.

Waarna Jesus en Boeddha wys

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Augustus 2017

.

"To point at the moon a finger is needed, but woe to those who take the finger for the moon..." het die Zen leermeester D.T. Suzuki op 'n keer geantwoord toe hy uitgevra is of hy dink dat Boeddha 'n god is, of nie.

Die woorde hier bo beskryf presies die moderne mens se worsteling om vir hulle self te dink, veral as dit kom by antieke simbole en metafore oor God.

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, die meeste oorgelewerde geloofsverhale oor enige sogenaamde gode, is uiteindelik net vingerwysing na 'n dieper wysheid. Net soos Suzuki probeer uitwys is geloofsverhale, simbole en metafore daar om ons te inspireer om hierdie wysheid vir onsself te ontdek.

Die hartseer is egter dat min mense regtig die dieper betekenisse verstaan waarheen die gode-simbole eintlik na wys. Meeste staar na die wysende vinger en sien nooit waarheen dit wys nie. Neem byvoorbeeld sommige van die "vingers" wat deur die menslike geskiedenis heen na die "maan" (die dieper wysheid) gewys het. Mense wie se lewe en woorde ander geïnspireer het om iets groters as hulle omstandighede, hulleself en hulle idees raak te sien – maar wat toe sélf die einste mense geword het wat vereer en aanbid is. En so word die vinger raakgesien en nie die maan nie.

Dink byvoorbeeld aan Boeddha en Jesus. By wyse van 'n metafoor sou mens kon sê: Dié twee se lewe was van die helderste vingerwysings na die dieper wysheid. Uiteindelik het Boeddha en Jesus se woorde en lewe egter self die hooffokus geword.

Kyk maar net hoe het Jesus die fokus van die aanbidding en teologie van die kerk geword, eerder as dit waarheen hy gewys het.
Kyk 'n mens dus teen die vinger vas, verloor jy die rigting waarheen dit wys. Jy moet in die rigting kyk waarheen die vinger wys en dan in daardie rigting op reis gaan. Dis tog uiteindelik die doel van die heiliges en die heilige geskrifte van al die verskillende godsdienstige tradisies. Dit was nooit bedoel om historiese feite te wees nie, of bedoel om as sodanig 'n godsdiens of 'n dogma daar te stel nie.

Hulle en hul woorde was daar om mense te begelei op 'n reis van spirituele ontwaking en verligting. 'n Reis wat jou nie na buite iewers neem nie, nee, veel eerder na jou binneste. Of, soos die skrywer en mitologie kenner, Joseph Campbell dit stel: "What is referred to in mythology as 'the other world' is really (in psychological terms) 'the inner world."

Daarom is dit so hartseer om te sien hoe die dogma en leer waarmee verskillende godsdienste hulleself so besig hou, meestal gebou is op 'n verkeerde lees van antieke mitologiese tekste. Tekste soos onder meer die Hindoes se Bhagavad Gita, die Boeddhiste se Sutras, Christene se Bybel en Islam se Koran is almal in hulle oorsprong en wese mitologie.

Wat is die doel van mitologie? Wel, volgens Joseph Campbell: "The first and most essential service of a mythology is this one: of opening the mind and heart to the utter wonder of all being."

Om mense te help om sinvol hulle lewe se dieper betekenis te interpreteer en te verwerk, en om sodoende by die heiligheid van lewe en sterwe uit te kom. Mitologie help ons om iets te probeer snap van die transendente, van die grootsheid én nietigheid van ons bestaan.

Dit is wel interessant dat wanneer ons kyk na die vroeë Christendom (voor Nicea) sien ons dat daar wel Christene was wat nie die verhale oor Christus as historiese feite gelees het nie, maar eerder as mitologie, as woorde en verhale met simboliese waarde.

Hulle is genoem die Gnostiese Christene. Omdat hulle weergawe verskil het van die siening van die ortodokse Christene en ook teenstrydig was met die stellings wat keiser Konstantyn by die kerkvergadering van Nicea gelegitimeer het, is hulle nie net vervolg nie, maar ook stilgemaak, doodgemaak en hulle geskrifte vernietig.

Dit is ongelukkig wat gebeur wanneer mitologie verkeerdelik as geskiedenis of wetenskap gelees word: Iets wat as 'n metafoor bedoel was, word 'n dogma, 'n dogma waarvoor dan gesterf sal word en waarvoor selfs dié wat van jou verskil, vermoor sal word.

Dit is egter insiggewend om te sien hoe anders Gnostiese Christene na God, Jesus en geloof gekyk het. Prof. Elaine Pagels verduidelik dat Gnostici geglo het dat elkeen van ons 'n eerstehandse gnosis/kennis van God kan hê.

Dat ons nie net deur tradisie en kerklike dogmas by God kan uitkom nie, maar dat elkeen van ons die Gees van God binne ons het en dus gesagvol kan getuig oor ons ervarings van God. Valentinus, ook 'n Gnostikus, en sy aanhangers het dit as volg gestel:

"Whoever comes into direct, personal contact with the 'Living One'. They argued that only one's own experience offers the ultimate criterion of truth, taking precedence over all second-hand testimony and all tradition – even Gnostic tradition! They celebrated every form of creative invention as evidence that a person has become spiritually alive."

Met ander woorde, Gnostiese Christene in die eerste en tweede eeu het geglo dat elke mens God kan beleef, sonder die begeleiding van priesters, biskoppe en die kerk. So ook sê Tau Malachi in sy boek Gnosis of the Cosmic Christ:
"The religious person is, as yet, an outsider to the experience worshipped, while the mystic is an insider of the experience worshipped. This well defines the term Gnostic, which means one who knows through direct experience or one who is a knower."

Sodoende word jou direkte belewenis van die goddelike jou rigtingwyser en daarom is nuwe denke, maniere van uitdrukking, poësie en belydenisse aangemoedig. Dit het natuurlik die ortodoksie baie kwaad gemaak, want hulle het geglo slegs die dissipels wat direkte kontak met Jesus van Nasaret gehad het, kon enige waar uitsprake maak. Gnostici het egter geglo enigiemand wat die heilige gees ontvang het kan direk kommunikeer met die 'Lewende Een'.

En oor Jesus van Nasaret het die Gnostici verskeie sienings gehad. Een van hulle sienings was dat hulle direk en self die goddelike kon beleef nes Jesus kon. Jesus was verseker 'n wonderlike voorbeeld. Maar dat hy liggaamlik uit die dood opgestaan het, was nie noodwendig vir hulle waar nie. Hy was vir hulle net 'n vingerwysing.

Jesus het gesterwe maar leef in elkeen se hart as die opgestaande Christus, het hulle geglo. Hierdie opgestaande Christus is 'n geestelike belewenis wat 'n realiteit in jou lewe word.

Daarom sal die Gnostici sê Paulus is 'n Gnostikus, want sy belewenisse van die Christus was deur drome en visioene. Prof. Pagels sê dan ook:
"The resurrection, they insisted, was not a unique event in the past: instead, it symbolised how Christ's presence could be experienced in the present. What mattered was not literal seeing, but spiritual vision ... The disciples themselves often misunderstood what Jesus said: those who announced that their dead master had come back physically to life mistook a spiritual truth for an actual event. But the true disciple may never have seen the earthly Jesus, having been born at the wrong time, as Paul said of himself. Yet this physical disability may become a spiritual advantage: such persons, like Paul, may encounter Christ first on the level of inner experience."

Kom ek stop eers hier.

As ons hoegenaamd die dieper wyshede van enige godsdiens wil ontdek en die waarde daarvan vir volgende geslagte wil behou – om ook sodoende 'n vingerwysing na die dieper wysheid te wees – gaan ons weer mitologie as mitologie moet leer lees.

Anders gaan ons nog 'n geslag hê wat vasgenael sit en kyk na die vinger, sonder om ooit die maan binne hulleself raak te sien.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.