Wetenskap of Godsdiens, wie’s reg?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Julie 2012

.

Dit is waarskynlik nie oordrewe nie om te sê dat ons ongelooflik baie verskuldig is aan prof. Phillip Tobias. Nie net vir sy jare lange werk en studie oor die herkoms van die mens (evolusie) nie, maar ook sy enorme bydrae op die gebied van anatomie, biologie, chromosoom-genetika, kulturele antropologie en wetenskapfilosofie. Hy is vir seker een van Suid-Afrika (en die wêreld) se mees gevierde wetenskaplikes.

Toe ek hoor dat hy Donderdag op die ouderdom van 86 jaar in Johannesburg oorlede is, het dit my hart gebreek. Want soos enige mens het ek ook 'n paar mense in my lewe wat belangrike mentors en raadgewers was en is. En prof. Tobias was só 'n mentor vir my. En die nuus van sy dood het my net weer herinner aan sy groot bydrae in my lewe.

'n Paar jaar gelede, toe ek nog 'n predikant in die NG Kerk was, het ek deur 'n "dark night of the soul"-tyd gegaan. Ek het geworstel met my geloof. Ek maak toe 'n afspraak met prof. Tobias. En die gesprek van daardie dag sal ek nooit vergeet nie. Hy het vir my vertel dat 'n mens se evolusie nooit ophou nie en ook nie jou idees van die goddelike nie; dat dit heeltyd saam met jou ontwikkel en groei net soos jou manier om aan te pas by jou veranderende omgewing ontwikkel en verander.

Hy't my vertel dat hy met sy navorsing gevind het dat die mens se fisieke evolusie ál stadiger word en dat toekomstige veranderings in die mens se samestelling veel eerder op sielkundige, spirituele en emosionele vlakke verder sal plaasvind. Hy het my gehelp om raak te sien dat beide godsdiens en wetenskap 'n rol te speel het in my soeke na waarheid.

"Jy moet raaksien dat beide wetenskaplikes as godsdiensfilosowe op soek is na die waarheid, daar is dinge wat hulle in gemeen het. Moenie net fokus op dit waaroor hulle verskil nie. Onthou jy hoef nie te kies vir een of die ander nie, albei het waarde," het hy gesê en bygevoeg dat ek nie óf-óf hoef te dink nie, maar eerder én-én.

Daardie dag het hy 'n saadjie binne my gesaai. En daaruit het 'n nuwe verstaan, of noem dit filosofie, gegroei. Ek noem dit my filosofie van die middelweg; die antwoorde gaan ons nie in die teenpole vind nie maar daar waar die twee paaie mekaar in die middel kruis.

Ek onthou so goed hoe hy my gereeld gesê het dat daar in die wetenskap heelwat ruimte vir verwondering en misterie is en ek het dan altyd terug geantwoord dat daar in die kerk weer meer logiese, eietydse en oop denke nodig is. Ons het lekker saam gedroom oor hoe 'n wêreld sou lyk waar wiskunde en poësie saam kon praat oor ons werklikheid.

Ek sal nooit genoeg dankie kan sê vir prof. Tobias dat hy my gehelp het om raak te sien dat wetenskaplike kennis die mens se verstaansmoontlikhede verbreed deur 'n venster op die geheime van die kosmos te bied. Dit vervang nie die veelvlakkigheid van die metaforiese, poëtiese godsdienstige mitologieë nie, maar vertel 'n empiriese en feitlike verhaal wat die vroeëre onvoltooide verstaan van die kosmos uitbrei tot 'n asemrowende, maar nog steeds onvoltooide horison.

Natuurlik kom godsdiens en wetenskap vanuit verskillende wêrelde – en moet ons dit altyd onthou en respekteer. Die wetenskap se wêreld sluit in objektiwiteit, rasionaliteit, kritiese distansie, en toetsbaarheid. Maar dit is verseker nie deel van die wetenskaplike se wêreld om stellings te maak oor, byvoorbeeld, of God bestaan of nie-bestaan nie. Want daar is geen toetsbaarheid vir so 'n stelling moontlik nie. Daarom voel ek dat iemand soos die briljante Richard Dawkins 'n onwetenskaplike stelling maak as hy sê dat, byvoorbeeld, die evolusieteorie noodwendig tot ateïsme sal lei.

Aan die ander kant, indien iemand glo dat daar 'n God is, maar nie dit wil bewys nie, is dit nie noodwendig onwetenskaplik nie. Ek meen as iemand sê dat hy glo dat God bestaan, en dit dan kwalifiseer dat dit slegs 'n oortuiging is en nie 'n wetenskaplike feit nie, dan is dit tog die reg van daardie persoon om so te glo. Dit kan egter nie gebruik word as bewys vir die bestaan of die nie-bestaan van God nie. Mense wat dit as wetenskap beskou verstaan dus glad nie die wêreld van godsdiens nie. Want die godsdienstige wêreld gaan oor 'n innerlike wêreld van verbeelding, belewenis en gevoelsmatige uitdrukking, poësie, metafore, simbole, emosies en kuns.

Ek dink dat godsdiens juis vandag die prys betaal vir die feit dat hy hom laat verlei het wetenskaplik oor God te probeer praat; God as 'n objek wat bewys kan word, soos enige ander onderwerp van wetenskaplike studie. So asof 'n mens hoegenaamd feitelike opmerkings oor God kan maak. Sodoende het vele godsdienste hulle geloofwaardigheid deur die jare verloor.

Dink net hoe anders ons wêreld sou uitsien indien die God, van enige geloof, nie gesien was as die 'Ewige Onveranderlike' nie, maar eerder as die 'Ewig Veranderende' of 'Ewige Misterie'. Want by my is daar geen twyfel dat ons verstaan van ons werklikheid heeltyd moet verander om in pas te bly met die realiteit nie. Net so moet ons godsbeeld of prentjie van die God transformeer. Ons moet eietyds oor God en godsdiens kan dink en praat. Juis daarom dat godsdiens nie sonder die wetenskap kan voortleef nie – ons moet ons gode en dogmas heeltyd uitdaag.

Karen Armstrong beskryf dit in haar boek, The Case for God só: "Ons het daaraan gewoond geraak om te dink dat godsdiens aan ons inligting moet verskaf: Is daar 'n God? Hoe het die wêreld ontstaan? Religie was nooit veronderstel om aan ons inligting te verskaf oor vrae wat binne bereik van die menslike rede lê nie. Dít was die taak van logos. Die taak van religie, nou verwant aan dié van kuns, was om ons te help om kreatief te lewe, vreedsaam en selfs vreugdevol te midde van werklikhede waarvoor daar nie maklike verklarings is nie en probleme waaraan ons self niks kan doen nie: sterflikheid, pyn, smart, wanhoop en verontwaardiging oor die onreg en wreedheid van die lewe. Oor die eeue heen het mense van alle kulture agtergekom dat deur hul denkvermoë tot die uiterste te beproef, en deur so onselfsugtig en deernisvol as moontlik te lewe, hulle 'n transendensie ervaar wat hulle in staat stel om hul eie lyding met sereniteit en moed te aanvaar. Wetenskaplike denke kan ons vertel waarom ons kanker het, kan dit selfs genees. Maar dit kan nie vrees, teleurstelling en verdriet wat saam met die diagnose kom, aanspreek nie. Dit lê nie op sy terrein nie. Godsdiens werk nie outomaties nie; dit verg 'n groot mate van toewyding en kan nooit slaag as dit oppervlakkig, vals, of selfbevredigende afgodery is nie." (Dankie, dr. Piet Muller vir die vertaling van dié gedeelte, soos dit verskyn in die boek Kom Ons Bid.)

Dit was en is nog altyd die rol van godsdiens – nie verklarings of verduidelikings van hoe realiteit werk nie maar soos Karin Armstrong dit stel: "...'n praktiese dissipline. Insigte daartoe word nie verkry deur abstrakte spekulasie nie, maar deur geestelike oefeninge en 'n toegewyde leefstyl."

Hopelik sal in my leeftyd nog, die debat tussen godsdienste en die wetenskap begin rigting kry. Iets wat ongelukkig nie in prof. Tobias se leeftyd gebeur het nie. Daarom dat ek aan die begin gesê het, dat dit my hart gebreek het. Ek dra dus die volgende credo/gedig van die Amerikaanse Shawnee Indiaan, Chief Tecumseh, aan hom op:

"So live your life that the fear of death can never enter your heart.
Trouble no one about their religion; respect others in their view,
and demand that they respect yours.
Love your life, perfect your life, beautify all things in your life.
Seek to make your life long and its purpose in the service of your people.
Prepare a noble death song for the day when you go over the great divide.
Always give a word or a sign of salute when meeting or passing a friend,
even a stranger, when in a lonely place.
Show respect to all people and grovel to none.
When you arise in the morning give thanks for the food and for the joy of living.
If you see no reason for giving thanks, the fault lies only in yourself.
Abuse no one and no thing, for abuse turns the wise ones to fools and robs the spirit of its vision.
When it comes your time to die,
be not like those whose hearts are filled with the fear of death,
so that when their time comes
they weep and pray for a little more time
to live their lives over again in a different way.
Sing your death song and die like a hero going home."

Dankie Prof, vir jou "death song", dit help my met myne. Rus in vrede, jy is verseker 'n held, wat nou huis toe gegaan het. Ons sal jou mis!

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za