.

Wat is ‘n verligte mens?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Oktober 2019

.

'n Paar jaar gelede het ek 'n byeenkoms in 'n Kwakerkerkie in die Amerikaanse stad St. Paul bygewoon. Die Kwakers preek of sing glad nie. Hulle sit net doodstil en as iemand werklik voel sy of hy word gedwing om iets te sê, sal sy opstaan en 'n paar woorde sê en weer gaan sit. Maar die stilte is oorheersend.

Toe ons na die byeenkoms staan en gesels, vertel iemand my dat hy twaalf jaar tevore as 'n ateïs die byeenkomste begin bywoon het. Na 'n paar jaar het hy tot sy verbasing agtergekom dat hy lankal nie meer 'n ateïs is nie.

Dit het vir my te goed geklink om waar te wees, maar later het ek agtergekom dat dit 'n taamlik algemene verskynsel onder Kwakers is. Die skrywer Geoffrey Hubbard vertel 'n soortgelyke verhaal. As 'n agnostikus wat in die natuurwetenskappe opgelei is het hy die Kwakers begin besoek en was onmiddellik deur die stilte verplig tot selfondersoek. Hy het besef dat die vraag of daar 'n God is nie vir hom so belangrik is as die feit dat hy self bestaan nie, en sal moet uitvind wat die sin en doel van sy eie lewe is en hoe hy dit moet lewe.

Sy uitgangspunt was dat hy 'n dier met 'n intellek is, wat hom in staat stel om die geheime van die meganistiese skepping in fyner en fyner besonderhede te beskryf. Met sy kennis van die brein se anatomie kon hy selfs sy gedagtes met groot noukeurigheid ondersoek. Maar hy het gou agtergekom dat anatomie nie kan verklaar wie en wat hy is nie. Telkens het hy gevind dat hy iets meer is as wat die wetenskap kan beskryf.

Van die oomblik af wat 'n mens tot hierdie besef kom, skryf hy, ontwikkel daar 'n dringende nuuskierigheid om agter te kom wat hierdie "iets meer" is. Want hoe meer 'n mens van jouself kan beskryf, hoe meer kom jy agter dat die "iets meer" steeds besig is om jou te ontwyk.

"Die antwoord op hierdie dilemma is om heeltemal stil te word, nie net liggaamlik nie maar veral ook geestelik. Pleks van alles met jou verstand te wil uitredeneer, staak ons die voortdurende argumente in die kop. Dan raak 'n mens bewus van jou eenheid met die res van die skepping en met 'n sinvolheid wat jou tot dusver ontwyk het. So ontdek 'n mens die gees wat in ons woon.

"Omdat ek 'n mens is kan ek nie anders as om met my liggaam en my brein te dink nie. Ek kan dus nie deur direkte ontleding sê of die gees apart van die liggaam en die intellek bestaan nie. Maar ek kan wel sê dat dit in my leef, en die opgetekende ervaring van andere, Kwaker en nie-Kwaker, Christen en nie-Christen, getuig dat ander mans en vroue dit ook gevind het, op elke tydstip en onder alle omstandighede.

"Dit wil lyk of die bestaan van hierdie goddelike gees nie deur die meganistiese werking van die brein bepaal word nie, maar deur die motivering wat rigting gee aan die menslike verstand. Dit is persoonlik, in die sin dat elkeen van ons 'n kanaal daarvoor is en bewus kan wees van die krag daarvan; en tog is dit ook universeel, omdat die goddelike gees wat in jou is, ook die gees is wat in my is. Hierin lê die verskil tussen 'n intellektuele analise van die menslike natuur, wat lei tot die vernietiging van enige sin vir eie waarde en uiteindelik lei tot wanhoop; en die ontdekking van 'n gees in ons wat doel en rigting aan ons lewens gee. Die ontdekking van hierdie gees lei tot die ontdekking van 'n onderliggende identiteit en universaliteit." (Quaker by Convincement, pp. 71-72).

'n Mens kan byvoeg dat wie die goddelike op hierdie manier ontdek het, nooit weer sal twyfel nie. Dit is die verskil tussen eie ervaring en "geloof". Wie werklik wil glo moet eers die onderwerp van sy geloof self prakties ontdek. Die Jesus van die Thomas-evangelie verwag daarom nooit van sy dissipels om enige leerstellings te aanvaar en te glo wat hulle nie self as waar en betroubaar ontdek het nie.

Maar vir hierdie soort ervaring is stilte nodig. Na sewe jaar se intensiewe studie het Boeddha 'n dag en 'n half onder 'n wildevyeboom sit en mediteer voordat hy verligting bereik het; daarna het hy nog sewe weke onder die boom gemediteer. Jesus was na sy doop veertig dae in die woestyn; en Mohammed het in 'n grot buite Mekka 'n retreat gaan hou, toe hy 'n visioen gehad het van die engel Gabriël wat hom dwing om te doen wat hy nie wil doen nie – om die woorde wat hy van God hoor te resiteer.
Maar wat is daardie "iets" wat 'n mens binne jouself moet ontdek? Daardie aspek van jouself wat groter is as die somtotaal van jou liggaamsdele?

Die antwoord hierop is weggesteek onder 2000 jaar se Christelike Ortodoksie, soos wat 'n groepie biskoppe, onder leiding van Keiser Konstantyn in die vierde eeu in die stad Nicea dit geformuleer het. Om weer die spoor daarvan te vind moet 'n mens terugkeer na die oorspronklike Joodse Jesus-volgelinge, dan lê die leidrade oop en bloot weggesteek oor al die evangelies.

Kom ons begin by die feit dat Jesus gereeld aan sy volgelinge sê dat hulle die kinders van die Lewende Vader is, maar na homself verwys hy deurentyd as die seun van die mens, oftewel, die seun van Adam. 'n Uitdrukking wat in die Joodse mistiek 'n baie besondere betekenis het. Dit verwys naamlik na Adam Kadmon, die mitiese nakomeling van Adam, wat die uitdrukking is van die potensiaal vir goedheid in die mens.

Hierdie vroeë Christene het nie geglo aan die erfsonde nie, dit is eers in die sesde eeu deur Augustinus in die Christendom ingedra. Vir hulle was die mens inherent goed, mits hy wakker word uit sy geestelike dood en as't ware sy gees afstof van alles wat daarop lê. Soos vers 1 van Thomas dit stel: As 'n mens ontwaak en die geheime betekenis van Jesus se woorde verstaan, sal hy die dood nie smaak nie. Met ander woorde, sal jy verlos wees van jou geestelike dood wat verhinder dat jy jou suiwer hart, jou eie goedgeaardheid, raaksien.

Daarom haal Paulus 'n gesang aan wat reeds in sy tyd gesing is:

Ontwaak jy wat slaap
En staan op uit die dood
En Christus sal oor jou skyn.

In Jesus se leeftyd was sy volgelinge bekend as Mense van die Weg, of as Mense van die Lig. In die Evangelie van Thomas se Jesus: "Daar is lig in 'n verligte mens, en hy verlig die hele wêreld. As 'n mens geen lig gee nie is hy duisternis." (Thos. 24)

Hierdie ligbeginsel wat in elke mens is het in Hebreeus en Aramees bekend gestaan as die Messias, in Grieks as die Christos en in Latyn as die Christus. Wanneer 'n mens werklik ontwaak en verligting bereik, besef jy dat jy self inderdaad 'n Christus is. Daarom verwys Paulus deurentyd na Jesus as Christus Jesus en waar 'n mens Jesus Christus sien, kan 'n mens dadelik vermoed dat dit 'n verskrywing of 'n doelbewuste verandering aan die grondteks is.

Ons moet onthou dat die tyd waarin Jesus gelewe het 'n voor-literêre tydperk was. Mense het nie uit boeke geleer nie, maar van mond tot mond, van meester tot leerling. Dat 'n leerling later groter kan word en meer insig as sy leermeester kan hê was 'n natuurlike gegewe. Jesus moedig dan ook gereeld sy dissipels aan deur vir hulle te sê dat hulle tot groter dinge as hy in staat is.
In Thomas leer ons trouens vir Jesus ken wat soos 'n Zenmeester sy leerlinge se koppe, by wyse van spreke, elke keer 'n bietjie groter ooprek, sodat hulle meer kan verstaan

Die Nederlandse Thomas-navorser, Gilles Quispel, sê dan ook: "Die Christen wat geproe het van die innerlike water wat Jesus in hom oopgeboor het, is nie 'n kneg of dienaar van Jesus nie; hy het 'n vriend en 'n gelyke geword. Dit is die teologie van die evangelie van Thomas."
Elkeen van ons is in staat om wakker te word en 'n verligte, 'n Christus, te word, mits ons bereid is om ons aan die dissipline van stilte te onderwerp.

Daarna sal ons lewe doodgewoon voortgaan; daar sal nie klappers ontplof of fanfares gespeel word nie; maar ons sal op 'n dieper en meer geestelike vlak lewe, sonder die begeerte om ander te oordeel of te veroordeel. Soos een van die Chinese Jesus-soetras dit stel:

"Moenie 'n ophef maak oor dogmas nie en vergeet van reg en verkeerd, sink of dryf, wen en verloor. Wees soos 'n spieël. Dit weerkaats alles: blou, geel en alle ander kleure, sonder om daaroor te oordeel. Hulle wat die Weg ontdek het, wat 'n gemoed vol vrede en vreugde bereik het, wat karma verstaan en wat hulle wysheid met ander deel, is soos 'n spieël wat alles weerkaats sonder om 'n spoor van hulself agter te laat."

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.