.

Wat is die mens?

Deur Johan Nel op 1 Augustus 2014

.

Ek het Abel Pienaar se ongepubliseerde onderhoud met 'n joernalis geniet (asook sy ander artikels).

Dit is ook die geval met 'n onlangse plasing van Anton van Niekerk op Beeld se webwerf, www.beeld.com/opinie/2013-11-12-forum-word-j-robo-sapiens

Albei se nuwe lewensbeskouinge word beïnvloed deur "onlangse" (veral die afgelope 200 jaar) verwikkelinge in die natuur- en ook sosiale wetenskappe.

Meeste van ons ken (of behoort dit te ken) Abel en Anton se agtergronde.

Ek moet daarom ook 'n ietsie van my agtergrond verskaf. Ek het maar in dieselfde konserwatiewe 20ste eeuse milieu as hulle opgegroei. Ek was gelukkig om my naskoolse militêre opleiding aan die Lugmag se Navigasieskool te Ysterplaat lugmagbasis te ondergaan. Dit het my akademies paraat gehou. Ek het daarna medies gestudeer en uiteindelik gespesialiseer in Ginekologie en Verloskunde.

My kennismake met naskoolse natuurwetenskap (alreeds op navigasieskool) het my die pad laat volg wat Werner Heisenberg so raak en in eg Duitse tradisie beskryf: "Der erste Schluck aus dem Becher der Wissenschaft führt zum Atheismus, aber auf dem Grund des Bechers wartet Gott."
Die algemene Engelse vertaling lui: "The first gulp from the glass (mug) of natural sciences will turn you into an atheist, but at the bottom of the glass God is waiting." (Ek dink mug is 'n beter vertaling as glass.) Vir die wie nie weet wie Heisenberg was nie, Google gerus.

Ek het 'n hele paar sulke beker-bodem ervarings in my loopbaan beleef, maar miskien later meer daaroor. Adam en Anton bly die hoofrede vir hierdie skrywe.

Ek geniet altyd hulle bydraes weens die debatteerbare punte wat hulle aanraak. Ek is nou naby aftrede en het nou meer tyd om aan die debat deel te neem.

Abel en Anton verwys na moderne ontdekkings en uitvindings en hoe dit hulle huidige denke beïnvloed.

Voor daar verder gelees word, besoek gerus die volgende twee web-bladsye:
http://askaphilosopher.wordpress.com/2012/06/12/is-artificial-intelligence-possible/
en
http://www.digitaltrends.com/mobile/computers-will-soon-make-us-irrelevant-apple-co-founder-warnsmsu-graduates/

Daar is aspekte wat baie min mense verder ontleed of nalaat om verder te ontleed. Hulle vul maar net weer die beker en ondersoek nie die bodem nie. In my veld is daar byvoorbeeld 'n paar tegnieke wat sekere "wonderwerke" wat in antieke literatuur beskryf word, in 'n heeltemal ander lig stel. Ek verwys na 'n paar:

  1. Patrick Steptoe en Robert Edwards se deurbraak met die geboorte van Louise Brown. Hulle tegnieke wat vir hierdie deurbraak verantwoordelik was, word al hoe meer verfynd. Dit word ook al hoe meer algemeen gebruik en is vandag in enige moderne hospitaal regoor die wêreld beskikbaar. Dit maak natuurlik maagdelike swangerskappe moontlik.
  2. Die verwekking van "Dolly the sheep" is natuurlik 'n uitvloeisel en verdere verfyning van Steptoe en Edwards se deurbraak.
  3. Die goed gedokumenteerde swangerskap van Elizabeth Adeney. Dit is nou moontlik om postmenopousale vroue swanger te maak.

Die moderne wetenskap het dus die vermoë om wat as bygelowige mites afgemaak word, te laat realiseer.

Anton verwys na die ontwikkeling van rekenaarwetenskap, genetiese manipulasie en die moontlikheid om menslike en masjien intelligensie te integreer. Hy verwys egter nie na driedimensionele drukkers nie. Die wat nie weet wat dit is nie, kan gerus "3D printers" Google. Die meer bekostigbare drukkers is tans nog prakties beperk tot die bou van modelle uit materiale met lae smeltpunte. Dit gaan nog baie verder verfyn word en drukkers wat in staat is om modelle uit enige materiaal (metale ingesluit) te bou, is alreeds 'n werklikheid. Daar word selfs bespiegel oor organiese materiaal (alles wat van lewende organismes afkomstig is).

Sagteware (rekenaarprogramme) wat hulle eie hardeware kan vervaardig is dus amper 'n werklikheid. Laat mens aan die genetiese kode dink. Kombineer nou so 'n hoogs gevorderde driedimensionele drukker met masjien intelligensie, en intelligente masjiene wat hulleself kan dupliseer word 'n werklikheid (of gebruik die "cyborg" intelligensie waarna Anton verwys in hierdie masjiene).

Hardeware word oud en raak onbruikbaar net soos biologiese lewe, maar programme nie. Prakties gesproke is programme onsterflik. Programme word maklik gestoor en die storing prosesse maak dit al hoe geriefliker en betroubaarder.

Ons het vandag "cloud storage" beskikbaar. Ontsaglik groot data storingsfasiliteite wat al hoe meer gesofistikeerd raak, is vrylik beskikbaar. Nie net programme en "backups" van data word gestoor nie. Al die moderne mens se doen late is word al hoe makliker gemonitor en gestoor. GPS gekoppelde toestelle, telefoon gesprekke, web kameras ens. se data word gestoor en is oombliklik beskikbaar. "Big Brother" word al hoe meer alomteenwoordig. Alomteenwoordigheid raak dus al hoe minder 'n mite en al hoe meer 'n werklikheid. Danksy Snowden, begin Jan Alleman dit nou ook besef.

Al wat nodig is om die gevorderde robot (waarna ek verwys het) "onsterflik" te maak is 'n gevorderde driedimensionele drukker en die robot se beheerstelsel (program). "Skynet," die vader (of moeder) van die "Terminators" is glad nie meer vergesog nie.

Hoe gaan die programmeerder wat hierdie intelligensie ontwikkel, verhoed dat Hitlers of ander booswigte op ons wêreld losgelaat word? Masjien intelligensie is tans nog hoofsaaklik van begaafde programmeerders afhanklik om te kan ontwikkel en te kan funksioneer. Beskik hierdie hoogs begaafde, hoogs intelligente programmeerders wat besig is om masjien intelligensie te ontwikkel, oor genoeg wysheid om "Skynets" te verhoed of te probeer verhoed?

Ek sou die volgende voorstel. Hierdie programme moet slegs in 'n absolute beheerde beskermde beperkte deel van rekenaar geheue ontwikkel word. Voor so 'n intelligensie losgelaat word, moet dit aan sekere voorwaardes en eienskappe voldoen. Asimov het in sy wetenskap-fiksie verhale sulke veiligheidskenmerke in sy robot karakters ingeskryf.

In die eerste webbladsy waarna ek vroeër verwys het ("Ask a philosopher") word die vraag gevra of vrye keuses deel is van intelligensie. Dit laat egter die vraag by my opkom of intelligensie kan ontwikkel sonder die bydrae van 'n voorafgaande intelligensie? Kan slegs intelligensie intelligensie skep? Die masjien intelligensie wat ons besig is om te ontwikkel is tog mensgemaak.

Is dit 'n Heisenberg bodem-ervaring of kan ons maar net die beker weer vul en dink dat Homo sapiens die eerste intelligente wese ooit is? Of dat die lewe orals waar dit ook al mag ontwikkel oor die vermoë beskik om intelligent te word? Of moes intelligensie tog êrens 'n begin gehad het of was dit maar altyd deel van alles soos energie? (Abel se goddelike?)

Is ons nie ook maar net intelligente robotte nie? Ons beheer-program ontwikkel net soos die potensiële driedimensionele drukker sy eie hardeware. Ons liggaam bestaan uit miljoene mikro rekenaartjies (selle) wat met mekaar kommunikeer en 'n tipe rekenaar netwerk vorm. Dit raak aanhoudend ontslae van uitgediende rekenaartjies en vervang hulle met nuwes. Ons noem dit apoptose. As die netwerk verouder, smelt die program twee netwerke saam en uit hulle ontwikkel 'n nuwe netwerk. Ons noem dit voortplanting.

Ons weet so min van ons heelal. Waarskynlik net 7% of minder van heelal bestaan uit waarneembare energie en massa. Die res is sg. "DARK MATTER" en "DARK ENERGY."

Word ons dalk ook êrens "ge-cloud-store"?

Bestaan daar 'n intelligensie met 'n tegnologie wat ons ligjare vooruit is?

Dit bring my by Abel se beskouings oor die goddelike. Hy erken dat nuwe ontdekkings en nuwe denkrigtings in die natuur- en sosiale wetenskappe die basis vorm van sy huidige geestelike ervarings. (Moontlik "The Force" van "StarWars" flieks?) As die goddelike wat Abel tans ondersoek, bestaan, beskik dit oor intelligensie? As dit oor intelligensie beskik, is dit besig om ons te programmeer om ons veilig los te laat op die 93% onbekende, onverkende deel van ons omgewing?

Johan Nel,

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.