.

Wat moet ons met ons kerk doen?

Deur Jean Oosthuizen en Prof. Jurie van den Heever, op 1 Junie 2017

Wat moet ons met ons Kerk doen?

(Skrywersonderhoude soos verskyn op Litnet.)

Die bekende paleontoloog Jurie van den Heever het die kerk en sy belydenisskrifte tot in die fondamente geskud met sy onlangse boek Wat moet ons met ons kerk doen? In 'n openhartige onderhoud met Jean Oosthuizen verduidelik Van den Heever waarom hy as wetenskaplike 'n boek oor die kerk geskryf het en hoekom hy steeds 'n lidmaat van die NG Kerk is al kan hy nie meer die kerk se belydenis onderskryf nie.

Wat is dit wat jou as wetenskaplike aangespoor het om 'n boek oor die kerk te skryf?

Ek het eintlik nie die boek as 'n wetenskaplike geskryf nie, maar as 'n NG-lidmaat met 'n belangstelling in die teologie sowel as die wetenskap en wat toegang tot beide het. Bybelnavorsers is gedurig besig om oor 'n breë spektrum nuwe insigte oor die wel en wee van die Ou Nabye Ooste bekend te stel en te verfyn.

Hierdie inligting is geredelik tot ons beskikking in gedrukte en digitale formaat. Kenners uit verskillende studievelde is ook deurgaans meer as gewillig om te gesels, te verklaar, reg te help en in te lig. Ons gewone lidmate is dus in die unieke posisie dat ons toegang het tot baie inligting oor hoe die Bybel ontstaan het, die mense wat die Bybel geskryf het, die verskillende tydvakke waartydens die Bybel saamgestel is en gevolglik ook oor die breër historiese verloop van die verhaal van die doen en late van mense soos Jesus en sy vriende.

Jou boek se titel, Wat moet ons met ons kerk doen? impliseer dat jy steeds lidmaat is van die NG Kerk, is dit korrek?

Ja, ek is steeds 'n lidmaat en sal een bly tot die kerk anders besluit.

Maar jy is nie meer 'n kerkganger nie. Waarom stel jy nog hoegenaamd belang in die NG Kerk se doen en late en hoekom is jy steeds lidmaat van die kerk as jy nie meer sy belydenisgrondslag kan onderskryf nie?

Ek het grootgeword in die NG Kerk en dit is deel van my kulturele agtergrond as Afrikaner. Van kleins af was godsdiens daagliks deel van my bestaan. Onder die sisteem van Christelik-Nasionale Onderwys was dit deel van elke skooldag en elke byeenkoms in skoolverband. Die invloed van die CSV en die Voortrekkers moet mens ook nie vergeet nie. By die huis is maaltye met 'n gebed begin en afgesluit. Elke aand voor jy in die bed klim, het jy ook gekniel en gebid.

Terwyl Saterdae relatief godsdiensvry was, was Sondae die Here se dag. Kleredrag is voorgeskryf. Kinders moes die erediens en Sondagskool bywoon en die spesifieke week se bybelversie uit die hoof kon opsê. Ons kon ook nie soos op ander dae speel nie, want slegs sekere stigtelike aktiwiteite is toegelaat.

Die meeste besighede was gesluit en aanvanklik is daar ook gepreek teen die verskyning van die Sondagkoerante. Die voorskriftelike godsdiens wat die NG Kerk en die staat bedryf het, was gevolglik 'n integrale en deel van die daaglikse bestaan van die Afrikanervolk.

Mens distansieer jou nie maklik van so iets nie, maar as jy mettertyd agterkom dat groot dele van die storie van ons geloof soos dit deur die jare aan ons voorgehou is, nie klop met die waarheid nie, soek jy antwoorde. Die amptenare van die kerk het sulke navrae nie verwelkom nie en gewoonlik ook nie geduld nie. Wat die belydenisgrondslag van die kerk betref, moet mens verstaan dat dit deur mense, met 'n spesifieke doel voor oë, uitgedink is.

Jou boek is onlangs bekendgestel tydens die Woordfees en lok reeds wye reaksie onder gelowiges sowel as ongelowiges uit. Het jy al enige reaksie oor jou boek gehad vanuit amptelike kerkgeledere?

Nee, daar was nog geen amptelike reaksie waarvan ek bewus is nie, behalwe die kritiese resensie deur Frits Gaum in die Kerkbode van 5 Mei. In my persoonlike hoedanigheid was die talle telefoonoproepe sms'e en e-posse deurgaans positief. Tydens een radio-onderhoud was daar wel negatiewe boodskappe, maar dit was duidelik van mense wat op die ingewing van die oomblik reageer het, blykbaar nog nie die boek gelees het nie en gevolglik ook onbewus was van die verskillende teologiese en wetenskaplike argumente.

Vertel iets meer van Frits Gaum se resensie? Hy was redelik krities oor jou boek.

In sy resensie beweer hy dat ek nie net 'n streep deur geloofswaarhede trek nie, maar eintlik ook deur die hart van die Christelike geloof. Ek dink hy speel hier vir die gehoor, want wat hy geloofswaarhede noem is juis aspekte wat al baie jare deur bybelwetenskaplikes as onbetroubaar en selfs onwaar uitgewys is.

Om dit geloofswaarhede te noem is 'n spel met woorde en plaas sy argument op baie losse skroewe. Deur my voor te stel as die sondebok wat 'n streep deur die Christelike geloof sou trek, ignoreer hy gerieflikheidshalwe belangrike navorsing deur bybelwetenskaplikes. In stede daarvan dat die kerk oop kaarte met ons oor hierdie aangeleenthede speel, word dit steeds met 'n lanferlap bedek.

Op watter teikengehoor is jou boek gerig en verwag jy regtig die kerk se amptelike strukture gaan jou argumente ernstig opneem en hulle aan jou steur?

Ek dink dit is 'n boek vir almal, veral Afrikaners, want die kerk het vir baie jare 'n beduidende invloed op die lewens van alle mense in Suid-Afrika uitgeoefen. Dit was ook in baie gevalle 'n negatiewe en vernederende invloed.

Ek verwag glad nie dat die kerk hom aan my sal steur nie. Ek sal egter graag wil sien dat indien die amptenary van die NG Kerk enigsins ernstig oor die geestelike welvaart van die oorblywende lidmate is, hulle gehoor sal gee aan die navorsing van bybelwetenskaplikes en die baie belangrike bydrae oor die wese van die mens wat die biologie na die tafel bring.

Goed, kom ons aanvaar argumentsonthalwe die kerk neem jou voorstelle wel ernstig op. Sal daar dan nog enige toekoms vir die kerk wees, want jy trek eintlik 'n dik rooi streep deur die grootste deel van die dinge wat die kerk elke Sondag bely?

Bybelwetenskaplikes wys daarop dat dit wat die kerk elke Sondag bely, 'n latere menslike konstruk is wat nie strook met die lewe van die mens Jesus en sy prediking gedurende die eerste eeu nie. Gesien die oënskynlik belangrike rol wat die kerk aan Jesus toedig en die rol wat hy in die geloofslewe van baie mense speel, is dit verbasend dat hulle die oorspronklike Jesus grootliks ignoreer.

Maar is daar enige toekoms vir die kerk as hulle hul eie geloofsbelydenis se grafskrif sou skryf? Kan die kerk dan nie maar net sowel sy deure sluit nie?

Ons geloofsbelydenis is deur mense geskryf en strook eintlik nie met wat regtig in die Bybel staan nie. Daarom kan die Christelike geloof nie staan en val oor die manier waarop woorde in die huidige geloofsbelydenis ingespan word nie. Frits Gaum stel dit tog duidelik in sy resensie dat Jesus die sentrum van die kerk en die lewe van die Christen is. Moet die woorde van ons geloofsbelydenis nie liewer die doen en late van die oorspronklike Jesus weerspieël nie?

Is dit nie tog so dat die meeste mense 'n ingebore behoefte het om aan een of ander vorm van die bonatuurlike te glo nie?

Ek stem saam dat die menslike hunkering na die bonatuurlike 'n fundamentele en universele aspek van ons bestaan is en dink nie dit sal sommer maklik uitsterf nie. Alles dui egter daarop dat dit histories ontwikkel het as een van die maniere om sin te maak van 'n komplekse en dikwels gevaarlike wêreld.

Wat is jou kort antwoord aan mense wat steeds beweer evolusie is net 'n teorie en dat daar ook ander teorieë mag wees?

Sulke uitsprake verwar hipotese met teorie. 'n Hipotese is 'n onbewese gedagte, droom of oortuiging. Daarteenoor kan ons van 'n teorie praat slegs indien dit op bewese feite gegrond is. Hiervolgens is evolusie 'n teorie, omdat dit deur 'n enorme aantal feitelike bevindings vanuit 'n wye reeks verskillende studievelde ondersteun word.

Vir alle praktiese doeleindes is evolusie dus waar en kan dit nie geïgnoreer word nie. Om te vra of iemand aan evolusie "glo" is net so onsinnig as om te vra of jy aan Tafelberg "glo". Evolusie is tans die enigste logiese verklaringsmodel vir die geleidelike ontwikkeling van die biodiversiteit wat ons tans op aarde ervaar. Daarom moet die mens, as deel van hierdie proses, primêr ook vanuit 'n biologiese oogpunt verstaan word.

Die basis van die Christelike geloof is tog die opstanding. Val die hele Christelike geloof nie plat as die opstandingsverhaal en Jesus se goddelikheid wegval nie?

Miskien moet mens liewer sê dat Jesus die basis van die Christelike geloof is. In die woorde van Frits Gaum: Jesus Christus, die sentrum van die kerk en die sentrum van die Christen se lewe. 'n Geldige vraag is dus: Van watter Christus praat ons hier? Is dit die rabbi van die eerste eeu wat God sy vader genoem het omdat sy biologiese pa afwesig was, of is dit die godmens wat later deur mense geskep is? Eersgenoemde het nie 'n opstanding, hemel of hel nodig om sy boodskap van liefde vir God en jou naaste te verkondig nie.

So, watter Jesus is dan nou eintlik die regte Jesus, eersgenoemde of laasgenoemde, en was Jesus nie die Seun van God nie?

Laasgenoemde is 'n konstruk wat deur mense gemanipuleer word. In 'n poging om aan te toon dat Jesus wel die Seun van God was, haal Frits Matteus 16:16 aan waar Simon Petrus sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Afgesien van die destydse gebruik om 'n gelowige as 'n seun van God te tipeer, is dit nie goeie eksegese om bybelverse een op 'n slag in te span nie. Dan kan ons mos op dieselfde manier, maar in 'n negatiewe sin, Romeine 3:7 (1933-vertaling) teen Paulus gebruik omdat hy erken dat hy leuens vertel om die geloof te bevorder.

Hoe moet gelowiges dan sin maak van Jesus se opstanding wat so deel is van die Christelike geloof?

Aangesien verskillende bybelwetenskaplikes al aangetoon het dat daar nie 'n fisieke opstanding was nie, kan dit nie as basis vir die Christelike geloof dien nie. Teoloë wys toenemend daarop dat die opstanding nie histories nie, maar simbolies, gesien moet word, net soos die wyn en brood by die nagmaal simbole van die bloed en liggaam van Jesus is. Onder die Katolieke is baie egter steeds oortuig dat tydens hulle nagmaal die wyn fisies in bloed en die ongesuurde beskuitjies fisies in spierweefsel verander, terwyl niemand dit so ervaar nie. 'n Keldermeester wat sy sout werd is, kan maklik verduidelik hoekom die chemiese bestanddele van wyn nie onmiddellik in menslike bloed kan verander nie. Enige fisioloog kan ewe maklik aantoon dat gaar meel en water nie in 'n mens se mond skielik in menslike spierweefsel, bloed en senuwees kan verander nie.

Sou jy sê godsdiens was oorwegend goed of oorwegend sleg vir die samelewing, want daar is tog goeie dinge ook wat in die naam van godsdiens gebeur?

Daar het weliswaar ook baie goeie dinge uit die godsdiens gevloei, ten spyte van die kruistogte, die inkwisisie en apartheid. Dit voel vir my egter asof die vraag nie soseer by die godsdiens lê nie, maar by die optrede van sommige mense wat hulself Christene noem en dikwels die amptelike gesig van die kerk verteenwoordig.

Daar is menslike redes hoekom die neocalvinisme in Suid-Afrika so eiesoortig en met so 'n treurige nasleep ontwikkel het. Die mense wat die kerk bestuur, het in gebreke gebly om 'n geestelike hawe vir die mens van die 21ste eeu te skep.

Hoe sou jy jou geloofsoortuiging bestempel in terme van "ateïsties", "agnosties" of watter term ook al volgens jou die beste by jou pas?

Moet die "anateïsties" nie ook genoem word nie? Ek hou nie eintlik van etikette nie, want dit ignoreer dikwels die mens agter die etiket. Dink maar aan die destydse politieke etikette van "verlig" of "verkramp". Dit het 'n manier geword om iemand se hele wese te beskryf, ongeag die feit dat 'n sogenaamde verkrampte individu miskien verlig kon wees ten opsigte van aangeleenthede soos diereregte, besoedeling van die omgewing of oopgroefmyne. Is dit nie veel belangriker om iemand eerstens as mens en medemens te respekteer sonder om geloofsoortuiging, seksuele voorkeure of musieksmaak tot een of ander kwalifiseringsnorm te verhef nie? In antwoord op jou vraag sou ek dus sê ek glo dat 'n oorwegend rasionele benadering tot ons bestaan 'n gesonde platform bied vir 'n moreel-etiese leefwyse.

As mens kyk na die NG Kerk se jongste besluit oor homoseksualiteit, waaroor jy ook in jou boek skryf, lyk dit of die NG Kerk al hoe meer fundamentalisties neig. Waarom dink jy gebruik baie gelowiges en kerke die wetenskap so selektief wanneer dit hulle pas, soos byvoorbeeld wanneer hulle siek is, maar steeds behep is met mense se seksuele oriëntasie terwyl die wetenskap baie duidelik toon dat dit nie 'n keuse is nie?

Die moderne wêreld is kompleks en ons moet dikwels, op grond van nuwe wetenskaplike ontdekkings, ons uitkyk op die lewe aanpas. Nuwe, meer effektiewe, mediese prosedures en medisynes, kleiner, kragtiger selfone en rekenaars word allerweë verwelkom, maar ons raak warm onder die kraag wanneer van ons geliefde vooroordele in die gedrang kom. Dan word bybeltekste dikwels op onvanpaste en simplistiese wyse aangewend, asof die wetenskap skielik te kort skiet. Die kerk se kleitrappery rondom menslike seksualiteit en die biologiese onderbou daarvan is 'n goeie voorbeeld. Ek vermoed dit het te doen met 'n ietwat desperate soeke na een of ander vorm van sekerheid in 'n leefwêreld wat vinnig verander.

Baie mense verlaat die kerk en is moeg vir georganiseerde godsdiens, maar is steeds spiritueel of gelowig. Kan spiritualiteit of geloof in énige vorm regtig langs die wetenskap staangemaak word? Met ander woorde, is geloof en wetenskap hoegenaamd versoenbaar?

Baie sal sê dat daar hoegenaamd geen sprake van so iets is nie. Hiervan is Richard Dawkins `n goeie voorbeeld. Die filosoof Michael Ruse is self nie 'n gelowige nie, maar voer aan dat 'n Darwiniaan, dikwels met heelwat moeite, wel ook 'n Christen kan wees, Die teoloog Richard Grigg dink ook dat dit moontlik is, maar dat daar in die proses sterk aan die dogma van die boom van die georganiseerde godsdiens gesnoei moet word.

En hoe voel jý daaroor?

Feit van die saak is dat wetenskaplike bevindings voortdurend nuwe inligting oor ons aard en herkoms, asook ons verwantskap met alle ander lewensvorme, bekendstel. Frits skuil byvoorbeeld nog agter die ou mantra dat terwyl die wetenskap al baie vermag het, dit byvoorbeeld nie kan verklaar waar ons vandaan kom nie.

Eintlik weet ons al, vir alle praktiese doeleindes, hoe lewe op aarde ontwikkel het. Oor hoe die heelal ontstaan en ontwikkel het, is daar ook heelwat sekerheid. Gelowiges behoort nie so onseker oor hulle eie oortuigings te wees dat hulle voortdurend die wetenskap moet probeer afkraak nie. Dit hou die geloof heeltyd op die agtervoet en verhoed dat dit groei.

Watter opsies bly daar dan vir gelowiges oor wat ook erns maak met die wetenskap?

Die beter opsie is vir gelowiges om die krake in hulle eie huis te herstel en die bevindings van die biologie ten opsigte van die herkoms en aard van die mens te aanvaar, anders loop hulle die gevaar om selfs verder gemarginaliseer te word.

Ek is ook van mening dat spiritualiteit en die soort geloof waarmee ons grootgeword het, nie sinoniem is nie. Die dogma waarin ons, as lidmate van die NG Kerk, lank in vasgekrink was en wat sekere van die amptenary steeds nie kan of wil aflê nie, is uitgedien. Die wetenskap help ons om die beklemmende mure van dié dogma te transendeer na 'n natuurlike spiritualiteit. Dit lei na interessante insigte oor ons werklike plek in die heelal en ons morele verpligting teenoor die planeet en alle lewe daarop.

Jean Oosthuizen en Prof. Jurie van den Heever

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.