.

Wie was Spinoza, en wat was sy filosofie?

Deur Dr. Piet Odendaal op 1 Julie 2016

.

Sommige van julle het seker al van Alice A. Baily se boeke gelees. Sy het meer as 20 boeke geskryf – almal met esoteriese temas. Die boeke het almal sulke kenmerkende blou omslae – en vir dié met esoteriese belangstelling is hierdie boeke 'n moet lees.

In een van haar boeke – Esoteric Psychology II – verwys sy na 'n uitgelese groepie denkers in die geskiedenis wat verantwoordelik was vir die verspreiding van ideale en gedagtes wat die mensdom deur die eeue heen vorentoe sou lei. Voor die hand liggende individue was Christus en Buddha – maar Bailey stel dat daar ook mindere, maar tóg invloedryke persone was wat elkeen op sy of haar gebied betekenisvolle bydraes gemaak het. As voorbeelde noem sy die name van Plato, Abraham Lincoln, Florence Nightingale en Benedictus de Spinoza. Dis oor Spinoza wat ek iets wil sê.

Spinoza was 'n Portugese Jood, wat in 1632 in Amsterdam gebore is. Hy sterf in 1677 toe hy maar 45 jaar oud was. Alhoewel hy in Judaisme opgevoed is het hy vroeg reeds alle ortodokse teologie verwerp. Hy is 'n bedrag van 1000 floryne per jaar aangebied as hy nie sy vertwyfelings sou uitspreek nie. Toe hy dit weier is daar selfs pogings aangewend om hom deur sluipmoord stil te kry. Toe dit nie slaag nie is al die vloeke in Deuteronomium oor hom uitgespreek – plus nog 'n paar ander! Die pleitery en vloeke het egter geen uitwerking gehad nie en in 1656 is hy uit die sinagoge verban. Hy was toe 24 jaar oud.

Sy filosofie was vir Christene ewe afstootlik en hy moes die res van sy lewe feitlik in afsondering deurbring, met weinig sosiale interaksie. Hy het in die tyd van die Inkwisisie geleef en het vervolging deur kerke teengestaan – hetsy deur Katolieke of Calviniste. Omdat die Inkwisisie nie sy kloue in Holland ingeslaan het nie, het Spinoza dit gelukkig oorleef.

Deur sy ouers was hy Spaans en Portugees magtig. Hierbenewens het hy ook Latyn, Duits, Frans en Italiaans aangeleer.

Hy het 'n eenvoudige lewenstyl verkies en het 'n bestaan gemaak deur lense te slyp vir brille, mikroskope en teleskope. Dis treffend dat sy beroep eintlik simbolies was van sy filosofie: Soos lense mense beter kan laat sien, was sy filosofie daarop gerig om mense tot 'n beter insig te bring oor geestelike waarheid. Dit is tragies-ironies dat sy dood juis die gevolg was van sy professie. Hy het naamlik gesterf op die jeugdige ouderdom 45. Sy dood is veroorsaak deur 'n longsiekte – opgedoen deur die langdurige inaseming van glas-stof wat met sy lens-slypery gepaard gegaan het.

Op 'n stadium het 'n erfporsie na hom en sy suster se kant toe gekom. Hy het sy deel van die hand gewys.

VIR ORTODOKSES WAS DIE MEES SKOKKENDE ASPEK van Spinoza se filosofie sy siening van die goddelike. Hy het die bestaan van 'n persoonlike God verwerp, want hy het alles wat daarmee verband hou, beskou as kru antropomorfies. Antropomorfisme is naamlik die toedigting van menslike eienskappe aan die aard en optrede van God – mens kan eintlik sê dat dit God na die beeld van die mens skep.

Vir Spinoza was God die heelal wat alle realiteit in totaliteit omvat – wat natuurlik die siening is van panteïsme. Hy is gevolglik deur beide Jood en Christen uitgekryt as 'n ateïs en vyand van godsdiens, 'n sentiment wat dwarsdeur die 18e eeu sou voortduur. Dis ironies dat Paulus eintlik panteïsme baie duidelik uitgespel en ondersteun het in sy welbekende uitspraak: "In Hom leef ons, beweeg ons en is ons." Nietemin het ortodoksie deur die eeue heen verkies om hierdie uitspraak van Paulus maar deur die vingers te sien en het panteïsme nog nooit aanvaar nie. So byvoorbeeld het iemand soos Pierre Bayle – 'n gerespekteerde teoloog en filosoof van die 17e eeu – na Spinoza se filosofie verwys as, "the most monstrous hypothesis imaginable; the most absurd and the most diametrically opposed to our mind's evident notions." Ook die bekende Skotse filosoof van die 18e eeu, David Hume, het gepraat van Spinoza se 'hideous hypotheses.'

Die waarheid is egter dat God die begin en einde van Spinoza se filosofie was. Alles het vir hom gegaan oor godsdiens en deug; en daar was inderdaad ook diegene wat sy siening verstaan en daarby aanklank gevind het. So het Novalis na Spinoza verwys as "God-intoxicated." Novalis was die skuilnaam wat gebruik is deur Baron Georg Philipp Friedrich von Hardenberg (1772-1801), skrywer en filosoof van die vroeë Romantisisme. Die beroemde filosoof Hegel het gesê, "You are either a Spinozist or not a philosopher at all." 'n Vooraanstaande filosoof van die 20e eeu, Gilles Deleuze het na hom verwys as die prins van filosowe.

Verder – ten spyte daarvan dat hy verkies het om in afsondering te leef – het Spinoza se diepgaande intellek en suiwer karakter vriende en volgelinge aangetrek. Trouens, sy roem het dermate versprei dat die Universiteit van Heidelberg hom die leerstoel in filosofie aangebied het. Hy het egter die aanbod bedank – en die rede wat hy aangevoer het, was dat hy nie in staat sou wees om filosofie te doseer sonder om die vrede te versteur nie.

DIE AANTREKLIKHEID VAN SPINOZA SE KARAKTER word bevestig deur alle rekords oor sy lewe. Dit het erkenning geniet, selfs deur diegene wat sy filosofie verwerp het. Spinoza het inderdaad ook sy filosofie uitgeleef volgens geestelike beginsels soos hy dit verstaan het. Hy was altyd in volle beheer van sy emosies, en kon onversteurd sy gang gaan onder die grootste provokasie. Geld, roem en status het vir hom geen betekenis gehad nie.

Bertrand Russel het geskryf dat Spinoza die edelste en mees geliefde was van alle filosowe. Hy sê ook dat alhoewel andere filosowe dalk Spinoza se intellektuele meerderes was, het hy eties uitgestyg. Met droë sinisme voeg Russel dan by, "As a natural consequence, he was considered during his lifetime and for a century after his death, as a man of appalling wickedness."

SPINOZA SE FILOSOFIE

Ses aspekte van Spinoza se filosofie word kortliks behandel.

1.   Die eenheid van alles

Vir Spinoza is God die absolute eerste oorsaak. Hy beskou alles as een universele en onverdeelbare substans – ewig en onveranderlik. Dit beteken dat alles deel is van God en dit is – soos reeds genoem – die kern-tesis van panteïsme. God het nie die wêreld geskep nie – Hy is die wêreld. Dit is interessant dat hierdie siening reeds deur Pythagoras in die 6e eeu VC uitgespreek is; tewens ook deur antieke filosowe soos Heraclitus, Parmenides, Zeno, Socrates en Plato. Leibniz – wat enkele dekades jonger was as Spinoza – het in die 17e eeu gesê dat realiteit net in een enkele bron gevind kan word, a.g.v. die interkonneksie van alles met mekaar.

Volgens Spinoza kan daar logies niks in afsondering bestaan nie – want die heelal se afhanklikheid van God word matematies bepaal. Daarom is die aard van konneksies of verwantskappe in die wêreld en die heelal nie dié van oorsaak en gevolg nie, maar berus dit op logiese inter-afhanklikheid. Dit is soos die wiskundige beginsel dat die som van die hoeke van 'n driehoek altyd gelyk is aan 180 grade. Dit is 'n kosmiese siening wat aansluit by 'n stelling van Einstein dat die godsdiens van die toekoms, 'n kosmiese godsdiens sal wees. Volgens hom sal dit 'n persoonlike god transendeer en dogma en teologie sal tersyde gestel word.

Hierdie siening van eenheid is deur groot geeste van die verlede uitgespreek:

Zeno, Griekse filosoof van die 5e eeu VC – en die vader van Stoïsisme – het reeds gestel dat God nie afsonderlik van die wêreld is nie: Hy is die siel van die wêreld en elkeen van ons bevat 'n deel van die Goddelike Vuur. Alle dinge is deel van een enkele stelsel – wat ons die Natuur noem.

Marcus Aurelius, Romeinse keiser in die laat 2e eeu het die beroemde stelling gemaak: "I am an Athenian or I am a Roman but I am a Citizen of the Universe."

Cicero, die Romeinse filosoof en staatsman wat in die 1e eeu VC geleef het, het gesê: "God and the world of Nature must be one, and all the life of the world must be contained within the being of God."

Einstein het ook die siening gehad dat die mensdom onafskeidbaar deel is van die Heelal. Hy het geskryf: "The religion of the future will be a cosmic religion ... Science without religion is lame, religion without science is blind." Hy het ook gesê: "I believe in Spinoza's God who reveals himself in the orderly harmony of what exists, not in a God who concerns himself with the fates and actions of human beings."

Sommiges mag dit verbasend vind dat Gorbachev die volgende gesê het: "I believe in the cosmos. All of us are linked to the cosmos. So nature is my god. To me, nature is sacred. Trees are my temples and forests are my cathedrals – being at one with nature."

2.   Liefde

As die mens eers verstaan dat alles deel is van God, dan het hy wysheid bereik – en dít is die mens se hoogste goed. Daarom moet liefde vir God die mens se denke oorheers, want uiteindelik sal dit lei tot die siel se eenwording met God.

Spinoza beklemtoon verder dat as ons deurlopend die eenheid van alles visualiseer en bedink, sal ons noodwendig ook andere liefhê en vir hulle die goeie toewens wat ons vir onsself soek. Dan sal ons ook besef dat haat deur liefde oorkom word. Dis interessant dat hierdie beginsel – naamlik dat haat deur liefde oorkom moet word – reeds deur Buddha sowat 500 VC by sy dissipels ingeprent is. Deur liefde tot medemense te beklemtoon, het Spinoza in wese die interafhanklikheid tussen mense bevestig. Daarom sien hy samewerking en vriendskap tussen mense nie net as 'n middel tot dit wat waarlik goed is vir die mens nie, maar dat dit inderwaarheid essensieel is daartoe.

As ek Einstein weer kan aanhaal: "Our task must be to free ourselves from the prison by widening our circle of compassion to embrace all living creatures and the whole of nature in its beauty. The true value of a human being is determined by the measure and the sense in which they have obtained liberation from the self."

3.   Vryheid

Volgens Spinoza bly die mens gebonde as hy nie besef dat hy deel is van 'n groter geheel nie. As die mens glo in sy eie afsonderlikheid, dan glo hy ook dat alles wat met hom gebeur bepaal word deur oorsake buite homself. Daarenteen is die mens vry namate hy begrip ontwikkel vir die geheel en dat hy daardeur sy eie lot bepaal. Vir Spinoza is die praktiese doelwit van filosofie dus om te ontsnap van die vlietende skyn van die wêreld om ons, aangesien dit geen ware geluk bring nie. Geluksaligheid lê daarin dat ons 'n begrip van ware realiteit nastreef en onsself daarmee identifiseer.

Sodanige interne vryheid het twee dimensies: Eerstens is dit om van die emosies te ontsnap; en tweedens om weg te doen met verwronge en vals idees – en volgens Spinoza is hierdie twee dimensies eintlik dieselfde ding. Dit impliseer volgens Spinoza dat vals idees deur emosies geskep word. Soos iemand gesê het, "ons moet verbygangers wees," en nie toelaat dat emosies die bewussyn en denke ontwrig nie.

4.   Rede en intuïsie

Vir Spinoza lê ware geluk derhalwe in ware kennis – kennis dat ons een is met alles wat is en met God. Dit is die hoogste doelwit waarna die verstand moet streef. Ons moet probeer om weg te beweeg vanaf die illusies wat geskep word deur gewone menslike opinies en verbeelding. Ons moet doelgerig na 'n hoër kennis bly soek – en dit kan net deur intuïsie bereik word.

Daar is seker vele mense wat nie glo dat daar iets soos intuïsie of inspirasie bestaan nie. Maar tog skryf Happold in sy boek oor mistisisme as volg: "The greatest discoveries in every field of knowledge have had their origin in the intuitions of men of genius. Through intuition they see, sometimes in a flash, things not seen by other men."

Van die grootste kunstenaars en wetenskaplikes van die verlede het inderwaarheid sodanige intuïtiewe insigte in hul skeppings bevestig – insigte wat as 't ware skielik die bewussyn binne-geval het sonder dat daarvoor gewroeg en gesweet is. Ek noem die volgende name:

Digters en skrywers: William Blake, Coleridge, Tennyson en Robert Louis Stevenson.

Komponiste: Saint-Saens, Puccini, Beethoven, Mozart en Verdi. In 'n boek oor Verdi se lewe – deur Dyneley Hussey – word vertel dat Verdi by geleentheid gevra is of hy in sy komposisies eers dink aan die tema en dit dan kombineer met die begeleiding en daarna die aard van die stemme bedink wat vereis word. Verdi se antwoord was: "No, no, no. The idea presents itself complete ... My difficulty is to write it down quickly enough, to express the musical idea in its integrity as it comes to mind."

Die beeldhouer Rodin, het gesê dat hy sy bekende standbeeld 'Die Denker' in sy geheel gesien het voordat hy daaraan begin werk het.

Wetenspaplikes: Friedrich Kekule het tot 'n skielike visie van die chemiese formule vir benzene gekom terwyl hy na die kole in 'n kaggel gestaar het; die Russiese chemikus Dmitri Mendeléev het sy beroemde periodieke tabel van elemente gevisualiseer toe hy uitgeput in sy bed gelê het na 'n lang geswoeg om die chemiese elemente rasioneel te probeer kategoriseer. Die uitvindings van Niels Bohr en Heisenberg het op soortgelyke situasies gevolg.

Ook uitvoerende kunstenaars praat van intuïtiewe inspirasie tydens hul optredes. Die beroemde sopraan Magda d'Oliviera het vertel dat as sy die verhoog opgaan dit is soos 'n "magic halo" wat oor haar kom; en Renée Fleming praat van "entering the zone." Interessant genoeg – ek skakel onlangs toevallig in op 'n sportkanaal waar onderhoud gevoer word met iemand wat klaarblyklik een of ander internasionale kampioen in branderplankry is. Ek weet nie presies wie hy was nie want – soos genoem – het ek laat ingeskakel. Nou dié ouens ry branders wat tot amper 100vt hoog kan wees. Hy sê toe dat mens dit net kan vermag deur op die oomblik te konsentreer: "You must go into the zone." Dit is veelseggend dat 'n beroemde sangeres en beroemde branderplankryer presies dieselfde terminologie gebruik.

5.   Lewe na die dood

Spinoza het nie die bestaan van individuele siele of afsonderlike brokke materie erken nie, aangesien alles bloot aspekte van die goddelike wese is. Daarom is persoonlike oorlewing na die dood – soos deur ortodokse Christene geglo word – bloot 'n illusie. Daar is slegs onsterflikheid van 'n onpersoonlike aard deur 'n toenemende eenheid met God. Die siel se eenwording met God is 'die tweede geboorte' waarna die Bybel verwys, en dít is waarin die mens se vryheid en onsterflikheid bestaan.

6.   Beheer van die emosies

Volgens Spinoza het die verstand inherent 'n toereikende kennis van goddelike essensie. Die ongeluk is dat negatiewe emosies hierdie kennis verdoesel en vertroebel. Daarom moet sodanige emosies onderdruk word – en dit kan net bereik word deur die meerdere mag van ware kennis, wat kennis is van God. As ons eers dinge ken en aanvaar soos dit in God is, sal die strydende emosies en begeertes wat ons so verwar en op dwaalspore plaas, in die niet verdwyn.

Deur die oortuiging dat alle gebeure die noodsaaklike gevolge is van die goddelike stelsel, is daar niks wat veragting of haat kan uitlok nie. Ons moet net besef dat alles deel is van die groot geheel. Verstaan ons dit, sal ons alle selfsugtige doelstellings aflê en ons probeer vereenselwig met die allesomvattende lewe en wil van die groot geheel. So sal ons uiteindelik vrede en vreugde vind. Dan sal iets soos afguns byvoorbeeld nie meer kan bestaan nie. Spinoza was ook 'n voorstander van verdraagsaamheid as 'n noodsaaklike vereiste vir die mens se geestelike ontwikkeling.

Hy het geleer dat ons nie aardse dinge moet liefhê nie. Doen ons dit, kan daar geen rusies oor aardse dinge ontstaan nie; dan sal daar ook geen gemoedsversteuring wees as sulke ding verlore sou gaan of deur 'n ander besit word nie. Sulke negatiewe versteurings ontstaan net as mense verknog raak aan dit wat verganklik is. Daarteenoor, sal liefde vir dit wat ewig en onverganklik is die gemoed vul met suiwer vreugde sonder enige versteurings. Daarom moet soeke na daardie liefde ons lewens oorheers.

SPINOZA SE TWEE BEKENDSTE WERKE is A Theological-Political Treatise en The Ethics. Die teologies-politiese verhandeling is anoniem in 1670 gepubliseer en het tot 'n groot skandaal en vyandigheid gelei, as gevolg van die skeptisisme oor godsdienstige leerstellings. Die Ethics was verdoem as ateïsties en moreel ondermynend en het grootliks in die niet verdwyn totdat belangstelling in Spinoza weer teen die einde van die 18e eeu herleef het. Die kruisvaarders vir dié hernude belangstelling was Goethe en later Shelley, Coleridge en ander romantiese skrywers.

In sy boek Cosmic Consciousness skryf Bucke dat vir 'n honderd jaar na Spinoza se dood in 1677, sy werke maar min gelees is – maar sedertdien al meer-en-meer. Bucke sê verder dat Spinoza nou staan op die hoë kruin waar hy hoort as een van die mensdom se groot geestelike leiers.

Bucke wys verder daarop dat daar min mense is wie se sienings so sterk ondersteun is deur die volgelingskap van groot figure soos Goethe, Coleridge, Wordsworth, Novalis, Herder, Schelling, Schleiermacher en Einstein.

Wat sy werk so aantreklik maak is dat dit volkome godsdienstig is, maar heeltemal onafhanklik staan van enige dogma.

In 'n slotopmeking m.b.t. die denke en leefwyse wat ons moet nastreef, sê Spinoza in die laaste sin van sy boek The Ethics: "If the way which I have pointed out as leading to this result seems exceedingly hard, it can nevertheless be found; for if salvation lay ready to hand and could be discovered without great labour, how could it be possible that it should be neglected by almost everybody? But all noble things are as difficult as they are rare."

Dr. Piet Odendaal kan gekontak word by

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.