.

Wat my hoop gee vir die lewe gedurende en na COVID-19

Deur Philip Liebenberg op 1 Mei 2020

.

Omdat ek saam met die res van die foonbesitters van hierdie wêreld in 'n kuierkamer met die naam Facebook rondhang, lees ek elke dag hoe mense wat saam met my in hierdie pandemie sit met woorde van hoop en geloof na vashouplekke op soek is. Hulle gryp angstig boontoe soos passasiers in 'n oorvol bus na die swetterjoel plastiek-handvatsels vol swaaiende beloftes uit die dak bokant hulle.

Heel dikwels verskaf die inhoud van die geloofsuitsprake niks meer as strooihalms nie. Waarom sê ek nou so 'n lelike ding, en dit in 'n tyd van kommer oor sanitasie, seep en salarisse?

Omdat dit in die meeste gevalle antieke godsdienstige slagspreuke, clichés en wensdenkery is wat mense hoopvol maak.

Tog voorsien dit hulle van regte egte hoop en wek sterk strome innerlike eskom in hulle harte op. Strooihalms is goed genoeg as dit al is wat beskikbaar is. Godsdienstige clichés is vir baie mense al wat hulle het. Die ouers wat hulle grootgemaak het, het niks meer gehad om te bied as Die Here-sal-jou-help-Hy't-'n-plan-hiermee nie. Nou is dit wat hulle het en dit verskaf immers 'n greep – en 'n greep is iets wat nie onderskat moet word nie. Elkeen wat al op 'n lughawe met 'n sterkstaan bussie vervoer is omdat die vliegtuig dit nie kon regkry om naby die gebou te land nie, sal weet hoe nodig 'n mens 'n pyp, 'n rubber slingel, of 'n ander mens het om aan vas te hou sodat jy nie 'n dans-kompetisie wen waarvoor jy nie ingeskryf het nie. Mense glo hulleself regop. Ek bly op 'n ander manier in my staanplek staan. Laat my toe om te verduidelik wat ek bedoel.

Eerstens glo ek nie Die Here het 'n plan hiermee nie. Kom ons kyk bietjie na die godsdienstige cliché. Die kinderlike geloof dat God jou gemaak het, bedoel het dat jy op die aarde moet wees en 'n baie spesifieke droom vir jou lewe het. 'n Droom wat jou die versekering kan gee dat jy nie sal ondergaan nie omdat ondergang nie die Here se droom vir jou lewe is nie. 'n Droom wat jou laat leef met die troos dat slegte omstandighede nie jou einde sal beteken nie, maar die pad is wat die Here met jou stap om jou gereed te maak vir jou beplande plekkie in Sy Koninkryk. Hoe sê die eienaar van The Best Exotic Marigold Hotel nou weer? All is well that ends well, and if it's not well, it's not the end yet. Mense glo die Here self het hulle gemaak. Met 'n plan. 'n Unieke doel. Daar sal nie 'n haar van jou hoof afval sonder dat die Here daarvan weet nie. Daarom kan hulle maar net hulle ellende met slagspreuke uit die Bybel bestook en sien hoe die storm plek maak vir ankergooi langs 'n nuwe kaai.

As die Here elke mens op aarde self gemaak het, waarom is daar dan te veel? Is ons nie die eerste om te sê dat die aarde oorbevolk is omdat talle mense nie weet wanneer om met hulle kindmaak talente te stop nie? Is die God van die Christendom so dom dat hy nie weet sy huis het net drie slaapkamers en daar is nou al 24 kinders nie. Nee, hy wil nog enetjie maak – 'n spesiale enetjie. Enetjie wat moet viool speel in die kerk, of die Vroue Landbou Unie van Bothaville se bekwame voorsitster word. Hierdie aarde is so vol die kinders lê sonder kos onder die beddens, bo-op die strykplank en langs die stoof, maar God hou nie op nie. Hy maak nog. En nog en nog. Veral in die armste lande. In die kleinste huisies die wat van sink aanmekaargeslaan is, daar maak die Here die meeste kinders. En elkeen met 'n baie spesifieke doel. Hy het 'n droom vir elke liewe een se lewe. Hy weet van hulle. Hy het hulle lief en kan nie wag om hulle te vertel waarvoor dit is dat Hy hulle gemaak het nie. The sky is the limit. Net jammer the sky is 'n geroeste sinkdak.

Ek sê nee, ek glo dit nie. Geen God het geen kind gemaak nie. Pa's en ma's het al die kinders op aarde gemaak. En as God wel 'n plan vir elke mens op aarde het, kry Hy dit nie reg om genoeg planne uit te dink sodat daar vir elkeen een is nie. Vir 'n almagtige Vader vaar Hy besonder sleg. Net hier en daar kry enetjie met 'n slim kop, 'n ystere wil of 'n helpende hand dit reg om van sy slaapplek agter die asblik af op te staan en uit te styg. Miljoene ander slaag nie daarin nie want daar is doodgewoon nie soveel geleenthede op hierdie aarde nie. Daar is nie 'n plekkie onder die son vir elkeen nie. En moenie vir my sê hulle moet net vir Jesus vind sodat Hy God se wonderlike plan in hulle lewe kan ontvou nie. Van die armste mense op aarde is Christene. Hulle hardloop in slenterlappe die lande in Afrika en elders vol. God het geen mens gemaak nie. As God 'n pa was, soos ons al die jare geglo het, dan is Hy soos die soldate wat na die Eerste Wêreldoorlog 'n paar kindertjies aangetref het wat hulle nie self gemaak het nie. Indien die mensdom Jesus se bruid is maak daardie bruid heelwat kinders sonder om dit met hom te bespreek of saam met Hom te beplan.

Mense maak mense, en daar is geen cliché wat my ooit sal oortuig dat God die ouerskapbeplanning op aarde doen nie. Hy is skynbaar net so moedeloos soos die dorp se maatskaplike werker wanneer Hy die hoeveelste enetjie uit 'n hoogs vrugbare, maar brandarm baarmoeder die lewe sien binnekom.

Daarom vind ek geen hoop in 'n sogenaamde plan wat God met elke liewe mens se lewe het terwyl erge ekonomiese probleme ons land as gevolg van COVID-19 (en al die ellende wat ons land reeds voor die pandemie bedreig het) soos 'n laggende boelie staan en inwag nie. Baie mense gaan ondergaan. Bankrekenings gaan leegloop en armes gaan nóg armer word. Al wat hulle gaan deurdra is die gegryp na beloftes van 'n beter môre wat pastore teen wil en dank van kansels af gaan maak. Dis soos die Lotto of perdewedrenne – die fantasieë dat hul dalk miljoene gaan wen gee hulle krag om aan te gaan. Onthou, 'n fantasie het presies dieselfde uitwerking op 'n mens as die werklikheid. Die brein kan nie 'n onderskeid tussen die twee tref nie.

Talle Christene deur die eeue heen het in haglike omstandighede die lewe binnegekom en in haglike omstandighede gesterf. Hulle het almal gebid, maar gebed het nie hulle sake verander nie. Daar was geen plan met hulle lewens nie. Ek sê weer: As jy jou pa se vyf-en-twintigste kind in 'n drieslaapkamerhuis is, is daar nie 'n kans dat daar vir jou slaapplek op 'n bed is nie. Jy sal voor die yskas jou lê moet kry. Dan praat ek nie eens van die miljoene gestremde babas wat gebore word, dikwels Christene is en vir wie Jesus ook nie 'n beter plan as 'n lewe van gestremdheid bied nie – "Satan" se kloue bly in daardie liggame ten spyte van talle gebede. Hierdie mense moet ook maar droomloos deur die lewe sit of lê, en hulle oog op die hiernamaals rig, waar die Here hulle ryklik sal beloon vir hulle geduld.

Ek vind dit onmoontlik om te glo, en ek beskou dit as onvergeeflik dat so 'n boodskap verkondig word. Dit werk vir net bevoorregte mense wat met hulle eerstewêreld probleme in luukse kerkgeboue na God staan en roep vir nog beter plekkies in die son as die waar hulle hulself reeds bevind. Dit werk veral indien jou pa die geld het om jou vir 'n gapjaar oorsee te laat ronddrentel op soek na God se plan vir jou lewe. God het my gemaak vir iets baie spesiaal is die soort taal wat tuishoort by motiveringsprekers wat mense met slagspreuke probeer moed inpraat vir die dag. Dit hoort nie by geestelike leiers wat hulle in erns en diepte met die realiteite van die lewe bemoei nie.

Ek vind my hoop vir die wêreld op 'n ander plek as in die kerk en sy boodskap. In 'n ander narratief.

Ek woon in Aucklandpark, Johannesburg en behoort aan ons woonbuurt se Whatsapp groep. In hierdie tyd van Algehele Inperking het ek al menigmaal 'n oomblik van verwondering beleef oor die wyse waarop die gemeenskap van Aucklandpark moeite doen om brose en weerlose mense by te staan. Daar word kos uitgedeel en slaapplek verskaf. 'n Plaaslike restaurant bak daagliks pizzas wat aan haweloses uitgedeel, en na bejaardes wat tuis gegrendel sit, aangery word. Daar word seker gemaak dat niemand in ons omgewing sonder 'n dak oor die kop en 'n bord kos deur hierdie moeilike tyd gaan nie. Dis nie gebede en 'n geroep na 'n hemelse Vader wat die verskil maak in mense wat kwesbaar is se lewens nie. Terwyl daardie gebede teen die kerkplafonne vasslaan word die wonderwerke deur aardse engele vermag. Dit is die arms en hande van gewone mense met 'n diep omgee en 'n praktiese liefde wat die lot van weerlose mense verbeter. Moet ook nie jou ore uitleen vir die sentimentele cliché dat dit die Here is wat in hulle harte werk om dit te doen nie. Die meerderheid van Aucklandpark se inwoners is nie Christene nie. Talle van die mense wat aan stuur van hierdie projekte is, is ongelowige humaniste. Sommiges is selfs ateïste. Dis nie 'n God wat in hulle harte werk nie, maar medemenslikheid en dankbaarheid vir wat hulle het. Die behoefte om te gee leef in hulle omdat hulle nie net aan hulleself dink nie. Hulle het nie godsdiens of 'n god nodig om hulle harte mooi te maak nie. Hierdie mense het dit breed genoeg om vir twee maande agter slot en grendel te lê en smul en Netflix kyk, terwyl hulle vrede het met wat in die wêreld buite hul huise gebeur, maar hulle word gedring deur 'n behoefte om hulp te verleen. My buurt se mense laat my besef dat daar hoop vir die wêreld tydens COVID-19, en ook na afloop van die pandemie, is. Hulle weet nie van 'n god nie. Hulle glo nie aan 'n goddelike plan vir hulle eie of enige iemand anders se lewens nie, hulle gee die probleem een kyk en maak self 'n plan.

Maar daar is ook 'n ander hoop wat in my leef. Ek hoop van harte dat daar erns gemaak sal word met geboortebeperking in hierdie oorvol huis van onse Moeder Aarde. Dit kan nie so aangaan nie. Ons is hopeloos te veel mense vir die grootte en die bronne van hierdie planeet. Geen wonder dat die natuur pogings aanwend om ons getalle uit te dun nie. En, alhoewel ek baie graag nog vir 'n dekade of wat wil leef, kan ek vrede daarmee maak indien 'n snoeiskêr my draadjie wil kom knip en my ligte afgeskakel word. Ek is verby die grandiose wanopvatting dat ek nie voordat ek bejaard is mag doodgaan nie. Ek is nie so belangrik in my eie oë dat ek daarop aandring om tagtig jaar oud te word terwyl talle ander mense in hul tienerjare reeds sterf nie. Dood is deel van die lewe. Ons kom en ons gaan. Om daarmee vrede te maak is 'n goeie plan vir die lewe. Dit, en harde werk en medemenslikheid. O ja, dit sou ook nogal 'n goeie plan wees om 'n versoek aan die President te rig dat hy met die volk moet praat oor hoeveel kinders hulle maak. Wraggies, ons kan nie voorbly om planne vir elkeen wat gebore word uit te dink nie. Die "Hemelse Vader" slaag nie eens daarin nie. Sy planeetjie is klein en Hy is self verstom daaroor dat mense soos konyne tekere gaan.

Mense moet nou begin besef dat hulle vir eers net twee kindertjies moet maak, en dan moet hulle opstaan uit daardie bed en apteek toe ry vir 'n stukkie latex of 'n pilletjie.

Liefdadigheid, bemagtiging en seks met kondome is wat my hoop gee vir die mense van my land. O, wag, daar is nog iets: As antieke godsdienste kan uitsterf sal ek self meer hoop hê, want dan sal mense nie soos hulpelose kinders glo dat daar 'n pa in die blou lug sit vir wie hulle kan vra om reg te maak waar hulle verbrou het nie.

Lees hier meer oor Philip Liebenberg.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.