Wandade gepleeg in die naam van die
tradisionele Christendom

Deur Jaco Steyn op 1 Augustus 2010

Mense se godsdienstige en spirituele sienings het 'n bepalende invloed op hul norme en waardes en uiteindelik ook op selfs hul geldsake en intieme verhoudings. Hulle idees oor die eienskappe van hul Godheid bepaal ook gewoonlik die karakter-eienskappe waarna hulle graag sou wou strewe. Só byvoorbeeld strewe baie ywerige Christene daarna om Jesus se manier van dinge doen, na te volg.

Die Bybel is egter deur feilbare mense geskryf en was heel waarskynlik 'n poging om hul gebrekkige verstaan van die Godheid aan ander mense oor te dra. Hierdie gebrekkige verstaan van die Godheid het gelei tot die idee dat God party mense bo ander uitverkies. Dit het noodwendig beteken dat hierdie God "wraakgierig" moet wees omdat hy mense voorwaardelik liefhet. Sy voorwaardelike liefde was beperk tot die Israeliete van die Ou Testamentiese tye en die Christen-gelowiges van die tyd ná Jesus se beweerde kruisdood.

Kan die oorsaak van al die ongeregtighede en lyding in die wêreld hoofsaaklik toegeskryf word aan die invloed van die Duiwel en/of die "sondige natuur van die mens", of gebruik fundamentaliste hierdie argument om hulself en die wandade wat in die naam van godsdiens gepleeg is, te verontskuldig? Het die godsbeskouings en dogmas wat ontwikkel het uit die letterlike verstaan van die Bybel, werklik méér voor- as nadele vir die mensdom ingehou?

Indien die Bybel inderdaad die onfeilbare letterlike Woord van God is, moet daar tog sekerlik genoegsame getuienis wees oor die voordele wat dit vir die mens en sy planeet kan inhou? Of is die Bybel en die idee van 'n Almagtige Skepper God deur magtige belangegroepe misbruik om ander mense te onderdruk en te mislei?

Tradisionele dogmatiese idees oor die Godheid en die natuur van die mens

Die beginsel wat die drie Abrahamitiese godsdienste (die Christendom, Judaïsme en Islam) van die meeste ander godsdienste onderskei, is die idee dat 'n Persoonlike God die wêreld geskep het volgens 'n Plan. Sekere wette en gebooie is aan mense geopenbaar waarvolgens hulle veronderstel is om te lewe. Hierdie God het na bewering aan elke mens 'n vrye wil gegee wat gebruik kan word om te besluit of hulle gehoorsaam of ongehoorsaam aan God se gebooie en verordeninge wil wees. Die mens is egter sondig en kan nie verlos word sonder die hulp van Bo nie. Elkeen van hierdie drie godsdienste het "heilige" geskrifte wat na bewering deur God aan sekere mense geopenbaar is. Hiervolgens word die mensdom in gelowiges en ongelowiges verdeel. Die meeste "gelowiges" glo het dat slegs 'n gedeelte van die mensdom verlos kan word en 'n Ewige Lewe kan beërwe. Die res van die mensdom is vir die Ewige Verdoemenis bestem.

Baie van die "gelowiges" beskou dit as hul plig om "ongelowiges" te probeer oorreed om die gelowiges se interpretasie van hul "heilige" geskrifte as dié Waarheid te aanvaar. Priesters het byvoorbeeld as tussengangers tussen God en mens opgetree. Godsdienste het as gevolg daarvan meer georganiseerd begin word en was dikwels deel van die regeringsinstellings van baie lande. Baie konings en keisers was gedurende die Middeleeue onderdanig aan die gesag van die Pous.

Gelowiges het dikwels geweld gebruik om ander mense te probeer dwing om hul weergawe van die Waarheid te aanvaar. Hierdie wandade kon nie plaasgevind het sonder die geloof in 'n Persoonlike God wat voorwaardelik sekere mense red nie. Dit het dikwels met groot lyding gepaard gegaan.

Baie hedendaagse fundamentaliste glo egter nie meer in die gebruik van geweld as 'n manier om hul Evangelie te verkondig nie, alhoewel die dreigement van 'n Ewige Verdoemenis wel as 'n vorm van sielkundige "geweld" beskou kan word. Ek sal vervolgens twee gebeurtenisse bespreek as voorbeelde van gelowiges se pogings om ander mense te dwing om hul weergawe van die Waarheid te aanvaar.

Rooms-Katolieke vervolg die Albigensiërs gedurende die Middeleeue

Die Geloofsbelydenis van Nicea vorm die grondslag van die dogmas van die Rooms-Katolieke Kerk, die meeste Protestantse Kerke en Charismatiese bewegings. Hiervolgens word geloof bely in (1) die Drie-Eenheid bestaande uit die Vader, Seun en Heilige Gees, (2) die maagdelike geboorte van Jesus en (3) die idee dat Jesus vir mense se sondes gekruisig is. Hervormers soos Martin Luther en Johannes Calvyn het ook hierdie Geloofsbelydenis aanvaar. Daar was egter 'n groep "Gnostiese" Christene gedurende the elfde en twaalfde eeue n.C. wat bekend gestaan het as die Albigensiërs, wat nie hierdie belydenis aanvaar het nie. Hulle het hulself as die "ware" Christene beskou en het geglo dat Jesus na die materiële wêreld gestuur is om sy idees oor spirituele verlossing te verkondig. Hulle het die God van die Ou Testament (die Jode se Jahwe) as die skepper van 'n bose wêreld, afgekeur. Die Albigensiërs is op gewelddadige wyse deur die Rooms-Katolieke vervolg en baie van hulle het op die brandstapel gesterf omdat hulle geweier het om die Katolieke geloof te aanvaar.

Die "War on Terror" en godsdienstige fundamentalisme

Baie mense in Amerika beskou hulleself as Evangeliese Christene en baie van hulle ondersteun die Republikeinse Party in Amerika. Die idee dat Israel die uitverkore volk van die Ou Testament was, beïnvloed nog steeds baie Christene se opinies aangaande die stryd tussen die Joodse inwoners van die huidige staat Israel en hul Moslem-bure. Die fundamentalistiese organisasie Christians United for Israel, propageer skaamteloos oorlog teen Iran op hulle webblad. As gevolg van die tragiese 911 gebeure, die bewerings oor Irak se sogenaamde wapens van massavernietiging en die Christelike geloof van baie Republikeine, het baie Amerikaners hul regering se oorloë teen Afghanistan en Irak onvoorwaardelik ondersteun. Omdat daar dus 'n groter persentasie fundamentaliste in Amerika is as in byvoorbeeld enige Europese land, was dit makliker vir die neo-konserwatiewe drukgroepe in Amerika om hulle buitelandse beleid ten opsigte van die Midde-Ooste meer aanvaarbaar te maak onder die Amerikaanse kiesers. Sien byvoorbeeld die berig Zion's Christian Soldiers.

Die invloed van mense se godsbeskouinge op hul lewenswyses

Die God van die teïste is per definisie as Almagtige Skepper uiteindelik indirek verantwoordelik vir al die pyn, lyding en Boosheid in die wêreld. Hy was na bewering die Skepper van die Duiwel en het die mag om enige oomblik die besluit te neem om 'n einde te maak aan alle Boosheid in die wêreld. Fundamentaliste beweer ten spyte van hierdie beweerde eienskappe van hulle God, dat hulle 'n God van Liefde aanbid. Hierdie skisofreniese eienskap van 'n Persoonlike God móét 'n uitwerking hê op die denkwyses van Sy volgelinge en verklaar die optrede en houdings van baie fundamentaliste. Aan die een kant beweer hulle dat hulle 'n God van Liefde aanbid – 'n God wat nie daarvan hou as Sy skepsels hel toe gaan nie, terwyl hulle aan die ander kant dikwels onverdraagsaam is teenoor bv. gay mense.

Baie gnostici en heidene het verskil van die siening dat God 'n Persoon is buite die mens aan Wie die mens altyd onderdanig moet wees, en het geglo dat elke mens oor die vermoë beskik om 'n direkte persoonlike ervaring met die Godheid te kan hê. Die idee dat sekere mense die Ewige Lewe sal beërwe terwyl andere bestem is vir die Hel, was onversoenbaar met hulle spirituele idees. Baie gnostici was van mening dat alle mense uiteindelik bestem is om "een te word" met die Absolute. Mense wat verkies om selfsugtig en materialisties te lewe, sal egter langer neem om hierdie doel te bereik. Elke mens is verantwoordelik vir sy/haar eie lewe en suiwer denke en goeie dade is belangriker as die geloof in die kruisdood van 'n bomenslike Verlosser.

Gevolgtrekkings

Wat sou die verloop van die geskiedenis gewees het indien die Albigensiërs toegelaat was om in vrede hulle godsdiens te beoefen? Hulle het nie geglo dat mense gedwing moes word om 'n sekere geloof te aanvaar nie. Die westerse koloniale moondhede het dikwels op gewelddadige wyse die Christelike geloof op nie-blanke inboorlinge afgedwing. Hoeveel hedendaagse westerlinge is bekend met die feit dat die heidense gelowe van die blankes se Germaanse en Keltiese voorouers, ook gewelddadig onderdruk is deur die Rooms-Katolieke?

Sou 'n Westerse wêreld wat gebaseer was op heidense of gnostiese norme en waardes, met soveel onverdraagsame ywer probeer het om nie-blankes te koloniseer en hulle inheemse godsdienste te onderdruk? Die kerke het nooit uit hulle pad gegaan om die regerings van die koloniale moondhede te kritiseer betreffende hulle pogings om die minerale rykdomme van kolonies te bekom nie. Kolonialisme het egter die kerke se pogings om die inboorlinge te kersten, vergemaklik en gevolglik het sendelinge en koloniale regerings dikwels saamgewerk.

Volgens tradisionele Christelike dogmas is die mens die kroon van die skepping en is daar 'n duidelike onderskeid tussen God, die mens en die res van die plant- en dierelewe. God het die mens as heerser oor die aarde aangestel om die aarde en al die hulpbronne wat deel is daarvan, te gebruik. Ongelukkig het hierdie lewensbeskouing dikwels gelei tot die kortsigtige bevoordeling van die mens, ten koste van die res van die plant- en dierelewe. Die tegnologiese vooruitgang van die mens het byvoorbeeld dikwels gepaardgegaan met die besoedeling van die aarde.

'n Nuwe Spiritualiteit kan baie leer uit ou heidense en gnostiese waardes en die gevolglike interafhanklikheid tussen mense, diere en plante. Die idee dat die aarde 'n lewende organisme (Gaia) is wat saam met ander lewende wesens moet ontwikkel en evolueer, kan dien as een van die basiese beginsels van 'n nuwe lewensbeskouing.

Bronnelys

1. Volgens Wikipedia noem 76% van Amerika se bevolking hulself "Christene":
http://en.wikipedia.org/wiki/Religion_and_politics_in_the_United_States

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za