Wederopstanding van die vlees?

Deur Prof. Neels Moolman op 1 April 2012

1. Inleiding

As toegewyde Christen het ek elke Sondag my geloofsbelydenis in die kerk afgesluit met "Ek glo aan die wederopstanding van die vlees en 'n ewige lewe amen". Ek het die afgelope ruk lank hieroor nagedink en besef dis iets waaraan jy net kan glo as misterie maar nie kan bewys nie.

Al glo ons dit werklik, is daar 'n paar ongemaklike vrae wat opduik.

Ek bedoel, hoe kon hulle van Christus geweet het? Ons het darem hier volgens die Bybel te doen met 'n regverdige God.

Sedert die begin van ons self bewussyn, stoei die mens met die feit dat ons sal sterf. Toe ons voorvaders begin het met die ritueel om afgestorwenes te begrawe, is daar reeds gespekuleer oor moontlike lewe na die dood. Heel dikwels is dooies saam met hul gereedskap begrawe sodat hulle dit in die volgende lewe kon gebruik. Omdat die mens gewens en gehoop het op 'n lewe na die dood, beteken dit nie dat hierdie drome gaan realiseer nie.

Die vraag wat nou ontstaan, is of gelowe ontwikkel het uit die vrees vir die dood. Die wete dat ons almal moet sterf, is een van die sterkste motiverings vir die ontstaan van die verskillende gelowe. Selfs gelowe met geen of weinig bonatuurlike wesens, kan steeds glo in lewe na die dood.

Boeddhisme is 'n goeie voorbeeld hiervan. Dit is egter eerder 'n lewenswyse as die geloof in bonatuurlike wesens. Die meeste vorme van Boeddhisme glo aan die siklus van hergeboorte. Die woord "universalis" verwys na die geloof in universele redding, dat almal "hemel" toe gaan.

2. Mees algemene vorme van geloof in lewe na die dood

2.1   Onsterflikheid
Die antieke Grieke het geglo dat almal 'n bestaansdeel gehad het wat nie kon sterf nie – 'n onsterflike siel. Dit was nie noodwendig 'n godsdienstige geloof nie maar eerder 'n filosofie wat deur mense soos Socrates en Plato aanvaar is.

Hulle het ook geglo aan die vorige bestaan van die onsterflike siel. Socrates het beweer dat as 'n kind, deur noukeurige ondervraging, gelei kan word om 'n wiskundige waarheid te herroep, dit bewys is van die feit dat die kind voorheen gelewe het in die wêreld van perfeksie. Daarom sal sy siel daarheen teruggaan na sy dood.

Hierdie geloof in onsterflikheid is deur baie gelowe aanvaar, insluitende die Christendom, Judaïsme en Islam. Baie mense sonder enige geloofsverbintenisse glo ook dat hulle onsterflike siele het.

2.2   Opstanding uit die dood
Die opstanding uit die dood van die individu is nog 'n bestaande geloof. Dit beteken dat een of ander bonatuurlike krag dieselfde persoon tot 'n nuwe bestaan sal bring in 'n ander realiteit wat dikwels bekend staan as die hemel.

Sommige vorme van Judaïsme en Christenskap glo dat God die dooies kan opwek uit die dood in 'n ander dimensie van bestaan. Baie mense wat hulself as Christene klassifiseer glo aan outomatiese immortaliteit eerder as om te glo dat God hulle lewend kan terugbring tot 'n lewe in die hemel nadat hulle gesterf het. Die Nuwe Testamentiese beskouing is wederopstanding eerder as immortaliteit.

2.3   Reïnkarnasie
Baie mense glo in reïnkarnasie. Hierdie siening kom veral voor in Oosterse gelowe maar baie mense in die Weste glo ook daaraan dat nadat hul liggame gesterf het sal hulle as dieselfde persoon in 'n nuwe liggaam gebore word. Sommige gelowe glo weer dat hul volgende inkarnasie moontlik in die vorm van 'n dier sal wees. Die meeste mense wat in reïnkarnasie glo verwag om gebore te word in nuwe menslike liggame.

3. Die grondslag vir die geloof in lewe na die dood

Watter basis bestaan daar vir die geloof in immortaliteit, wederopstanding of reïnkarnasie? Al sou 90% van die mensdom glo in een of ander vorm van lewe na die dood, watter grondslag is daar ter ondersteuning van so 'n geloof? Aangesien aannames van lewe na die dood so buitengewoon en so ver verwyderd is van dit wat ons in die lewe kan waarneem, word daar verwag dat so 'n geloof 'n baie swaar bewyslas dra.

Waarnemings dui daarop dat alle lewende organismes sterf. Geen vergelykbare waarnemings het ooit aangedui dat mense in enige vorm, terugkom tot die lewe nie. Die bewyslas rus op die skouers van diegene wat glo in lewe na die dood. Elke persoon wat in so iets glo, behoort die volgende vrae in ag te neem.

4. Wetenskaplike en filosofiese vrae aangaande lewe na die dood

4.1   Sintuiglike persepsie. Kan ons sien as ons dood is?
Al vyf ons sintuie naamlik om te sien, te hoor, te voel, te ruik en om te proe, is afhanklik van sintuiglike organe binne in lewende liggame. Nadat ons liggame dood is, begrawe of veras is hoe kan ons enige sintuiglike ervarings beleef?

Diegene wat glo in reïnkarnasie mag beweer dat hul nuwe liggame oor al die sintuiglike organe sal beskik. Diegene wat glo in 'n nuwe lewe in die hemel, moet kan verduidelik hoe lewe moontlik is sonder sintuiglike organe.

4.2   Bewussyn. Kan ons dink sonder 'n brein?
'n Groter probleem egter, is die vooruitsig om te lewe sonder 'n brein. Dis welbekend dat die menslike brein 'n lewende orgaan van die menslike liggaam is in die skedel van elke lewende persoon. Wanneer 'n persoon sterf, kom al die brein-funksies tot stilstand.

Diegene wat glo in een of ander bewussyn na die dood moet verklaar hoe denke kan voortbestaan sonder brein. Ook sal daar 'n verklaring moet wees van oor hoe so 'n nuwe bewussyn skakel met wat ons gehad het as lewende wesens.

4.3   Geheue. Kan ons onthou sonder 'n plek om ons geheue te stoor?
Eweneens weet ons dat menslike herinnering gesetel is in die brein wat, selfs terwyl ons nog lewe, kan deterioreer sodat ons ons geheue verloor. Diegene wat glo in een of ander vorm van lewe na die dood sal moet kan aandui hoe geheue kan behoue bly terwyl die brein total vernietig is. As daar geen geheue meer is van die lewe wat ons nou leef nie, in watter sin is ons lewend in die nuwe bestaan? Sal so 'n persoon of dier sonder geheue nie 'n totaal ander individu wees nie?

4.4   Interaksie. Kan daar interaksie wees sonder 'n liggaam?
Tans, gedurende ons aardse lewe, verkeer ons in interaksie met ander mense deur gebruik te maak van 'n verskeidenheid liggaamsdele. Ons praat met ons longe en stembande, ons beduie met ons hande, ons omhels ander mense met ons arms, ons skryf en gebruik ander fisiese kommunikasie tegnieke. Alle vorme van kommunikasie en verhoudinge is afhanklik daarvan dat ons fisiese liggame sal hê. Hoe sal ons dan kommunikeer of verhoudings kan bou met andere na die dood as ons liggame begrawe of veras is?

4.5   As ons geen ervaring, bewussyn, geheue en aktiwiteit het nie, hoe verskil lewe na die dood dan van die dood?
Die kern van al hierdie vrae is dat diegene wat glo in die lewe na die dood geen verklaring kan bied vir sodanige nuwe lewe nie. Al waarop hierdie stelling dan gebou is, is misterie deurdat hulle beweer dat hulle weet dat daar lewe is na die dood. Hoe al hierdie liggaamlike eienskappe herskep gaan word na die dood, bly 'n misterie.

Soos voorheen aangedui rus die bewyslas op diegene wat wil bevestig, dit wat opsigtelik nie werklik is nie. Sonder enige bewyse vir die teendeel, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat niks ons kan red van die dood nie.

Soos wat die gelowe op ons planeet begin het met die ontkenning van die dood, sal intelligente spiritualiteit hopelik begin deur die realiteit van die dood te aanvaar.

5. Deur die dood te konfronteer kan ons lewens aansienlik verryk word

As ons glo dat daar geen lewe na die dood is nie, kan ons deur die waarheid te praat oor die dood, ons lewens transformeer op minstens twee maniere.

Eerstens kan die volle aanvaarding en erkenning van die dood ons bemagtig om meer outentiek te word. Dit beteken om ons lewens te organiseer rondom waardes en doelstellings wat belangrik is selfs al moet ons uiteindelik sterf. Die feit dat ons sal sterf bemoedig ons tot 'n breër perspektief as slegs dit wat vir ons persoonlik belangrik is gedurende ons leeftyd.

Tweedens, as ons op 'n dieper vlak ons eie dood konfronteer kan die proses ons lei tot eksistensiële vryheid. Dit beteken om te ontdek hoe om te leef anderkant ontologiese angs.

Die liggaam sterf en word hersirkuleer soos alle lewende wesens as hulle te sterwe kom. Die lewegewende element in alles van die skepping bly bestaan in 'n ander dimensie in spirituele vorm wat geen ruimte opeis nie. Verder toon navorsing in die Quantum Fisika dat ons nie meer kan praat van 'n Universum nie maar van 'n Multiversum waarvan ons Universum maar een is. Daar word ook reeds elf dimensies geïdentifiseer waarvan slegs drie aan ons bekend is.

Ek wil afsluit deur my geloofsbelydenis te herformuleer.

Persoonlik vind ek in 'n mate aansluiting by die ou antieke Griekse sienswyse.

"Ek glo aan die onsterflikheid van die gees wat sal voortleef in 'n ander dimensie."

Natuurlik, as daar niks na die dood sou wees nie, is daar dan niks om oor bekommerd te wees nie.

Prof. Neels Moolman
Department of Criminology & Criminal Justice
University of Limpopo

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za