.

Wie is ek eintlik?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Januarie 2015

.

Uit Asië kom 'n geestelike oefening wat ons almal gereeld behoort te doen. Dit wentel om die vraag "Wie is ek?"

Ons identifiseer onsself gewoonlik instinktief met ons liggame. Maar is ons regtig ons liggame? Ons kan immers ons liggame van haas uit alle hoeke beskou en bespreek. Daar is selfs mense sonder arms en bene wat voluit lewe. Die beroemde Joods-Duitse filosoof, Franz Rosenzweig, het sy hoofwerk Stern der Erlösung ("Die ster van verlossing"), geskryf terwyl hy heeltemal verlam was en sy vrou uit die knip van sy ooglede moes aflei watter letters hy wou gebruik. Helen Keller was blind en doofstom, maar sy het 'n invloed op die wêreld gehad wat min mense beskore is.

As 'n mens dus mooi nadink is ons liggame wel ons "voertuie," maar ons liggame is nie óns nie!

En ons gedagtes? Ons gedagtes is gewoonlik nie vir 'n oomblik stil nie. Daar is 'n voortdurende stroom gedagtes wat deur ons vloei, byna soos 'n trop kwetterende ape wat deur die woud trek, hier aan 'n vrug proe, daar 'n blaar kou of 'n tak afbreek. Ons eerste instink is gewoonlik om te glo dat ons gedagtes bepaal wie ons is. Ons vertolk immers elke oomblik van die dag die hoofrolle in ons eie dramas wat in ons koppe afspeel.

Tog beskik ons ook oor die vermoë om die onderwerp van ons gedagtes willekeurig te verander. Ons kan bloot besluit om oor iets anders te dink as waaraan ons besig was om te dink. En as 'n mens nog dieper delf kom jy agter dat jou gedagtes eintlik die kommentaar op jou lewe is wat deurlopend deur jou ego gelewer word.

Dit is juis op hierdie punt dat 'n mens maklik die verkeerde afdraaipad kan neem. Dit gebeur as 'n mens begin glo dat jy jou ego (of jou "ek") is. Maar eintlik is jou ego net 'n masker wat jy opsit om jou rol in die lewe te speel. Van die eerste dag van jou lewe af kry jy terugvoer van jou omgewing oor hoe jy eintlik behoort te wees – "'n Soet dogtertjie doen nie sulke dinge nie!" of "'n Soet seuntjie is tog 'n liewe kind."

Ons kry deurentyd sulke terugvoer van ons ouers, ons maats, ons skool en kerk en ons breër gemeenskap. So vorm ons ego dan die masker waarmee ons ons rol in die samelewing kan speel. Dit is die ego wat gekrenk kan raak en seerkry as iemand iets katterig oor jou sê. En dit is ook die ego wat 'n vrees vir die dood het. Maar hier teen jou middeljare begin jy agterkom dat daar iets dieper, iets meer geheimsinnig in jou lewe is. Iets met 'n ewigheidsperspektief, wat die ego nie het nie. Iets wat die sielkundige Carl Jung, die Self noem, wat hy ook bestempel as die imago Dei, die beeld van God in ons.

'n Groot deel van jou lewenshuiswerk is nou om jou ego aan jou Self te onderwerp. Wanneer 'n mens met hierdie lewenshuiswerk begin, kom jy gou agter dat jy nie jou gedagtes is nie, maar dat jou gedagtes slegs die selfspraak van jou ego is.

En ons emosies? Dit is tog so 'n getroue uitdrukking van hoe ons op 'n spesifieke tydstip voel. Maar die waarheid is dat 'n mens ook jou emosies kan beïnvloed en verander, omdat emosies ook ten nouste gekoppel is aan die ego.

As 'n mens dan nie jou liggaam is nie, of jou gedagtes of jou emosies nie, wie is jy dan? Die antwoord is eenvoudig: As 'n mens nie met een van hierdie drie aspekte van jouself identifiseer nie, is jy die Waarnemer wat die melodrama van jou lewe stilweg gadeslaan.

Om die perspektief van die Waarnemer te aanvaar kos nogal werk en oefening. 'n Mens is maar altyd geneig om hierdie onbetrokke posisie te laat vaar en jou met een van die karakters van jou lewe te identifiseer – soos wat 'n mens tydens 'n rugbywedstryd jou met jou gunsteling span identifiseer.

Hoewel die meeste van ons seker nooit volkome vanuit die Waarnemer se perspektief sal kan lewe nie, kry 'n mens dit deur 'n bietjie oefening tog reg om dikwels, indien nie meesal nie, deur die Waarnemer se oë na jou eie doen en late te kyk. Dit stel 'n mens in staat om wat jy doen eenvoudig net te "noteer." Daar kom 'n gedagte by jou op en jy sê net vir jouself "jaloesie", of "rassisme" of wat die geval ook mag wees.

Ons is so geneig om onsself, by wyse van spreke, oor die vingers te tik as ons 'n "verkeerde" gedagte het of iets verkeerds sê of doen. Maar dit is teenproduktief en versterk eintlik net die ego. Dit het 'n veel positiewer uitwerking as jy dit net waarneem en noteer, soos wat jy 'n vreemdeling se optrede sal waarneem. Deur dit te doen onderwerp jy die ego aan die Self, wat 'n veel breër perspektief op jou lewe het as jou ego.

Jy sal begin agterkom dat jy nie so maklik seergemaak voel deur dinge wat mense sê en doen nie, en dat selfs jou perspektief op die dood sal verander. So skep jy vir jouself ruimte vir spirituele groei, waarmee jy vir die res van jou lewe sal besig wees.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.