.

Wanneer die dood kom, is jy gereed

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Desember 2017

.

Ons as mens werk met 'n tydskaal van gister, vandag en more. Deur hierdie konstruk probeer ons alles verstaan en verklaar. Want sien as daar 'n gister is ('n begin iewers) moet daar sekerlik 'n einde ook wees, iewers in die toekoms. Hierdie besef maak mense bang.

Hierdie einde se vrees en angs is so oorweldigend dat daar eenvoudig net 'n konstruksie van lewe na die einde moet wees. Enigiets anders as net 'n finale einde. Idees van reïnkarnasie, ewige lewe tot 'n detail uitgewerkte hiernamaals het mettertyd gevolg.

Christene het byvoorbeeld troos gevind in die voor-wetenskaplike konsep van tyd soos dit voorkom in die Bybel. 'n Konsep wat o.a. in Prediker 3 vers 11 na vore kom: "God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd."

'n Bepaalde tyd en 'n onbepaalde tyd. Die bepaalde tyd is gister-vandag-more, en die onbepaalde tyd is anderkant more. En hierdie ónbepaalde tyd' bring vir die mens rustigheid. Selfs 'n troos. Dit is egter nie net uniek aan die Christendom nie, die idees rondom 'n lewe na die dood het 'n lang aanloop.

Baie van vandag se idees kom van die Zoroastrianisme, wat reeds 1000 v.C. ontstaan het. Hulle was van die eerstes wat begin konstrueer het aan 'n 'onbepaalde tyd.' Hulle leerstellings oor 'n sogenaamde lewe na die dood is net so oorgeneem deur o.a. die Christene en Islam. Dit het egter nie hier gestop nie.

Die antieke Egiptenare se oortuigings oor hoe presies die 'onbepaalde tyd' lyk is ook oorgeneem en ingevleg by die moderne verstaan daarvan. Hulle weer het ook geglo daar is 'n ander wêreld anderkant hierdie een. Hulle het geglo daar is 'n boot en bootsman wat die oomblik as jy sterf jou siel oor die Nylrivier neem na die Koninkryk van die Dood.

Daar aangekom sal sekere vrae gevra word en op grond van die reg of verkeerde antwoorde sou die 'onbepaalde tyd' ingegaan word of nie.

Hier het natuurlik 'n verdere ontwikkeling plaasgevind: Waar daar aanvanklik geglo is almal gaan terug na dieselfde plek, is nou ook die 'onbepaalde plek' onderverdeel in goeie en slegte plekke, Hemel en Hel. 'n Fisiese plek van ewige lewe, gegrond op beloning of straf.

Net so is die tradisionele Christelike verstaan van hemel en hel, hiermee saam verweef. En alles natuurlik vanuit die tyd se verstaan van die werklikheid. Maar hierdie geloof in 'n 'onbepaalde tyd' of lewe na die dood wat godsdiens al eeue vir die mensdom bring is (natuurlik) net soos die bestaan van God, 'n onbewysbare konstruk.

En vele mense vind nie meer troos in die antieke, voor-wetenskaplike wêreldbeeld van byvoorbeeld die Bybel, die Koran en baie ander godsdienste nie. Hemel en hel is vir hulle slegs metafore, net so reïnkarnasie en ander sienings rondom 'n 'onbepaalde tyd.'

Dit is asof mense hierdie bonatuurlike spekulasies begin sien vir wat dit is, menslike vrese vir hulle einde. Dit wat Sigmund Freud beskryf het as die oorsprong van godsdienstigheid by die mens. Die behoefte om die vrees vir ons einde te besweer met 'n alternatief van 'n ewige lewe, geen dood.

Maar dit is om van dood iets onnatuurliks te maak. So asof dood 'n straf is eerder as 'n normale en natuurlike deel van elke lewende wese se bestaan.

'n Natuurlik biologiese proses. Die dood is 'n natuurlike deel van die lewe. Sonder dood en die opvolging van geslagte is daar geen ewolusie nie en geen beter aanpassing by veranderende natuur en kultuuromgewing nie.

Ek persoonlik aanvaar my sterflikheid en werk hard daaraan om die idee rondom die 'terugkeer na vanwaar ek gekom het,' te aanvaar. Ek het nog steeds die vrae van hoekom nou? Kon ek nie meer gedoen het nie? Kon dit nie anders gewees het nie? Hoekom soveel lyding?

Die verskil is net nou, dat ek die dood as 'n natuurlike deel van my menslike bestaan aanvaar. Dit maak egter nie die pyn en hartseer minder nie. Ek moet soos enige ander nog steeds deur die pyn werk van die verlies van iemand naby my. Alles in ag genome maak dit vir my nog steeds meer sin om die konstrukte van hemel en hel, soos dit voorkom by die Christene en Moslems, metafories te verstaan.

Daarom is die hel vir my 'n metafoor vir verwerping, pyn, verlies of ego wat my lewe in die hier en nou versuur. En enige emosionele keuses wat 'n mens maak vanuit vrees, is tog hel. Die hemel daarteenoor is 'n lewe waar elke keuse vanuit liefde gemaak word. Dus is 'n lewe vanuit liefde, hemel.

Om dood te wees is nie vir my 'n realiteit terwyl ek lewe nie en die lewe is geen realiteit meer vir die wat dood is nie. Die lewe is bedoel om geleef te word, en wanneer die dood kom (en dit sal) is ek gereed om te gaan.

Dit wat ons in die Tao Te Ching vind. 'n Filosofie van leef in die natuurlike werklikheid, vloei saam met dit wat jy hier en nou vind. Geen spekulasies oor eendag of selfs wat gebeur na hierdie lewe nie. Niemand weet nie.

Daarom fokus veel eerder op hierdie lewe, nou. Volg die raad van Lao Tzu, soos weergegee in vers 16:

Maak jou kop leeg van alle idees
en vul jou hart met vrede.
Neem waar hoe bedrywig die massas is,
maar oordink hulle terugkeer.
Alles in die heelal keer terug na hulle oorsprong.
Hierdie terugkeer is vrede.

Want verwarring en hartseer volg dié
wat nie hulle oorsprong ken nie.
Wanneer jy besef wat jou oorsprong is,
lei dit van nature tot aanvaarding,
toleransie, goedhartigheid en statigheid.

Deurdrenk van die Tao aanvaar jy wat ook al die Tao bring,
en wanneer die dood wel kom, is jy gereed.

Al wat ons oor die dood kan sê is dat dit 'n natuurlike deel van ons bestaan is. Net soos ons gebore is sal ons elkeen ook sterf. Hierdie sterwe is 'n terugkeer.

"Alles in die heelal keer terug na hulle oorsprong. Hierdie terugkeer is vrede..."

Hoekom vrede? Want dit wys na eenheid en harmonie. Presies waarvandaan elkeen van ons kom. 'n Plek van eenheid, ons oorsprong. 'n Toestand van vrede.

In hierdie verstaan verwoord die digter Walt Whitman in sy Leaves of grass dit presies soos ek dit verstaan: "I don't know what follows the death of my body but I know well that whatever it is, it is best for me, and I know well that whatever is really me shall live just as much as before."

Die dood, net soos geboorte is dus nie net natuurlik nie, dit is ook nie iets om te vrees nie. Net te aanvaar. En in hierdie aanvaarding word jy wys, 'n Ware Wyse wat elke oomblik voluit leef, iemand wat liefde hoër ag as vrees en iemand wat weet: "Deurdrenk van die Tao aanvaar jy wat ook al die Tao bring, en wanneer die dood wel kom, is jy gereed."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.