.

Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ‘n ander antwoord?

Deur Jean Oosthuizen, Ben du Toit op 1 Januarie 2021

.

Soos gepubliseer op LitNet.

Hoe gebeur dit dat iemand wat 38 jaar predikant in die NG Kerk was en sy lewe aan die Kerk en sy bediening gewy het, tot die slotsom kom God is nie meer die antwoord nie? Jean Oosthuizen gesels met Ben du Toit, wat in sy jongste boek afskeid neem van geloof in ’n Opperwese en dit as ’n radikale bevryding ervaar.

LitNet Akademies het onlangs ’n artikel deur Ian Nell geplaas: “Postkoloniale leierskap? Die uitdagings vir ’n nuwe geslag teoloë”. Die onderstaande gesprek kaats lig daarop.

Ben du Toit is ’n liefhebber van Sheila Cussons se werk. In hierdie verband word Carine Janse van Rensburg se artikel “Kunstenaar en skepping: Sheila Cussons en die problematiek van die kunstenaar” aanbeveel.

Du Toit se volgehoue gesprek met die wetenskap word genoem. Lesers wat belangstel, kan ook kyk na Johann Beukes se Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip”.

In die voorwoord van jou boek skryf jy die manuskrip was aanvanklik, toe jy daaraan begin skryf het, nie bedoel om gepubliseer te word nie. Dit was eerder ’n soort bestekopname vir jouself. Wat het jou laat besluit om dit wel te laat publiseer?

Mense het my dikwels gevra (veral ná my aftrede in 2015) hoe ek tans oor God dink en wat my teologiese standpunt ten opsigte van bepaalde sake is. Ook wou mense sedert die verskyning van God? Geloof in ’n postmoderne tyd (wat in 2001 met ’n komma geëindig het) by my weet wanneer ek verder ná die komma gaan skryf. Ek het gaandeweg besef ek het ’n basisteks nodig wat as gespreksplatform kan dien. Ek het konsepte van die manuskrip aan ’n aantal kennisse gestuur en dit is uitermate positief ontvang. Die besluit om dit uiteindelik algemeen beskikbaar te stel, was dus ’n spontane ontwikkeling.

 

Die boek fokus veral op diegene wat reeds ongemaklik is met hulle verhouding met die Kerk en godsdiens in die algemeen; diegene wat in ongemak lewe met hulle verwydering van godsdiens as ’n sosiale konstruk, maar nie weet hoe om hulleself ten opsigte van hulle keuse uit te druk of dit te verwoord nie...

 

Wie, hoop jy, sal by jou boek baat vind, en hoe reageer jy op die beskuldiging dat dit mense se geloof ondermyn?

Die boek fokus veral op diegene wat reeds ongemaklik is met hulle verhouding met die Kerk en godsdiens in die algemeen; diegene wat in ongemak lewe met hulle verwydering van godsdiens as ’n sosiale konstruk, maar nie weet hoe om hulleself ten opsigte van hulle keuse uit te druk of dit te verwoord nie; diegene wat godsdiens reeds agtergelaat het, maar wat te bang is om “uit die kas te kom” daarmee, veral teenoor hulle nabye familie en vriende; diegene wat ervaar dat woorde hulle ontbreek om aan hulle gevoel of standpunt uitdrukking te gee.

Dat hierdie boek gelowiges dalk sal ontstig, daaroor het ek vanselfsprekend geen beheer nie. Miskien stel dit aan die kerkleierskap, juis op die vlak van die plaaslike gemeente, die uitdaging om lidmate in ’n sinvolle gesprek hiermee te help?

Jou eerste boek, God? geloof in ’n post moderne tyd, is in 2001 met die gesogte Andrew Murray-prys vir die beste teologiese Christelike boek in Afrikaans bekroon. Jy verwys hier bo na die uitsonderlike kenmerk dat dit met ’n komma eindig. Waarom het jy daardie boek met ’n komma laat eindig, en kan jy hierdie boek met oortuiging afsluit met ’n punt, of is die gedagtes daarin ook maar voorlopig?

Ek het hier bo van die komma gepraat. Hier is nou ’n punt. Maar in die lig van die immer ontwikkelende wetenskap en voortgaande navorsing in alle dissiplines, kan ’n punt uiteraard nooit finaal wees nie. Wie weet, dalk kom daar nuwe data, nuwe teorieë na vore. Ons praat hier van die funksionering van die sogenaamde nul-hipotese. Dan dink ons weer verder.

Laat jy dus geen ruimte vir ’n tweede naïwiteit, soos by die Franse filosoof Paul Ricœur, vir ’n herleefde geloof in een of ander stadium in jou lewe wat die kritiek op ateïsme sal oortref sodat ’n ervaring van God wel weer moontlik kan wees nie?

Nee. Hoe langer ’n mens bevryd van die mag van godsdiens lewe, van die inhiberende invloed van ’n vermeende transendente, metafisiese beheer oor jou en jou geliefdes se lewe, hoe groter raak die verligting – en die vreugde – om met oorgawe die lewe te leef – in voorspoed en in teenspoed. Hoe langer ons bevryd lewe, hoe sterker staan so ’n lewe in kontras met die lewe van gelowiges wanneer ons lees en luister en hulle stryd en beredeneringe ten opsigte van lewensvrae sien. Dit maak ’n mens somtyds nogal hartseer om dit waar te neem terwyl jy weet dat die greep van hulle godsdienstige oortuigings so sterk is dat hulle nie daarvan sal afstand doen nie. Daardie moontlikheid vervul hulle selfs met vrees. Dis so jammer.

Hoe sou jy die genre van jou boek beskryf? Hoewel dit baie outobiografies is, is dit nie regtig ’n geloofsreis nie.

Dis deels biografies (historiese konteks verreken) maar ook teologies-refleksief. Wat my betref, sou ek dit kategoriseer as teologie. Dit is eintlik ’n ironie, want uiteindelik bied dit ’n teologiese beredenering aan vir ’n saak teen die geloof in ’n metafisiese, transendente wese, wat dit ook al genoem mag word. Soos die redes vir die ontstaan en ontwikkeling van godsdiens evolusionêr aangedui kan word, so kan daar vanuit die evolusie van die brein, gerugsteun deur die duiselingwekkende prestasies en ontwikkeling in die wetenskaplike dissiplines en tegnologie, aangedui word hoekom godsdiens in die komplekse globale uitdagings van ons tyd nie meer ’n probleemoplossende funksie kan vervul nie.

Tydens jou bediening as NG predikant was jy dikwels in die spervuur as gevolg van jou oortuigings. Sommige het jou as liberaal beskou en jy is by meer as een geleentheid van dwaalleer aangekla, maar elke keer onskuldig bevind. Jy het ook deurgaans die Kerk se leerstellings verdedig terwyl jy predikant was. Wanneer het jy besef jy kan dit nie langer verdedig nie?

Ek is nie seker wat die antwoord op hierdie vraag is nie. Nog in die jaar wat ek met pensioen gegaan het (2015) was ek as sameroeper van die Taakspan van Leer en Aktuele Sake van die Algemene Sinode verantwoordelik vir twee verslae wat te doen het met die Christelike geloof en die moderne wetenskap. Ek dink dit is uitermate goeie dokumente en dat die Kerk goed sou doen om dit as riglyn te gebruik om as gereformeerdes die Bybel en Belydenisskrifte verantwoordelik te interpreteer. Maar in dieselfde jaar, waarskynlik akuut ervaar by die dankdiens vir my seun Leon in die Hoenderhok­teater (Langverwacht, Kuilsrivier) ná sy oorlye, het ek ook geweet ek sal nooit weer kan preek nie. Geleidelik daarna het ek dit toenemend geweet: Dit kan nie meer werk nie. Dis verby.

Baie mense sal sê jy het net gewag tot ná jou aftrede voordat jy hierdie goed sê, dat jy nog jou maandelikse tjekkie van die Kerk wou kry en bang was om eerlik te wees terwyl jy nog predikant was. Hoe sou jy daarop reageer?

Ek dink bostaande reaksie verskaf genoegsaam antwoord hierop. Enige sodanige suggestie is doodeenvoudig onwaar. In die lig hiervan sou ’n voortsetting van hierdie soort verwyt of beskuldiging doodeenvoudig as kwaadwillige moedswil afgemaak moet word. Waarskynlik het niemand in ’n soortgelyke posisie in die Kerk (indien dit aanduibaar sou wees) so konsekwent deur sy of haar bediening die gereformeerde verstaan van die Christelike boodskap met groter ywer verdedig en beredeneer nie.

 

Ons het nie godsdienstigheid of spiritualiteit nodig om die asemrowende “wonders van die natuur” te waardeer en te geniet nie.

 

Daar bestaan ’n narratief dat mense wat van hulle geloof in God afstand doen, geestelik armer is. Dat hulle met ander woorde nie meer in verwondering kan leef wanneer hulle die wonders van die natuur om hulle aanskou nie. Het ons nie tog ’n sekere mate van spiritualiteit, of noem dit maar ’n ervaring van die goddelike nodig om hierdie verwondering te behou nie?

Dis die grootste mistasting. Ons het nie godsdienstigheid of spiritualiteit nodig om die asemrowende “wonders van die natuur” te waardeer en te geniet nie. Trouens, die teendeel is vir ons waar: Hoe verder ons van die geloof in ’n beherende metafisiese mag oor die natuur en geskiedenis wegbeweeg, hoe groter is ons verwondering oor die heelal (selfs die veelal) in makro- en mikroverband. Die mens se brein het die vermoë tot estetika, die waardering van hierdie blootstellings wat meer is as waarvoor daar soms woorde is. Juis dit is die wonder van die kreatiewe vermoë van die brein, van intellek, van die resultate van wetenskaplike navorsing wat nuwe verstaan oopsluit – dat daaroor in gedigte en liedere, skilderkuns en beeldhouwerk, prosa en verhaalkuns, musiek en toneel, uitdrukking gegee (kan) word.

Wilhelm Jordaan skryf in ’n meningstuk op Netwerk24 hy glo wesenlik soos jy, maar jou boek laat hom met ’n gevoel van verskriklike verlies en leegheid. Waarom dink jy ervaar party mense hierdie leegheid as God uit die prentjie gelaat word?

Dis moeilik om te sê. Dis waarskynlik voorbarig om namens ander te praat. Dalk het dit iets daarmee te doen dat so iemand nog nie die “waagstuk” wou onderneem nie uit vrees dat daarna ’n verlies en leegheid ervaar sal word? Hulle was nog nie daar nie en dit is dus bloot hulle eie vooroordele en bespiegelinge wat praat. Eintlik kan slegs diegene wat hierdie breuk met godsdiens volkome gemaak het, weet hoe wonderlik en vervullend die bevryding is. Dis soos met paradigmas. Wanneer die paradigmaskuif van die oue na die nuwe plaasgevind het, kan daar binne die nuwe een begrip wees vir die oue, terwyl die oue die nuwe glad nie kan konseptualiseer nie. Vir die oue is die nuwe dus vanselfsprekend ’n bedreiging: Skep dit vrees en onsekerheid, kan dit as ’n leegheid geantisipeer word.

Hoewel kulturele gedrag verbluffend wyd in die diereryk waargeneem word, is die mens al spesie wat hom wend tot religie. Behoort dit nie vir jou ’n aanduiding te wees van die mens se unieke plek in die skepping nie?

In ’n sekere sin is dit sekerlik so dat die mens se brein sodanig ontwikkel het dat dit Homo sapiens bedeel met meer vermoëns as dié van enige ander lewende dier. Maar dit is deel van die gevolge van biologiese evolusie – en natuurlik kom daarmee saam ook ’n groter verantwoordelikheid vir die versorging en bewaring van die natuur ter wille van alle lewende spesies.

Jy verwys in jou boek na drie pertinente teleurstellings in die NG Kerk wat vir jou ’n draaipunt verteenwoordig het. Trouens, jy sê dit was vir jou ’n skok in die Kerk se leierskap. Die drie sake waarna jy verwys, is die aangeleentheid van kerkhereniging in die NG Kerkfamilie, die hantering van die gay-kwessie in die NG Kerk en die Woordfees-debakel van 2013. Waarom het spesifiek hierdie drie sake jou so ontnugter en geskok?

Ai, dis eintlik swaar om hieroor te praat en ek wens dit was nie nodig om hierop te fokus nie. Maar die feit bly staan dat hierdie ervarings my laat besef het hoedat mag en verantwoordelikheid mense anders en selfs vreemd laat optree – tot skade van die integriteit van die instellings in wie se diens hulle staan; tot skade van die geloof wat hulle bely en wat hulle geroep is om te verdedig. Dit was veral die aantasting van mense se menswaardigheid deur sodanige amptelike kerklike optrede wat my genoop het om daarteen stelling in te neem. Dis baie moeilik om hieroor verder te reageer sonder om daarmee die verwyt van ’n “holier-than-thou”- houding te genereer. Tog verteenwoordig dit na my mening en ervaring ’n massiewe teleurstelling in die kerkleierskap.

Dink jy die NG Kerk sal ooit weer sy integriteit en geloofwaardigheid kan herwin in die lig hiervan?

Ek weet werklik nie hoe die Kerk sy integriteit en geloofwaardigheid in die oë van die publiek sal kan herstel nie – veral nie as ’n mens sien hoe daar steeds voortgegaan word om die integriteit van die Kerk in die openbaar af te breek nie. En dit in ’n tyd waarin ons met ’n jaar soos 2020 gekonfronteer is. Dit gaan my verstand te bowe dat predikante nie besef dat, wanneer hulle mekaar oor en weer van allerhande kleinlikhede beskuldig (wat hulle natuurlik tot groot prinsiepe verhef), hulle die integriteit van hulle instellings, asook hulle geloof as sodanig, grondig ondermyn nie.

Jy gee toe godsdiens en die Kerk gaan nie verdwyn nie. Wat is vir jou die grootste uitdaging waardeur ’n nuwe geslag teoloë in die gesig gestaar word? Ian Nell skryf in ’n akademiese artikel op LitNet dat geloofleiers oop moet wees vir die leiding van die Heilige Gees. Maar ons weet die leiding van die Heilige Gees is problematies. Dit hang maar af hoe mense gelei wil word. Wat is vir jou die grootste uitdaging vir veral jonger teoloë?

Ek weet nie regtig nie. Ek sal hulle wil aanmoedig om wyer te lees, hulleself bloot te stel aan ’n verskeidenheid dissiplines waar daar tans in die loopgrawe gewerk word om van ons wêreld ’n beter plek vir almal te maak – om ons beter te help verstaan wie ons is en hoe ons wêreld werk. Ek dink ons teologiese opleiding het erg verskraal geraak. Daar is nie meer voorgraadse blootstelling aan ander dissiplines, soos voorheen nie. Dit kan daarom dalk help om veral die verskeidenheid publikasies te lees van historici wat hierop ’n perspektief probeer gee. Maar, dit kan gevaarlik wees vir hulle geloof. Dit kan tot ontnugtering lei, en wat dan? Buitendien gebeur hierdie lees en nadenke te midde van ’n wêreld waar korrupsie, geweld en onverdraagsaamheid erger is as ooit tevore. ’n Beroep op die leiding van die Heilige Gees het geblyk ’n illusie te wees vir naspeuring van die waarheid, vir die bereiking van ooreenkomste oor sleutelaspekte van die lewe. Die duidelikste getuienis hiervan is die godsdiensgemeenskap in sy veelvormige manifestasies oor die wêreld heen self.

Jy plaas in jou boek ’n baie hoë premie op die wetenskap. Tydens jou beroepslewe as predikant het jy baie moeite gedoen om mense te laat verstaan dat die wetenskap ons met ons geloofslewe kan help en dat dit nie die een óf die ander hoef te wees nie. Dink jy steeds ’n gesprek tussen teologie en wetenskap is moontlik? Indien wel: Op watter basis moet so gesprek plaasvind?

Ek dink dit raak ál moeiliker. Hoe meer mense aan die resultate van die moderne wetenskap en tegnologie blootgestel word (en keuseloos daarmee saamleef, elke dag, elke uur en minuut), hoe moeiliker word dit vir wêreld- en lewensbeskouings wat in antieke, premoderne geskrifte en in eeue oue spirituele gebruike hulle antwoorde soek om ’n werklik waardige gespreksgenoot te wees vir ons wetenskaplike tyd en veral die kompleksiteit van ons uitdagings.

 

Ek sal met groot gemak op ’n Sondag in die kerkgebou van Nkhoma in Malawi, waar ek gebore is, instap en my bewoë aan die aanbidding en sang van die gemeente blootstel. Daar is iets nostalgies daarin vir my. Dis deel van wie ek is.

 

Jy skryf in jou boek jy kan jou ná alles steeds nie heeltemal van jou eie geskiedenis met God losmaak nie, hoewel dit nou agter jou lê. Wat bedoel jy daarmee en van watter dele van jou geloofslewe wil of kan jy jou nie losmaak nie?

Ek sal met groot gemak op ’n Sondag in die kerkgebou van Nkhoma in Malawi, waar ek gebore is, instap en my bewoë aan die aanbidding en sang van die gemeente blootstel. Daar is iets nostalgies daarin vir my. Dis deel van wie ek is. Dis egter ’n emosie wat gevoed word deur ’n geprogrammeerde sosiale behoefte waarin ek grootgeword het. Dit het vir my niks (meer) met God te doen nie, maar dit bly deel van wie ek was en is bepalend vir hoe ek vandag daaroor dink en voel. Die NG Kerk­familie sal daarom altyd na aan my hart wees. Ek sou wou sien dat hulle ’n beter getuienis lewer van die liefde waarin hulle glo – veral waar dit die menswaardigheid van alle mense aangaan. As voormalige argivaris van die NG Kerk het ek ’n diep historiese bewussyn van die Kerk se pad en rol in die verlede van ons subkontinent. Ek dink die Kerk self is besig om dit te verloor. Ek vind dit tog jammer, al het dit niks bepalends meer met my te doen nie.

Hoe sou jy jou geloofsoortuiging tans beskryf? As ’n mens jou dan in een van die talle boksies, Christen, agnostikus, humanis, ateïs, agnostikus of wat ook al, móét plaas.

Tans voel ek gemaklik met die begrip “post-teïs.” Maar eintlik maak dit nie saak nie. Ek is ’n mens wat my eintlik nie verder wil definieer in terme van godsdiens nie. Al die begrippe wat jy hier bo noem, is nog daaraan gebonde. Ek is ’n mens. Soos ander en saam met ander mense. Dalk sal ek al meer gemaklik raak met die begrip “humanis”?

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.