Wat is Spiritualiteit?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Februarie 2010

Een oggend vroeg ry ek verby 'n park in Pretoria. Daar is nog niemand op straat nie en 'n dun mistigheid hang oor die omgewing. Uit die hoek van my oog gewaar ek 'n figuur in die park. Dis 'n bejaarde swartman, omring deur 'n aantal styfgestopte plastieksakke. Klaarblyklik iemand uit die diep platteland wat in die stad sy inkopies kom doen en die nag in die park deurgebring het.

Daar hang 'n aura van waardigheid om hom, soos wat 'n mens nie gewoonlik aantref by mense wat die nag in die park geslaap het nie, maar soos iemand wat deur die Afrika-bos op reis is. Die park was waarskynlik maar net een van 'n reeks oornagplekke, voordat hy weer sy huis sal bereik.

Sonder om twee keer te dink trek ek my kar op die sypaadjie. Sprakeloos sit ek en kyk hoe hy sy kierie tussen sy twee hande neem, en 'n hoogs gestileerde rituele dans begin uitvoer. Waardig, soos 'n blou kraanvoel wat sy paringsdans doen; of soos 'n hoë priester in die allerheiligste van 'n tempel. Geen lukrake bewegings nie, maar bewegings wat hy deur sy lewe waarskynlik al 'n duisend maal uitgevoer het.

Met 'n paar spiraalbewegings beweeg hy vanuit die middelpunt van die slaapplek totdat hy vierkant na die opkomende son staan en kyk. Met die bopunt van sy kierie tussen die twee palms van sy hande maak hy 'n diep buiging na die Ooste. Toe dans hy weer sy spiraaldans, totdat sy gesig na die Weste kyk. Weer buig hy diep voordat hy sy spiraaldans na die Suide voortsit het en toe na die Noorde.

Daar was waardigheid, ja selfs majesteit, in elke beweging wat hy maak. Die deel van die park waarop hy gedans het was nie langer net 'n paar bome met grasperk daaronder nie. Dit het heilige ruimte geword en die plek vanwaar hy sy spiraalbewegings uitgevoer het was vir daardie oomblik die axis mundi, die middelpunt van die wêreld.

Ek self is nie 'n blote toeskouer wat van buite af na iets raars kyk nie, maar 'n deelnemer aan 'n plegtige ritueel. Ook die bome neem deel, die gras en die wolke. Alles word een; alles deel van dieselfde misterie.

Verstom het ek besef dat ek besig is om 'n oomblik van heiligheid te beleef, soos nog nooit voorheen in my lewe nie. Toe hy na my kant toe dans, vou ek onwillekeurig my hande in die namaste – die goddelike in my herken die goddelike in jou – 'n gebaar wat hy raaksien en met 'n buiging erken, voordat hy onverstoord verder dans.

Daarna het ek dikwels gewonder oor hoeveel oomblikke ek al beleef het wat werklik deurtrek was met 'n gevoel van heiligheid. Geskok het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit so min was dat ek dit op die vingers van my een hand kan aftel.

Daar was die besoek aan een van Iran se heilige stede, Meshed, met sy manjifieke moskee, waarvan die koepel met 500 kilogram goud oortrek is. Soveel kosbare voorwerpe het ek lanklaas op een plek byeen gesien, maar daar was geen gevoel van heiligheid nie, net 'n besige kom en gaan van "religieuse toeriste."

Daardie middag het 'n vriend wat ons daar gemaak het, ons na 'n klein en verwaarloosde moskee net buite die stad geneem. Daar onder die plataanbome het groepies ou mans kruisbeen gesit, met die Koran, in groot druk, op 'n boekstaandertjie voor hulle. Elkeen het stil, maar prewelend daaruit gelees, in die oortuiging dat daar geen gebed kan wees sonder dat 'n mens se lippe minstens beweeg nie.

Hoe meer ek na hulle staan en kyk het, hoe meer bewus het ek geword van die atmosfeer van heiligheid wat oor die hele tuin hang. Weer het alles een geword: die mense, die bome, die moskee. Alles was deel van een kosmiese misterie; van 'n onvergeetlike heilige oomblik.

Nog so 'n oomblik het ek by Jerusalem se klaagmuur beleef. 'n Groep kibuttzim het met 'n skoolbus aangekom om 'n jong seun se bar mitzvah te vier. Omdat vroue nie agter die afskorting by die muur toegelaat word nie, het hulle hom sommer oor die heining getel, sodat hy langs die muur, tussen al die ander mans, sy stukkie Torah vir die dag kan lees en so sy plek formeel onder die volwassenes kan inneem.

Die vroue hang soos vinke oor die reëling om te kyk. Toe die plegtigheid verby is, gee die mans hom sonder seremonie weer oor die reëling aan en die vroue gryp hom en begin 'n uitbundige reidans wat oor die hele lengte en breedte van die plein strek. Vrolik en uitbundig, soos 'n mens voor die aangesig van God behoort te wees. Alle ander mense moes letterlik haastig padgee, as hulle nie ook deel van hierdie dans wou word nie.

Skielik het die dansers op 'n deel van die plein afgekoers, 'n paar keer in die rondte gedans en toe hulle padgee, kon ek 'n ortodokse rabbyn sien wat laag buig, met sy hande seënend op die kop van 'n seuntjie van omtrent drie jaar oud. Beide van hulle opsigtelik bewus van die waardigheid van die oomblik.

Weer het alles om hulle een geword: die Klaagmuur, die mense, die dansers, ek en die rabbyn en die seuntjie. Dit was asof ons almal saam geseën word, terwyl die tyd vir 'n paar oomblikke stil staan. Ook dít was 'n oomblik van heiligheid wat my altyd bygebly het.

Dan was daar die oggend toe ek in my studeerkamer sit en mediteer het oor Meister Eckhardt se woorde: "God is van lig duisternis". Die mistieke eenheid met die Ligtende Duisternis wat ek daardie oggend bereik het, kan in geen taal beskryf word nie. Dit was of 'n fontein diep binne in my oopgegaan en na bo begin borrel en my dorstige hart benat het. Weer het die tyd stilgestaan en alles het een geword. Daar was geen skeiding meer tussen die heilige en die alledaagse nie.

Ná dekades het ek nog nooit weer so 'n oomblik van vervoering beleef nie, maar die Lewende Water waarvan ek daardie oggend gedrink het, voed nog steeds my geestelike lewe deur voor- en deur teenspoed. Veral teenspoed, waarvan daar baie was, want 'n spirituele pad is nie in die eerste plek 'n pad van vreugde en hoogtepunte nie, maar 'n pad van aflegging, van suiwering. 'n Pad waarop 'n mens meer en meer bewus word van die Misterie wat alle lewe onderlê en van die eenheid en verwantskap van alles wat bestaan.

Miskien was die Switserse sielkunde, Carl Jung, reg toe hy gesê het: "Godsdiens is 'n verdedigingsmeganisme teen 'n direkte belewenis van God."

'n Mens kan sy bedoeling verduidelik aan die hand van 'n toneel wat tot diep in die twintigste eeu jaarliks in Lapland afgespeel het. Elke lente, wanneer die ys van die Toendra begin smelt, word die velde oortrek met duisende klein sampioene. Die rendiere eet hierdie sampioene sonder enige klaarblyklike nagevolge, maar as 'n mens die uriene van die rendiere drink, raak jy in 'n geestesvervoering en beleef oomblikke van mistieke eenheid met die Misterie wat die hele skepping onderlê.

Hierdie geestesvervoering is egter as te kragtig beskou vir vroue en kinders. Die geestelike "volts" daarvan, moes eers verlaag word tot 'n vlak waar dit hulle geen skade meer kan aandoen nie – daarom mag hulle die uriene van die mans drink en 'n "geredigeerde" weergawe van die mans se Groot Vervoering ondergaan.

Ook ons eie San-mense het dieselfde gedoen. Daar is 'n tekening in die Drakensberg waar 'n sjamaan, na die eet van heilige sampioene, die soma in 'n velsak opvang, sodat ander lede van die groep 'n "klein openbaring" van die "Groot Openbaring" kan ontvang.

Alle godsdienste het hul oorsprong in "Groot Openbarings" wat hul stigters ontvang het. Moses het sprakeloos voor die brandende doringbos gestaan en sy skoene uitgetrek omdat hy op heilige grond was. Later is hy op die berg Sinai toegelaat om God se rugkant te sien, omdat God se volle heerlikheid te groot sou gewees het om te verduur. Hierdie verskriklike belewenis het hy ter wille van die gewone volk verduur, want so 'n direkte ondervinding sou vir hulle ondraagbaar swaar gewees het.

Om hulle te laat deel in 'n "klein openbaring" het Moses reëls en wette met hom saamgebring van die berg af, waarvolgens die volk moes lewe sodat God se teenwoordigheid naby hulle kan bly sonder om hulle te vernietig.

Ook die profete van die Ou Testament is dikwels deur die teenwoordigheid van 'n Groot Openbaring oorval op 'n manier wat hulle soms tot by die rand van waansin gedryf het – en daardie grens partykeer laat oorsteek het. Sulke direkte ervaringe van die Misterie is al beskryf as 'n misterium tremendum et fascinans – 'n oorweldigende en tog fassinerende ervaring. Fassinerend omdat dit binne in 'n mens self ervaarbaar word, dikwels as 'n psigiese energie wat opborrel en 'n mens kan oorweldig.

Trouens die oorweldiging kan soms so groot wees dat 'n mens die grens na waansin kan oorsteek. Soos die drie rabbyne in die Joodse mitologie wat in vervoering weggeruk is om die heerlikheid van God se troonwa, wat deur Esegiël beskryf is, te aanskou. Een van hulle het sy verstand verloor en daarna nooit weer gepraat nie. 'n Ander een kon hoegenaamd nie ophou praat oor sy ondervinding nie en hy het later so lastig geword dat as mense hom sien aankom se hulle: "Koes, daar kom ou Troonwa met sy praatjies weer aan." Die derde een het die ervaring in sy hart bewaar, huis toe gegaan en vir sy vrou 'n liefdesbrief geskryf.

Mohammed het ook so 'n Groot Openbaring gehad toe hy in 'n grot sit en mediteer het en die engel Gabriël hom voorgekeer en beveel het: "Ikra" (resiteer). Die heilige woorde wat hom meegedeel is, moes hy aan sy gemeenskap gaan resiteer, iets wat hy as veragtelik beskou het, weens die slegte reputasie wat die "resiteerders" of profete onder sy mense gehad het. Maar Gabriël was onverbiddelik. Ten einde laas het Mohammed gaan resiteer en die openbaringe wat hy geresiteer het, is deur vriende neergeskryf en só het die Koran, Islam se heilige boek, ontstaan.

Om die woorde self uit Gabriël se mond te verneem, sou vir gewone mense onduldbaar swaar gewees het, maar toe dit uit Mohammed se mond kom, was die "volt"-lading daarvan afgebring tot 'n peil waar gewone mense dit kon verduur en 'n "klein openbaring" kon hê.

Die teologie is in wese 'n stel reëls oor hoe om met die Misterie om te gaan, sonder om daardeur vernietig te word. Dit leer ons hoe om die Misterie "korrek" te dien en die korrekte rituele op die regte tye uit te voer; hoe om "reg" te glo en "reg" te bid. Die rol van die kerk is om ons te beskerm teen 'n direkte, persoonlike ontmoeting met die Misterie en al die verskriklikheid wat daarmee saamhang.

In die vyfde eeu het die Griekse mistikus, wat onder die skuilnaam Dionysos die Areopagiet geskryf het, al gewaarsku teen die neiging om die Misterie in woorde en formules te probeer vasvang, asof ons hoegenaamd kan weet wat die Misterie, wat ons soms God noem, werklik is. Dionysos het egter getroos dat 'n mens tog 'n geldige ervaring van God kan hê deur jou toe te vou in die wolk wat oor die berg Sinai hang.

In die veertiende eeu het 'n onbekende Engelse kloosterling (ons weet nie eens of dit 'n man of 'n vrou is nie) 'n traktaatjie geskryf met die titel The Cloud of Unkowing. Hierin is Dionysos se beeld van die wolk oor Sinai verder geneem deur te verduidelik hoe 'n mens God kan ontmoet wanneer jy bereid is om afstand te doen van woorde en konsepte oor God en net stil in Sy teenwoordigheid sit en vervul word van wat die Misterie bereid is om aan ons bekend te maak.

Hierdie "wolk van onwetenheid" het in die laat twintigste eeu die simbool begin word van 'n nuwe soeke na 'n ervaring van die Misterie. 'n Manier van soek wat 'n mens spiritualiteit kan noem. 'n Soeke buite dogmas en opvatings en formules om, en wat die heel beste as meditasie en kontemplasie beskryf kan word. 'n Swygsame sit voor die Misterie in die hoop dat iets van die misterie ook in jou eie hart ervaarbaar sal word.

Joseph Campbell, die Amerikaanse geleerde wat van die vergelykende studie van mitologie 'n akademiese vakrigting gemaak het, skryf in een van sy lesings (The Confrontation of East and West in Religion) dat in die Ooste die goddelike misterie gesoek word buite alle menslike kategorieë van denke en gevoel, "anderkant name en vorme, en beslis anderkant konsepte soos 'n genadige of 'n bestraffende persoonlikheid, 'n uitverkieser van een groep mense bo 'n ander, 'n trooster van van mense wat bid en 'n vernietiger van hulle wat dit nie doen nie. Om sulke menslike en antropomorfiese gedagtes en gevoelens aan die misterie toe te ken is – vanuit die Indiese standpunt – bloot 'n godsdiens vir kinders. Die hoogtepunt waarna volwassenes streef is om hierdie misterie wat anderkant kategorieë, name, vorme, sentimente en gedagtes lê, as die grond van 'n mens se eie wese te herken."

Dit is 'n ideaal wat mistici deur alle eeue en van alle godsdienste met die Ooste deel. Die Nederlandse mistieke digter, Jan Luykens (1649-1712) beskryf dit só:

In meende ook die Godheid woonde verre,
In eenen troon, hoog boven maan en sterre.
En heften menigmaal mijn oog,
Met diep versugting naar omhoog...

Maar toen gij u beliefden te openbaren,
Toen zag ik niets van boven nedervaren,
Maar in den grond van mijn gemoed,
Daar wierd het liefelijk ende goed.
Daar kwam gij uit der diepten uitwaarts dringen
En als een bron mijn dorstig hart bespringen,
Zodat ik u, o God, bevond
Te zijn den grond van mijnen grond.

(Ek het ook eers gemeen God woon ver, in 'n troon, bokant maan en sterre, en het dikwels met verlange na bo gekyk. Maar toe dit u behaag het om u te openbaar, het ek niks van bo na onder sien vaar nie. Maar in die grond van my gemoed, daar het dit lieflik en soet geword. Toe dring u uit die dieptes na bo, soos 'n fontein wat my dorstige hart besproei. Toe het ek, o God, besef dat u die Grond is van my eie grond.)

Die drie Abrahamitiese godsdienste, Christendom, Judaïsme en Islam, het egter 'n onblusbare begeerte om God te probeer vasvang in konsepte, formules en dogmas. 'n Neiging wat vandag nog onverpoosd voortduur. Juis hierdie opvattings en konsepte wat ons van God het, kan die laaste struikelblok word in die skep van 'n verhouding met die Groot Misterie.

Thomas Aquinas, (1225-1274) die grootste van die middeleeuse filosowe en teoloë, en vandag nog die stutpilaar van die Roomse teologie, het in sy Summa Theologiae 'n magistrale uiteensetting gegee van wat God is, hoe God funksioneer en hoe 'n hele teologie daaruit afgelei kan word. Daar word vertel dat nadat hy die laaste woorde van hierdie werk gedikteer het, hy sy kop tussen sy hande geneem en swaar gesug het. Toe sy sekretaris hom vra wat fout is, het hy net geantwoord dat alles wat hy geskryf het blote strooi is in vergelyking met die insig wat hy self gehad het en wat in geen woorde en konsepte uitgedruk kan word nie.

Van daardie dag af het hy geweier om weer oor die teologie te praat. Dit was 'n swye wat nie dae of weke geduur het nie, maar letterlik jare. Tot sy dood toe wou Thomas hom nooit weer spekulatief oor God uitlaat nie.

Die Grieks Ortodokse kerk het van vroeg af ernstige besware teen teologiese redenasies gehad. Die ware teoloog moet immers God self sien en beleef. Die standpunt van die Griekse kerk was dat menslike opvattings oor God, hoe goed of mooi ook al, ver te kort skiet by die werklikheid van die Misterie wat ons God noem.

Ons opvattings oor God kan selfs afgode word wat ons verhinder om 'n werklike verhouding met God op te bou. Die metafore waarmee ons God beskryf word later God, die woorde waarmee ons God beskyf, word God se ewige en onvervalsbare woorde ... Daarom moet 'n mens iewers op jou geestelike pad bereid wees om van al hierdie konsepte afstand te doen.

Ongelukkig is dit ook 'n pad wat dikwels afstuur op 'n botsing tussen "kerklikes" en "kontemplatiewes". Toe die Kwaker-gemeente van St Paul in Minnesota in 1968 in Bankok 'n ontmoeting gereël het tussen Christelike monnike en monnike uit die Zen Boeddhisme, het die twee groepe geen probleem gehad om mekaar te verstaan nie omdat hulle immers dieselfde soort geestelike pad bewandel. Die probleem het egter gelê by "kerklikes" van beide groepe, wat in sulke ontmoetings 'n bedreiging vir hul eie godsdiens gesien het.

Hoe meer 'n godsdiens geneig is om oor die godheid te rasionaliseer en aan God menslike kenmerke toe te skryf, soos liefde, haat, woede, jaloesie en onvergewingsgesindheid, hoe moeiliker word dit om 'n spirituele weg in te slaan. Hoe meer 'n mens die godheid vermenslik, hoe verder verwyder van die mens raak Dit.

God word die Gans Andere, die Onbereikbare en net om aan mistieke ontmoeting of eenwording met God te dink, soos wat deur die digter Jan Luyken beskryf is, word "godslaterlik."

Sulke godsdienste is ook geneig om hulself as die enigste "ware godsdiens" te beskou en alle mense wat nie deel van hul besondere gemeenskap is nie te beskou as "ongelowiges" en "onbekeerdes" wat eendag van God se genade uitgesluit sal word: mense teen wie kruistogte en jihad gevoer mag word.

Die doel van spiritualiteit aan die ander kant, is 'n persoonlike verhouding met die Groot Misterie, wat deur verskillende mense op verskillende name genoem word, maar wat die een energie is wat die hele skepping onderlê en wat so omvattend groot is dat watter naam 'n mens ook daaraan toeken; of watter metafoor ook al gebruik word om Dit mee te beskryf, niks anders as 'n leuen kan wees nie, omdat selfs ons beste pogings slegs maar 'n skerfie van die Oneindige Misterie kan beskryf...

Spiritualiteit kan dus omskryf word as 'n stil en swyende soeke na 'n lewende verhouding met die Misterie. 'n Verhouding wat uiteindelik tot psigiese heelheid sal lei.

Soos Jesus in die Evangelie van Thomas (vers 22) sê: "As julle die twee een maak en as julle die binnekant soos die buitekant maak, en die buitekant soos die binnekant, die bokant soos die onderkant; as julle manlik en vroulik een maak, sodat die manlike nie meer manlik is en die vroulike nie meer vroulik nie; en as julle (geestelike) oë maak in die plek van 'n oog, en 'n (geestelike) hand in die plek van 'n hand en 'n (geestelike) voet in die plek van 'n voet, dan sal julle die koninkryk binnegaan."

As 'n mens op hierdie manier heel geword het, en geestelike oë, hande en voete gekry het, sal 'n mens ook besef dat dit nie nodig is om vir "eendag" te wag om die Koninkryk binne te gaan nie, maar dat die Koninkryk in jou en rondom jou is; dat dit oor die aarde uitgesprei lê, maar dat min dit raaksien.

As 'n mens eers geestelik "heel" geword het, sal jy in staat wees om die ewige lewe te vind midde in die wêreld van geboorte en dood.

Dr. Piet Muller

1 Februarie 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za