.

Wat is Boosheid?

Deur Dr. Piet Muller op 1 Junie 2014

.

M skryf aan Dr. Piet:

Waar ek myself tans bevind op die kronkelpad van geestelike groei of ontwikkeling, vind ek Bishop Spong se boeke inspirerend – ek verwys hier spesifiek na Eternal Life: A New Vision. Sy verduideliking van 'n Godsbeeld – of dan gebrek aan "beeld" maak vir my sin op 'n manier wat ek dit meer spontaan kan internaliseer as net nog 'n definisie of metafoor. Dit slegs as kantaantekening.

Waarby ek deesdae vashaak is die element van boosheid wat ons geredelik kan ignorer in die bevoorregte posisie van 'n beskaafde samelewing en beskermde, liefdevolle familie en gesinslewe, maar ook nie totaal kan wegredeneer wanneer ons van die menslike natuur in wyer verband praat nie? Ek het gisteraand gesit en luister hoe iemand vir wie ek baie omgee, met oortuiging in 'n gesprek die stelling maak dat hy "weet" daar is bose geeste ens ens. Iemand het selfs op 'n stadium die bestaan van die duiwel bevestig – met groot verligting kan ek bevestig dat ek darem al laasgenoemde onder die knie het.

Ek is dus in die proses om te probeer sinmaak uit die vertroostende wete dat alles deur/in/tot God is (the ground of being). Ek is. Hierdie "I am" geld tog vir alle menslike lewe of selfbewussyn. Hoe vergestalt "evil" dan in menslike optrede (behalwe nou sielkundige afwykings of siektes?) Hoe dink jy hieroor?

Dr. Piet se antwoord:

Die Christendom het van sy begin af gesukkel om die bestaan van boosheid te verklaar. Deels omdat die God van die Christendom pure lig en goedheid is, anders as die God van die Ou-Testament wat 'n gebalanseerde mengsel is van goed en kwaad. Daarom sit die Christendom met 'n yslike dilemma: As God almagtig en algoed is, waarom laat hy boosheid en ellende op aarde toe sonder om iets daaraan te doen? Immers, as hy niks aan die boosheid kan doen nie, kan hy nie almagtig wees nie!

Dit is hier waar die duiwel tot redding kom: Hy is die rede vir al die kwaad en aan die einde van die tyd sal God hom behoorlik op sy plek sit. Maar waarom tot dan wag? Hoekom word mense intussen aan die giere en grille van die duiwel oorgelaat?

Die radikale gnostici het 'n ander oplossing gehad. Die God van die Ou-Testament is nie die "ware" God nie, maar slegs die demiurg of Skepper-God, en sy brouwerk is wat die boosheid en ellende op aarde veroorsaak het. Bokant hom is daar die Ware God, die Vader-Moeder van almal. Hy maak die mens bewus daarvan dat daar 'n vonk van die goddelike in elke mens is. Wanneer 'n mens dit eers besef, kan jy begin agterkom hoe dinge in mekaar steek – dit is gnosis, of ware kennis van die hart, wat 'n mens in staat stel om 'n geestelike lewe te lei en uiteindelik uit die kloue van die demiurg te ontsnap en by die Vader-God uit te kom.

Watter een van die twee verklarings die meeste sin maak, indien enige, moet jy maar self besluit. Albei hierdie strominge probeer hard om die monoteïstiese teïsme te red.

In die Middeleeue het 'n Joodse denker, Jacob Luria, die Joodse mistieke stroming, die Kabbala 'n hele ent verder op die pad geplaas met sy siening dat ons 'n prys moet betaal vir die gawe van keusevryheid. Om dit toe te laat moes God homself minder maak, as't ware sy maag intrek, om tydens die skeppingsproses vir die mens se keusevryheid op aarde plek te maak. Daarom dat hy niks kan doen aan die boosheid en ellende wat ons teister nie. God is in werklikheid saam met ons in ballingskap.

Die Boeddhisme het weer 'n heel ander, en meer pragmatiese siening van boosheid. Die Boeddha het geleer dat mense tot die kwaad geneig is weens onkunde en gebrek aan (self-) insig. In die geskiedenis van die Boeddhisme is daar byvoorbeeld die verhaal van Angulemala (sy naam beteken vingerhalssnoer), 'n berugte massamoordenaar, wat die vingers van elke slagoffer afgesny en aan 'n halssnoer om sy nek gedra het. Onder die Boeddha se invloed het hy tot inkeer gekom en 'n monnik geword. Hy het natuurlik al sy dae gehad wanneer hy daagliks gaan kos bedel het in die stad, want dan het die mense hom met klippe gegooi en met stokke geslaan.

Die Boeddha se raad was om die slegte karma, waarvoor hy self verantwoordelik is, gelate te aanvaar. As hy waardig en eties lewe, sal die mense wel later daarmee ophou.

Volgens die Boeddhisme bestaan daar dus nie iets soos "boosheid" as sodanig nie, maar pleeg mense booshede omdat hulle onkundig is en 'n gebrek aan insig het. Dit is natuurlik ook die oorsaak van hul slegte karma en daarom word hulle herhaaldelik weer gebore in hierdie wêreld van pyn en lyding .

Interessant genoeg, het Thomas van Acquino, waarskynlik die Katolisisme se grootste filosoof, in die Laat-Middeleeue to 'n baie soortgelyke insig gekom: Die kwaad is slegs die afwesigheid van die goeie. Daar bestaan dus nie 'n objektiewe "iets" soos boosheid nie.

Hoe groot sy invloed op die Katolieke leerstellings ook al was, het dit nie beteken dat die gewone mense afgesien het van hul geloof in 'n objektiewe "iets" soos boosheid nie. Veral die duiwel het deur die eeue nogal baie aanhangers gehad. In die Ou-Testament is daar slegs vier verwysings na Satan en dan is hy meesal 'n engel wat as God se boodskapper optree. Maar die skrywers van die Nuwe-Testament het in Satan 'n gerieflike manier gevind om hul teenstanders sleg te sê. Hulle het Satan nie net as 'n metafoor gebruik nie, maar het graag hul teenstanders dienaars van Satan genoem het en daarmee aan Satan bestaan en persoonlikheid gegee. Lees gerus Elaine Pagels se goed-nagevorsde boek, The Origin of Satan.

Volgens Jung is die menslike psige die resultaat van 2 miljoen jaar se evolusie vanuit die dierlike staat. Ondanks die goedheid en deernis waartoe die mens in staat is, skuil daar in die kollektiewe onbewuste van die mens steeds dieselfde drifte en instinkte wat by die dier aanwesig is. Ongelukkig stel die mens se groter intelligensie hom in staat om doelbewus wreed te wees, wat die dier nooit sal doen nie.

Dit is hier waar Satan so gerieflik inkom: Selfs die dierbaarste mens weet subliminaal tot watter boosheid hy in staat is. Daarom is Satan so 'n gerieflike projeksie van die mens se inherente boosheid. Solank daar 'n Satan is kan 'n mens sê: "The Devil made me do it." Vir baie mense is die duiwel klaarblyklik 'n vierde been in 'n goddelike viereenheid en raak hulle sigbaar ontsteld as die bestaan van die duiwel in twyfel getrek word. Want dan sal elke mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy of haar eie boosheid.

Dit is veral wanneer 'n mens die bestaan van donkerheid en boosheid in jou eie psige ontken, dat jy maklik die slagoffer van boosheid kan word. Dink maar aan hoe een van die wêreld se oudste Christenlande, Duitsland, in die 20ste eeu in staat was tot ongekende boosheid, soos wat die wêreld nog nie voorheen gesien het nie. Werklik boosheid op 'n industriële skaal.

Anders as die Christendom van die eerste paar eeue, help die moderne, Westerse Christendom nie die mens om bewus te word van sy eie donker kante nie. Die kerk verskaf absolusie en vergifnis (die Rooms Katolieke Kerk) en die Protestantisme predik sedert Luther dat die mens in wese onredbaar sondig is, maar nogtans volkome gered word deur die bloed van Christus.

Nie een van hierdie twee benaderings begelei die mens op 'n reis deur die labirint van sy eie donker binneste na transformasie en heelheid nie. Tog is dit deel van die lewenshuiswerk wat ons almal, van ons middeljare af, moet doen. Hoe meer 'n mens vertroud raak met jou eie donker ondergrond, hoe meer sal jy ook bewus word van "edelstene", in die vorm van karaktereienskappe wat jy nog nooit ontgin het nie, wat tussen jou skadukolle versteek lê.

Maar soos Theseus van ouds het ons ook 'n "leidraad" nodig wanneer ons in die labirint van ons eie binnewêreld instap. Ongelukkig het die kerk, behalwe in 'n handjievol kloosters, hierdie taak grootliks aan die Sielkunde geabdikeer.

Oor hoekom daar in ons eie samelewing so 'n epidemie van boosheid is, bestaan daar 'n groot verskeidenheid sosiologiese redes. Maar dit is 'n tema vir 'n ander dag.

Wat gevalle van "besetendheid" betref, en mense wat die Bose met hul eie oë sien: Ek aanvaar dat sulke dinge ongetwyfeld gebeur, veral in primitiewe gemeenskappe – maar gelukkig net met mense wat aan die bestaan van die Bose en bose geeste glo!

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy nuwe blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.