.

Waarom ek nie meer Kerk toe gaan nie

Deur Tersia du Plessis op 1 Januarie 2013

.

Ek het grootgeword met Kerk. Elke Sondagoggend. Meestal ook elke Sondagaand. Slegs as daar ernstige siekte was, was dit toelaatbaar om nie Kerk toe te gaan nie. Indien daar om een of ander sondige rede, hoogstens een of twee keer in 'n jaar, wel besluit is om "stokkies te draai" het daardie hele dag 'n vae gevoel van skuldige opwinding geheers. Amper soos as mens skool bunk en bang is jy word uitgevang.

Daar was 'n tyd toe ek as jong werkende, enkellopende persoon nie so gereeld kerk toe gegaan het nie. Die denominasie waaraan ek behoort het, het nie 'n gemeente gehad op die dorp waar ek gewoon het nie, dus moes ek na die buurdorp reis om Kerk toe te gaan. By tye het ek nie 'n betroubare motor gehad nie, en ander kere was die finansies bietjie skraps. Dit het vreemd gevoel om nie gereeld kerk toe te gaan nie. Maar dit was darem nooit weens 'n doelbewuste, rasionele besluit om nie te gaan nie – daar was altyd 'n goeie, geldige rede. Baie kalwers in putte, jy weet.

Later, getroud met 'n goeie, gereformeerde, wonderlike man, het ons as jong getroudes die patroon hervat. Elke Sondag Kerk toe gegaan. En nie net dit nie: soos dit 'n aktiewe lidmaat betaam, was ons oral betrokke. Kerkraad, komitees, jeugwerk. Ons eie kinders het arriveer. Elke Sondag kerk toe. Sit in die moederskamer. Worstel met kruipende kleuters en pratende peuters. Stry teen die vaak as boetie kies om die eerste slaap in 24 uur onder die geklank van Die Woord te doen. Net jammer ma en pa moet dan met die nodige aandag en eerbied luister.

Geleidelik merk ek en my ander helfte op dat daar 'n "discontent" insluip. 'n Frustrasie met die onwilligheid om te verander. Moedeloos met kleinlikheid en koppige weerstand teen enigiets wat 'n klankie van "vernuwend" of "ongereformeerd" bevat. Die ongemaklikheid groei saam met die kinders. Sondag vir Sondag dieselfde rympies.

Ons neem die aardskuddende besluit om die denominasie van ons jeug te verlaat en lidmate van die NG Gemeente naby ons huis te word. Beide ouerpare word konsulteer. Hulle is nie gelukkig met die besluit nie, maar kan dit "verstaan". Op die einde van die dag is dit nie die kerk waaraan jy behoort wat jou red nie.

Die aarde skud toe nie toe ons lidmate van die NG Kerk word nie. Die dienste is anders, die liedere is anders, die mense is dieselfde. Die dominee se preke is anders, maar ook dieselfde. Ons raak weer, soos ons geleer is, betrokke in die gemeente. Barmhartigheid, selgroepe, vrouediens, diakonie. Maak vriende, skakel in, pas in. Kry nie die predikant so ver om by ons besoek te kom aflê, maar dis nie so belangrik nie.

Sodra mens betrokke raak in 'n organisasie kry jy noodwendig meer insae in die swakhede van daardie organisasie ook. Selfs nie "die liggaam van Christus" is hiervan gevrywaar nie. Ons begin wonder of die duisende rande wat op die mooimaak van die interieur van die gebou spandeer word werklik geregverdig is? Daar word Sondag vir Sondag donasies gevra vir 'n dagsorgsentrum in die plaaslike plakkerskamp, maar net die blomme en kerse voor in die kerk sal waarskynlik die hele sentrum se kindertjies vir 'n week voed. Iewers maak iets nie sin nie. Jesus se voetspore loop blykbaar nie vir my en die kerkraad en/of ander lidmate in dieselfde rigting nie. Lyk my Jesus se voete loop na Wellington, maar ons gaan Worcester toe.

Ons raak in die gemeenskap betrokke, en kom tot die besef dat dit 'n flippen stukkende wêreld is. Nie net stukkend nie, sommer goed skeef in alle rigtings. Dit wat van Sondagoggend 9:00 tot 10:30 gebeur en alles daarna tot volgende Sondag 9:00, met die uitsondering van Woensdagaand se midweek biduur van 6-7, is so ver van mekaar verwyder soos London van Timbuktu. Ek bespreek dit met die dominee, want dit krap. En toe sien ek die dominee staan ook maar met een voet in Timbuktu en die res van sy lyf en kop in London.

Ons verdamp stilweg uit die selgroep. Raak al minder betrokke, maar woon nog gereeld eredienste by. Luister aandagtig na elke preek, en soek hoopvol na tekens van ontmoetings tussen prediking en leefwyse by Die Kerk. Sonder veel sukses.

Ek begin op my eie Bybelstudie doen oor die uitsprake van Jesus. Lees 'n wye verskeidenheid literatuur om te probeer begryp waarom die wêreld lyk soos dit lyk. 'n Medegelowige raai my aan om terug te keer na die belydenisskrifte en Die Woord en op te hou vrae vra. Soos 'n goeie en getroue slaaf volg ek die raad. Gewapen met Die Woord (in Engels en twee Afrikaanse vertalings, net om seker te maak), pak ek die belydenisskrifte. Ek soek elke teksverwysing op. En toe slaan die spreekwoordelike popo die spreekwoordelike fan. Met die beste wil en verbeelding, en in opregte geloof, kan ek om lewe of dood nie die verband sien tussen die teksverwysings en die verklarings van die belydenisskrifte nie. As laaste uitweg, by gebrek aan genoegsame teologiese geskrifte, wend ek my na die orakel van die 21e eeu – Google.

Vir die eerste keer in my volwasse lewe kry ek 'n objektiewe insig in die oorsprong van die belydenisskrifte. (Nota aan Die Kerk: verban Wikipedia). Ek wil my leermeesters die voordeel van die twyfel gee dat hulle nooit doelbewus vir my gejok het nie. Hulle het seker ook maar die inligting oorgedra vanuit hulle verwysingsraamwerk, en natuurlik met die heilige doel voor oë om my te red van die poorte van die hel wat ons nie sal oorweldig nie. Dalk, nee, beslis, was ek op 16 te jonk en oningelig om werklik te verstaan waar Die Kerk se geskrifte beslag gekry het.

Terselfdertyd worstel ek aand na aand in my bed met my Bybel op my skoot met Jesus se uitsprake. Soos 'n refrein maal dit "Wat BEDOEL Hy hiermee?" en hiermee, en hiermee en hiermee. Totdat ek uit moedeloosheid besluit genoeg is nou genoeg, en sela en amen.

En toe hou ek op om kerk toe te gaan. Maklik. Ons het net een Sondag nie gegaan nie, en toe die volgende Sondag ook nie, en vir twee jaar nog nie weer nie. Intussen lees ek verskeie mense se verhale van hulle pad weg van die kerk en tradisionele Afrikaanse Godsdiens. Predikante wat nie meer kan predikant nie. Dominees wat nie meer kan Dominee nie. Lidmate wat nie meer lidmaat nie. En ek voel soos hulle voel, en dink soos hulle dink, en toe staan ek nie meer alleen nie.

Dit was meer as twee jaar gelede (mens sou dink dat die datum van bevryding duideliker in die gemoed afgemerk sou wees, maar vreemd, dit is nie.) Aanvanklik het ek die vraag "wanneer laas was julle in die kerk?" van vriende en familie, diplomaties omseil. Deesdae antwoord ek sommer eerlik, "Ek gaan nie meer kerk toe nie." As ek om redes gevra word gee ek dit so eerlik en met soveel sensitiwiteit soos nodig, afhangende van wie die hoorder is. As ek nie gevra word nie, laat ons dit daar. Mis ek Kerk? Geensins. Voel ek ooit uitgesluit / afgesny / eensaam en verlate? Nog nooit.

Interessant genoeg is 'n baie algemene vraag "Wat van julle kinders?" Ek kon nog nie opmerk dat ons kinders meer of minder gehoorsaam is as ons kerkgaande vriende s'n nie. Hulle groei in alle opsigte soos enige van hulle kerkgaande maats, behalwe dat hulle moontlik ietwat dieper nadink oor morele en etiese kwessies. My vermoede is dat die beste manier om hulle eendag as volwassenes weer in die kerk te kry (nie dat ek dit noodwendig wil hê vir hulle nie), is om hulle so ver as moontlik van kerk af weg te hou vir so lank as moontlik.

Noudat ek buite die kerk staan, is dit ook vir my nog meer opvallend dat die meeste kerkmense (wat al my familie en meeste vriende insluit) steeds oor die vermoë beskik om Die Kerk en alle ander aspekte van hulle lewens netjies afgekamp te hou. Kwessies waaroor ek dikwels wonder (wroeg is dalk 'n beter woord), soos "kan ek 'n tuinplant koop vir R340 terwyl my huiswerker met 'n salaris van R1500 'n gesin vir 'n maand moet onderhou" is vir kerkmense vanselfsprekend: "Ek werk hard vir my geld, ek is beter gekwalifiseer, daarom voel ek nie skuldig oor wat ek met my geld doen nie. Ek gee mos vir die kerk." 'n Ander gunsteling is: "Die geld wat ek op luukshede spandeer verskaf werk aan baie mense." O ja, en laat ons nie hierdie argument vergeet nie: "Moenie nie die kerk beoordeel volgens die handelinge van mense in die kerk nie." Hoe MOET ons dan Die Kerk beoordeel?

So, na 'n lang en verrykende reis is ek bevry van Die Kerk. Ek stoei nou my eie pad met God oop. Dis 'n pad sonder Die Kerk, maar met mense. Met baie mense. Mense binne Die Kerk, mense buite Die Kerk, mense wat glo in God, mense wat nie glo in God. En vandat ek nie meer kerk toe gaan nie, Kerk ek heeldag. 24/7. Snaaks hoe ek ondervind dat my gekerkte vriende soms ongemaklik raak omdat ek graag oor God en Sy dinge wil praat as ons Vrydagaand kuier. Sy tyd begin mos eers 9:00 Sondagoggend...

Tersia du Plessis,

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.