.

Resensie: Pig’s Foot

Pig's Foot

Skrywer:  Carlos Acosta (vertaal deur Frank Wynne)
Uitgewer:  Bloomsbury
Resensie gepubliseer in Rapport

"Daar is net een werklikheid, die werklikheid wat vir jou in jou kop sin maak."

Die woorde aan die einde van Pig's Foot kon netsowel toegeskryf gewees het aan die sielkundige Carl Jung. Jung het iets soortgelyks kwytgeraak toe hy op 'n dag gekritiseer is omdat hy die fantasieë van sy pasiënte aanvaar of dit waar is.

Daar is inderdaad soms baie min verskil tussen fantasie en werklikheid en 'n mens kan die Latyns-Amerikaanse skrywers vertrou om dit baie subtiel uit te wys. In die hoogty van sogenaamde magiese realisme het menige waarhede jou getref juis omdat verbeelding (letterlik en figuurlik) so vernuftig benut is.

In Pig's Foot is dit weer die geval.

Die verhaal speel af in die middel-1990's in Havana, waar die hoofkarakter, Oscar Mandinga, in sy sel geterroriseer word deur die sogenaamde kommissaris Clemente en sy Kubaanse "Ku Klux Klan"-handlangers in wit jasse.

In die afsondering van sy aanhouding vertel Oscar van die afgeleë gehuggie Panta de Puerco (varkvoet) waar sy voorsate, vrygestelde swart slawe, in die 19de eeu 'n sukkelbestaan voer.

Dit is 'n dorpie bevolk met allerlei snaakse karakters, dwerge en reuse, genesers, towenaars en selfs 'n vark wat kon praat.

Hier is Oscar baie jare later gebore; soos 'n slak het hy langs die been van sy ma afgegly tot in die modder waaruit sy hom gepluk het. Daarna was modder sy troos as hy ongelukkig is.

Uiteindelik beland Oscar in Havana en dan in die hande van kommissaris Clemente. Dit is eers op die laaste paar bladsye van die roman dat jy besef die kommissaris is eintlik 'n psigiater en Oscar is in 'n gestig. Sy naam is ook nie Oscar nie.

Eers aan die einde tref die volle omvang van die "werklikheid" van hierdie man se fantasieë jou.

Fyn verweef met dié verhaal lê die geskiedenis van Kuba en die swart slawe ingebed.

'n Paar dinge tref die Afrikaanse leser. In Afrikaans is ook geskryf oor ons voorsate wat slawe was, maar dit is "beskaafde" verhale in vergelyking met die wreedhede waarvan 'n mens in Pig's Foot kennis neem.

In die 30 jaar tussen 1790 en 1820 is na raming sowat 800 000 slawe van Afrika na die Kubaanse suikerplantasies ingevoer – die meeste swart slawe as na enige ander land in die Spaanssprekende wêreld.

Voor en ná hierdie datums was die invoer van slawe uit Afrika verbode.

Die omstandighede waarin hierdie slawe geleef het, het tot bloedige opstande en nog wreder onderdrukking gelei. Die roman het dan ook by hierdie leser 'n nuwe siening van Kuba laat kry.

Ons Westerse persepsie van Kuba berus op beelde van groot hotelle, nagklubs en kroeë in Havana met polsende musiek, vloeiende lywe, lang slap motors, glanspersoonlikhede en 'n uithangplek vir spioene en Hemingway, van kommunisme, revolusie, 'n oorlogsbeluste Fidel Castro, Kubaanse soldate in Angola en Kubaanse dokters in Suid-Afrika.

Die werklikheid of waarheid lê iewers tussenin.

Soos Oscar het Kuba verskeie identiteite en dit maak sin dat hy dit dikwels in sy vertelling oor Panta de Puerco beklemtoon hoe belangrik dit is dat elke mens sy wortels moet leer ken voordat hy homself sal ken.

Die verhaal het 'n interessante stertjie, want Carlos Acosta, die skrywer, is ook die wêreldberoemde balletdanser, die hoofdanser van onder meer die Koninklike Balletgeselskap in Brittanje en sonder twyfel een van die beste dansers van sy generasie. Hier is dus ook 'n andersoortige dualisme en 'n mens kan aanvaar dat hierdie roman iets te make het met sy eie identiteit as 'n nasaat van slawe.

Een ding is duidelik, die 40-jarige Acosta kan net so goed skryf as wat hy kan dans.

Cas van Rensburg

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.