.

Die Wenteltrap van Geloof

Deur Hanna van Niekerk op 1 Maart 2015

.

As jy na die skildery op regs kyk, wat sien jy?

Anaïs Nin sê: "We don't see things as they are. We see them as we are." Dit laat die vraag ontstaan: "Hoe is ons?" of dan meer spesifiek: "Hoe glo ons?" 'n Manier om hierdie vraag te hanteer is deur middel van spirale, of dan wenteltrappe. Eerstens is daar die antieke lewenspiraal, wat die twee helftes van die lewe voorstel. Tweedens is daar verskillende drade in die spiraal wat fasette van geloof voorstel. Derdens word ontwikkelingsfases van geloof voorgestel deur spiraal-dinamika ("Spiral Dynamics").

1.  Die Lewenspiraal

Carl Jung het gesê: "Life is a luminous pause between two great mysteries which themselves are one."

.

Jung het gepraat van die "Morning Journey" en die "Afternoon Journey" van die lewe, of dan die Oggendreis en die Skemerreis van die lewe. Hierdie twee reise verskil radikaal van mekaar. Die reëls van die Oggendreis geld glad nie meer in die Skemerreis nie. Hoe ek glo verskil dus ook radikaal tussen die Oggendreis en die Skemerreis, soos Richard Rohr is sy boek Falling Upwards verduidelik.

Die beweging van die Oggendreis is na buite, soos die spiraal groter word na buite. Ons praat van "development": Om my plek in die lewe te vind. Dit is nodig dat gesonde ego-ontwikkeling plaasvind. Ek ontdek wie ek is, wat ek glo of nie glo nie, hoe die lewe werk en ek onderskei tussen reg en verkeerd. Ek voeg nuwe insigte, besittings, ervarings en verhoudings by. Ek beleef die lewe hoofsaaklik dualisties, individualisties en as 'n soeke na sekerheid. Dis belangrik om in beheer te wees.

Die beweging in die Skemerreis is na binne. Ons praat van "envelopment": Om 'n plek vir alles in die lewe te vind. Dis 'n tyd van aflegging en oorgawe. Die ego wat ontwikkel het tydens die Oggendreis moet geleidelik afsterf. Die spiraal word oënskynlik kleiner na buite, maar daar vind 'n innerlike verruiming en bevryding plaas. Ek begin vrede vind met teenstrydighede en skynbare mislukkings. Dit is 'n reis na onsekerheid waarin ek beheer verloor. Ek onderskei steeds, maar beweeg na 'n non-dualistiese uitkyk op die lewe, waarin ek een word met alles.

Dis nie vanselfsprekend dat iemand die oorgang van die Oggendreis na die Skemerreis maak nie.

Baie mense hou vas aan die Oggendreis en word oud daarin. Die innerlike verruiming vind nie plaas nie. Dit word eerder 'n engheid en onbuigbaarheid. Ons het dikwels lewenskrisisse en donker nagte ("dark nights") nodig om ons uit die gemaksones van die Oggendreis uit te laat breek. Die bekendste hiervan is waarskynlik die middeljare ("mid-life crisis").

Andersyds is daar uitsonderlike mense wat jonk reeds die Skemerreis begin en by wie 'n mens lewenswysheid bo hulle jare waarneem.

2.  Fasette van Geloof (die dwarsdeursneë van die lewenspiraal)

.

Hoe lyk geloof in die lewenspiraal? As die lewenspiraal 'n dik kabel sou wees, sou 'n dwarsdeursneë van die kabel uit 'n groot hoeveelheid "drade" bestaan. Ken Wilber in sy "Integral Model" praat van verskillende lyne. Vier van hierdie drade (lyne), wat op geloof betrekking het, is:

2.1  Wat glo ek? – Die inhoud van my geloof (Kop)

Neem Kersvader as voorbeeld. Op die vraag: "Wat glo ek van Kersvader?" sou die antwoord beïnvloed word deur my geloofstradisie / kultuur en my lewensfase. 'n Vier-jarige Duitse seuntjie sal die vraag heeltemal anders antwoord as 'n twintigjarige Indiese universiteitstudent. Die vraag "Wat glo ek?" het veral te doen met wat ek feitelik en rasioneel (met my kop) as waar beskou. In die post-rasionele era waarin ons vandag leef vind die meeste debatte oor geloof op hierdie vlak plaas, oftewel: "Glo jy aan God of glo jy nie aan God nie?" Marcus Borg bespreek hierdie aspek van geloof as die antwoord op die vraag of iets feitelik of letterlik waar is of nie.

2.2  Hoe glo ek? – Die belewenis van my geloof (Hart / Verhouding)

Geloof ("Faith") is egter meer as net 'n rasionele saak. Die antwoord op die vraag: "Hoe glo ek?" het te doen met geloofsbelewenis wat 'n innerlike werklikheid is. Marcus Borg beskryf hierdie innerlike werklikheid as die verhoudingsaspekte van geloof, en Ken Wilber praat van ons verhouding met 'n "Thou". Hierdie "Thou" sal sommige mense as die Groot Misterie, die Natuur of die Kosmos beskryf, ander as die Lewe, en ander as 'n persoonlike godheid ("deity"). Vir die Christen is dit Jesus, een van die heiliges, die Heilige Gees, 'n engel of Moeder Maria, afhangende van die spesifieke Christelike tradisie. Volle oorgawe aan die vloei van die lewe, 'n hoopvolle toekomsverwagting, getrouheid aan my lewensroeping, naasteliefde en innerlike transformasie is alles belewenis-aspekte van geloof. Vanuit hierdie perspektief is ateïste dus ook gelowiges.

2.3  Van waar glo ek? – My geloofstradisie (Houer / Kultuur)

Vandag is daar 'n groeiende groep mense wat hulleself as "spiritueel maar nie godsdienstig" beskou. Hierdie groep sien godsdiens meesal in 'n negatiewe lig en daar word duidelike onderskeid gemaak tussen die begrippe "godsdienstig" en "spiritueel". Marcus Borg beskou hierdie onderskeid nie noodwendig as nuttig nie. Hy sê: "Religion is to Spirituality as Schools are to Education." In 'n aanbieding tydens die Renaissance konferensie in 2014 het Jaco Strydom godsdiens vergelyk met 'n houer of 'n vaas. Die vaas is nodig om die water te hou, veral terwyl die kind ontwikkel. Richard Rohr beaam hierdie siening en sê dat mense wat as kind 'n stabiele houer gehad het, 'n groter kans het om volledig deur die geloofsfases (sien punt 3) te ontwikkel. Wat terselfdertyd belangrik is, is dat hierdie godsdienshouer mettertyd minder solied en meer deurlaatbaar word vir latere geloofsfases.

Hoe verskil geloofs-tradisies? Marcus Borg haal William James aan wat 'n studie gemaak het van die groot wêreldgodsdienste, en bevind het dat daar vier breë aspekte is waarin die godsdienste ooreenstem. Hierdie vier is:

Die een aspek waar die godsdienste radikaal verskil is die "Houers," naamlik die etiese leringe, stories, rituele en heilige geskrifte. Dit is dus die kulturele inkleding en woorde wat mense vir belewenisse gee wat godsdienste verskillend maak.

3.  Fases van Geloof (Ons rek die lewenspiraal in sy lengte)

Hoe ontwikkel 'n mens se geloof deur die verskillende lewensfases?

Paulus sê in die bekende 1 Kor 13: "Toe ek 'n kind was het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind, maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê."

.

James Fowler onderskei ses stadia of fases van geloof. Ken Wilber gebruik kleure om makliker oor die fases te gesels. Hy noem hierdie fases "Stages" in sy "Integral Model."

(My kleure verskil effens van Wilber s'n).

'n Ander term wat gebruik word om ontwikkelende waardesisteme aan te dui, is "Spiral Dynamics."

Hierdie spiraal of wenteltrap gee 'n aanduiding van hoe die mens in verskillende fases van sy/haar lewe verskillend glo. Daar is evolusie in die spiraal, maar 'n mens kan ook in 'n spesifieke kleur vashaak, of terug gly. Mense beskryf dikwels lewenskrisisse wat hulle van een kleur na 'n ander laat beweeg. Die beweging langs die wenteltrap is nie so vloeiend en liniêr soos wat die voorstelling is nie: Daarvoor is die lewe veels te kompleks, uiteenlopend en "modderig."

Wat belangrik is, is dat geen kleur goed of sleg is nie. Elke kleur het lig- en skadukante, en alle kleure maak deel uit van die reënboog wat nodig is om die samelewing te laat werk.

Wilber onderskei in sy integrale model spesifiek tussen fases ("stages"), wat oor langer tydperke strek, en transendente belewenisse ("altered states"), wat tydelik is en bereik kan word deur praktyke soos meditasie.

Mense in elke fase (kleur) kan 'n "spirituele belewenis" hê. Hoe hulle hierdie belewenis interpreteer, hang af van hulle geloofsfase (kleur) en hulle geloofstradisie (houer) (Ek bespreek die fases vanuit die Christelike tradisie, hoewel die literatuur aandui dat daar soortgelyke fases in ander tradisies is.)

3.1  Rooi: Magies ("Intuitive-Projective")

Die rooi wêreld is tipies die wêreld van die kind tussen drie en sewe jaar oud. Dit is 'n towerwêreld van geeste, feëverhale en kersvader waarin verbeelding en werklikheid nie onderskei word nie. Die kind leef in die oomblik, is oorgelewer aan sy/haar omgewing en baie beïnvloedbaar. Die lewe word in sterk beelde en episodes beleef. Die godsbeeld stem ooreen met die Oud-testamentiese godsbeeld, waarin God enersyds die beskermer is en andersyds temperamenteel en onvoorspelbaar is. God mag nie bevraagteken word nie. Geloof is ego-sentries en gebed is 'n towertapyt wat my uit die moeilikheid kan help. Ek kan egter ook enige tyd gestraf word vir iets wat God of gesagsfigure as verkeerd beskou. Ek beweeg tussen vertroosting en beskuldiging. Daar is vandag volwassenes en groepe wie se geloofslewe 'n sterk rooi karakter het.

Die ligkant van die rooi fase is die sterk verbeelding, wat steeds toeganklik is vir die volwassene as dit toegelaat word. 'n Liefdevolle, koesterende omgewing kan die vaste basis word vir 'n gesonde geloofsontwikkeling. Die gevaar van hierdie fase is wat Fowler "Posession" noem. Dit is wanneer gesagsfigure die verbeeldingswêreld van die kind (en later volwassene) uitbuit met die aanwakker van vrees vir helse straf, die duiwel en dies meer.

Die krisis wat die kind uit rooi na oranje laat beweeg is die ontdekking en ontnugtering dat kersvader en die tandmuis nie "in die regte wêreld" is nie, soos my sesjarige kleinseun sou sê. 'n Moeiliker vraag is natuurlik of Jesus en God in die regte wêreld is.

3.2  Oranje: Mities ("Mythic-Literal")

Die oranje wêreld is die wêreld van die laerskoolkind. Verbeelding word meer begrens en beperk, maar storie en werklikheid vorm steeds 'n eenheid. Storie (of mite) gee waarde aan belewenis. Simbole word letterlik en een-dimensioneel verstaan met 'n lineêre storielyn. Karakters in kosmiese verhale het menslike eienskappe (antropomorfies). So vertoon God ook menslike eienskappe soos jaloesie, barmhartigheid, regverdigheid ens. Dit is die dualistiese wêreld van helde en skurke, Jesus en die duiwel, straf en beloning, reg en verkeerd, goed en sleg. Regverdigheid is belangrik en om te veg vir geregtigheid is edel. Dis steeds ego-sentries met beweging na etno-sentries ("Tribal"). Die sterkste persoon word die leier en het die oppergesag. Paul Smit noem kerke met 'n sterk oranje karakter "Warrior Churches." Fowler stel dit so: "Meaning is both carried and trapped in the narrative." Die Bybel is letterlik waar. God is aan my / my groep se kant. My God is die sterkste. My vyande is ekstern: Ander spanne, ander volke, ander gelowe, ander rasse ens

Paul Ricoeur sou rooi en oranje die "eerste naïwiteit" noem. Volgens my is dit wat baie mense onder "kinderlike geloof" verstaan.

Die ligkant van die oranje fase is waardes wat gevorm word soos gehoorsaamheid, dissipline, familiewaardes en dapperheid. Die gevaar van die oranje fase is polarisering en ekstremisme: Die "goeie kind" word hiper-religieus met 'n prestasie-godsdiens en die "slegte kind" voel verwerp en uitgesluit. Die etno-sentriese aard van oranje het ook wrede godsdiens-oorloë en liefdelose diskriminasie teen die "ander" tot gevolg.

Die wêreld word meer kompleks, en die fokus verskuif van: "Wie is die sterkste?" na "Wat glo ek?"

3.3  Geel: Konvensioneel ("Synthetic-Conventional")

Die adolessent beleef 'n meer komplekse geloofswêreld waarin daar sin gemaak moet word uit verhoudings, skool, werk en die gemeenskap buite die eie familie en volkstam ("tribe"). Die geel denke is etnosentries. Die geloofs-houer word die tuiste vanwaar 'n eie identiteit en waardestelsel ontwikkel. Geloof oriënteer my en moet kan "werk" in die groter kompleksiteit. Vanaf die stories van oranje ontwikkel 'n ideologie, 'n "consistent clustering of values and beliefs." Margaret Placentra Johnston noem hierdie groep die "faithful" groep. Daar is 'n in-groep en 'n uit-groep. Ons onthou hierdie tydperk as die tyd toe ons "tot bekering gekom het", "Jesus aangeneem het as persoonlike Saligmaker", "Wedergebore is", "my laat doop het" of "belydenis van geloof afgelê het" in tradisionele kerke. Ons glo dat alle mense die wêreld soos ons sien, of soos ons behoort te sien en soos ons behoort te glo. Geel is wanneer ons met groot toewyding sendingwerk doen en ander probeer bekeer. Geloofsekerheid en veiligheid lê in hoe ons glo, volgens die riglyne van ons spesifieke groep. Daar is genade vir hulle wat "reg" glo en veroordeling vir hulle wat "verkeerd" glo. Tradisionele kerke floreer in die geel denkraamwerk, en die meerderheid volwasse gelowiges tans is tuis in hierdie groep. Die godsbeeld is steeds ekstern. God word mens in Jesus as saligmaker en verlosser en die leerstelling van sonde, verlossing en dankbaarheid is sentraal. Interpretasie van die Bybel is volgens die spesifieke denominasie se leringe, met 'n mengsel van hoofsaaklik letterlike maar ook ideologiese betekenisse.

Die ligkant van die geel geloofsfase is morele standvastigheid en verantwoordelikheidsin. Die liefdesboodskap van die Nuwe Testament dra ook by tot deernisvolle gemeenskapsbetrokkenheid van tradisionele kerke. Die skadukant van die geel denkraamwerk is enersyds oorkonformasie. Dit kan lei tot 'n onvermoë om te bevraagteken en eie oordeel te gebruik. Andersyds kan die individu verraai word deur die ideologie. Ontnugterdes ontwikkel dan óf 'n verhewe intimiteit met God wat realiteit ontvlug, óf verval in nihilisme en wanhoop. Richard Rohr sê dat tydige ervare geestelike begeleiding waardevol is by sulke ontnugtering.

Tot en met die geel fase bly ek in my "vaderhuis." Nou word dit tyd dat ek "my huis verlaat."

3.4  Groen: Rasioneel ("Individuative-Reflective")

Een van Abel Pienaar se slagspreuke is: "Dink vir jouself." Die groen fase word moontlik vir die jong volwassene, hoewel dit vir baie mense heelwat later gebeur, of glad nie gebeur nie. Die mitologiese heldereis begin wanneer die held die huis verlaat. Ek neem verantwoordelikheid vir my eie denke en besluite, en 'n onafhanklike "self" ontwikkel met 'n eie wêreldbeeld wat van ander onderskei kan word. Kritiese denke ontwikkel en de-mitologisering vind plaas. Ek kan krities reflekteer op my eie identiteit en ook my geloofsidentiteit. Die feitelike en letterlike "waarheid" van antieke geskrifte soos die Bybel maak nie meer sin nie, en bots met tegnologiese en wetenskaplike ontwikkeling. Die bydrae wat veral diepte-sielkunde die afgelope eeu gemaak het laat ons anders kyk na ons eie geloof en bygeloof. Om te glo dat slegs my eie geloofstradisie reg is maak ook nie meer sin nie. Groen het 'n wêreldsentriese denkraamwerk met respek vir andersdenkendes. Die onverdraagsaamheid van geel denke teenoor andersdenkendes bots met groen verstaan van Jesus se leringe, en daar word ontdek dat talle wêreldgodsdienste soortgelyke leringe het. Daar is ook 'n ekologie-bewussyn wat bewaring van natuurlike hulpbronne voorstaan. Daar is 'n reaksie teen geel tradisionele godsdiens, met soms die militante ateïsme van 'n Richard Dawkins en 'n Sam Harris wat enige geloof in 'n god belaglik maak. Die Bybel word allegories verstaan, of word rasioneel-wetenskaplik ontleed en mense "verloor" dikwels hulle geloof, veral geloof in 'n teïstiese God. Henri Nouwen sê: "Perhaps ... the agnostic and searching believer ... are closer than we tend to think." Terselfdertyd ontwikkel "New Age" denke, wat dikwels 'n teruggryp is na die pre-rasionele, magiese wêreld, en deel uitmaak van wat mense as "spiritueel maar nie godsdienstig" beskryf. "New Age" is ook meesal gekant teen geel tradisionele godsdiens. Dit is moeilik vir tradisionele kerke om groen te akkommodeer. Daar is 'n kognitiewe dissonans tussen geel en groen denke, en om "my huis te verlaat" beteken dikwels ook "om my kerk te verlaat." Dit kan met 'n gevoel van verlies en terselfdertyd met 'n gevoel van bevryding gepaard gaan. 'n Rabbi het op die vraag of hy nog aan God glo geantwoord: "No, but I miss Him."

Die ligkant van groen is die persoonlike verantwoordelikheidsin wat ontwikkel, die "interne lokus van beheer," met 'n inklusiewe instelling teenoor ander groepe en kulture en 'n eko-bewussyn. Rasionele groen denke se bydrae deur die tegnologie en wetenskap tot die verbetering van lewensomstandighede is vandag deel van ons moderne wêreld. Die skadukant van groen is 'n tweede soort narsisisme, 'n oormatige selfversekerdheid waarin ek glo dat ek volledig die skepper van my eie lot is.

Soms ontstaan daar na groen 'n opening vir die reis na binne. Ken Wilber noem die volgende fases "second tier," trans-rasioneel of post-rasioneel.

3.5  Blou: Misties ("Conjunctive")

Blou, mistiese geloof is ongewoon voor die middeljare en minder algemeen as enige van die vorige fases. Paul Ricoeur noem dit die tweede naïwiteit: "Atheïsm clears the ground for a faith beyond accusation and consolation ... beyond the desert of criticism we wish to be called again." Die vorige stadia beleef die wêreld dualisties: "Either/or." Blou beweeg na non-dualisme: "Both, and." Daar is 'n herkonneksie met dit wat voorheen apart gesien is. Waar ek in die vorige fases 'n teenreaksie beleef op vorige fases: Oranje teen rooi, geel teen oranje, groen teen geel, besef ek nou dat daar 'n plek vir elke kleur is. Ek begin die lewe integreer en raak oop vir die stemme van my dieper self en my sosiale onderwuste wat diep in my ingebou is. Geloof is meer onseker, tentatief, tog is daar iets van "returning to God after God." Ekself het tydens 'n diep gewaarwording dit so probeer verwoord: "Indien daar so 'n Misterie is, sien ek kans om oud te word, kan ek sin in my lewe vind, kan ek totaal oorgee." Richard Rohr sê dat hy aan Adam en Eva glo, ten minste op tien verskillende vlakke. Blou is vertroud met verlies, neerlaag en gebrokenheid. Blou moet saamleef met die gevolge van onomkeerbare besluite en paradoks. Blou beleef die eie geloofstradisie dieper maar losser, met 'n aanvulling van ander tradisies. Die "Godsdienshouer" is meer deurlaatbaar en buigsaam. Daar is 'n belewenis van om gegryp te word deur die diepte van eie simbole en mitologie. Daar is egter 'n groot verskil tussen blou geloof en geel geloof, soveel so dat Marcus Borg sê dat dit soos verskillende godsdienste kan klink. Hy haal Thomas Mann aan oor die betekenis van mitologie: "A myth is a story about the way things never were, but always are." Letterlik/feitelik waar? Nee. Werklik waar? Ja. Of anders gestel: "The Bible is true, and some of it happened." Blou ontdek sakramente as "mediating the sacred," en die hele lewe word 'n sakrament. Daar ontstaan 'n ironiese verbeeldingsvermoë: Om in die kragtige lewensin van my eie geloofstradisie te kan wees, en terselfdertyd te besef dat dit 'n relatiewe, beperkte en misvormde verstaan van die Groot Misterie is. Blou is "ready to spend and be spent," wat iets beskryf van volle oorgawe aan die lewe soos dit is. Dit word "Faith beyond Belief."

Die ligkant van blou is die waardering van die diepte van eie en ander tradisies se simbole, mites en rituele. Die skadukant is dat daar steeds 'n verdeeldheid is tussen die ongetransformeerde wêreld en die transformerende visie, wat tot 'n verlammende passiwiteit kan lei.

3.6  Pers: Universeel

Hierdie fase is uiters skaars. Die uitsonderlike mense wat "Universalizers" is, is profete wat nie in hulle eie land geëer word nie, en wat dikwels sterf aan die hand van die mense wat hulle hoop om te verander. "They have become incarnators and actualizers of the spirit of an inclusive and fulfilled human community. The rare persons who may be described at this stage have a special grace that make them more lucid, more simple and yet more fully human than the rest of us. Life is both loved and held loosely. Such persons are ready for fellowship with persons at any of the other stages and from any other faith tradition."

Soos ons 'n uitdyende heelal het, eindig die kleure ook nie hier nie.

Die vraag is: Wat is die kleur van my geloof?

"Earth is crammed with heaven
and every common bush afire with God
but only he who sees takes off his shoes
the rest sit around and pluck blackberries"
(Elizabeth Barrett-Browning)

Bronnelys

Henri J M Nouwen, Making all Things New and other Classics – From Magic to Faith
Joann Wolski Conn, Women's Spirituality: Resources for Christian Development
Ken Wilber, The Integral Vision
Ken Wilber, Integral Spirituality
Marcus J Borg, The Heart of Christianity
Margaret Placentra Johnson, Faith beyond Belief
Paul R Smith, Integral Christianity – the Spirit's Call to Evolve
Richard Dawkins, The God Delusion
Richard Rohr, Falling Upwards – A Spirituality for the Two Halves of Life
Richard Rohr, The Naked Now

Hanna van Niekerk is 'n Lewensbegeleier en kan geskakel word by 0828042778 of . Sien ook www.lewensbegeleiding.blogspot.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.