Wat kom in die plek van die staatsreligie van die
Romeinse ryk, oftewel – kan ons ‘n nuwe
singewende verhaal ontwikkel?

Deur Prof. Sakkie Spangenberg op 1 Augustus 2011

"Verwyder Jesus uit die Westerse beskawing en die religieuse onderbou van die Westerse geskiedenis verdwyn", het iemand 'n keer geskryf. Die praatjie gaan die vraag probeer beantwoord of ons 'n ander singewende verhaal rondom Jesus kan ontwikkel as die een waarmee die meeste van ons grootgeword het. Dis nou die verhaal van sondeval-verlossing-eindoordeel. In die argumentvoering sal die kwessie van oop religieuse gesprekke ook ter sprake kom.

A theology which knows nothing but the lonely family history or family tragedy between God and humankind is a thing of the past. (Zink 1997:58)

1.   Inleiding

Pieter Craffert het in sy lesing op Sondag 5 Junie 'n aantal kritiese vrae oor oop religieuse gesprekke in die NHN en deur NHNners, op tafel gesit. Hy het heelwat gemaak van my "gesprek" met Neels Jackson, die kerksake-verslaggewer van Beeld.1 In die slotparagraaf van sy lesing het hy my gekonfronteer oor my ses stellings wat ek na aanleiding van Neels se artikel in Beeld op die NHN se webbladsy geplaas het.2 Beeld se joernaliste het hierdie ses stellings op 2 Junie in Beeld gepubliseer en baie mense het daarop reageer. Pieter vra in die slotparagraaf van sy lesing aan my:

As die kerk nou hierdie ses redes oorweeg en hulle afsweer, sal hy [Sakkie] dan teruggaan? Indien nie, is dit nie regtig die redes waarom jy (sic) uit die kerk uit is nie.3 Ek sê dit omdat ek hom wil uitdaag om te verklaar waaroor wil hy met wie praat met die oog op wat.

Ek wil vanoggend, in die uitwerk van my tema oor die staatsreligie van die Romeinse ryk, op laasgenoemde drie vrae ongeveins antwoord. Ek wil eerstens sê waaroor my oop gesprekke gaan en gegaan het. Tweedens, met wie ek hierdie gesprekke voer en gevoer het, en laastens wat die oogmerk(e) van my gesprekke is, dit wil sê – wat het ek bereik en wat wil ek nog bereik?4 Ek hoop om aan die einde te kan sê wat in die plek van die staatsreligie van die Romeinse ryk behoort te kom en waarom ek meen die Midrand-byeenkomste van die NHN 'n ruimte stimulerende is wat ons moet koester.

2.   Met wie voer ek oop religieuse gesprekke?

Ek wil met die middelste vraag eerste begin en duidelik uitspel met wie ek oor die afgelope vyftien jaar oop religieuse gesprekke gevoer het en tans nóg voer. Die mense met wie ek gesels, kan in vier groepe verdeel word:

Ek gaan nie op elkeen uitbrei nie, want die benamings vertel klaar die verhaal. Ek sal wel uitwys hoedat my gesprekke oor die jare uitgekring het. Waar ek aanvanklik met tradisionele Christene gepraat het, het dit mettergaan drempel-Christene ingesluit. Kort voor lank was kerklidmaatskaplose Christene ook deel van die gesprekke, en uiteindelik ook nie-Christene. Ek wil my verstout deur te sê dat verteenwoordigers van hierdie vier groepe tans binne-in die NHN is.

2.1   Eerste reeks oop religieuse gesprekke (1996-1998)

Die eerste opskudding wat oor my sienings en standpunte gekom het, was in 1996. Die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika het in September van daardie jaar 'n kongres op Stellenbosch gehou en ek het 'n lesing oor die interpretasie van die Jona-verhaal voorgedra. Ek wou om 'n spesifieke rede oor hierdie verhaal praat. Die NG Sinode van Wes- en Suid-Kaapland het die vorige jaar hul sinodesitting gehou en ds. Mike Smuts (snr.) het 'n versoek aan die sinode gerig dat hulle 'n duidelike standpunt oor die Jona-verhaal moes formuleer. Het ons hier met geskiedenis te doen, of is dit bloot 'n gelykenis, of iets dergeliks? Die sinode het die "Kommissie vir Leer en Aktuele Sake" die opdrag gegee om die saak deeglik te ondersoek en met 'n verslag daaroor na die volgende sinodesitting te kom.6

Daar was vooraf belangstelling by enkele Bybelstudiegroepe op Stellenbosch oor wat ek oor Jona te sê gaan hê. Die groepe het klaarblyklik via die organiseerders van die kongres daarvan te hore gekom. Die groot belangstelling het egter van Johan Retief gekom. Hy was op daardie stadium 'n joernalis by Die Burger en was op Stellenbosch om oor die kongres oor versoening te berig. Hierdie kongres het die Ou-Testamentiese kongres voorafgegaan. Biskop Desmond Tutu het onder andere daar opgetree. Johan het die Ou-Testamentiese kongresprogram aan die hande gekry en gesien dat ek oor die Jona-verhaal en religieuse pluralisme gaan praat. Hy het onmiddellik belang gestel en wou by my hoor of hy insae in my lesing kon kry nog vóór ek dit voorgedra het. Ek was ietwat huiwerig, maar ek het Johan geken. Ons het saam op Stellenbosch studeer en hy was 'n jaar voor my op Kweekskool, maar hy het laterjare joernalistiek gaan studeer en is uiteindelik by Die Burger aangestel. Ek het 'n afskrif daarvan aan hom gegee en hy het 'n koerantartikel voorberei wat die dag ná my lesing in Die Burger gepubliseer is. Ek moes daardie dag terugvlieg Johannesburg toe, maar het later gehoor dat daar die volgende dae 'n herrie in die koerant oor my standpunte was.

Tydens hierdie gebeure het ek grootliks oop religieuse gesprekke met tradisionele Christene gevoer, meer spesifiek lidmate van die NG Kerk. Ek het hulle uitgedaag om oor die gesag van die Bybel en oor ander godsdiensgroepe in ons midde na te dink – meer spesifiek die Christendom se verhouding tot Judaïsme, Islam, Hindoeïsme, Boeddhisme en Afrika-godsdienste. Ons leef immers ná 1994 in 'n nuwe bedeling waar die staat alle godsdienste op gelyke vlak hanteer. Om oor die Jona-verhaal te debateer – sestig jaar na die Du Plessis-stryd – wek die indruk dat die kerk uit pas is met die tyd waarin sy lidmate leef, het ek betoog.7 Die slotgedeelte van my referaat het met die volgende paragraaf begin, en Johan het van die sinne in die koerant oorgeneem:

Die Ned Geref Kerk staan aan die begin van die een en twintigste eeu voor twee groot uitdagings: Die eerste een het te doen met die kerk se siening van die Bybel, en die tweede een met sy siening van ander godsdienste. Hierdie twee uitdagings hang ten nouste saam. Is die kerk bereid om sy siening van die Bybel te herformuleer en selfs te erken dat Jona 'n verhaal is, of gaan hy 'n onverdraagsame houding teenoor diegene inneem wat 'n ander siening van die Bybel voorstaan? Is hy bereid om te erken dat die Christelike godsdiens nie alleen op openbaring aanspraak kan maak nie en dat ander godsdienste mense kan help om sin in die lewe te ervaar?

Vanweë die opskudding en kerklidmate se ontsteltenis het ek my lesing onmiddellik vir publikasie aan die redakteur van die Ned Geref Teologiese Tydskrif op Stellenbosch gestuur.8 Na ses maande van geen nuus nie, het ek telefonies navraag gedoen of hy wel die artikel ontvang het, waarop sy antwoord was: "Ja, en jy sal binnekort die verslae van die keurders ontvang." Nodeloos om te sê, ek wag vandag nog vir die verslae en die artikel lê steeds ongepubliseerd in 'n kabinet in my kantoor. Ek wou nie die referaat aan 'n ander teologiese tydskrif vir publikasie voorlê nie, omdat ek van oordeel was dat dit nie dáár tuishoort nie. Ek het immers die NG Kerk en sy lidmate aangespreek.

Die storm om my het wel 'n goeie gevolg gehad. Dit het my gedwing om 'n boek oor die gesag van die Bybel en die interpretasie daarvan, te skryf. Die boek dra die titel Perspektiewe op die Bybel en is in 1998 gepubliseer.

2.2   Tweede reeks oop religieuse gesprekke (1998-2001)

In dieselfde jaar waarin my boek oor die Bybel verskyn het, het Willem de Klerk se boek Die vreemde God en sy mense (1998) verskyn. Dis 'n boek waarin hy nuut en anders oor die Bybel, God en seks geskryf het. Komende van iemand uit die Gereformeerde Kerke was dit verrassend. Maar nou was dit bekend dat Willem nie altyd die "gebaande weë" bewandel het nie. Maar daar was toe reeds twee ánder boeke op die mark wat van nuwere denke onder 'n jonger geslag Afrikaanssprekendes getuig het. Dit was Annelie Ferreira se boek Die dag toe ons god gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin (1996), en Tienie Swanepoel se boek My hart wil Afrika (1997). Annelie se boek het my laat regop sit. Hier was 'n vrou met geen teologiese opleiding nie aan die woord. Sy het egter die spanning wat baie lidmate tussen die kerklike leerstellings en hul algemene kennis ervaar, duidelik verwoord.

Die Christelike dogma leer dat die mens apart van plant en dier beplan en gemaak is, as heerser oor die res en kroon van die skepping. Dis nie heeltemal die gevoel wat die wetenskaplike skeppingsverhaal my gegee het nie. (...) Terwyl ek nagelees en nagedink het oor die skepping, het dit my getref dat die dood in die natuur so dikwels 'n voorvereiste is vir lewe.

(Ferreira 1996:21-22)

Maar dit was veral Tienie Swanepoel se boek wie se sentimente met myne geresoneer het. Hy het my ervaring van diensplig verwoord soos geen ander nie, en het oor Afrika-mense en godsdiens geskryf soos ek daaroor voel en dink:

Soos vele ander seuns, was ek naïef ernstig in die verdediging van my land.
Dit is hulle wat die opregste in die saak geglo het wat uiteindelik die diepste ontnugter sou word.

(Swanepoel 1997:21)

Magslui uit die noordelike halfrond het vir hulle 'n vyftigtal kolonies in Afrika kom uitmeet. Die grense van hierdie vyftig hoerstate het kruis en dwars oor die sewehonderd taalgroepe van Afrika kom sny.

(Swanepoel 1997:28)

'n Groot deel van die Westerse beskawing, miskien die grootste deel, is egter tevrede dat die Westerse mens die finale sluitstuk in die soeke na die menslike natuur is. (...) Ons godsdiens word as die finale weg tot die ewige lewe oor die wêreld verkondig.

(Swanepoel 1997:43-44)

Tot so onlangs as tweehonderd jaar gelede was hulle [Afrika-mense] nog onbewus van die Jesus-offerande. Onlangse ondersoeke dui al hoe meer daarop dat die meerderheid Afrika-mense uiteindelik ook nie Jesus as hulle énigste offerande gaan aanvaar nie. (...) Verwyder Jesus uit die Westerse beskawing en die religieuse onderbou van die Westerse geskiedenis verdwyn. Verwyder beeste uit Afrika, en...

(Swanepoel 1997:184)

Ná die lees van hierdie drie boeke het ek die skrywers gekontak en hulle genooi vir 'n openbare gesprek by Unisa. Ek het bewus geraak daarvan dat Afrikaanssprekendes gereed was vir oop religieuse gesprekke. Al drie het ingestem. Ek en Francois Swanepoel van die CB Powell Bybelsentrum by Unisa het die gespreksgeleentheid gereël en dis deur 'n groot aantal mense bygewoon. Ons het die teenwoordiges se kontakadresse geneem en die moontlikheid geopper dat ons 'n blaadjie wil publiseer vir diegene wat anders dink en glo. Willem de Klerk het veral dié gedagte ondersteun.

Gedurende 1999 het Neels Jackson my genader om op Beeld se paneel van godsdiensskrywers te dien. Ons was lidmate van dieselfde NG gemeente en ek het Neels geken. Elke paneellid was verantwoordelik om al om die agste Maandag 'n artikel voor te lê vir publikasie in die rubriek Godsdiens-aktueel. Ek het dit met graagte aanvaar omdat dit vir my 'n uitdaging was (en steeds is) om oor godsdiens en teologie op so 'n manier te skryf dat Jan en San Burger dit kan verstaan. Voorts wou ek my kennis oor Bybelnavorsing met gewone mense deel.9

In hierdie tyd het twee koerantartikels my in die warm water laat beland. Beide het oor die sogenaamde "meerwaarde" van die Christelike godsdiens gehandel. Dis die siening dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is en verlossing net deur Jesus Christus verkry kan word. Ek het die artikel geskryf na aanleiding van die Parlement van die Wêreld se Godsdienste wat gedurende Desember 1999 in Kaapstad vergader het. Die een artikel het in Rapport verskyn en die ander een in Beeld. Die Rapport-artikel dra die titel "Groot debat vir Christene het maar pas begin."10 Ek het dit op versoek van Annamarie Mischke van Rapport geskryf as 'n soort blik in die toekoms. Sy het my gevra: "Wat hou die nuwe millennium vir die Christelike godsdiens en ander godsdienste in?" Die Beeld-artikel dra op sy beurt die titel "Godsdiens-kreatief: Dié met ander geloof is medemens" en was een van my eerste artikels vir die Godsdiens-aktueel rubriek.11 Op grond van hierdie artikels is ek van dwaalleer deur die NG Gemeente in Meyerton aangekla.12 Terugskouend besef ek dat ek in die kol geskiet het met my Rapport-artikel. Ek het die volgende in die artikel geskryf:

Na my mening gaan fundamentalisme (in Christelike, Joodse en Moslemgeledere) een van die grootste bedreigings van vrede en vooruitgang in die een-en-twintigste eeu word.

Ek was dus nie totaal verbaas toe ek die middag van 11 September 2001 na werk tuiskom en my oudste seun my roep om na die ontstellende beeldmateriaal op TV te kom kyk nie. Dit was die aanval op die "World Trade Center" in New York. My mening oor die gevare wat godsdienstige fundamentalisme vir die een-en-twintigste eeu inhou, is bevestig.

Die klag en hoe dit hanteer is, was een van die laagtepunte in my lewe in die NG Kerk. Maar daar was ander positiewe gebeure in hierdie tyd. Die gespreksgeleentheid by Unisa is in 2000 opgevolg met 'n gespreksgeleentheid in Durbanville waar ek, Christina Landman en Terreblanche Jordaan opgetree het. Die tema van die aand se gesprekke was: "Op reis met die kerk – waar wil ons heengaan?"13 Die kerksaal van die NG Moedergemeente in Durbanville was daardie aand byna stampvol, en die vrae verstommend eerlik.

Ek het ook dieselfde jaar 'n referaat by die Bloemfontein-kongres van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gaan lewer. Hulle het alle akademici uitgenooi om by die betrokke kongres oor hul verskillende vakdissiplines te kom praat. Die tema was "Die wetenskap in die nuwe millennium." Ek het 'n voorstel voorgelê om oor die teologie te kom praat en hulle het dit aanvaar. Die titel van my referaat was: "Beleef die Christelike Teologie soos met die vorige eeuwending weer 'n paradigmaverandering?"14 Heelwat navorsers aanvaar dat ten minste die Bybelwetenskappe 'n paradigmaverandering teen die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu ondergaan het.15 Dit was die agtergrond vir my gebruik van die woordjie "weer".

Hierdie tweede reeks van oop gesprekke is in 2001 afgesluit met 'n uitnodiging om aan Die Burger se lesingreeks by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) deel te neem. Hulle het my versoek om saam met Christina Landman en Frits Gaum oor die gesag van die Bybel en die interpretasie daarvan, te praat. Die tema was "Menslike of Goddelike waarheid: Hoe lees 'n mens die Bybel vandag?"16 Die betrokke saal was vol en ek kon uit die vrae van die gehoor waarneem dat baie van hulle met van my standpunte kon identifiseer. Weereens het ek bewus geraak daarvan dat NG lidmate nie meer gemaklik was met die tradisionele standpunte oor die Bybel nie. Die NG kerk se ommeswaai rakende die apartheidsbeleid was medeverantwoordelik vir sommige lidmate se groeiende ongemak met die tradisionele leerstukke oor die Bybel.

Die mense met wie ek gedurende 1998-2001 in aanraking gekom en mee oop gesprekke gevoer het, was tradisionele Christene, drempel-Christene en kerklidmaatskaplose Christene. Van hulle het met my begin korrespondeer. Só is die blaadjie Kantaantekening toe gebore. Ek en my twee kollegas, Gerrie Snyman en Frances Klopper, het om die beurt verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Dit het kort artikels oor aspekte van die Christelike geloof bevat, geskryf vanuit 'n ander hoek as die normale. Dit is elke vierde maand deur die CB Powell Bybelsentrum aan belangstellendes gepos. Die aanvraag na die blaadjie het mettergaan gestyg. Vóór dit in 2004 doodgeloop het, is dit aan ongeveer 500 mense gestuur.

2.3   Derde reeks oop religieuse gesprekke (2000-2004)

Die eerste paar jaar van die nuwe millennium was vir Afrikaanssprekendes katarsisjare. Chris Louw het met sy opebrief aan Willem de Klerk in 2000 die gemoedere van oud-dienspligtiges deurmekaargeroer. 'n Verkorte weergawe van die brief het in Beeld onder die titel "Boetman is die bliksem in" verskyn.17 'n Ongekende stroom briewe ter ondersteuning van die opebrief is na Beeld gestuur. Wilhelm Jordaan het selfs in een van sy gereelde Woensdagrubrieke gevra: "Wat gaan ons met al die woede doen?"18 Terugskouend besef ek dat Tienie Swanepoel met sy boek My hart wil Afrika (1997), reeds iets van die sluimerende woede verwoord het. Sŷ boek het die wond sigbaar gemaak, maar Chris Louw se opebrief het die etter laat uitloop. Ek het ook aan die Boetman-debat deelgeneem, want soos vroeër vermeld, was ek tuis tussen Tienie se sinne. Ek het van sy sentimente oor diensplig gedeel, maar het my brief op LitNet gepubliseer. Dit was deels in reaksie op 'n artikel wat Jurie le Roux, my kollega by Tuks, dáár gepubliseer het.19 Verskeie ander skrywers het ook op LitNet oor hul dienspligervarings geskryf.

Ongeveer dieselfde tyd as die Boetman-debat, verskyn Ben du Toit se boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd (2000). Die boek het heelwat predikante en lidmate verras en ook ietwat onkant betrap. Hier was duidelik 'n predikant aan die woord wat oor die Christelike geloof in die moderne en postmoderne tyd nagedink, en koers en rigting probeer aandui het.20 Ek haal enkele sinne daaruit aan:

Ons het altyd te doen met geïnterpreteerde data. Ons "sien altyd deur 'n spieël", nooit direk, onbevange, onbemiddeld nie. Hierdie feit is waar van alle literatuur, ook van die Bybelse geskrifte as literatuur.

(Du Toit 2000:67)

Die Bybel is 'n bundel premoderne geskrifte.

(Du Toit 2000:79)

Wanneer dit by Jesus van Nasaret kom, moet ons dit as vanselfsprekend aanvaar dat Hy in die Ou Testament nêrens genoem word nie.

(Du Toit 2000:131)

Omdat ons dus oor God nooit anders kan praat as om te interpreteer nie en omdat ons van God net kan weet op grond van interpretasies van interpretasies, moet ons die insig hê dat God nooit direk waargeneem en verstaan kan word nie.

(Du Toit 2000:114)

Die boek bevat egter heelwat teenstrydighede en dis duidelik dat Ben nie alles goed deurdink het nie. Ek kom later hierop terug. Die boek het egter vir baie lidmate gewys dat hulle hul geloof met die moderne wêreldbeeld kan integreer. Ander was kwaad vir hom. Ek en Francois Swanepoel van die CB Powell Bybelsentrum het Ben genooi om by Unisa op te tree. Daardie aand was daar weer 'n goeie opkoms en die vrae het uitgewys dat lidmate van die Afrikaanssprekende kerke nie so verstok is nie.

Annamarie Mischke het my kort daarna gevra om 'n resensie-artikel oor die boek vir Rapport te skryf. Ek het dit aanvaar en die boek met Johan Heyns se boek Sterwende Christendom? 'n Teologie in die greep van die tydgees (1969) gekontrasteer. Waar Johan Heyns dertig jaar gelede teen die tydgees gewaarsku het, het Ben du Toit die tydgees grootliks omarm. Die artikel het onder die titel "Christene en die tydsgees: Nuwe idees oor waarheid vat pos" verskyn.21 Ek sou later jare ontdek dat 'n volledige paragraaf van die Rapport-artikel direk oorgeneem is in 'n artikel met die titel "Die NG Kerk, sy Skrifhantering en aanbidding in 'n postmoderne werklikheid" – maar sonder vermelding van die oorsprong daarvan. Hierdie artikel kom voor in die boek Moeisame pad na vernuwing.22

Die eerste jare van die nuwe millennium het ook getoon dat die gesprek oor die Bybel en die gesag daarvan nog lank nie afgeloop was nie. "Die Instituut vir Erediensnavorsing en -toerusting" van die Fakulteit Teologie aan UP en "Die Bediening vir Aanbidding" van die NG Kerk Oos-Transvaal het op 4 Maart 2002 'n simposium oor die tema "Kan ons die Bybel dan nog preek?" in Centurion gehou. Die organiseerders het my en sewe ander genooi om voordragte oor die tema te kom lewer. Die ander was: Johan Cilliers, Yolanda Dreyer, Neels Jackson, Christina Landman, Jurie le Roux, Julian Müller en Nina Swart. Dit was vir my duidelik dat die predikante na koers en rigting oor die saak gesoek het. Maar daardie dag het ek ook met predikante te doen gekry wat uiters fundamentalisties is. Van hulle het my aan die patriarge van my Kweekskooljare laat dink. Dis nou mense soos Koot Vorster, Kosie Gericke en ander. Wanneer húlle gepraat het, moes ander swyg, op aandag staan en inval by hul standpunte en sienings.

Einde 2002 breek 'n volgende groot debat los. Die sogenaamde LitNet-debat oor God en godsdiens. Verskeie skrywers het oor 'n tydperk van tien maande met mekaar e-briewe gewissel en gedebateer oor God en godsdiens. Die briewe is in 2004 onder die titel Die omstrede God: Bestaan God of nie? Die groot debat op www.litnet.co.za deur Thomas Mollet, Ernst Grundling en Etienne van Heerden gepubliseer. Ek het ook hieraan deelgeneem, maar hoofsaaklik op die resultate van Bybelwetenskaplike navorsing gefokus en vanuit híérdie hoek koers en rigting probeer aandui.

Laastens was daar gesprekke rondom 'n "nuwe hervorming" in die Christendom. 'n Groep akademici en ander belangstellendes het na afloop van die Nuwe-Testamentiese kongres van 2002 by Unisa vergader en besluit om die nuwere navorsing rondom die Bybel en Jesus met gewone mense te deel. Heelwat van die teenwoordiges het egter koue voete gekry, maar ek, Pieter Botha, Pieter Craffert, Hansie Wolmarans en Piet Muller het besluit om deur te druk. Ons het afgeskop met lesings by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Dit is opgevolg met lesings in Bloemfontein en ook in Newcastle. Piet Muller was die dryfveer agter die idee om so gou moontlik 'n boek te publiseer. Ons het van ons lesings verwerk en enkele ander mense het ook bydraes geskryf. Die uiteinde was die boek Die Nuwe Hervorming wat nog daardie selfde jaar verskyn het. Beeld het prominensie aan die gesprekke rondom die idee van 'n "nuwe hervorming" verleen en gou was daar voor- en teenstanders van die idee.

Ek was ingenome dat daar uiteindelik meer mense was wat vernuwend oor die Christelike godsdiens begin praat het. Dit het die effek gehad dat enkele predikante ook vernuwend begin praat het. Ben du Toit is een van hulle en dan was daar ook nog Willem Nicol en Annes Nel. Willem het 'n boek met die titel Godsdiens wat werk (2000) gepubliseer, en Annes die boek Op soek na God ... buite die kerk? (2003).

In 2003 het ek 'n bestekopname probeer maak van die godsdiensgesprekke wat sedert 1998 onder Afrikaanssprekendes gevoer is. Die bestekopname was bedoel vir die CB Powell Bybelsentrum se jaarlikse gedenklesing. Dit het die volgende titel gehad: "Hoe praat ons vandag oor God? Vyf jaar later (1998-2003)."23 Ek was oortuig daarvan dat daar verskuiwings besig was om plaas te vind. Baie lidmate van die Afrikaanssprekende gereformeerde kerke het nuwere weë begin verken.

In hierdie tyd het ek wéér in die warm water beland. Van die artikels wat ek vir Beeld se godsdiens-rubriek geskryf het, het oor aspekte van die nuwe hervorming gehandel. Een daarvan het op die sondeval- en erfsondeleer gefokus.24 Hierdie artikel, 'n brief wat ek vir Die Kerkbode geskryf het, asook 'n radio-opname het daartoe gelei dat dominee Theo Danzfuss van die NG Gemeente Witfield (Boksburg) 'n klag van leerdwaling by my tuisgemeente teen my ingedien het. Dit het in November 2002 gebeur maar ek is eers in Maart/April 2003 daaroor ingelig. Hierdie keer was die kerkraad van die NG Gemeente Pierre van Ryneveld ietwat raadop met my. Die indruk wat ek gekry het, was dat die kerkraad nie mooi geweet het hoe om hierdie keer met die klag te handel nie. Hulle het gevolglik die klag na die NG Ring van Lyttelton verwys. Ook húlle het ook nie mooi geweet hoe om te werk te gaan nie. Hulle wou die klag nie formeel as 'n klag van leerdwaling hanteer nie, maar wou dit, soos met die vorige klag, deur middel van 'n gesprek of twee afhandel. Ds. Danzfuss het hom in die klag onder andere op die Dordtse Leerreëls (hfst 1, artikel 1.1) beroep. Die betrokke gedeelte lees soos volg:

Alle mense het in Adam gesondig en hulle aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak. Daarom sou God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en die vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: Die hele wêreld is voor God doemwaardig. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:19, 23), en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).

Die NG Ring van Lyttelton het eers in 2004 werk gemaak van die klag – nadat ek die inisiatief geneem en navraag gedoen het oor wat aan die gang was. Vir 'n tweede keer in my lewe het ek met die ongenaakbare kant van die NG Kerk te doen gekry. Op grond van al die gebeure beland ek in 2004 dus buite die NG Kerk en sedertdien is ek self 'n kerklidmaatskaplose Christen.

Een van die mees onverwagse uitnodigings wat ek ooit in my lewe ontvang het, was die uitnodiging van die Kuratorium van die NG Kerk in die OVS. Hulle het my versoek om by die opening van die teologiese fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat op 4 Februarie 2003 'n lesing te lewer. Hierdie uitnodiging het ek persoonlik ontvang min of meer toe ds. Danzfuss se klag oor leerdwaling by die kerkraad van my tuisgemeente ingedien is. Die tema van die dag het hulle aangegee as: "Wat moet 'n Christen vandag nog glo?" Ek het dit aanvaar, maar die titel van my lesing verander om te lui: "Wat moet ons weet en wat kan ons nog glo?"25 Ek het my lesing met sestien stellings en die volgende paragraaf afgesluit:

Daar is dus binne alle Christelike denominasies dwarsoor die wêreld tans twee groepe gelowiges. Mense kan hulle tipeer as "ortodoks" teenoor "heterodoks", of "konserwatief" teenoor "progressief", of "fundamentalisties" teenoor "liberaal". Ons sou ook kon sê dat gelowiges hulle geloof vanuit twee verskillende paradigmas verwoord. Wat uitstaan, is dat die een groep aan die tradisionele meesterverhaal voorrang gee terwyl die ander groep probeer om hulle geloof te herformuleer in die lig van die nuwere kennis.

Piet Strauss het my agterna informeel bedank vir my eerlikheid, maar gesê dat die NG Kerk nooit die pad wat ek geskets het, sal kan bewandel nie. Dit is te radikaal anders.

Gedurende die derde reeks van oop gesprekke het ek steeds met tradisionele Christene, drempel-Christene en lidmaatskaplose Christene oop gesprekke gevoer. Ek was op daardie stadium nog 'n lidmaat van die NG Kerk en een van sy proponente, maar hieraan het 'n einde kom toe ek in 2004 as proponent én lidmaat van die NG Kerk bedank het.

2.4   ... en toe kom die NHN (2004-2011)

In die loop van 2004 het 'n handvol mense eers in Centurion by 'n gastehuis vergader (23 Mei) en later weer by die krieketklub van die RAU. Dit was om oor die stigting van 'n nuwe beweging te besin. Hierdie vergaderings was die voorlopervergaderings tot die stigting van die Nuwe Hervorming Netwerk. Eintlik was die vergadering by RAU se krieketklub na regte die geboorte-oomblik van die NHN. Ons het wel besluit om met 'n simboliese handeling op 31 Oktober 2004 af te skop. Ons het 'n soort erediens in die Shelanti-kapel in Centurion gehou om vir die publiek te sê: "Hier is iets nuuts!"

Een van die redes vir die stigting was om aan mense wat ontuis geraak het binne die Christelike kerke en nie meer die tradisionele belydenisse en leerstellings kan beaam nie, 'n tuiste te bied waar hulle met ander mense wat dieselfde ongemak beleef, kan sosialiseer en gesprek voer. 'n Tweede rede vir die stiging was om 'n beweging tot stand te bring wat oop religieuse gesprek bevorder. Baie mense het gevoel dat ons pas uit 'n era kom waar bevraagtekening nie as 'n deug beskou is nie. Mense wat kritiese vrae gevra het, hetsy oor die Bybel, oor die apartheidsbeleid, oor tradisionele Christelike belydenisse en leerstellings, is gewoonlik gemarginaliseer en dikwels geostraseer.

Sedert 2006 het ons met gereelde Midrandbyeenkomste begin en is daar oor 'n verskeidenheid onderwerpe lesings aangebied. Mettergaan het die Nuwe Hervorming Netwerk ook 'n jaarlikse seminaar begin aanbied en ook oorsese sprekers genooi. Biskop John Shelby Spong het in Oktober 2007 Suid-Afrika besoek en 'n paar lesings oor aspekte van vernuwing van die Christelike geloof by Unisa, RAU en die NHN aangebied het.

Met watter groepe het ek (en die res van die NHN-groep) gedurende hierdie jare oop religieuse gesprekke gevoer? Nie minder nie as die vier groepe wat ek aan die begin van die lesing geïdentifiseer het. Tradisionele Christene, drempel-Christene, lidmaatskaplose Christene en nie-Christene.

3.   Waaroor handel die oop religieuse gesprekke?

Pieter Craffert het my ook gevra om uit te spel waaroor ek oop religieuse gesprekke wil voer. Uit die voorafgaande vertelling behoort dit reeds duidelik te wees dat ek oor niks anders oop religieuse gesprekke wil voer, of kan voer nie as oor:

Miskien was dit 'n fout van my deur nie aan die begin van die jaar toe ek, Pieter Botha en Pieter Craffert in Midrand gepraat het, mense se aandag pertinent te vestig op die lesings wat ek al hier gelewer het nie. Sou ek dit gedoen het, sou Pieter waarskynlik nie die drie vrae gevra het nie. Die ses stellings wat ek op die NHN se webbladsy geplaas het, was allermins bedoel as 'n oop gesprek met Neels Jackson. Dit was bedoel as stellings vir NHNners om oor na te dink. Dit was 'n weerspieëling van mý belewenis van die hoofstroom kerke en hul leerstellings. Ek het dit weliswaar geformuleer na aanleiding van Neels se vyf redes waarom hy steeds verkies om lidmaat van 'n kerk te wees. Daar was ook 'n speelsheid in my aanbieding van die redes waarom ek nie meer lidmaat van die hoofstroom kerke wil wees nie. Ek het die opskrif gemaak: "Vyf, ja ses redes waarom ek nie meer deel van die hoofstroom kerke wil wees nie."26

Ek wil vanoggend oor laasgenoemde twee sake praat: (1) die meesterverhaal van die Westerse Christendom en die impak daarvan op mense se lewens, en (2) die moontlikheid om 'n ander singewende verhaal rondom Jesus van Nasaret te ontwikkel. Ek begin deur te fokus op die meesterverhaal van die Westerse Christendom, oftewel die meta-narratief van die staatsgodsdiens. 'n Meta-narratief is gewoonlik gebaseer op 'n reeks verhale of filosofiese veronderstellings of vertrekpunte. Gewoonlik stel so 'n narratief 'n omvattende verhaal daar wat die ganse lewe van begin tot end, beskryf. Richard Grigg verduidelik dit soos volg:

Doctrinaire Marxism is (or was) a metanarrative. Religions such as Judaism, Christianity, and Islam offer metanarratives: each purports to tell the whole story of the world and the human project, from creation to divine consummation, and every other sort of human story can purportedly be fit under the umbrella of this religious metanarrative.

(Grigg 2008:42-43)

3.1   Die meesterverhaal van die Westerse Christendom

Die meesterverhaal van die Westerse Christendom het hoofsaaklik gedurende die vierde en vyfde eeu in die Romeinse ryk beslag gekry. Om die waarheid te sê, dis aan 'n paar Romeinse keisers en teoloë soos Augustinus (354-430) te danke dat daar so 'n verhaal tot stand gekom het. Hierdie verhaal is aanvanklik in die vorm van belydenisse weergegee. Later is daar op hierdie belydenisse uitgebrei en het daar 'n omvattende teologie tot stand gekom. Tyd laat my nie toe om in te gaan op die rol wat keisers Konstantyn (275-337) en Theodosius die Grote (346-395) onderskeidelik gespeel het nie. Dis egter 'n erkende feit dat beide van hulle kerklike konsilies byeengeroep het waartydens belydenisse opgestel is wat rigtinggewend en bepalend vir die Christelike godsdiens sou word. Wat wél vermeld moet word, is dat keiser Teodosius die Christelike godsdiens tot die staatsgodsdiens van die ryk verklaar het. Hy het beveel dat heidense tempels vernietig word en het "ketters" (afwykende Christene) verbied om te vergader. Hieroor skryf Philip Kennedy soos volg:

Once Christianity received Roman imperial favour in the fourth century, 'it turned upon other religions and unsympathetic philosophers, and even upon variations for its own doctrines, with an ideological ferocity that was previously unknown in the world'.27

(Kennedy 2006:59)

Die Christelike godsdiens (soos ons dit tans ken) is niks anders nie as die staatsgodsdiens van die Romeinse ryk. Die eertydse Romeinse ryk wat vir Jesus se kruisdood verantwoordelik was, slaag in die vierde en vyfde eeu daarin om die Romeine van alle blaam vir sy kruisdood te onthef en die kruisiging voor te hou as die dood van 'n middelaar wat die breuk tussen God en mens kom herstel het. Die Jode word nou as die eintlike "Godmoordenaars" gebrandmerk en deur die eeue sou hulle dit moes ontgeld. Selfs Martin Luther, die gevierde Protestantse hervormer, het weinig ooghare vir hulle gehad, en Adolf Hitler het sy optrede teen die Jode geregverdig deur hom onder andere op Luther se uitsprake oor die Jode te beroep.28

3.1.1   Ekumeniese belydenisse en die drieverdieping-heelal

Daar bestaan drie ekumeniese belydenisse wat deur die meerderheid Christene as die beste uitdrukking van hul geloof beskou word. Hulle is (1) die Belydenis van Nisea, (2) die Belydenis van Atanasius, en (3) die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Wat ons vandag as die belydenis van Nisea ken (en wat met die konsilie van Nisea [325] verbind word), is meer korrek 'n uitbreiding van dáárdie belydenis. Hierdie uitbreidings of toevoegings is gedurende die konsilie van Konstantinopel (381) gedoen. Verskeie kerkhistorici wys daarop dat ons na regte van die Nicano-Constantinopolitanum-belydenis moet praat. Hierdie belydenis lui soos volg:

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; God uit God, Lig uit lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader; deur wie alle dinge ontstaan het;
wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;
wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Wanneer 'n mens fyn na hierdie belydenis luister, word dit duidelik dat die drieverdieping-heelal daarin verweef is. God skep immers die hemel en die aarde. Jesus daal uit die hemel na die aarde neer, sterf, staan op en vaar weer terug na die hemel. Die onderwêreld word weliswaar nie so uitdruklik soos in die Apostoliese Geloofsbelydenis vermeld nie. Laasgenoemde belydenis wat deur keiser Karel die Grote (742-814) gepromoveer is, roep die drieverdieping-heelal duideliker na vore. Hy het daarop aangedring dat hierdie belydenis tydens doopgeleenthede gebruik moes word. Hierdie belydenis lui soos volg:

Ek glo in God die Vader, die almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en 'n ewige lewe.

Jesus Christus maak in hierdie belydenis 'n volledige reis deur die drieverdieping-heelal. Hy kom uit die hemel, word op aarde gebore. Hy ly, sterf, word begrawe en daal neer na die hel (die onderwêreld); staan na drie dae op en vaar dan terug na die hemel.

Wat ten opsigte van die Belydenis van Nisea en die Apostoliese Geloofsbelydenis gesê is, geld ook van die Geloofsbelydenis van Atanasius naamlik dat dit met die drieverdieping-heelal verweef is. Die Geloofsbelydenis van Atanasius fokus egter primêr op die Drie-eenheid en probeer in woorde uitspel waarom Jesus Christus as God geag moet word. In hierdie belydenis kom ons wel die volgende teë:

Want soos die redelike siel en die vlees een mens is,
so is God en mens één Christus:
wat gely het om ons saligheid ontwil
ter helle neergedaal het,
op die derde dag weer opgestaan het uit die dode,
opgevaar het na die hemel,
aan die regterhand van die Vader sit
en vandaar sal kom om hulle wat nog lewe én hulle wat alreeds gesterf het te oordeel.

Günther Weber ('n Katolieke lidmaat) wys daarop dat kerke ongemaklik raak wanneer hulle met die nuwe wêreldbeeld gekonfronteer word. Die rede waarom hulle ongemaklik raak, is omdat hul belydenisse met die antieke wêreldbeeld verweef is:

I now understand why the church is instinctively defensive about changes in world-views. Because the whole structure of its faith is grounded in the world-view of antiquity, any change in the world-view must shake the foundations of that structure.

(Weber 1998:19)

Dis dan ook die rede waarom ek my eerste stelling soos volg verwoord het: "Kerke hou mense met hul leerstellings gevange in die antieke wêreld met sy idee van 'n drie-verdieping-heelal." Ek keer binnekort hierna terug wanneer ek die destabilisering van die meesterverhaal bespreek, maar ek wil eers die punt maak dat ek hier van Ben du Toit verskil. Hy skryf:

Tog is die voorwetenskaplike aard van die Bybelgeskrifte in hulle wêreld- en lewensbeskouing nooit volledig geïntegreer binne die sistematiese denke en leer van die kerk nie.

(Du Toit 2000:86)

Ek wil eintlik skryf: "Aikona Ben, lees weer die Belydenis van Nisea, die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Belydenis van Atanasius. Jou stelling is nie waar nie. Die voorwetenskaplike drieverdieping-heelal is nie alleen in die Bybel ingeweef nie, maar ook in die ekumeniese belydenisse."

3.1.2   Die meesterverhaal as geslote sisteem

Met my tweede stelling het ek beklemtoon dat kerke ook bepaalde onwaarhede verkondig "soos dat alle mense in sonde ontvang en gebore word en dat die dood God se straf op die sonde van die eerste menspaar is." Waarom ek die leerstelling dat "alle mense in sonde ontvang en gebore word" as 'n "onwaarheid" tipeer, is omdat verskeie Ou-Testamentici al oortuigend aangetoon het dat Genesis 2-3 niks met 'n sondeval te doen het nie. Voorts dat Augustinus hierdie gedeelte totaal misverstaan het. Ek het in my professorale intreerede by Unisa (2006) op die spoor van hierdie Ou-Testamentici geloop en self ook aangetoon dat die tuinverhaal 'n Israelitiese skeppingsverhaal is wat nie aanspraak maak om ewige waarhede oor die mens te verkondig nie. Uit die onderstaande diagram behoort dit duidelik te wees dat hierdie leerstuk een van die "kernwaarhede" van die staatsgodsdiens van die Romeinse ryk vorm. Ek kan ook sê dat dit een van die kernwaarhede van die meesterverhaal is. Hierdie kernwaarheid het ons grootliks te danke aan die interpretasies van Augustinus. Ek wil met die diagram ook aantoon dat die ander kernwaarhede van die meesterverhaal teruggryp na die sondeval en wel in só 'n mate dat ál die kernwaarhede 'n geslote sisteem vorm.

Die vyf pentagramme van die diagram verteenwoordig elkeen 'n kernwaarheid van die meesterverhaal. Maar dis nie al nie, hulle is onlosmaaklik verweef. Enige gepeuter aan één van die kernwaarhede het 'n rimpeling-effek en beïnvloed die ander kernwaarhede – dit destabiliseer na regte die totale verhaal.

Die meesterverhaal van die Westerse Christendom (oftewel die staatsgodsdiens van die Romeinse ryk) begin met die kernwaarheid dat die Drie-eenheid die ganse kosmos (die drieverdieping-heelal) gemaak het (pentagram 1: skepping). In hierdie kosmos is die aarde een van die vernaamste skeppingswerke. Dis immers die ruimte vir plante, diere en mense – die kroon van die skepping. Alles was aanvanklik perfek en afgerond, maar dan tree die duiwel na vore en verlei die vrou. Sy oortree die verbod om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet. Sy gee ook aan Adam van hierdie verbode boom se vrugte en só moet ook hý die straf vir haar onbesonne daad dra. Deur hierdie daad van ongehoorsaamheid versteur hulle hul verhouding met God, maar dis nie al nie – hul ganse nageslag ly onder hierdie daad. Elke kind wat later gebore word, is besmet met die erfsonde. Hulle word almal "in sonde ontvang en gebore en leef onder God se toorn." Ons kry hier met die tweede kernwaarheid te doen – die sondeval (pentagram 2: sondeval).

Ek haal uit die Heidelbergse Kategismus (1563) aan om die belangrikheid van hierdie kernwaarheid vir die res van die meesterverhaal, te onderstreep:

Vraag 7: Waar kom hierdie bedorwe aard van die mens dan vandaan?
Antwoord: Uit die val en die ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die paradys waar ons natuur so bederwe is dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?
Antwoord: Nee, sekerlik nie; maar Hy vertoorn Hom verskriklik oor die aangebore sowel as die werklike sondes en wil dit deur 'n regverdige oordeel tydelik en ewiglik straf soos Hy gesê het: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Die sondeval van Adam en Eva wat hul en hul nageslag se verhouding met God versteur en daartoe gelei het dat alle mense wat daarna gebore is, sterf, word egter deur Jesus Christus se kruisdood en opstanding opgehef. Jesus Christus dra met sy kruisdood die straf wat alle mense toegekom het. Hý sterf namens ál die mense en in hul plek onder God die Vader se toorn. Hy versoen mense weer met God en herstel sodoende die breuk wat tussen God die Vader en die mensdom ontstaan het (pentagram 3: Jesus Christus & verlossing). Maar meer nog, Hy oorwin ook die dood deurdat Hy uit die graf opstaan. Die opstanding van Jesus Christus word dan ook voorgehou as die eerste vrug van die herstelde skepping (pentagram 4: opstanding & hemelvaart). Adrio König se proefskrif Jesus Christus die Eschatos wat later vir die reeks Gelowige nagedink verwerk en gepubliseer is onder die titel Jesus, die laaste werk hierdie oortuiging in detail uit.

In Sondag 5 (vraag en antwoord 12-19) van die Heidelbergse Kategismus beklemtoon die opstellers dat nie enige persoon namens alle mense aan die kruis kon sterf nie. Dáárdie persoon moes ware God en ware mens wees. Hy moes nie deel hê aan die erfsonde en die erfsmet nie, maar moes tog 'n mens soos alle ander mense wees. Willie Jonker werk op sy beurt hierdie oortuiging in detail uit in sy boek Jesus, die Middelaar (1977). Jesus Christus is deur die Heilige Gees in 'n maagd verwek sodat Hy volledig mens kon wees – uitgesonder die sonde.

Die mense van daardie tyd het geglo dat vroue slegs maar as houers opgetree het vir die saadbabatjie wat mans in hulle ingeplant het. Hulle het nie geweet dat vroue ook 'n deel bydra tot die verwekking van kinders nie. Daardie insig sou eers daag toe ontdek is dat vroue eierselle het wat deur mans se sperms bevrug moet word.

Aangesien die Heilige Gees vir Maria 'n saadbabatjie gegee het, is hierdie kind nie met die erfsonde besmet nie. Hy word dus nie "in sonde ontvang en gebore" soos die res nie. Hy is dus sondeloos! Hy kon as die ware middelaar tussen God en mens optree; die straf vir almal se sondes (erfsonde én werklike sondes) dra, en uiteindelik die dood oorwin. Jesus Christus keer dus die gevolge van die sondeval om en herstel sodoende die skepping in sy oorspronklike toestand – 'n skepping waar dood afwesig is en harmonie bestaan.

[Het julle al ooit gewonder waarom die Tweede Persoon van die Drie-eenheid nie 'n vrou kon wees nie. Die antwoord? Vroue is halfwas mense. Hulle is nie volwaardige mense soos mans nie. Net mans is volledige mense – só het antieke mense geglo. Sou die Heilige Gees 'n vrou uit die maagd Maria laat voortkom het, was daar 'n krisis van kosmiese omvang op aarde. Met hierdie soort kritiese vrae en antwoorde probeer ek slegs wys hoe antieke mense oor hulleself gedink het en hoe dit neerslag gevind het in kerklike leerstellings en belydenisse. Die belydenisse dra eenvoudig die vingermerke van die tyd waarin dit bedink en verwoord is.]

Die opstanding (pentagram 4: opstanding & hemelvaart) word beskou as die eerste teken van die herstelde skepping (terug by pentagram 1: skepping – maar nou die herstelde skepping). Die opstanding verkondig (in die woorde van Flip Theron): "God se somer kom."29 Die skepping sal egter eers finaal herstel word wanneer Jesus Christus na hierdie aarde terugkeer (pentagram 5: wederkoms & eindoordeel) daarom sing Afrikaanssprekende Christene graag die lied "Ek sien 'n nuwe hemel kom, 'n aarde nuut en vry ..." (Lied 602). Wanneer Jesus Christus terugkeer, sal God hom as regter aanstel om alle mense te oordeel. Diegene wat Jesus Christus en sy verlossing nie aanvaar het nie, sal die ewige straf in die hel tegemoet gaan. Diegene wat egter die verlossing aanvaar het, sal 'n wonderlike toekoms tegemoet gaan. Hulle sal die nuwe Jerusalem bewoon wat vanuit die hemel na die nuwe aarde sal neerdaal.

3.1.3   Die meesterverhaal as pseudo-geskiedenis

Wat ons nie uit die oog moet verloor nie, is die indruk wat die meesterverhaal by mense wek. Mense glo dat dit 'n omvattende geskiedenisverhaal is. Dit vertel hoe die skepping ontstaan het en hoe die skepping uiteindelik gaan eindig, of liewer – nuut gemaak gaan word. Die meesterverhaal is egter alles behalwe geskiedenis. Dit is pseudo-geskiedenis oftewel, skyngeskiedenis. Dit is gebaseer op 'n uiteenlopende aantal verhale en literêre genres in die Bybel en gee voor om 'n suiwer samevatting van hierdie verhale te wees, maar dít is dit allermins. Daar sit 'n hele klomp Christelik-filosofiese redenasies daaragter.30 Neem maar die eerste drie hoofstukke van die boek Genesis as voorbeeld. Hierdie hoofstukke vertel nie geskiedenis nie. Dit beval twee Israelitiese skeppingsverhale en weerspieël hoe dáárdie mense oor hulleself en hul wêreld gedink het. Op grond van die skeppingsverhale het latere Christelike teoloë allerlei afleidings gemaak oor hoe die Drie-eenheid die heelal sou geskep het. Hy het alles uit niks geskep – creatio ex nihilo (om dit op Latyn weer te gee). Hy het ook die mens na sy beeld geskep. Christelike teoloë het oor die Imago Dei (die beeld van God) boeke vol geskryf. Adrio König is een van hulle. Twee van sy boeke in die reeks "Gelowig nagedink" fokus hierop. Die een boek dra die titel Bondgenoot en Beeld (1991)31 en die tweede dra die titel Menslike mense (1993b). Vergelyk in hierdie verband ook die boek Die Mens: Bybelse en Buite-Bybelse Mensbeskouings (1974) van Johan Heyns, en Skepping, Mens, Voorsieningheid (1981) van Jaap Durand.

Op grond van die laaste hoofstukke van die boek Openbaring het Christelike teoloë weer die afleiding gemaak dat die Drie-eenheid 'n nuwe hemel en aarde in die toekoms daar sal stel. Openbaring, wat 'n apokaliptiese werk is, word soos vooruitgeskrewe geskiedenis gelees en geïnterpreteer. Adrio König het ook hieroor 'n omvattende boek geskryf. Dit dra die titel Jesus die laaste (1980).

Die dogmatiese werke wat Johan Heyns, Willie Jonker en Jaap Durand, en Adrio König gepubliseer het, kan direk met die kernwaarhede van die meesterverhaal in verband gebring word. Jonker en Durand het 'n reeks met die titel "Dogmatiese wegwysers" beplan en König 'n reeks met die titel "Gelowig nagedink". Geeneen van hulle het egter daarin geslaag om hul reeks dogmatiese werke te voltooi nie, maar hulle het almal met die belangrikste kernwaarhede begin: skepping, sondeval, verlossing. Heyns was minder ambisieus met sy poging maar hy het wel twee boeke gepubliseer waarin hy al die kernwaarhede van die meesterverhaal behandel. Dit is interessant dat kritiek teen die idee van 'n nuwe hervorming veral vanuit die geledere van Suid-Afrikaanse dogmatici kom. Vergelyk in die verband die publikasies van Adrio König (2009), Jaap Durand (2005) en Amie van Wyk (2003).32 Hierby kan ons ook nog die boek Geloof sonder sekerhede van die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk voeg.33

3.2   Die destabilisering van die meesterverhaal

Philip Kennedy slaan die spyker op die kop wanneer hy die drieslag "sondeval-verlossing-eindoordeel" voorhou as kern van die Christelike meesterverhaal. Hy tipeer dit ook as die "Augustiniaanse paradigma van die teologie" wat vir meer as 'n millennium die Christelike teologie gedomineer het. Hierdie paradigma is egter deur natuurwetenskaplike ontdekkings en Bybelwetenskaplike navorsing van die afgelope vierhonderd jaar as onhoudbaar bewys en daarom reken sommige teoloë dat dit die einde van sy leeftyd bereik het:

Fall-Cross-Judgement is thus the archetypal Christian story of humanity's relation to God. The three-act drama can be compressed even further into two words, (...): 'Jesus Saves'. As Christianity begins its twenty-first century, its Augustinian paradigm of theology has met die fate of the Berlin Wall.

(Kennedy 2006:252)

Daar is konserwatiewe teoloë wat mense probeer oortuig dat dit nie die geval is nie. Maar ek en vele ander teoloë en Bybelwetenskaplikes is van die teendeel oortuig. Om die destabilisering van die meesterverhaal oor die afgelope vier eeue en die uiteindelike vasloop van die paradigma te verstaan, moet 'n mens by die Bybel en die drieverdieping-heelal begin.

3.2.1   Die Bybel en die drieverdieping-heelal

Die Afrikaanse Bybelvertaling (1983) open met die volgende woorde:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters maar die Gees van God het oor die waters gesweef. (Gen 1:1-2)

Die Joodse vertalers van The Jerusalem Bible (2000) vertaal soos volg:

In the beginning GOD created the heaven and the earth. And the earth was without form and void; and darkness was on the face of the deep. And a wind from GOD moved over the surface of the waters. (Gen 1:1-2)

Dit behoort vir enige ingeligte leser duidelik te wees dat ons hier met die drieverdieping-heelal te doen het. Ons lees immers van die hemel, die aarde en die chaoswaters. 'n Vergelyking van die twee vertalings van die betrokke gedeelte bring egter aan die lig dat die Christelike vertalers die gedeelte met die Drie-eenheid in hul agterkoppe vertaal het. Daarom vertaal hulle die Hebreeuse woorde ruah 'elohim met die "Gees van God" en gebruik hulle ook 'n hoofletter vir "gees", want volgens hulle mening het ons hier met die derde persoon van die Drie-eenheid te doen – dit terwyl Joodse geleerdes bloot vertaal met "'n wind van God". Dit is ook moontlik om die twee Hebreeuse woorde ruah 'elohim met "'n woeste wind" of "'n stormwind" te vertaal. Die Hebreeuse woordjie 'elohim word soms in Hebreeus gebruik om oortreffende trap aan te dui.

Verwysings na die drieverdieping-heelal kom egter dwarsdeur die Bybel voor. Soveel so dat ons dit as die basiese veronderstelling van die Bybelskrywers kan noem. Vergelyk slegs die volgende twee gedeeltes uit die boeke Eksodus en Openbaring:

Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. (Eks. 20:4)

Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. (Op. 5:3)

Hierdie verstaan van die wêreld het ook inslag gevind in die ekumeniese belydenisse, want die belydenisse is verwerkings en herinterpretasies van die Bybelse gegewens. Voorts het Westerse Christene tot en met die einde van die Middeleeue só oor hul wêreld gedink. Hieraan sou egter spoedig 'n einde kom.

3.2.2   Natuurwetenskaplike navorsing

Die Poolse geestelike, wis- en sterrekundige Nikolas Kopernikus (1473-1543) het met sy boek De revolutionibus orbium caelestium ("Oor die omwentelinge van die hemelse sfere") die Ptolomeuse wêreldbeeld uitgedaag. Die aarde staan nie in die sentrum van die heelal nie en die son en ander hemelliggame wentel nie om die aarde nie. John Bowden skryf soos volg oor hom:

His views were slow to spread, since their significance and truth were not at first appreciated, so he escaped the fate of Galileo though his book [On the Revolutions of the Heavenly Orbs (1590)] was banned after his lifetime.

(Bowden 1990:33)

Galileo Galilei (1564-1642) het die siening van Kopernikus onderskryf en dit met groot oortuiging as 'n feit verkondig. Dit het hom in onguns by die Katolieke kerk se teoloë gebring. Hulle was heel tevrede dat hy dit as 'n hipotese stel, maar nie dat hy daarmee as 'n teorie werk en verkondig nie. Wat interessant mag wees, is dat Prediker 1:4 soos dit in die Latynse vertaling weer gegee word, onder andere 'n rol gespeel het in Galileo se skuldigbevinding en veroordeling: terra autem in aeternum stat = "die aarde self staan ewig vas."34 As die Bybel dit stel dat die aarde staan, dan moet Galileo daarby inval en kan hy nie verkondig dat dit om sy eie as draai en om die son wentel nie. Hierdie gebeure het die Bybel as basisdokument van die meesterverhaal begin destabiliseer. Klaus Scholder en Philip Kennedy skryf respektiewelik soos volg hieroor:

Until the thirties of the seventeenth century, the situation remained essentially unchanged. However, the trial of Galileo in 1633 then suddenly made clear the whole range of difficulties that Copernicus' discovery was to present to Christian theology.

(Scholder 1990: 53)

Indeed, the seventeenth century was 'the first time in over a thousand years that this traditional world-view was seriously challenged'.

(Kennedy 2006:57)

Aanvanklik was dit net die ontdekkings op die terrein van die sterrekunde wat die Bybel en die meesterverhaal gedestabiliseer het, maar kort voor lank het ontdekkings op die terrein van die geologie en die biologie daartoe bygedra. Wat die geologie betref, hang dit saam met ontdekkings van fossiele van diere wat miljoene jare gelede geleef het. Aanvanklik is gemeen dat dit diere is wat in Noag se vloed gesterf het, maar mettergaan het geoloë besef dat die vloedverhaal nie as verklaring vir die fossiele kan dien nie. Die teorie van plaattektoniek wat daarop gebaseer is dat die kontinente oor miljoene jare ontstaan en rondgeskuif het, het die geologie met rasseskrede laat vorder. Wat die biologie betref, het die evolusieleer hand aan hand met die geologie geloop en dit het tot 'n radikale bevraagtekening van die tradisionele Christelike leerstellings gelei. Tyd laat nie toe om hierop uit te brei nie, maar meeste van julle is hiermee bekend. Ek het op 8 Februarie 2009 'n lesing met die titel "Darwin en die Christelike geloof (1809-2009)" hier in Midrand voorgedra. Die evolusieleer het veral 'n groot impak op die kerklike erfsondeleer gehad. James Barr, Günther Weber en Philip Kennedy skryf respektiewelik soos volg hieroor:

The thought that all death, at all times and in all circumstances, is due to a primeval fault is difficult to take seriously, and all the more so when we perceive that Old Testament scripture by no means supports this idea. Similarly, the belief that God really, on the ground of a fault committed by two humans in the beginning of the world, ordained death as a destiny for all later humanity, throughout history, has truly staggering effects on the idea of God.

(James Barr 1992:90)

The change from a static to an evolutionary picture of the world which was pioneered a century ago by Darwin is likely to be even more momentous for faith than the collapse of the geocentric picture of the world as a result of the discoveries of modern astronomy since Copernicus.

(Weber 1998:17)

Augustine's doctrine of the Fall, like Humpty-Dumpty, if construed literally, has fallen from favour among many modern historically minded biblical critics.

(Kennedy 2006:117)

3.2.3   Bybelwetenskaplike navorsing

Galileo Galilei se botsing met die kerk het daartoe gelei dat die Bybel algaande meer krities bestudeer is. Die idee dat Moses vir die hele Pentateug (die eerste vyf boeke van die Ou Testament) verantwoordelik was, is redelik vroeg bevraagteken en ander moontlike skrywers is geïdentifiseer. Nuwe teorieë oor die ontstaan van die Pentateug het die lig gesien. Die vier bronneteorie (of die JEDP-teorie) het mettergaan die mees aanvaarbare geword. Opgrawings in die Nabye Ooste het op hul beurt tot ontdekkings gelei wat mense laat wonder het oor die oorsprong van sekere Bybelverhale. Argeoloë het ontdek dat daar materiaal in die Bybel voorkom wat heel waarskynlik aan ander kulture ontleen is. Hiervan is die vloedverhaal of dan die verhaal oor Noag en sy ark (Gen 6-9) en Spreuke 22:17-24:22 van die bekendste voorbeelde. Die vloedverhaal kom ooreen met die Mesopotamiese vloedverhaal bekend as die Gilgamesj-epos. Spreuke 22:17-24:22 kom op sy beurt ooreen met die Egiptiese wysheidsgeskrif bekend as die Wysheid van Amenemope.

Dit het met voortgaande studie duidelik geword dat die Bybel deur premoderne mense geskryf is en vir premoderne mense bedoel was. Dit kom nie direk van God nie. Die Heilige Gees het dit ook nie vir mense ingefluister soos daar vroeër gereken is nie (die sogenaamde verbale inspirasieleer wat op 2 Tim. 3:16 gegrond is). Bybelwetenskaplikes was genoodsaak om 'n ander Skrifbeskouing te formuleer as die tradisionele een wat deur teoloë geformuleer is.

Westerse mense het gedurende die agtiende en negentiende eeu 'n historiese bewussyn ontwikkel. Dit kom daarop neer dat hulle besef het dat dinge oor tyd heen verander. Die wetenskaplike studie van die Bybel en die historiese bewussyn wat mense ontwikkel het, het tot die sogenaamde histories-kritiese navorsingmetodes in die Bybelwetenskappe gelei. Hierdie navorsingsmetodes neem die volgende as vertrekpunte:

Die wetenskaplike bestudering van die Nuwe Testament het daartoe gelei dat geleerdes 'n onderskeid begin tref het tussen Jesus van Nasaret (oftewel die historiese Jesus) en Jesus Christus van die kerklike belydenisse en leerstukke. Meer en meer Nuwe-Testamentici het daarop gewys dat die godsdiens van Jesus radikaal verskil van die godsdiens oor Jesus en dat Jesus as Joodse profeet totaal verstom sou staan oor wat later geslagte met hom gemaak het. Dis dan ook die agtergrond vir my derde stelling wat ek soos volg verwoord het:

Kerke misken die Joodsheid van Jesus en dat hy homself nie met die idee van 'n Drie-eenheid sou vereenselwig het nie. Jesus sou as Jood homself nooit aan Jahweh gelyk gestel het nie.

Die resultate van die Bybelwetenskaplike navorsing oor die afgelope vier eeue is dat die Bybel self 'n probleem vir die Christelike geloof geword het. Robert Carroll gee hieraan mooi uitdrukking in die titel van sy boek Wolf in the Sheepfold: The Bible as a problem for Christianity (1991). Hy skryf soos volg oor die saak:

The critical reading of the Bible has exposed its errors and mistakes, its contradictions and contrarieties, its xenophobic values and its many advocacies of violence, intolerance and hatred of others.

(Carroll 1991:24)

Dit is egter veral die godskonstruk van Christelike teoloë in die vyf eeue na Christus wat haaks op die godkarakter van meninge aangrypende Ou-Testamentiese verhaal kom staan het. Dis nou die konstruk van 'n Drie-eenheid. Hierdie karakter is nie in die Bybel te vind nie alhoewel konserwatiewe teoloë mense met allerlei redenasies probeer oortuig dat sy spore wél daar te vind is. Om maar slegs een voorbeeld te noem. Die godkarakter van Genesis 2-3 tree heel menslik op. Hy wandel saam met Adam en Eva in die tuin. Hulle speel selfs met Hom wegkruipertjie. Hy is geklee terwyl hulle ongeklee moet rondloop. Hy is 'n bedrewe kleremaker wat binne 'n ommesientjie (na hulle wysheid bekom en ontdek het dat hulle kaal is) vir die twee velklere maak. Hierdie godkarakter aan die godkarakter van die belydenisse is moeilik te versoen.

3.2.4   Samevatting

Die navorsingsresultate van sowel die natuurwetenskappe as die Bybelwetenskappe het die meesterverhaal van die Westerse Christendom totaal gedestabiliseer. Dit het aanvanklik begin met 'n "ondergrawing" van die drieverdieping-heelal van sowel die belydenisskrifte as die Bybel. Hierdie ondergrawing het daartoe gelei dat die meesterverhaal gedestabiliseer is. Verdere natuurwetenskaplike ontdekkings en -teorieë het die proses van destabilisering verhaas. Hierdie proses van destabilisering en die gevolge wat dit vir die tradisionele meesterverhaal inhou, word die beste verwoord deur die Afrikaanse digter M.M. Walters:

Met Copernicus het die aarde sy waardigheid verloor:
geen middelpunt ooit weer of rusplek vir Sy voet –
net stippeltjie stof in 'n oneindigheid van heelal en planete.
Die hemel is gereduseer tot leë ruim, die mens
tot oomblikke in die geskiedenis van sterre.

Onmoontlik is dit om langer te aanvaar
dat die Bedenker, Maker, Mag agter die nuwe opset
na dié stippeltjie sou daal, mens word, ly en sterf
om die sinneloosste van sondes deur niksduidendes.
Ons leef vir altyd in die nachschein van Nikolai Kopernik.

(M.M. Walters 1996:49)

4.   Wat is die oogmerke van die oop religieuse gesprekke?

Pieter Craffert het my laastens gevra om uit te spel wat die oogmerke van die oop religieuse gesprekke wat ek met mense voer, dan nou is. Hier is 'n aantal oogmerke:

Daar is baie mense wat probleme met die meesterverhaal van die Christelike geloof ervaar, maar dit nie altyd goed kan verwoord nie. Baie van verstaan ook nie waarom hulle skielik "ongelowig" geword het nie. Hulle beland in geloofs- en emosionele krisisse. Soms in 'n "emosionele oerwoud" (= "emotional jungle"). Ons wat oor die nodige kennis beskik, behoort hierdie mense by te staan. In die verband wil ek weer uit Philip Kennedy se boek aanhaal:

Often a perceived loss of faith is no more than the abandonment of a naieve or misguided understanding that could easily be replaced by a more constructive religious world-view.

(Kennedy 2006:xi)

Dit was vir my insiggewend toe ek tydens die bekgevegte oor my ses stellings lees dat die NG Gemeente Pretoria-Oosterlig beraders oplei om mense by te staan wat deur hul geloofsoortuigings "geboelie" word. Neels Jackson het 'n berig hieroor in TshwaneBeeld (15 Junie 2011) geskryf. Die probleem met die soort berading is dat dit mense nie totaal bevry nie, maar in gevangenskap van die meesterverhaal hou. Hieroor maak Güther Weber 'n veelseggende opmerking:

Only if we confront the suffering in the world with belief in a loving, omnipotent God do we have hopeless haggling and questions without answers.

(Weber 1998:78)

Predikante, pastore en priesters maak asof hulle antwoorde het op die vraagstuk van menslike lyding en op die natuurrampe wat die aarde tref, maar hulle het nie. In terme van die meesterverhaal mag dit wel na antwoorde klink, maar in terme van ons nuwere kennis en insig is dit onsin.

Laastens wil ek mense daarop wys dat die meesterverhaal (of dan die meta-narratief) pseudo-geskiedenis is. Verder dat predikante, pastore en priesters 'n mitologiese verhaal wat handel oor 'n sogenaamde breuk tussen God drie-enig en die mensdom verhistoriseer. Deur dít met die verhaal te doen, skep die kerke 'n teelaarde vir bygeloof en ongeloof. Güther Weber stel dit treffend:

The historicization of myth by the church makes it more and more difficult for present-day people to assent to faith and forces them into unbelief.

(Weber 1998:115)

Diegene wat afskeid geneem het van die Christelike meesterverhaal, sal nooit weer 'n voltooide en afgeronde meesterverhaal kan hê nie. Ons kennis laat so iets nie meer toe nie. Ons is in die een-en-twintigste eeu uitgelewer aan 'n durende proses van vertelling en hervertelling, interpretasie en herinterpretasie.

Daar is wel 'n paar verhale wat ons tans kan help met die soek en skep van sin. Een hiervan is die moderne skeppingsverhaal soos wetenskaplikes dit aan ons voorhou. Ons weet vir seker dat ons as mense nie los staan van die res van die lewende en nie-lewende dinge op aarde nie. Die mensspesie waartoe ons behoort (homo sapiens) het oor miljoene jare uit ander lewensvorme geëvolueer. Vóór ons bestaan, het miljoene jare voorafgegaan en ná ons bestaan, sal nog miljoene jare volg. Nóg die aarde, nóg die mens is die spilpunt waaromheen die heelal wentel. In hierdie groot uitdyende heelal met sy miljarde sterre en sterrestelsels is ons nietige wesens, maar tog bevoorreg omdat ons nie net oor bewussyn nie, maar ook selfbewussyn beskik. Dis juis die tot bewussyn- en tot selfbewussyn-kom wat 'n geweldige traumatiese ervaring vir die vroeëre mense was. Hierdie bewussyn hou in dat mense die enigste wesens is wat weet dat hulle sal sterf en wat met daardie wete daagliks moet saamleef. Godsdiens het waarskynlik ontstaan om mense te help om met hierdie trauma saam te kan leef. Wat hierdie aspek betref, moet ons respek vir ons voorgangers koester. Hulle het nie oor die kennis beskik waaroor ons tans beskik nie en godsdiens was 'n wyse om sin te maak en sin te skep in 'n wêreld waar die dood as 't ware om elke hoek en draai geloer het. Godsdienstige sisteme is nie eintlik daarop ingestel om waarheid te soek nie, maar om sekuriteit te verseker. Baie Christelike godsdiensleiers buit hierdie saak uit deur voor te hou dat húl denominasie die enigstes is wat 'n geldige paspoort vir die hemel kan uitreik. Wie nie aan hul kerke behoort nie se voorland is die hel.

5.   Slot: Die elemente van 'n nuwe singewende verhaal

Ek sluit met 'n brief wat ek verlede jaar geskryf het na aanleiding van 'n berig deur Neels Jackson.35 Ek het die brief nooit aangestuur nie omdat ek gemeen het dat die brief in die eerste plek te lank is en omdat ek weet dat die deursnee Beeldlesers geen waardering daarvoor sal hê nie. In die brief kom elemente van die nuwe singewende verhaal na vore:

Volgens Neels Jackson (Beeld 18 September 2010) gaan Christene dwarsoor die wêreld die volgende vier Sondae op die skepping fokus. Die aarde en alles wat daarop leef, staan immers voor 'n krisis van apokaliptiese omvang. Oor hierdie saak is Christene egter verdeeld. Dis te verstane, want die dominante teologie in die Weste is een wat fokus op mense en hul redding. Jesus se koms na die aarde het niks met die aarde of met die hemel te doen nie, maar alles met mense. Hulle staan immers onder God se oordeel vanweë die sondeval toentertyd in die paradys. Die oer-egpaar, Adam en Eva, het met hul ongehoorsaamheid alles beduiwel. Elke nuwe baba wat gebore word, is besmet met die gevolge van die sondeval. Mense moet gered word. Waarom nou aandag gee aan die aarde wat in elk geval moet vergaan? Waarom begaan wees oor renosters, walvisse, geelhoutbome, kewers en dies meer? Sendingwerk is veel belangriker as bewaringswerk. Die opdrag is "Gaan heen en maak dissipels van al die nasies", nie "Gaan heen en bewaar die aarde en alles daarop" nie.

Die idee om vier Sondae op die skepping te fokus, is lofwaardig, maar die broodnodige "vergroening" van die Christendom sal nie wortel skiet as daar nie 'n radikale verandering in die teologie kom nie. Die teologie van sondeval-verlossing-eindoordeel is ongeskik vir die huidige krisis. Die Christendom het 'n nuwe teologie nodig. Dit moet 'n teologie wees wat aanvaar dat ons nie in 'n drie-verdieping-heelal leef nie, maar in 'n uitdyende heelal. Dit moet 'n teologie wees wat aanvaar dat die skepping nie voltooi is nie, maar steeds voortgaan. Dit moet 'n teologie wees wat aanvaar dat mense nie die kroon van die skepping is nie, maar slegs 'n vertakking van "die boom van lewe". Dit moet 'n teologie wees wat die idee van 'n sondeval in die oertyd links laat en fokus op wat mense tans verkeerd doen. Dit moet 'n teologie wees wat God/die goddelike nie buite- en bokant die aarde in 'n hemel plaas nie, maar daar binne en verweef daarmee.

Ek hoop om binne die afsienbare tyd 'n artikel of twee oor die elemente van 'n nuwe singewende verhaal te skryf. Een ding staan egter vas en dit is dat die nuwe verhaal nie met 'n drieverdieping-heelal, 'n teïstiese godsidee en 'n gesagvolle Bybel kan werk nie. Ek wil graag die Bybel behou as deel van my kulturele erfenis en op Jesus van Nasaret wil ek my rug nie keer nie. Saam met Don Cupitt sê ook ek:

I can't save Jesus as divine saviour, but I can perhaps do something for him as ethical teacher – provided that you don't mind learning to see him not as a god who can't be wrong, but as a man who might be right.

(Cupitt 2001:135)

Die NHNners hoef nie met my hieroor saam te stem nie, maar ek hoop dat hulle my navorsing ernstig sal opneem en steeds met my in gesprek sal tree sodat ek fyner en beter kan formuleer. Die onderstaande diagram sal waarskynlik as basis dien van die nuwe verhaal. Die diagram is gemodelleer op die patroon van die diagram oor die meesterverhaal van die Westerse Christendom.

Die diagram verteenwoordig nie 'n geslote sisteem en dis ook nie speudo-geskiedenis nie. Dit wil bloot uitwys dat ons wetenskaplike kennis ons kultuur en ons nadenke oor onsself as mense beïnvloed. Die boonste drie pentagramme (kosmologie, geologie en biologie) weerspieël die hoofmomente van die nuwe skeppingsverhaal. Ons behoort hierdie skeppingsverhaal ernstig op te neem in ons politieke en ekonomiese beleide. Ons politiese en ekonomiese beleide kan dit nie meer bekostig om die feite te ignoreer dat ons as mense besig is om ons enigste woonplek in die heelal te besoedel en te vernietig nie. Ons kan daarom ook nie ons skrywers, filosowe en etici ignoreer wanneer hulle ons aandag vestig op die ekologiese ramp wat ons in die gesig staar nie. In die opsig kan ons die Bybel en die leringe van Jesus van Nasaret nie botweg ignoreer nie. Alhoewel die Bybel en Jesus se leringe nie afgestem is op ons leefwêreld nie, vorm dit deel van ons erfenis wat nie slegs gekoester behoort te word, maar waarna geluister kan word. In die Bybel lees ons hoe mense wat in die Ou Nabye Ooste gewoon het oor hul leefruimte nagedink en hoe hulle met die lewe en die dood geworstel het. Ons lees hoe hulle probeer oorleef het te midde van groot ryke wat gekom en gegaan het. Ons lees van magtige ryke en klein koninkrykies; konings wat kompromieë aangaan ter wille van oorlewing; van wysheidsleermeesters, profete en priesters wat mense probeer beïnvloed het. Ons lees van mense wat in eksistensiële nood verkeer en allerlei planne beraam om te oorleef. Hulle wêreld is inderdaad nie ons wêreld nie, maar hulle stories, gedigte, wysheidsspreuke, endiesmeer het deel geword van die wêreld waarin ons tans leef en probeer oorleef.

Bibliografie

Antony, L.M. 2007. Philosophers without gods: Meditations on atheism and the secular life. New York: Oxford University Press.
Ariarajah, W. 1993. The Bible and People of Other Faiths. Geneva: World Council of Churches.
Barr, J. 1992. The Garden of Eden and the Hope of Immortality. London: SCM.
Bernhardt, R. 1994. Christianity without absolutes. London: SCM.
Botha, P.J.J. 1993. Bondgenoot en beeld, krities nagedink: Gesprek tussen Bybelwetenskap en Sistematiese Teologie. Theologia Evangelica (SA), 26,48-68.
Bowden, J. 1990. Who's who in Theology. London: SCM.
Carroll, R.P. 1991. Wolf in the Sheepfold: The Bible as a Problem for Christianity. London: SPCK.
Craffert, P.F. 2011. Wat beteken dit om "oop religieuse gesprek" te voer? Lesing gelewer by 'n NHN-byeenkoms in Midrand op 5 Junie.
Cupitt, D. 2001. Reforming Christianity. Santa Rosa: Polebridge.
De Klerk, W. 1998. Die vreemde God en sy mense. Kaapstad: Human & Rousseau.
Durand, J.J.F. 1978. Die Sonde. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Wegwysers in die dogmatiek.)
–. 1982. Skepping, Mens, Voorsienigheid. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Wegwysers in die dogmatiek.)
–. 2005. Doodloopstrate van die geloof: 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming. Stellenbosch: Rapid Access.
Du Toit, B. 2000. God? Geloof in 'n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF-uitgewers.
Du Toit, P.R., Hofmeyr, J.W., Strauss, P.J. & Van der Merwe, J.M. 2002. Moeisame pad na vernuwing: Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie, 1974-2002. Bloemfontein: Barnabas.
Ferreira, A. 1996. Die dag toe ons god gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin. Kaapstad: Queillerie.
Gillis, C. 1993. Pluralism: A New Paradigm for theology. Louvain: Peeters. (Louvain Theological & Pastoral Monographs 12.)
Grigg, R. 2008. Beyond the God Delusion: How Radical Theology Harmonizes Science and Religion. Minneapolis: Fortress.
Heyns, J. 1969. Sterwende Christendom? 'n Teologie in die greep van die tydgees. Kaapstad: Tafelberg.
–. 1978. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
–. 1992. Inleiding tot die Dogmatiek: aan die hand van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Hick, J. 1995. The Rainbow of Faiths: Critical Dialogues on Religious Pluralism. London: SCM.
Jackson, N. 2010. Gee ons om vir God se aarde? Beeld, 18 September 2010.
–. 2011a. Ek kies steeds die kerk. Beeld 26 Mei 2011.
–. 2011b. Geloofsvrae moet nie trauma vererger nie. Tshwane-Beeld, 15 Junie 2011.
Jonker, W.D. 1977. Christus, die Middelaar. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Wegwysers in die dogmatiek.)
König, A. 1969. Jesus Christus die Eschatos: die fundering en struktuur van die eskatologie as teleologiese Christologie. D.D. proefskrif: Universiteit van Pretoria.
–. 1975. Hier is Ek! Gelowige nagedink oor God. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Gelowige nagedink deel 1.)
–. 1980. Jesus die laaste: Gelowig nagedink oor die einde. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Gelowige nagedink deel 2.)
–. 1982. Hy kan weer en meer: Gelowig nagedink oor die skepping. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Gelowige nagedink deel 3.)
–. 1991. Bondgenoot en beeld: Gelowig nagedink oor die wese van die mens en die sonde. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Gelowige nagedink deel 4.)
–. 1993a. Bondgenoot en beeld: die gesprek duur voort. Theologia Evangelica 26:93-94.
–. 1993b. Menslike mense: Gelowig nagedink oor die mens en die sonde in die praktyk. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (Gelowige nagedink deel 5.)
–. 2009. Die Evangelie is op die Spel: Die verwarring oor die Bybel, en oor Jesus se lewe, sterwe en opstanding. 'n Alternatief op liberalisme en fundamentalisme. Wellington: LuxVerbi.BM.
Küng, H., Van Ess, J., Von Stietencron, H., & Bechert, H. 1986. Christianity and the World Religions: Paths of Dialogue with Islam, Hinduism, and Buddhism. London: SCM.
Louw, C. 2000. Ope brief aan Willem de Klerk. Dainfern: Praag.
–. 2001. Boetman en die swanesang van die verligtes. Kaapstad: Human & Rousseau.
Mollett, T., Grundling, E., Van Herden, E. (samest.) 2004. Die omstrede God: Bestaan God of nie? Die groot debat op www.litnet.co.za. Stellenbosch: Rapid Access.
Muller, P. (red.) 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.
Nel, A. 2003. Op soek na God ... buite die kerk? Wen weer ontnugterde gelowiges se vertroue. Wellington: Lux Verbi.BM.
Nicol, W. 2000. Godsdiens wat wérk: Ontdek die soort godsdiens wat vir jou die beste werk. Wellington: Lux Verbi.BM.
Noll, M.A. 1991. Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible. Leicester: Apollos.
Race, A. 1993. Christians and Religious Pluralism: Patterns in the Christian Theology of Religions. (2nd ed.) London: SCM.
Sæbø, M. 1995. Some problems of writing a research history of Old Testament studies in the latter part of the nineteenth century with special regard to the life and work of William Robertson Smith. In Johnstone, W. (ed.), William Roberston Smith: Essays in reassessment, 243-251. Sheffield: Sheffield Academic Press. (JSOT Supplement 189.)
Salemink, T. 1997. De Afrikaanse Mythe. Kampen: Kok.
Saperstein, M. 1989. Moments of Crisis in Jewish-Christian Relations. London: SCM.
Scholder, K. 1990. The Birth of Modern Critical Theology: Origins and problems of biblical criticism in the seventeenth century. London: SCM.
Spangenberg, I.J.J. 1993. Galileo Galilei en die boek Prediker: 'n Les uit die kerkgeskiedenis. Theologia Evangelica (SA) 26, 121-131.
–. 1994. Paradigmaveranderinge in die Bybelwetenskappe: 'n Bydrae tot die gesprek tussen die Bybelwetenskappe en Sistematiese Teologie. Religion & Theology 1, 144-184.
–. 1996. Die Ned Geref Kerk, die boek Jona en religieuse pluralisme. Ongepubliseerde referaat gelewer tydens die OTWSA-kongres op Stellenbosch, 3 September 1996.
–. 1998. Perspektiewe op die Bybel: God se woord in mensetaal. Pretoria: J.L. van Schaik.
–. 2000. Groot debat vir Christene het maar pas begin. Rapport, 2 Januarie 2000.
–. 2000. Godsdiens-kreatief: Dié met ander geloof is medemens. Beeld, 10 Januarie 2000.
–. 2001. Christene en die tydsgees: Nuwe idees oor waarheid vat pos. Rapport, 6 Mei 2001.
–. 2002a. Adam, Eva, slang verhaalkarakters: Die mens nie 'n sondaar weens húl sondes. Beeld, 15 Julie 2002.
–. 2002b. Beleef die Christelike Teologie soos met die vorige eeuwending weer 'n paradigmaverandering? Hervormde Teologiese Studies 58, 100-117.
–. 2003a. Wat moet ons weet en wat kan ons nog glo? Ned Geref Teologiese Tydskrif 44, 147-160.
–. 2003b. Teologie op die markplein: 'n Post-apartheid teoloog dink na oor sy geloof en leefwêreld. Pretoria: Unisa CB Powell Bybelsentrum.
–. 2004. Om oor God te praat: 'n Kritiese oorsig van gesprekke onder Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie (1998-2003) Verbum et Ecclesia 25, 274-293.
–. 2006. Oor doodloopstrate en omweë: Kanttekening by die boek Doodloopstrate van die geloof – 'n Perspektief op die Nuwe Hervorming. Verbum et Ecclesia 27, 361-373.
–. 2007a. Postmoderne Bybelwetenskap en die Christelike godsdiens – kanttekeninge by die boek Geloof sonder sekerhede: Besinning vir eietydse gelowiges. Ned Geref Teol Tydskrif 48, 188-201.
–. 2007b. Can a major religion change? Reading Genesis 1-3 in the Twenty-First Century. Verbum et Ecclesia 28, 259-279.
–. 2009a. Darwin en die Christelike geloof (1809-2009). NHN-byeenkoms Midrand, 8 Februarie 2009.
–. 2009b. Darwin, die Bybel en die sondeval. Beeld-By 14 Februarie 2009, p. 14.
–. 2009c. The doctrines of original sin and the virgin birth: divine revelation or human construct? Verbum et Ecclesia 30, 221-242. –. 2011a. Die Jesus Seminaar vier sy eerste kwarteeu: Nabetragtings van 'n buitestander. LitNet Akademies. www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=103440&cat_id=1905
–. 2011b. Van onverwoesbare binnestander tot onverwoesbare buitestander, in Nolte, C. Van Wyk, D. & Atterbury, L. (samest.), Hier staan ek. Kaapstad: Griffel Media. (Die boek verskyn hopelik in Augustus 2011.)
Swanepoel, J.F. 1997. My hart wil Afrika. Kaapstad: Queillerie.
The Jerusalem Bible: The Holy Scriptures: Torah, Nebi'im, Ketubim 2000. Jerusalem: Koren.
Theron, P.F. 1978. Die Ekklesia as Kosmies-eskatologiese teken – Die Eenheid van die Kerk as "Profesie" van die Eskatologiese Vrede. Pretoria: NG Kerkboekhandel. (RGN Publikasiereeks nr. 66.)
–. God se somer kom. Kaapstad: Lux Verbi.
Thom, J. 2006. Soos 'n Engel van die lig: 'n Eindtydroman. Vanderbijlpark: Carpe Diem Media.
Van Huyssteen, W. & Du Toit, B. 1982. Geloof en Skrifgesag: 'n Analise van die Skrifgesagprobleem na aanleiding van die rapport "God met ons". Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Van Niekerk, A.A. 2005. Geloof sonder sekerhede: Besinning vir eietydse gelowiges. Wellington: Lux Verbi.BM.
Van Wyk, J.H. 2003. Die Nuwe Hervorming: verwagting of verydeling? In die Skriflig 37(3), 345-373.
Walters, M.M. 1996. Sprekende van God. Kaapstad: Tafelberg.
Weber, G. 1998. I Believe, I Doubt: Notes on Christian Experience. London: SCM.
Wiggins, J.B. 1996. In Praise of Religious Diversity. New York: Routledge.
Zink, J. 1997. Jörg Zink, in Moltmann, J. (ed.), How I Have Changed: Reflections on Thirty Years of Theology, 57-64. London: SCM.

Eindnotas

1. Neels Jackson se artikel het op Donderdag 26 Mei 2011 in Beeld verskyn onder die opskrif: "Ek kies steeds die kerk". Daarin het hy vyf stellings op tafel gesit oor waarom hy verkies om steeds lidmaat van die kerk te wees.

2. Die ses stellings lui soos volg:

3. Sic (tussen hakies) word gebruik om te beklemtoon dat die oorspronklike skrywer dit self só gestel het en dat dit nie 'n tikfout deur 'n latere skrywer is nie.

4. Met "oop gesprekke" bedoel ek "gesprekke wat in die openbaar in toeganklike taal gevoer word, dis openhartige gesprekke en mense luister na mekaar."

5. Die woord "drempel-Christene" ontleen ek aan Okke Jager, 'n Nederlandse predikant. Hy het die woord gemunt om na mense te verwys wat nie meer met die tradisionele belydenisse kan identifiseer nie, maar wat tog 'n diep behoefte aan spiritualiteit het. Hulle staan as 't ware op die ingangstrappe van die kerkgeboue, maar gaan nie meer in nie, want hulle beleef telkens 'n bevreemding.

6. Die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake het die opdrag ontvang om 'n verslag daaroor vir die volgende sinodesitting voor te berei. Flip Theron het die verslag saamgestel en my insae daarin laat kry voordat dit ter tafel geneem is. Die verslag het, soos sovele ander kerklike verslae, na twee kante toe probeer praat.

7. Gedurende hierdie periode het ek heelwat oor die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste gelees. Die volgende geleerdes het my sienings hieroor beïnvloed: Wesley Ariarajah (1993), Reinhold Bernhardt (1994), Chester Gillis (1993), John Hick (1995), Hans Küng (1986), Alan Race (1993), Theo Salemink ((1997) en James B. Wiggins (1996).

8. Die titel van die referaat was: "Die Ned Geref Kerk, die boek Jona en religieuse pluralisme."

9. Ek was tot einde 2005 deel van die paneel.

10. Die artikel het in Rapport van 2 Januarie 2000 verskyn.

11. Die artikel het in Beeld van 10 Januarie 2000 verskyn.

12. Die klag is soos volg verwoord: "Die inhoud van die dwaalleer wat Prof. Spangenberg versprei, is dat Prof. Spangenberg mense en lidmate (insluitend ons) lei om tot een, meer of almal van die volgende gevolgtrekkings te kom:

13. Die gespreksgeleentheid is op 24 Julie 2000 aangebied.

14. Die referaat is in 2002 in die vaktydskrif Hervormde Teologiese Studies 58:100-117 gepubliseer.

15. Ten minste twee navorsers kan vermeld word. Mark A. Noll skryf hieroor in sy boek Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible (1991) en Magne Sæbø in 'n artikel met die titel "Some problems of writing a research history of Old Testament studies in the latter part of the nineteenth century with special regard to the life and work of William Robertson Smith" (1995).

16. Die lesing is op 11 April 2001 tydens die KKNK op Oudtshoorn gelewer.

17. Die verkorte brief het op 1 Mei 2000 in Beeld se middelblad verskyn, maar die uitgebreide weergawe is min of meer dieselfde tyd deur die uitgewery Praag gepubliseer.

18. Die betrokke artikel het op Woensdag, ?? Mei 2000 in Beeld verskyn.

19. Diegene wat daarin geïnteresseerd is, kan my opstel "Van onverwoesbare binnestander tot onverwoesbare buitestander" in die boek Hier staan ek ... (Griffel Media, 2011) gaan lees.

20. Ben du Toit het saam met Wentzel van Huyssteen in 1982 'n boek oor die Gereformeerde Kerke in Nederland se studierapport God met ons ... over de aard van het Schriftgezag (1981) gepubliseer. Hulle het positief oor die rapport geoordeel. Ben was deel van Wentzel se studiegroep by die Universiteit van Port Elizabeth.

21. Die resensie het in Rapport van 6 Mei 2001 verskyn.

22. Die boek Moeisame pad na vernuwing: Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie, 1974-2002 is geskryf deur Flip du Toit, Hoffie Hofmeyr, Piet Strauss en Johan van der Merwe as 'n soort gedenkbundel vir professor P.B. van der Watt wat (volgens die skrywers) "die verhaal van die NG Kerk tot in 1975 in vier boekdele beskryf het."

23. Die lesing is onder die titel "Om oor God te praat: 'n Kritiese oorsig van gesprekke onder Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie (1998-2003)" in Verbum et Ecclesia 25 (2004), 274-293 gepubliseer.

24. Die artikel dra die titel "Adam, Eva, slang verhaalkarakters: Die mens nie 'n sondaar weens húl sondes" en dit het in Beeld, 15 Julie 2002, verskyn.

25. Die voordrag is as 'n artikel in die Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif 44 (2003) gepubliseer.

26. Ek het dit op die patroon van die trappespreuke in die boek Spreuke geskryf, daarom het die opskrif gelui: "Vyf, ja ses redes..." Vergelyk Spreuke 30:18-33.

27. Kennedy verwys hier na die boek Varieties of Unbelief: From Epicurus to Sartre saamgestel deur J.C.A. Gaskin (New York: Macmillan, 1989).

28. Marc Saperstein skryf onder andere hieroor in sy boek Moments of Crisis in Jewish-Christian Relations (1989).

29. Vergelyk die titel van sy boek God se somer kom (1984).

30. Ek het my idees met Hein Reitmann gedeel en hy het na 'n paar dae soos volg op my diagram en insigte gereageer: "As 'n mens kloksgewys vanaf skepping deur die stappe gaan, dan lyk dit of elke opeenvolgende stap ontstaan het (1) om te kompenseer vir die tekortkominge van die vorige stap, en (2) erger nog, om die probleme wat die vorige stap geskep het, te probeer oplos. Ek stem saam dat dit 'n geslote sisteem is, as gevolg van twee redes: (1) al die stappe is interafhanklik, en (2) meeste van die stappe lê of in die verre verlede of in die verre toekoms, met die gevolg dat dit onaantasbaar is. Aan die einde van die dag word die hele proses gedryf deur 'n valse probleemstelling. As gevolg daarvan kan 'n mens nie verwag dat dit tot 'n finale of bevredigende oplossing kan lei nie. Myns insiens lê die valsheid in die verwagting dat die oorspronklike skepping en die oorspronklike god perfek was, in die sin dat dit alles gerig was daarop om die mens te dien. Al die stappe wat daarop volg is niks anders as 'n uitdrukking van die mens se frustrasie met alles wat dit weerspreek nie."

31. Pieter Botha het die boek aan grondige kritiek onderwerp (Botha 1993) en ek het later daarop ingespeel (Spangenberg 1994). Adrio König was nie baie ingenome met die kritiek nie (vgl. König 1993a).

32. Sommige predikante skryf novelles en romans waarin hulle op bedekte wyse kritiek lewer. Vergelyk die roman van Jaco Thom (2006).

33. Ek het 'n resensie-artikel oor die boek geskryf en probeer uitwys dat Anton nie konsekwent in sy redenasies is nie. Die artikel dra die titel "Postmoderne Bybelwetenskap en die Christelike godsdiens" (2007a).

34. Vergelyk my artikel "Galileo Galilei en die boek Prediker: 'n Les uit die kerkgeskiedenis" (1993).

35. Die artikel dra die opskrif "Gee ons om vir God se aarde?" en het in die rubriek "Beeld-deurloop" van 18 September 2010 verskyn.

Sakkie Spangenberg, Departement Ou Testament en Ou Nabye Oosterse Studie, Universiteit van Suid-Afrika.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za