Wat beteken ‘n eietydse soeke na spiritualiteit?

Deur Dr. Abel Pienaar op 30 Desember 2009

"Ons leef in nuwe tye" sê my dogtertjie nou die dag, toe ek haar iets probeer leer deur 'n storie vanuit my jeug. En sekerlik kan ek haar probeer oortuig dat die beginsels agter dinge dieselfde bly en dat al het ek nie 'n i-pod, selfoon of rekenaar gehad toe ek haar ouderdom was nie ek nog steeds deur dieselfde emosies moes werk as sy.

Maar aan die ander kant sy het 'n punt.

Haar wêreld is anders. Haar uitdagings is groter of eerder vinniger. Dink maar net aan haar blootstelling aan verskillende wêreldkulture, moontlik gemaak deur TV en internet. Ek meen ek het tot gister nie eens geweet waar Bora Bora is nie, sy het! Meer inligting, meer keuses, meer idees, konsepte, opinies ens. My dogtertjie se wêreldbeeld is anders as myne. En ook nie. En net hier ontstaan die konflik binne haar. Want alles rondom haar wys op ontwikkeling en verandering. Maar dan is daar die kultuur en godsdiens onveranderlikes, en dit is in botsing met die realiteit wat sy elke dag beleef. Soveel te meer ons huidige wêreldbeeld (postmodernisties) en die van die pre-moderne wêreldbeeld. Want dit is presies wat mense wat nog glo aan hulle godsdiens wêreldbeeld mee worstel.

Toe...

Al die godsdienste, insluitende die Christendom werk met die drieverdieping kosmos.

Hierdie wêreldbeeld het ontstaan uit wat hulle gesien het. Staan jy op die bopunt van 'n berg, lyk die aarde se oppervlak soos 'n plat skyf wat op die horison eindig. Die lug lyk soos 'n koepel wat op die horison aan die plat skyf raak. Die son word gebore in die ooste, reis met 'n boog deur die lug voor dit in die weste sterf. Die siklus van geboorte, lewe en dood is daardeur verstaan.

Daar is ook waargeneem dat 'n plant se saad op die grond val en 'n nuwe plant word gebore. So het die siening ontstaan dat die oorsprong van lewe en dood onder die aarde verborge is. Omdat mense wat doodgegaan het begrawe is of deel gesien is van die "circle of life" het die geloof ontstaan dat die doderyk onder die aarde gevestig is, en later die hel ook. Die Grieke het hierdie plek die doderyk (Hades) genoem.

Omdat reën, weerlig, son, maan, sterre van bo beleef is het die geloof ontstaan dat die onsterflike gode bokant die wolke in die hemel bly. In die middel was die mense, diere en plante en onder die aarde is Hades, die doderyk, terwyl sondaars in Tartarus, die kelderverdieping van Hades, gestraf of gevange gehou word vir die oordeelsdag. Hierdie prentjie van die hemel, die aarde en die onderwêreld het die Grieke die kosmos genoem: 'n ordelike heelal.

Daar was ook figure wat tussen die drie verdiepings kon beweeg. Die gode het met mense gekommunikeer deur hulle boodskapper Hermes of deur middel van engele (boodskappers, byvoorbeeld in Handelinge 14:12 dink die mense dat Paulus Hermes is.) Drome en visioene waarin die gode aan mense verskyn, was belangrike kommunikasie-instrumente. By Delfi byvoorbeeld kon jy teen betaling 'n vraag aan die orakel vra. Dan het 'n priesteres in 'n geestesvervoering gegaan en met vreemde klanke gepraat en jou antwoord was gewoonlik baie dubbelsinnig, maar jy het goed gevoel want dit is 'n direkte antwoord van die gode.

Die drieverdieping wêreldbeeld is dus die oorsprong van die leerstuk van goddelike openbaring en inspirasie. Wat met mense op aarde gebeur, is direk verklaar as 'n wisselwerking tussen die aarde en die hemel of hel. Siekte kon 'n gevolg wees van 'n demoon (van onder) wat jou ingevaar het. Gevolglik kon siekte ook genees word deur die een of ander goddelike ingryping (van bo). Hierdie insig word antropomorfisme (verwysend na mensvormigheid) genoem. Dit wil sê, gode is niks anders nie as bonatuurlike weerspieëlings van wat hier op aarde aangaan.

Vandag noem ons so 'n tipies antropomorfiese voorstelling van God teïsme. God lyk soos 'n koning in die Midde-Ooste in Bybelse tye: Hy sit op 'n troon (bo in die hemel). Jy moet voor hom kom kniel en hom smeek (bid) as jy iets wil hê. Om sy goeie guns te kry, moet jy hom prys en geskenke (offers) vir hom gee. Omdat hy baie besig is, het hy aan sy regterkant 'n sekretaris (middelaar) met wie jy eers moet praat om 'n afspraak met hom te kry.

Die drieverdieping wêreldbeeld was 'n tyd waar die mens alles gemitologiseer het. Wat is 'n mite? 'n Mens sou 'n mite kon beskryf as 'n reaksie op jou wêreld in storie vorm. Die wêreld word gesien as bedreigend en die mens soek sin. Sin word dan geskep deur menslike ervaring in die bonatuurlike (die boonste en onderste verdiepings van die drieverdieping wêreldvisie) te veranker. Daar is dus goddelike wesens, heldefigure en ander bonatuurlike persoonlikhede in mites. As voorbeeld kan in die Nuwe-Testamentiese beskrywings van Jesus se geboorte uit 'n maagd, die ontvangs van die Heilige Gees, afdaal na die hel, sy opstanding en hemelvaart dus, per definisie, mities verstaan word. En so sou ek kon aangaan om terug te kyk en te verduidelik hoe pre-moderne mense die wêreld verstaan het en sodoende in interaksie gegaan het met hulle weergawe van werklikheid.

Nou...

Ek en my dogtertjie se wêreld lyk egter baie baie anders!

Ons glo verseker nie meer aan 'n drieverdieping wêreld nie. Die aarde is vir ons nie plat nie en daarom is bo en onder relatief. Ons weet van onsigbare kieme en virusse en daarom dink ons nie meer aan siekte as straf van die gode nie. Ons kyk die weervoorspelling op TV en dink nie meer weerlig is God se kwaai stem of reën is sy beloning nie. En 'n weervoorspeller is nie in kontak met die gode nie, hy of sy kry die voorspellings van 'n rekenaarprogram. My dogtertjie lees van vampiere en weerwolwe en ken die verskil tussen mites en feite. Sy weet selfs van die bytjies en blommetjies en glo glad nie 'n storie van maagdelike geboorte nie. En dit in essensie is die betekenis van eietydse spiritualiteit. Om dit wat ons vandag weet, sinvol te kan integreer met dit wat ons van die goddelike geleer het tot nou. Met kwantum fisika wat ons kan help om soveel meer te kan sê oor energie as wat Paulus of Augustinus ooit sou kon bedink of verstaan. Om die waarde van mites van ouds te kan "vertaal" in vandag se verstaan en daaruit te kan leer wat nodig is om ons eie mites beter te kan leef.

Om nou te soek...

Eietydse soeke is om saam met die wetenskaplike model en filosofie, teologie, sosiologie, biologie, antropologie en vele ander logieë geïntregreerd te soek na nuwe verstaan van die goddelike in ons tyd. En met hierdie eietydse verstaan ons werklikheid sinvol tegemoet te loop.

Dit beteken ook dat as 'n mens oor waarheid praat jy versigtig moet wees. Want kop-waarheid en hart-waarheid is verskillend. Met kop-waarheid (wetenskaplike, empiriese, feitlike) en hart-waarheid (simboliese, kreatiewe, poëtiese en emosionele) ervaar ons elke dag se realiteite. Kop-waarheid kan byvoorbeeld kanker opspoor, diagnoseer en behandel maar watter emosies jy beleef as jy hoor jy het kanker kan net hart-waarheid ons mee help. Dus in die soeke na 'n eietydse verstaan van spiritualiteit is dit baie belangrik dat albei waarhede gebruik word om te soek. Daar waar logos (rede) en mythos (simboliese) mekaar ontmoet, daar kom ons naby aan die goddelike!

Natuurlik met die besef, dat ons nooit sal arriveer nie – verandering, ontwikkeling en ewolusie is die pad waarop ons wandel! En dit is die doel van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, die soeke na 'n verstaan van ons sin, ons doel en ons belewenis van die goddelike in die hier en nou.

Marie DeFloris stel dit so treffend as sy sê: "Hunting God is a great adventure."

Kom soek saam, dit is 'n avontuur!

Dr Abel Pienaar

30 Desember 2009 ("If you quote me – date me!")

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za