening van Islam dit ten doel om die huidige spanning met die Weste te verminder.

Ek kan nie fout vind met die strewe om God en wetenskap te skei, en om mythos weer tot sy reg te laat kom nie; maar is nie oortuig dat God so totaal onsegbaar en vir die menslike verstand absoluut onvatbaar is soos Armstrong te kenne gee nie – konsekwent deurgetrek sou dit op 'n soort agnostisisme neerkom. Word verbale kommunikasie met die Christelike God in die vorm van gebed, selfs die Onse Vader, dan nie sinloos nie? Vir my is God se grootste geskenke die menslike verstand en taal, "die fyn net van die woord", die subtiele instrument waarmee ons met God en ons medemens kan kommunikeer, en wat deur die grondleggers van al die groot tradisies – Jesus, Boeddha, Mohammed, ens. – benut is om hul idees oor te dra.

In die breë het ek begrip vir haar strewe om terug te keer na "die onbekende God", om sodoende die Godsbegrip te stroop van al die wanopvattings wat mettertyd ontstaan het. Solank ons net nie die wiel probeer herontdek nie. Christene het 'n (weliswaar minuskule, en moontlik voorlopige) kennis van God as synde liefdevol, begrypend e.d.m. waaraan tog sekerlik nie getorring behoort te word nie? Miskien verstaan ek vir Armstrong verkeerd. Hoe ook al, dit is 'n pragtige boek en kry van my vyf uit vyf sterre. PL

Ons sê baie dankie vir Peter vir 'n wonderlike resensie van Karen Armstrong se nuutste boek. Hopelik het hy dit reggekry om elkeen te motiveer om die boek te lees en 'n eie opinie oor Armstrong se sienings te vorm.

Peter Louw kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za