.

Weet jy hoekom jy glo wat jy glo?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 April 2015

.

Het jy al ooit gewonder hoe jy die dinge weet wat jy so oortuig is jy weet?

Hoe jy, byvoorbeeld, weet dat die aarde rond is, en seker weet dat dit om die Son wentel?

Wel, jy weet dit sekerlik omdat daar bewyse daarvoor is. Daarom indien jy sou sê jy weet die aarde is rond, sou jy dit sekerlik kon bewys. Iets soos wanneer iemand in dieselfde rigting begin reis, hulle uiteindelik weer op dieselfde plek sal uitkom. En dan wanneer so 'n reisiger wel weer by sy wegspringplek uitkom, sou dit kan tel as 'n geldige bewys dat die aarde inderdaad rond is.

Soms is bewyse so eenvoudig soos om iets vir jouself te kan sien, hoor, voel, ruik of proe. En om dan jou eie waarneming te verklaar. Sodat ander dit self ook kan toets.

Maar dikwels is dit nie so eenvoudig nie en kan bewyse nie deur eie direkte waarneming verkry word nie, maar waarneming lê egter altyd daaragter. Kom ek verduidelik wat ek bedoel.

Dit werk baie keer soos die ondersoek van 'n moord; wanneer daar, byvoorbeeld, buiten die slagoffer en moordenaar niemand anders was wat dit kon waarneem nie. Nou wanneer die saak deur die polisie ondersoek word, moet hulle tevrede wees met dit wat hulle op die moordtoneel vind en kan waarneem.

Dit kan enigiets wees van vingerafdrukke op die moordwapen, DNA onder die slagoffer se naels, bloedspatsels op die verdagte se klere of dalk getuies wat iets gehoor het.

Dit bewys nie noodwendig dat die verdagte die moord gepleeg het nie, maar dit kan help om die gebeure binne perspektief te herkonstrueer. En soms kan 'n aantal waarnemings alles in plek laat val.

Wetenskaplikes (van verskillende vakgebiede) is net soos die polisie wat 'n moordsaak ondersoek. Hulle ondersoek, ontdek en bestudeer alles wat hulle kan, om te verstaan hoe dinge in mekaar steek. Van die "Big bang" tot by die kleinste atoompie is baie keer hulle "moordtoneel." Hulle was nie daar toe dit gebeur het nie, maar hulle het baie ander bewyse om mee te werk.

En net soos die polisie aanvanklik werk met verskillende variasies van wat moontlik kon gebeur het, net so werk wetenskaplikes met aanvanklike voorspellings en scenarios (hipoteses). Hierdie hipoteses word natuurlik doelbewus bevraagteken, getoets en ondersoek. Soveel so dat dit vele kere aangepas, verander en selfs as vals afgemaak word. Hierdie proses hou aan, soms jare, totdat daar voldoende bewyse vir of teen is.

Hierdie proses is 'n gebalanseerde en realistiese wyse om met ons werklikheid om te gaan. Om sinvol tot konklusies oor ons wêreld en omgewing te kom en sodoende goeie redes te gee waarom jy seker kan sê jy weet iets is so of nie. Daar is egter ook slegte, onrealistiese en selfs gevaarlike maniere om by oortuigings en sekerhede uit te kom. En dit is wanneer bogenoemde proses gesystap word deur sogenaamde klinkklare antwoorde en "bewyse" te aanvaar bloot omdat dit vanuit 'n sogenaamde goddelike outoriteit, aan jou oorgedra word.

Want is dit nie wat godsdienste en tradisies uiteindelik doen nie? Geloofstradisie of kulturele tradisie, dit werk beide met 'n sogenaamde outoriteit (gesag), as die enigste rede om iets te glo. Dit beteken jy moet iets glo omdat jy vertel is om dit te glo, gewoonlik deur iemand wat sogenaamd gesag het.

Dink maar net aan die hele probleem met wonderwerke. Daar is geen bewyse van enige vrou wat nog ooit 'n maagdelike geboorte gegee het nie, of iemand wat al op water geloop het nie of selfs bewyse van mediese opwekkings uit die dood nie. Maar gelowiges het geen probleem om dit onkrities te aanvaar as waarheid. Hoekom? Want dit staan dan in hulle (gesagsvolle) boek en word verkondig deur hulle gesagsvolle leiers. En daarmee saam word dit al eeue lank oorgedra van geslag tot geslag.

Dit is wat ons tradisie noem. Tradisie beteken geloof wat van grootouer na ouer na kind oorgedra word, en so aan. Of van boeke wat oor die eeue oorgedra is. En tradisionele geloofsoortuigings ontstaan dikwels uit feitlik niks; miskien was dit net 'n opgemaakte storie wat by die kampvuur oorvertel is of 'n mite wat geglo is omdat daar nog geen ander verklarings vir iets soos byvoorbeeld donderweer of natuurrampe was nie.

Kyk maar net hoe die stories rondom Thor en Zeus ontstaan. Maar nadat hierdie stories oor 'n tydperk van eeue oorgedra is, maak die blote feit dat hulle so oud is, dit heilige waarheid. Baie moderne mense glo dan dinge bloot omdat mense dieselfde goed al vir eeue lank glo. Dit is die gevaar van tradisie.

Ek was juis nou onlangs by 'n gesprek waar mense van verskillende godsdiens tradisies teenwoordig was. Christene, Jode, Moslems, Hindoes en nog 'n paar minder bekende godsdienste. Elke keer wanneer iemand deel wou neem aan die gesprek, moes hy eers sy naam en sy geloofstradisie noem. En wat elkeen gesê het, het presies gewys wat ek met "tradisie" bedoel.

Hul geloofsoortuigings het min verband met bewyse gehad. Hulle het net die geloofsbeginsels van hul ouers en grootouers opgenoem, wat, op hul beurt, ook nie op bewyse gegrond is nie. Hulle het goed gesê soos: "Ek as Hindoe glo so..." of "Ons as Moslems glo dit..." Natuurlik, omdat almal in verskillende dinge glo as waar, kan almal tog nie reg wees nie. Maar dis nie die punt wat ek nou wil maak nie. Ek wil net uitwys, dat meeste godsdienstige mense nie eens besef dat hulle onnadenkende en werklikheids-vreemde dinge glo nie.

Hulle besef nie eens dat dit wat hulle godsdienste vir hulle leer, onlogies, onwetenskaplik en selfs lewensgevaarlik kan wees nie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die geloofsoortuiging van baie Christene en Moslems om nie voorbehoedmiddels en geboortebepering te gebruik nie, omdat dit sonde is. Hierdie geloofsoortuiging is jaarliks verantwoordelik vir miljoene se lyding en dood.

En wat van die tradisie van vroulike besnydenisse, antieke verstaan van reinheid, die geloof dat die vrou ondergeskik aan die man geskape is, die verstaan dat siekte soos kanker weens sonde en demone manifesteer en dat natuurrampe God se straf op sonde is. Hoeveel bygelowige en pseudo-wetenskaplike dinge word daar nie nog vandag deur hoogs intelligente mense geglo as waarheid nie. Kyk maar net watter dinge mense op sosiale media verklaar as waarheid. Tradisie is vir baie onaantasbaar en moet geglo word ongeag bewyse of selfs logika. En die bewaarders van tradisie word beskou as spesiale mense wat hulle outoriteit direk van God self gekry het.

So indien jy sou verskil met hierdie bewaarders van tradisie, sou jy inherent dus verskil met God self. En wie wil met God verskil?

In die Rooms-Katolieke kerk is die pous so 'n bewaarder, dalk die belangrikste van al die bewaarders. In een vertakking van die Moslem-tradisie is so 'n bewaarder 'n ayatollah. Daarom is daar Moslems wat bereid is om moord te pleeg, bloot omdat die ayatollahs in 'n land ver van hul eie hulle vertel om dit te doen. (Presies hoe 'n fatwah, of heilige oorloë dan ook baie keer ontstaan.) Outoriteit (gesag), as 'n rede om iets te glo, beteken om dit te glo omdat jy vertel word om dit te glo deur iemand wat volgens jou spesifieke tradisie belangrik is.

Natuurlik, selfs in wetenskap, het ons dikwels nie die bewyse self gesien nie en moet ons iemand anders se woord glo. Ek het nie, met my eie oë, die bewyse gesien dat lig teen die snelheid van 300 duisend km/s beweeg nie. Ek glo sogenaamde wetenskaplikes wat kenners op hulle vakgebied is. Dit mag dalk klink soos godsdiens se "outoriteit." Maar dit is glad nie. Want enigiemand kan enige aanspraak of uitspraak bevraagteken. Enigeen is vry om die bewyse te bestudeer wanneer hulle ook al wil. En enige bewys kan en mag verkeerd bewys word, enige tyd. Niks is heilige en onaantasbare waarheid nie.

Maar in godsdiens tradisies is daar geen ruimte vir die toets van sogenaamde aannames nie. Dit moet net onkrities aanvaar word. Ja, selfs onlogiese en hoogs onwaarskynlike dinge kan deur godsdienstige mense verklaar word as waarheid. Op grond van net 'n gevoel in hulself. Dit word genoem 'n openbaring. Dit is byvoorbeeld, nie net die pous of ayatollahs wat daarop aanspraak kan maak dat hulle goddelike openbaringe beleef nie, meeste gelowiges maak ook aanspraak hierop. Dink maar aan predikers wat sê: "So spreek die Here!" of 'n gelowige wat verklaar "God het vir my gesê..." Dit is een van die hoof redes waarom gelowiges dan die dinge glo wat hulle glo. Maar is dit regtig 'n geldige rede?

Sê nou ek sê vir jou jy het 'n ongeneeslike siekte. Natuurlik sal jy baie ontsteld wees, en waarskynlik vir my vra: "Hoe weet jy dit? Het jy met my dokter gepraat?" En sê nou my antwoord is: "Ek het geen bewyse nie. Ek het net hierdie gevoel diep binne myself dat jy siek is."

Ek vermoed jy sal kwaad vir my wees, omdat ek jou onnodig laat skrik het. Want kom ons wees eerlik met mekaar, 'n "gevoel" in my binneste alleen is nie genoeg rede om te glo dat iemand 'n ongeneeslike siekte het nie. Daar is bewyse nodig.

Ons het almal van tyd tot tyd gevoelens in ons binneste, en soms is ons reg en soms is ons verkeerd. In elk geval het verskillende mense teenoorgestelde gevoelens, wat dit moeilik maak om te besluit wie se gevoel is reg. Die enigste manier om seker te wees dat iemand aan 'n ongeneeslike siekte ly, is om mediese toetse te ondergaan, om deur 'n professionele mediese persoon ondersoek te word; en dan werklike bewyse te sien.

Tog is godsdiens tradisies nie onderhewig aan hierdie wetenskaplike bewyse nie. Die gevoel is vir hulle 'n gesagsvolle bewys. Ongeag of dit enigsins realisties of uiterlik bewysbaar is. Ek weet van 'n geval waar 'n jongman 'n vreemde meisie tromp-op geloop het en vir haar gesê het dat God aan hom bekend gemaak het dat sy sy trou-vrou is. Na vele besoeke aan my, en waar ek elke keer vir haar gesê het dat dit 'n fout is en hulle eers mekaar beter moet leer ken, het sy tog voortgegaan en met die jongman getrou. Dit is dan God se wil. Nodeloos om te sê, die huwelik het nie ses maande gehou nie, want hulle was heeltemal twee verskillende mense.

Wie se fout was dit? Het God dan nie geweet dat hulle nie pas nie? Het hy 'n fout gemaak? Of het die jongman verkeerd gehoor? En as hy verkeerd gehoor het, hoe kan hy dan ooit weer seker wees hy hoor reg? Hoe sal hy weet wanneer God praat en wanneer is dit net sy eie gevoelens en denke?

Hierop antwoord gelowiges gewoonlik dat 'n mens moet leer om jouself te ken en dan sal jy die stem van God kan onderskei van jou eie gevoelens en begeertes. En as ek vra hoe klink God se stem dan sê hulle dat dit altyd die stem van liefde is. Goed en wel, maar hoe weet ek dit is liefde en nie net gevoelens van verliefdheid of selfs wellus onder die dekmantel van "ware liefde" nie? So is ons dan weer terug by bewyse. Jy moet selfs die gevoel binne jou ondersoek om bewyse te kry. Niks kan of mag net goedgelowig aanvaar word nie.

En in die geval van liefde kan daar tog wel bewyse wees. Die verskille tussen liefde en verliefdheid is tog wel bewysbaar. Daar is ook baie bewyse dat iemand jou liefhet of nie. Hier dink ek aan my en my vrou se liefde vir mekaar. Elke dag wanneer ek in haar geselskap is, sien, hoor en voel ek 'n klomp klein deeltjies van bewyse daarvan. Die manier wat sy my in ag neem, haar optrede teenoor my, selfs wanneer sy onder druk is of gespanne voel.

Klomp klein en groot dinge, van stemtoon tot manier van aanraak, alles kan saam bevestig sy is lief vir my of nie. Dit is nie suiwer net 'n gevoel in my binneste nie, soos die gevoel wat gelowiges 'n openbaring van God noem nie. Die gevoel van die jongman, alhoewel baie sterk, vir die vreemde meisie het vir seker nie op bewyse berus nie. Ek meen daar is dan mense wat 'n sterk gevoel in hul binneste het dat 'n beroemde rolprentster hulle liefhet, hulle sielsgenoot is. Terwyl die waarheid is dat die ster hulle nog nooit ontmoet het nie, en dalk aan die ander kant van die wêreld woon. Mense soos dié noem ons uit voeling met realiteit. Selfs sielsiek.

Die punt is, enige gevoel in jou binneste moet ondersteun word deur bewyse aan die buitekant, anders kan jy dit eenvoudig nie vertrou of glo nie. Net so is gevoelens in jou binneste waardevol in die wetenskap ook, maar enige idees moet altyd getoets word en bewyse moet daarvoor gesoek word. 'n Wetenskaplike kan 'n "voorgevoel" oor 'n idee hê wat net reg kan "voel." Dit is egter nie voldoende rede om iets te glo nie.

Maar dit kan 'n goeie rede wees om tyd te bestee om 'n spesifieke eksperiment te doen, of om op 'n besondere wyse na bewyse te soek. Wetenskaplikes gebruik baie keer deurlopend gevoelens in hul binneste om idees te ontwikkel. Maar die idees is niks werd totdat hulle nie bewyse het om hulle gevoel te ondersteun nie.

Die probleem met tradisie is dat, maak nie saak hoe lank gelede die storie uitgedink is nie, dit presies so waar of onwaar is soos wat die oorspronklike storie was. As jy 'n storie opmaak wat nie waar is nie, word dit nie waar net omdat dit oor 'n aantal eeue oorgedra is en jy vandag 'n innerlike gevoel het dat dit waar is nie. Ons het vandag al hoe meer nodig om eerlik, oop en soekende te bly as dit kom by enigiets wat aan ons gegee word as waarheid.

Veral as dit gaan oor wat ons glo oor God en godsdiens. Ons kan nie net goedgelowig omgaan met tradisionele aannames nie.

Op die ou einde is al wat ons van God weet: menslike idees, vertellings, prentjies en konstrukte. En per definisie verander dit soos daar meer ontdek, gevind en bevind word. Want in wese is elke godsdiens en wysheids-tradisie slegs maar 'n klein stukkie van die groter legkaart. Saam kan ons soek na die groter prentjie. Soos ek voorheen ook al genoem het, glo ek daar is 'n plek en rol te speel, deur almal.

Die Islam se toegewydheid, die Christendom se barmhartigheid en die Boeddhisme se deernis kan mekaar en die wêreld soveel meer verryk as verarm. Sit hiermee saam die wetenskap se eerlikheid en kritiese ingesteldheid en ons wêreld kan 'n beter plek word.

Kom ons word almal eerstens vrydenkers en eerlike soekers. Mense wat vry is van enige tradisies. So vry dat ons selfs vry is van ons eie vooropgestelde idees. Kom ons begin 'n vryheids-rewolusie.

Presies dit wat die Franse filosoof so lank terug reeds na verwys het: "The only way to deal with an unfree world is to become so absolutely free that your very existence is an act of rebellion."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.