.

Wat maak ons met ons sterflikheid?

Deur Bertus van Niekerk op 1 April 2014

.

(Artikel ook gepubliseer in Beeld se BY.)

Cyrus Jones 1810 to 1913
Made his great grandchildren believe
You could live to 103
A hundred and three is forever when you're just a little kid
So, Cyrus Jones live forever
– uit Dave Matthews se liedjie "Gravedigger"

Gaan ons met mediese hulp weer so oud word soos mense in die Bybelse tye? In Beeld van 8 Maart vanjaar berig Elsabé Brits dat die wêreld se bekendste genetikus, Dr. Craig Venter, mense 100 jaar oud wil laat word sonder dat hulle siek word.

Verskillende faktore beïnvloed lewensverwagting, onder meer die klimaat, toegang tot gesonde kos en water, sosio-ekonomiese toestande en die gehalte mediese sorg waartoe individue toegang het. Jeanne Calment was die persoon wat die hoogste geverifieerde ouderdom ooit gehaal het en is in 1997 op die ouderdom van 122 jaar in Arles, Frankryk, oorlede. Meeste van ons wat werklik bejaarde persone geken het, besef dat dit uitsonderlik is vir iemand om naby 100 jaar oud te word en steeds goeie gesondheid te geniet. 'n Mens se liggaam laat jou dikwels in die steek voordat jou gees bereid is om op te gee op lewe.

Nou hoe moet ons dan dink oor die mense van die Bybelse tyd wat so oud geword het? Abraham het byvoorbeeld pa van Isak geword op 100 en gesterf op 175. Die epiese geslagsregister van Noag in Genesis 5 vertel dat hy op 500 pa geword het, maar sy voorsate het nog baie ouer as dit geword: Adam het 930 jaar oud geword, sy seun Set 912, Henog 962 en Metusalag 'n verbysterende 969. Was die omstandighede waaronder hierdie mense geleef het dan sóveel meer ideaal as in ons tyd dat hulle byvoorbeeld nie kanker, hartsiektes, infeksies en virusse of selfs rumatiek en artritis geken het nie? En hoe het hulle tande byvoorbeeld so lank gehou sonder goeie mondhigiëne? Het hierdie buitengewone hoë ouderdomme te doen met toewyding aan God, dat Hy hulle sou begenadig met 'n "vol lewe", soos wat van Abraham vertel word?

Chinese legendes vertel ook van mense wat 800 jaar oud geword het. Ou tekste berig van Viëtnamese konings wat meer as 500 jaar regeer het en die Islam- en Hindoegelowe berig ook oor mense wat 600 en 700 jaar oud geword het. Hierdie syfers klink 'n bietjie absurd as ons hoegenaamd realisties daaroor dink, en dit word selfs meer op die spits gedryf as ons kyk na lyste van hoe oud konings in die antieke midde ooste geword het. In Sumerië (deesdae die suide van Irak) het legendariese konings onderskeidelik vir 28 000, 36 000 en 43 000 jaar (in die geval van En-men-lu-ana) geregeer.

In terme van wetenskaplike kennis oor menslike ontwikkeling en gesondheid maak hierdie getalle nie sin nie. Ons samelewing stel 'n hoë prys op akkuraatheid en korrekte verwysings. Dink maar aan hoe daar in 'n hofsaal hare gekloof word oor baie spesifieke detail om agter te kom watter inligting betroubaar is en watter nié. Die kleitablette wat ons opgegrawe het en berig oor ouderdomme in baie ou beskawings sal in geen wêreldse hof of laboratorium as deurslaggewend beskou word om te bepaal hoe oud mense eens geword het nie. Boonop sal deskundiges in die bestudering van ou tekste en beskawings uit die staanspoor erken dat die data daaruit nie historiese korrekte inligting bevat nie.

Wag 'n bietjie. As die inligting oor ouderdomme van mense in die oudste tekste wat ons ken nie akkuraat is nie, wat maak ons dan met die stories oor die mense wat so oud geword het? As ons weet geen Sumeriese koning het tienduisende jaar regeer nie omdat dit fisies nie moontlik is om so oud te word nie, hoe moet ons dan die berigte daaroor verstaan? En wat maak ons met selfs die bejaarde mense waarvan berig word in Verre-Oosterse optekenings? Om net te maak asof hier geen probleem is nie of net te sê God kon toendertyd mense laat oud word as Hy wou, verduidelik nog nie waarom mense wat ánder gode as die God van Abraham gedien het, so oud geword het nie. Wel, nie tensy jy wil toelaat dat daar 'n hele swetterjoel gode bestaan het wat hulle mense na willekeur oud laat word het. En dan bly die vraag: hoekom sou die gode dan op 'n stadium besluit het om ons lewensverwagting in te kort?

Verantwoordbare eietydse lees van onder meer Bybelse tekste volg 'n uitgangspunt wat die bekende taalfilosoof Hans-Georg Gadamer bekend gemaak het. Lesers moet vandag besef die antieke tekste het in die eerste plek 'n baie spesifieke funksie in die gemeenskappe wat het hulle geproduseer het, gespeel. Om vandag waarheidsvrae aan die teks te stel, mis die intensie van die skrywer daarvan. In plaas daarvan dat die teks as't ware onder kruisverhoor geplaas word, is dit sinvoller om te probeer uitvind of jy raakpunte deel met die teikengehoor of die skrywer op soek na 'n moontlike "horisonsversmelting".

Bybelse tekste oor die ouderdom van mense spreek iets uit van die angs van alleenheid wat universeel is aan alle mense oor alle tye. Die versugting na 'n lang lewe en die begeerte na 'n opperwese wat dit kan bewerk verwoord ons onvermoë om die onvermydelike einde te ontsnap. Legendes en mites oor rykdom, mag en gesondheid kontrasteer die harde werklikheid van hongersnood, ongelukke, siekte en verlies. Stories oor ryp ouderdomme neem lesers op verbeeldingsvlugte na utopiese bestemmings. Dit is iets heeltemal anders as die verlenging van lewe deur middel van mediese navorsing. Ideale lewensomstandighede mag naderende dood uitstel. Kleurvolle verhale mag betekenis byvoeg op pad daarheen.

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.