.

Wêrelde bly beweeg

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Februarie 2018

.

Een van die departementshoofde by die instelling waar ek klas gee, het vir al die personeel in haar afdeling 'n nuwe dagboek vir die nuwe jaar gegee. En buite op die dagboek het sy 'n papier geplak waarop daar staan: Skryf al jou planne in potlood en gee die pen vir Jesus. Toe het sy die dagboeke mooi oorgetrek met kleefplastiek. En almal is so opgewonde oor die versie want dit raak hulle diep.

Toe ek die episode aanskou, besef ek net weer: Ons leef nie net in polities en ekonomies moeilike en uitdagende tye nie, maar ook spiritueel. Ons een-en-twintigste- eeuse samelewing is 'n komplekse versameling van oorvleuelende lewens- en wêreldbeskouinge.

Ons sit aan die een kant met mense wat tegnologies en ekonomies kies om postmodern te leef, maar spiritueel verkies hulle om in 'n voor-wetenskaplike magies-mitiese kosmologie te opereer. Ons sit aan die ander kant met mense wat doelbewus teen wetenskaplike vernuwing en kennis veg omdat dit hulle sogenaamde biblisistiese wêreldbeeld nie kan akkommodeer nie. Dan sit ons ook met mense wat totaal en al ingekoop het in 'n wetenskaplike lewens- en wêreldbeskouing en vir wie daar geen ruimte vir magie en die bonatuurlike en buitebewysbare is nie. Maar dan sit ons ook met 'n groter groeiende groep mense wat al weer besig is om aan te beweeg van die suiwer wetenskaplike paradigma na iets wat nog nie heeltemal 'n noemer het nie.

Dit is mense wat absoluut glo in die wetenskap, maar wat sekere insidente toeskryf aan sinkronisiteit omdat daar in hulle denke nie meer ruimte is vir iets soos die hand of wil van God nie. Of dis mense wat nie meer glo in gebed en die krag van gebed nie, maar energie en vibrasie maak vir hulle sin, so hulle maak 'n groot ding van iets soos kwantumfisika. Hulle integreer dus die onverklaarbare en die wetenskaplike deur die vreemde en onbekende wetenskaplik te benoem met terminologie binne hulle postmoderne en wetenskaplike paradigma.
En dan sit ons ook met 'n klomp mense wat net leef en wat hulle nie aan een van hierdie opsies steur nie.

Die dilemma is egter dat ons nie net die sámelewing deel met hierdie verskeidenheid van uiteenlopend-dekende mense nie, ons behoort ook aan dieselfde families, vriendekringe, soms selfs dieselfde huishoudings.

En die groot kuns lê daarin dat ons vir mekaar moet ruimte skep om te kan verskil. Ons moet na mekaar se verhale luister sonder om mekaar te veroordeel en sonder om konflik en spanning te skep omdat ons verwysingsraamwerke verskil.

Die Duitse filosoof Hans-Georg Gadamer sê ons kan mekaar net hoor en dalk verstaan as ons besef dat ons wêrelde verskil en as ons bereid is om op 'n kreatiewe en produktiewe manier te probeer om interaksie tussen ons verstaanshorisonne te bewerkstellig.

Ons wil baie keer hê dat almal soos ons moet dink en voel en glo; en ons is vinnig om ons kop te skud as mense nie ons manier van dink en verstaan kan insien nie. "Want dis tog so logies en voor die hand liggend." Vir ons ja! Nie noodwendig vir almal nie.

In die Griekse mitologie was die god Hermes die boodskappergod gewees. Maar hy was ook die god van grense en die oorskryding van grense. Hy kon vrylik tussen verskillende wêrelde beweeg. Dan was hy by die gode en dan tussen die sterflinge. En so het hy boodskappe oorgedra van een wêreld en een groep, na 'n ander groep in 'n ander wêreld.

Die studie om taal en tekste en verhale te interpreteer en om tot verstaan daarvan te kom, is na Hermes vernoem en staan bekend as hermeneutiek. Dit is die proses om tussen die wêreld van die verhaal of teks en jou eie wêreld vrylik te beweeg. Om te probeer agterkom wat die outeur met sy verhaal bedoel het en wou sê, en om aansluiting daarby vanuit jou wêreld te kry. Dis die proses om te probeer verstaan.

Hoe dit ook al sy, daar is soveel misverstande en konflik tussen mense bloot net omdat ons in ons kommunikasie met mekaar, mekaar se wêrelde ignoreer. Ons gebruik dikwels dieselfde woorde, maar bedoel verskillende dinge daarmee. Soms weer gebruik ons totaal verskillende beelde, metafore en simbole en op die einde probeer ons eintlik dieselfde punt maak.

Jacques Derrida, die Franse filosoof het gesê ons kan eintlik eers begin om ander te verstaan en na ander te luister wanneer ons onsself verstaan en na onsself geluister het. En hoe ons dit kan doen, is deur die proses van dekonstruksie. Hoekom dink ek soos wat ek dink? Hoekom glo ek soos wat ek glo? Waar kom ek aan wat ek dink en glo? Hoe beïnvloed my lewens- en wêreldbeskouing die manier waarop ek na ander luister? Watter bril het my paradigma op my oë gesit, want niemand luister of praat ooit onbevooroordeeld nie. Ons kom by mekaar aan met bagasie. En voordat ek nie eers bereid is om my eie bagasie te erken en op die tafel te sit nie, sal ek jou nooit behoorlik kan verstaan of eers die moontlikheid kan skep dat ons mekaar kan probeer verstaan nie.

'n Groot teoloog uit die vorige eeu, Rudolf Bultmann het gesê ons moet hierdie beginsel ook onthou wanneer ons met die Bybel werk. Die Bybel het in 'n voor-wetenskaplike wêreld ontstaan waar mites en magie aan die orde van die dag was. Jy sal nooit die Bybel en die bedoeling van die verhale kan verstaan as jy nie bereid is om die ontstaanswêreld van die Bybel ook te verdiskonteer nie. En daarom moet ons eers ontmitologiseer voordat ons kan verstaan.

So wanneer mens krities na my kollega se versie kyk, sou mens kon sê: Weet jy, dit help nie eers dat jy vir Jesus 'n pen gee nie. As daar werklik so 'n historiese figuur was, kon hy tien teen een nie eers geskryf het nie, want hy het as 'n randfiguur vaderloos in Galilea grootgeword. Buite-egtelike kind van 'n enkelouer, so hy het nie skoolgegaan nie. Hy sal niks met jou pen kan doen nie.

Iemand anders kan na die versie kyk en sê: So, die versie glo dat Jesus God is. Die Joodse rabbi het in die vierde eeu post mortem goddelike status by die Roomse konsilie gekry en daarom kan hy nou ook doen wat God kan doen, so hy kan ingryp in jou lewe. Jy maak jou planne in potlood, maar Jesus, wat dan ook God is, volgens die dogma, skryf dit dan vir jou in pen.

Nog iemand anders wat die versie ontmitologiseer kan dalk sê: Ja, dis hoe die lewe werk. Terwyl ons een ding beplan, gebeur daar 'n ander ding, so ons beplanning is eintlik maar altyd in potlood. Eers as dit klaar gebeur het, kan ons by retrospeksie die gebeure in pen gaan skryf.
Eers as ons weet in watter paradigma my kollega funksioneer en ons haar bedoeling met die versie by haarself gehoor het, en wanneer ek my eie vooroordele oor so 'n tipe versie gedekonstrueer het en op die tafel gesit het, kan ek by die verdiskontering van beide wêrelde, begrip probeer kry vir die boodskap wat sy aan haar afdeling se mense wou kommunikeer en kan ek dan waardering al dan nie daarvoor hê.

Die eintlike punt wat ek na baie praat eintlik wil maak, is dat ons sensitief vir mekaar se praat moet wees. Ons leef in 'n komplekse tyd waar daar meer as een paradigma gelyktydig funksioneer. Mense se wêrelde bly aan die beweeg en niemand is eintlik op presies dieselfde plek as enige ander mens nie. So, moenie haastig wees om mekaar te oordeel nie. Moenie vinnig tot konklusies kom nie. Op ons spirituele reis deur 2018 moet ons daaraan werk om onsself eers behoorlik te verstaan, te dekonstrueer. Ons moet kyk na die bril wat ons dra en na die kleur van ons eie lense. En dan moet ons probeer om die wêreld van ons gespreksgenoot te besoek. Soos Hermes oor die grense beweeg, sodat ons kan poog om groter begrip vir mekaar te hê. Mense in ons dag en tyd leef in soveel verskillende wêrelde gelyk. En ons elkeen se eie wêreldjie moet inpas in 'n groter wêreld wat eintlik as gevolg van tegnologie en globalisasie by die dag kleiner en kleiner word.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.