.

Westerse invloed in Afrika – blanke baasskap, kolonialisme en sendingwerk

Deur Jaco Steyn op 1 Julie 2016

.

Volgens rassistiese ondersteuners van blanke baasskap is blankes meerderwaardig teenoor nie-blankes en is hulle daarom geregtig om te heers oor nie-blankes. Hulle beweer dikwels dat dit blankes se plig is om nie-blankes te oortuig dat nie-blanke kulturele norme en waardes minderwaardig is en vervang behoort te word deur die "meerderwaardige" en "slimmer" blankes se kulturele waardes en norme. Twee van die belangrikste hulpmiddels van hierdie ideologie was Westerse kolonialisme en sendingwerk. Westerse kolonialisme het veral in Afrika veroorsaak dat tradisionele inheemse lewenswyses vervang is deur Westerse landboutegnologie, industrieë, medisyne, kleredrag, motors, paaie, ens. Sommige ondersteuners van blanke baasskap beweer dat Westerse invloede méér voor- as nadele tot gevolg gehad het en dat blankes hoofsaaklik vanweë humanitêre en altruïstiese redes probeer het om nie-blankes "op te hef."

Sendelinge het dikwels beswaar gemaak teen die onderdrukking en mishandeling van Swartmense, maar het selde beswaar gemaak teen kolonialisme, juis omdat kolonialisme hulle die geleentheid gebied het om die "Lig van die Evangelie" te verkondig aan die inboorlinge. Evangelisasiewerk is veral vergemaklik omdat nie-blankes in toenemende mate gewoon en gewerk het binne koloniale gebiede wat regeer is deur blank-beheerde koloniale moondhede. Dit is bv. makliker om jou godsdienstige idees te propageer binne-in 'n land met 'n "Christelike" regering, as wat dit sou wees om sendingwerk te doen binne-in 'n land wat deur 'n heidense Zoeloe-koning regeer word. Vervolgens het koloniale maghebbers en mynmagnate in toenemende mate saamgewerk met sendelinge en kerkleiers.

Is Westerse kulturele waardes werklikwaar beter as ander kulturele waardes en was die inheemse Swartmense van Afrika en die inheemse Indiaanse bevolking van Amerika inderdaad opgehef nadat hulle blootgestel was aan die Westerse kultuur? Is hedendaagse Westerlinge gelukkiger, minder vervreemd van mekaar, méér spiritueel-bewus en nader aan die Natuur as hul voorouers van meer as 2 000 jaar gelede? Is hulle gelukkiger met hulle luukse motors, sellulêre telefone, Facebook, televisies en ander tegnologieë? Wie word die meeste in Afrika bevoordeel deur die teenwoordigheid van buitelandse landbou-, myn- en oliemaatskappye – die meeste Swartmense of die eienaars van multinasionale maatskappye en hul marionette in korrupte Afrika-regerings?

Westerse regeringsleiers het al dikwels voorgegee dat húlle Swartmense "opgehef" het deur hulle bloot te stel aan die Westerse beskawing. Kerkleiers het beweer dat húlle gepoog het om Swartmense te verlos vanaf hul "barbaarse" vrese vir hul voorvadergeeste. Een van die gevolge van hierdie sogenaamde opheffingsproses was natuurlik dat baie blankes hulleself toenemend verryk het ten koste van die meerderheid nie-blankes. Gewese koloniale moondhede is nog steeds aktief betrokke in Afrikalande. Westerse banke leen geweldig baie geld aan Afrikalande, terwyl korrupte regeringsleiers in Afrika in ruil daarvoor besluite neem wat veral tot voordeel is van die eienaars van die banke en hul vennote. Lande soos Nigerië en Suid-Afrika is ryk aan minerale rykdomme, maar internasionale geldbelange en korrupte regeringsleiers sorg daarvoor dat húlle hoofsaaklik daardeur bevoordeel word ten koste van die meeste inwoners. Baie Islamitiese en Christelike godsdiensleiers in Afrika ondersteun hierdie status quo deur hulle toenemende aantal naïewe en liggelowige ondersteuners se aandag te fokus op verspotte godsdienstige dogmas. Nigerië se bevolking het toegeneem vanaf 16 miljoen in 1900 tot 152 miljoen in 2010. Transvaal se bevolking was 1,4 miljoen en Natal s'n 1,2 miljoen in 1900. Suid-Rhodesië se bevolking het toegeneem vanaf 734 000 in 1900 tot Zimbabwe se 11,6 miljoen in 2010. [1] 'n Goeie vraag is natuurlik of daar uiteindelik genoeg hulpbronne sal wees om in die behoeftes van die groeiende bevolkings te voorsien...

Mense wat beweer dat die inwoners van Afrika se lewenskwaliteit deesdae aansienlik beter is as 200 jaar gelede, verwys gewoonlik na vooruitgang op tegnologiese en mediese terreine; asook na gepaardgaande ekonomiese groei van Afrikalande. Baie Afrikane is na bewering gelukkiger is as gevolg van die geriewe wat deur Westerse invloede teweeggebring is. Daar word egter gerieflikheidshalwe vergeet van die geweld en lyding wat onafskeidbaar deel was van die invloede van godsdienste soos Islam en die Christendom wat hoofsaaklik van buite Afrika ingevoer is. Westerse chemiese en mediese wetenskappe het veral gehelp met die beperking van die aanwas van Tsetse vlieë en die bestryding van siektes soos bv. malaria. Dit het ongelukkig aanleiding gegee tot die toenemende bevolkingsgroei in Afrika. Die nadelige gevolge wat laasgenoemde op die omgewing het, soos o.a. besoedeling, die vernietiging van reënwoude en die uitwissing van verskeie dierespesies, moet ook in ag geneem word. James Lovelock verwys in sy insiggewende boek, The Vanishing Face of Gaia, na die feit dat derdewêreldse mense se toenemende aanvaarding van die Westerse lewenswyse, een van die grootste bedreigings inhou vir die voortbestaan van die mensdom. In prof. Sampie Terreblanche se insiggewende boek, Western Empires, verduidelik hy tot watter mate kolonialisme, die Christendom en ongebreidelde kapitalisme, gesamentlik bygedra het tot toenemende hoër finansiële markrisiko's en die onvermoë van samelewings om op die langtermyn volhoubaar te wees.

Die antieke beskawings van die Romeine, Grieke en Egiptenare het ook gerieflikheidshalwe gebruikgemaak van die goedkoop arbeid van die omliggende volke wat deur hulle verower en verslaaf is. Die geskiedenis word herhaal in dié opsig dat die unieke kulturele waardes van gewese Westerse kolonies ook geleidelik sal wegkwyn namate hierdie lande binnegestroom word deur veral Moslem-immigrante afkomstig vanaf die Derdewêreld.

Hierdie artikel en die kommentare daarop kan gelees word op my blog.

Verwysing:

http://en.wikipedia.org/wiki/List_of_countries_by_population_in_1900

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 0833841115. E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.