.

Waaraan kan ek vashou?

Deur Dr. Flip Schutte op 1 April 2019

.

Een van die groot vrae van ons tyd waarmee mens dikwels gekonfronteer word, is: Waaraan kan ek vashou? In hierdie tyd van ontnugtering, waar al die vastighede waarmee mens grootgeword het, platgeval het; waar al ons sekerhede ontmasker is; waar al ons meesternarratiewe, paradigmas en lewestabiliserende verhale as fiksie en vervangbaar uitgewys is ... en waar daar nog niks nuuts in plek is om al die ou sekerhede mee te vervang nie; wat het ons om aan vas te hou, of moet mens maar net vrede daarmee maak dat daar geen sekerhede meer is nie?

Hoe kan 'n mens jouself en jou kinders, of jou studente voorberei vir 'n wêreld vol onbekende veranderlikes en radikale onsekerhede wat op ons wag? Daar is 'n radio-advertensie van 'n versekeringsmaatskappy wat sê dat die eerste persoon wat 200 jaar oud gaan word reeds gebore is ... Daardie persoon moet nou vaardighede geleer word wat hom of haar gaan help om in die twee en twintigste eeu en amper tot in die drie en twintigste eeu te leef. Wat het 'n mens nodig om te weet om in die labirint van die lewe te oorleef?

In die afgelope week is die eerste operasie van sy soort in die wêreld hier om die draai in Pretoria-sentraal by die Steve Biko hospitaal gedoen, waar middeloorbeentjies met behulp van 'n driedimensionele drukker gedruk is en suksesvol in iemand se oor ingeplant is. Daar word lank reeds geëksperimenteer om harte, longe, dalk selfs breinlobbe te druk en dan in mense in te plant. Een van die dae druk hulle bene, weefsel en vel, en oor 'n paar jaar van nou af kan hulle dalk 'n hele mens op 'n rekenaar ontwerp, stuk vir stuk uitdruk en in 'n laboratorium aanmekaar sit.

Alles wat eens vas was, is besig om te verander. Niks is meer vir altyd nie ... dalk nog net diamante ... want "diamonds are for ever" sê die advertensie! Kyk wat het van God, geloof en die kerk geword ... en dit was instansies en fenomene wat vir eeue vastigheid verskaf het.

Selfs nog tot so onlangs as 150 jaar gelede het mense geweet hoe werk die wêreld. Jy moes jou tafels en die Bybel geken het, kon lees en skryf, 'n paar gedigte kon resiteer en dan was jy reg vir die lewe. Meeste jongmans het geweet hulle gaan eendag op hulle pa se plase boer. Die minderheid, wat in dorpe grootgeword het, het 'n ambag aangeleer en by die spoorweë, pad-administrasie, 'n enkele myn of twee wat toe al bestaan het of by 'n tipe fabriek gaan werk waar basiese goedere vervaardig is. Tukkies was nou onlangs eers 'n eeu oud. Ek dink in 2008. Voor dit, moes die enkelinge wat wou en kon gaan studeer dit in die buiteland gaan doen.

Daar was sekerhede! Almal het geweet hoe die wêreld werk. In kontras daarmee sit ons vandag met 'n ontploffing van kennis. Ons word feitlik daagliks met nuwe inligting toegegooi ... maar niemand is seker oor môre nie. En al het ons al hierdie kennis, is daar soveel kontrasterende weergawes van die werklikheid dat dit al moeiliker raak om te kan onderskei tussen wat moet ek glo en aanvaar en wat is nonsens (fake news). Ons is 'n muisklik weg van die nuutste inligting oor aardverwarming en die smelt van gletsers, net om op 'n volgende webwerf te lees dat dit dalk als 'n foefie is en dat dit 'n heel natuurlike siklus van koue en warm tydperke is wat mekaar ritmies opvolg. Ons weet wat is die nuutste dodetal in Sirië, wat het Julius Malema gister kwytgeraak, waarmee stoei die arme Theresa May, wat tweet Donald Trump en wanneer Megan Markle se baba kom. En as dit jou nie interesseer nie, kan jy na snaakse kat videos of vinnige resepte op Youtube® kyk.

Waar mense op 'n stadium honger na kennis en inligting was, het ons op die oomblik te veel daarvan. Jy rus niemand toe vir die toekoms, of jy verskaf geen vastigheid en sekuriteit deur iemand met nóg inligting te bombardeer nie. Om te oorleef op hierdie plek en in hierdie tyd, moet jy weet wat om met al die inligting te doen, anders gaan dit jou gek maak. Jy moet kan sif. Jy moet kan krities dink, inligting opweeg, uitgooi, en besluit wat is bruikbaar.

Om vandag te oorleef moet jy vrede maak met die nou-reeds bekende cliché dat verandering die enigste konstante is. Om te wil oorleef en gedy, moet ons onsself inoefen om buigbaar te wees. Ons moet ou patrone kan neersit en bereid wees om met nuwe maniere van dink vorentoe te beweeg. Ons moet leer om ten spyte van goed wat konstant rondom ons verander, emosionele balans te bly behou. Ons het innerlike reserwes van krag en kreatiwiteit nodig. Ons sal moet aanvaar dat ons dalk meer gereeld van beroep gaan verander, dat ons onsself elke nou en dan totaal sal moet herontwerp en van voor af vind en ontdek.

Dis die uitdaging van ons tyd: om jou kind of vir 'n student te leer om die onbekende te omarm en te koester, en om emosionele balans te behou, is baie moeiliker as om vir hulle 'n wiskundige formule te laat inoefen of om aan hulle die oorsake van die Eerste Wêreldoorlog te verduidelik. Mens kan nie veerkragtigheid aanleer deur 'n boek te lees of na 'n lesing te luister nie. Maar jy kan maklik van die bus afval, oorbodig wees, of uitgedien raak, as jy nie veerkragtig is en vol emosionele energie om kort-kort te kan terugbons nie.

Ons is op die oomblik immigrante in 'n nuwe wêreld. Die vierde industriële rewolusie is vir ons nog 'n vreemde plek. Ons het pas hier aangekom. Ons was gevorm vir 'n ander tyd. In die middel van ons dorp het daar 'n groot rooibaksteengebou gestaan, eweredig verdeel in identiese kamers vol rye bankies en stoele. Met die lui van 'n klok het jy saam met omtrent dertig ander kinders wat in dieselfde jaar as jy gebore is, ingestorm. Elke uur het 'n ander volwassene ingestap en begin praat. Hulle is almal deur die staat betaal. Een het jou vertel van die vorm en beweging van die aarde. Die ander het jou vertel van die verlede van die mensdom en 'n derde het jou vertel hoe werk die lyf van 'n padda, 'n erdwurm en 'n sprinkaan. Dis maklik om vir hierdie model te lag. Afgesien van wat dit in die verlede bereik het, is dit vandag eintlik bankrot. Maar daar is nog ook nie 'n volhoubare alternatief nie.

Rekenaars kan vinniger dink as ons en algoritmes kan meer inligting verwerk en sinergeer as ons. Ons storie het verander. Ons paradigma is omlyn met lakunes en stippels. Om te sê "ek weet" is 'n leuen en om te sê "ek verstaan" is 'n illusie. Om nog nie ge-"hack" te wees nie, is genade. Om oral sein te hê, is gebedsverhoring en om nie uit data te hardloop nie, is so goed soos om geen gebrek aan jou daaglikse brood te hê nie.

Ons slaan ons oë op na die berge en ons wonder wanneer gaan Eskom rigting kry sodat beurtkrag kan wyk. Ek het 'n e-pos om te stuur en 'n dokument om te finaliseer. Die labirint waarin ons ons bevind, is 'n moeilike een. Niemand het nog die middelpunt bereik nie. Almal stap nog. Waar mense in die ou tyd hulle lendene omgord het met die waarheid as gordel om die heupe, die vryspraak as borsharnas en die bereidheid om die evangelie te verkondig as skoene aan hulle voete, het ons vir Google as ons waarheid, 'n Cloud account as borsnarnas om ons goed veilig te hou, en 'n paar Solomons aan ons voete, om ons aan die beweeg te hou, want vir groen weivelde en waters waar rus is, is daar nie tyd nie. Dis vorentoe of dis verby. Dis die uitdaging van ons tyd. Geen vastigheid nie. Ons sekuriteit lê in die ritme van voortdurende verandering.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.