.

Weet jy wat is die geheim?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Januarie 2016

.

Wanneer is 'n lewe betekenisvol? Wat gee dit sin? Wat maak dit die moeite werd, selfs heilig?

Vrae wat van die vroegste tye af bepeins is. En met meegaande antwoorde wat ongelukkig uiteenlopend en selfs weersprekend was/is. Antwoorde wat meer sê van die tydperk, die persoon en interpretasie van sy werklikheid, as wat dit enigsins 'n finale antwoord is.

Antwoorde wat neerkom vir sommiges op rykdom, roem, sukses en plesier. Ander sê weer familie, vriende of 'n lewe gewy aan ander. En nog ander glo 'n lewe gewy aan hulle verstaan van 'n God of 'n waarde groter as hulleself.

Alles natuurlik waardevolle pogings. Maar ongelukkig nie een 'n standhoudende en altyd geldende insig nie. Soos vele soekers ook dan deur die eeue heen vir hulleself uitgevind het.

Die skrywer van Prediker in die Bybel, is 'n voorbeeld van so 'n soeker. Hoor net hoe mooi verwoord hy dit (2 vers 11): "Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie."

"...in hierdie wêreld bevredig niks nie," woorde wat vandag hol en negatief klink. Selfs skokkend nihilisties. Maar is dit?

Sien, Prediker het iets diepers gesnap van die lewe, die dieper geheim tot 'n sin- en betekenisvolle lewe.

En wat is hierdie dieper geheim, wat blykbaar soveel mense heeltemal ontgaan?

Wel soos dit met meeste sulke waarhede is, is dit gewoonlik voor die hand liggend, vir enigiemand om te sien. Vry en verniet. En juis hierdie rede maak dat meeste mense dit mis.

En meestal is dit die eenvoudiges en klein kindertjies wat dit raaksien. Iets waarna die Nuwe Testament skrywer Matteus verwys met (18 vers 3): "Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie."

So wat is hierdie geheim? Hierdie antwoord op wat die doel en sin van die lewe, wat kindertjies kan sien maar volwassenes meestal mis?

Wel, eerstens is dit belangrik om te weet hierdie geheim is nie ingewikkeld en weggesteek binne dik boeke of moeilike raaisels nie. Anders sal 'n kind dit tog nie verstaan nie.

Tweedens, vind slegs die wat gereed is, die geheim. Derdens, hierdie geheim kan nie oorvertel of uitgewys word vir iemand anders nie, jy het nodig om dit self te vind.

J. Krishnamurti verduidelik dit so: "To understand the mystery that exists, we must first find clarity within ourselves. This clarity is not to be organized, for it cannot be exchanged with another. Organized group thought is merely repetitive; clarity is not the result of verbal assertion, but of intense self-awareness."

So, waar vind 'n mens hierdie helderheid, hierdie waarheid?

Volgens Prediker is dit nie te vind in die wêreld buite jou nie. Matteus sê dit is so eenvoudig selfs 'n kind sal dit verstaan en Krishnamurti sluit hierby aan met "self-awareness" is die sleutel. So wat is die geheim wat nie buite jou te vind is nie, maar binne jou en so eenvoudig selfs 'n kind sal dit kan verstaan?

Waar jy ook al gaan, daar is jy.

Dit is die geheim!

Teleurgesteld? Want dit is te eenvoudig? Te maklik? Te min?

Oppas nou dat jy nie soos vele voor jou, die geheim van 'n sinvolle en gelukkige lewe miskyk nie. Wag vir 'n oomblik. Word eers stil en kyk weer na die eenvoudige woorde.

Waar jy ook al gaan, daar is jy.

Kom ons verpak hierdie paar woorde.

En hiermee kan die Zen leermeester, Dogen se vraag ons baie help: "If you cannot find the truth right where you are, where else do you expect to find it?"

Want sien, lewe is net in die hier en nou teenwoordig, en daarom ook is sin en betekenis net hier te vind. Gister is verby en more is nog nie gebore nie. Lewe is net nou. En net nou, kan jy die waarheid vind. Uit gister kan jy leer en vir more kan jy beplan. Maar net nou kan jy leef. Net hier kan jy die geheim vind.

Presies waarna Lu Yu in sy Zen gedig verwys:

"The clouds above us join and separate,
The breeze in the courtyard leaves and returns.
Life is like that,
So why not relax?
Who can stop us from celebrating?"

Want waar anders dink jy sal jy kan leef? Die realiteit van die saak is, daar is geen ander tyd nie, geen ander oomblik as hierdie een nie. En in der waarheid kan jy nie hierdie oomblik ontsnap nie. Jy dink jy kan, maar jy kan nie. Jy kan probeer ontvlug in jou kop in, maar jy's nog steeds hier. Jy kan jouself probeer verdoof, vermaak of verplaas, maar jy is nog steeds hier.

Dit is wat 'n kind snap. Of dit winter of somer is, dag of nag, reën of sonskyn, dit is wat is. Omhels dit, gebruik dit, geniet dit. Soos Lu Yu sê: "...so why not relax? Who can stop us from celebrating?"

Want as jy dit nie doen nie – as jy bly skop en baklei teen dit wat is – sal jy ly en sal jy ongelukkig wees. Sal jy nooit die waarheid en skoonheid vind wat reeds reg voor jou oë is nie.

En om so teenwoordig in jou eie lewe te leef (om te wees waar jy is) is om heilige grond te betree. Ja selfs hierdie oomblik, binne jou deurmekaar of hartseer, dit is 'n heilige oomblik, 'n heilige plek.

Presies wat Dorothy in The Wizard of Oz ontdek het: "If I ever go looking for my heart's desire again, I won't look any further than my own backyard. Because if it isn't there, I never really lost it to begin with."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.