.

Wanneer die dood ons besoek

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Julie 2014

.

"My lewe het geen betekenis oor nie," sê die vrou oorkant my, terwyl sy in haar handsak rond krap op soek na iets om haar trane af te droog.

"Ek het alles volgens die reëls gedoen," sy kyk na haar hande terwyl sy vir woorde soek, dan gaan sy voort, "...ek was 'n goeie vrou en ma, ek het as 'n Christenvrou presies volgens die Woord geleef ... my man en my kind was dieselfde. Hoekom het God dan so 'n sinlose tragedie toegelaat?"

My hart gaan uit na die vrou voor my. Binne 'n oomblik het sy haar enigste kind en man aan die dood afgestaan. 'n Dronk bestuurder het van nêrens teen die motor waarin hulle gery het gebots, en die bestuurder en haar man en seun is op slag dood. En nou is die vrou alleen oor, gebroke en kwaad vir God.

Wat antwoord 'n mens vir iemand met sulke diep hartseer? Ek meen dit is tog verstaanbaar dat sy kwaad is. En ook dat sy spesifiek kwaad is vir God, of haar verstaan van God.

Want vir haar, net soos vir vele Christene is daar van kleins af geleer dat God in beheer is. En as 'n mens glo in Hom en doen wat Hy vra, sal Hy vir jou sorg en beskerm.

Daar is selfs in die Bybel die belofte van 'n lang lewe vir die wat goeie kinders van God is. In die Ou Testament, Deuteronomium 5 vers 6 sê juis: "Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee."

Ek luister na haar terwyl sy met rousnikke vertel hoe onregverdig alles vir haar is. Versigtig verduidelik ek vir haar dat sy eerder 'n Christen pastoor of sielkundige moet gaan sien, iemand wat soos sy glo en dink.

"Want ek dink glad nie meer vanuit daardie paradigma oor lewe en dood nie," probeer ek aan haar verduidelik.

Sy kyk reguit vir my en antwoord dan berekend, "Ek wil juis hoor wat jy sê! Want as ek nog eenkeer moet hoor 'God het 'n plan hiermee,' of 'Hulle is nou op 'n beter plek' gaan ek ontplof..."

Wel, dan eerste dinge eerste.

Ons sterflikheid is nie 'n maklike saak nie. Dit is verseker traumaties en emosioneel. En geen woorde kan regtig voldoende troos en genesing bring vir iemand wat 'n geliefde aan die dood afstaan nie. Wat nog te sê die hartseer, depressie, ontnugtering en woede wat iemand soos die vrou voor my moes deurgaan. Dit is onbeskryflik intens en pynlik.

Al wat ek wel weet is dat die pyn, angs en verlies natuurlik is.

Dr. Elisabeth Kübler-Ross, wat haar lewe lank met sterwendes gewerk het, sê ook so. Sy gaan verder en sê dat ons almal deur vyf stadiums van verlies gaan: Woede, depressie, ontkenning, onderhandeling en aanvaarding. Sy sê dat ons nie bang moet wees vir hierdie proses nie. Dat elkeen van ons op ons eie unieke manier en teen ons eie pas daar deur gaan. En as ons dit nie teenstaan, ontken of beveg nie, innerlike genesing daaruit sal voortvloei.

Daarom is dit so belangrik dat veral gelowiges, hulleself sal weerhou om met hulle resepmatige antwoorde en uitgewerkte trooswoorde soveel skade te verrig, veral tydens die routyd.

Want kom ons wees eerlik met mekaar, niemand het die antwoorde nie. En niemand kan oor hierdie dinge in feite-taal praat nie, veral nie aangaande die lewe na die dood nie. Want net soos die bestaan van God, is dit ook 'n onbewysbare konstruk.

Maar dit beteken egter nie dat ons niks kan sê oor die dood nie, solank ons net nie probeer maak asof ons die finale antwoord het nie. Dit is en bly slegs 'n poging tot 'n antwoord. Hoogs spekulatief van aard.

Kom ons begin by wat ons wel weet: Almal sterf. Ongeag intelligensie, status, ouderdom of geloofsoortuigings. Ons is sterflike wesens en dit is 'n voldonge feit.

Nou as die dood 'n onafwendbare feit is, is die beste manier sekerlik om daarmee om te gaan, deur dit te erken en vierkantig in die oë te kyk.

Ek meen, indien jou huis se dak sou lek – is die beste manier om dit te hanteer, om dit te erken en dan iets daaraan te doen. As jy maak asof dit nie so is nie gaan jou dak mettertyd ineenstort. Of as jy glo reënfeetjies en kaboutertjies sal dit kom regmaak as jy net hard genoeg wens, is die gevolge nog dieselfde, jou dak gaan eendag ineenstort.

Nee, ons as mens moet weet, net soos geboorte, is sterwe deel van ons bestaan. Hiervan ontsnap niemand nie. Ons moet vrede maak met ons eie en ons geliefdes se sterflikheid.

Een van die mooiste woorde wat ek al hieroor gelees het kom van Ann Druyan, die weduwee van die bekende astronoom en wetenskaplike Carl Sagan:

"When my husband died, because he was so famous and known for not being a believer, many people would come up to me – it still sometimes happens – and ask me if Carl changed at the end and converted to a belief in an afterlife. They also frequently ask me if I think I will see him again. Carl faced his death with unflagging courage and never sought refuge in illusions. The tragedy was that we knew we would never see each other again. I don't ever expect to be reunited with Carl. But, the great thing is that when we were together, for nearly twenty years, we lived with a vivid appreciation of how brief and precious life is. We never trivialized the meaning of death by pretending it was anything other than a final parting. Every single moment that we were alive and we were together was miraculous – not miraculous in the sense of inexplicable or supernatural. We knew we were beneficiaries of chance ... That pure chance could be so generous and so kind ... That we could find each other, as Carl wrote so beautifully in Cosmos, you know, in the vastness of space and the immensity of time ... That we could be together for twenty years. That is something which sustains me and it's much more meaningful. The way he treated me and the way I treated him, the way we took care of each other and our family, while he lived. That is so much more important than the idea I will see him someday. I don't think I'll ever see Carl again. But I saw him. We saw each other. We found each other in the cosmos, and that was wonderful."

Want is die waarheid van die saak nie, dat die oomblik wat jy vrede maak met jou sterflikheid begin jy ook regtig lewe. Presies wat Kübler-Ross ook sê met: "It is when we truly know and understand that we have a limited time on earth, and that we have no way of knowing when our time is up, that we will begin to live each day to the fullest, as if it was the only one we had."

Met ander woorde, om jou hart oop te maak vir die realiteit van die dood, is om in die vloei van die ewige Nou tuis te kom. Dit is tog die enigste plek waar die lewe en die dood se paaie kan kruis; die plek waar alles verdwyn wat kunsmatig en vals is.

Die plek waar ewigheid versmelt in ewigheid. Seker daarom dat Kahlil Gibran sê: "You'll know the secret of death, only if you seek it in the heart of life!" En juis op hierdie punt is dit so hartseer dat vele godsdienste probeer om die realiteit van die dood te probeer ontken deur hulle konstruk van 'n hiernamaals.

'n Sogenaamde hemel en hel konstruk. Waar die mens beloon of gestraf word. En daardeur probeer hulle om die realiteit van menslike begin en einde weg te verklaar. Dit help natuurlik nie.

Ludwig Wittgenstein verwoord dit dalk veel beter as wat ek dit kan stel: "The real question of life after death isn't whether or not it exists, but even if it does what problem this really solves."

Ons moet dus minder fokus op die hier-namaals en meer op die Hier-noumaals. Lewe hier en nou is tog veel belangriker as enige opgemaakte idee van 'n hemel, en hoe om dáár te kom.

Want essensieel is die boodskap van die dood bedoel vir die lewendes, nie die dooies nie. Hulle weet niks meer nie. Die meeste wat ons kan waag om te sê van lewe na die dood is saamgevat in die woorde van Arthur Schopenhauer: "After your death, you will be what you were before your birth."

Ook wat Kahlil Gibran probeer sê met: "For life and death are one, even as the river and sea are one."

Lewe sowel as dood kom vanuit dieselfde bron voort. Noem dit God as jy wil. Noem dit Tao. Noem dit Liefde. Noem dit die wetenskap se sterstof tot sterstof of die kwantum fisika se energie. Die punt is, lewe en dood is dieselfde. Net ons tref 'n onderskeid, seker omdat ons lewe ken maar totaal in die donker is oor die dood. Daarom vrees ons dit. Net soos 'n kind wat bang is vir die donker.

Vrees vir die dood is egter onnodig. Want as jy voluit lewe, in die hier en nou, dan is die dood maar net nog 'n hier en nou. Of soos Mark Twain dit omskrywe as: "The fear of death follows from the fear of life. A man who lives fully is prepared to die at any time."

Mag elkeen van ons vrede maak met ons eie en ons geliefdes se dood, maar nog meer mag elkeen hier voluit lewe terwyl ons nog lewe.

Mag elkeen tot die werklike besef kom dat ons sterstof is en tot sterstof sal terugkeer. Om die ingesteldheid van die Zen meesters te hê met hulle boodskap van: Vind die lewe hier en nou want daar is geen ander plek en geen ander tyd nie. En wanneer ons dit snap word die Nou heilig, ongeag wat jy daar vind. Goed of sleg, vreugde of hartseer, dag of nag, mooi of lelik. En ja selfs al vind jy daar tragedie en dood, selfs dit word dan ook net deel van die ewige Nou.

En dan kan jy soos Edvard Munch sê: "From my dead body, flowers shall grow and I am in them and that is eternity."

Hierby sluit 'n gedig, deur 'n vriend van my, Braam Oberholzer baie mooi aan. Dit is ook die einste gedig wat ek vir die vrou met die groot verlies en hartseer gegee het. Want meer woorde as hierdie gedig oor die dood, grens volgens my aan laster:

Ewigheid

Iewers is dit als verby
en staan jy wat agterbly
vir lank verslae, verstom, verpletter...
Verblind!

Want sien jy my dan nie dwaal
deur die melkweg nie?
En voel jy nie hoe waai
my asem in die winde nie?
Hoor jy nie my fluisterstem
oor veld en vleiland nie?

Jy bly soek my
tussen klip en steen
en jy mis my –
jy mis my
waar ek oor jou reën...

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.