Waar soek ons God?

Deur Rothea Kleynhans op 1 Oktober 2010

Ek is nie 'n teoloog nie. Ook nie 'n dominee nie. Nog minder 'n filosoof of 'n akademikus.

Ek is net iemand wat besig is met 'n geloofspad. Die afgelope jaar was daar heelwat beriggewing in die media oor alternatiewe sienswyses rondom geloof. 'n Opmerking is byvoorbeeld gemaak dat Afrikaners, wanneer dit by geloofskwessies kom, gereed is om "uit die kas te klim."

Ek wil dit beaam. Al hoe meer mense wat my pad kruis, dink nie meer soos wat ons gedink het toe ons 30-40 jaar gelede in die katkisasieklas gesit het nie.

Die onlangse gesprekvoering tussen Adrio König en Abel Pienaar in Beeld en Rapport interesseer my veral. Alles het begin met Pienaar se boek Saam op soek na God. Sedertdien is daar oor en weer 'n geskrywery tussen hierdie twee.

König het veral 'n probleem met die verbintenis tussen "soek" en "God". "Pas dit hoegenaamd dat elkeen sy eie God het, is dit dan nog 'God'? Moet daar nie per definisie 'n konstantheid in God wees nie?" En so gaan hy aan. 'n Hele lang berig vol vrae. Vrae is goed.

Verskoon my as ek verkeerd is, maar dit wil vir my lyk of König 'n baie duidelike prentjie van God het. Hy blyk ook baie seker te wees dat God reeds "gevind" is. Of soos hy in 'n vorige skrywe verduidelik het, dat God ONS gevind het. Nou my probleem lê by hierdie twee woorde "soek" en "God". Soos ek Pienaar verstaan, is hierdie "soeke" nie 'n soektog na iets wat weg of verlore is nie. Ek sien die "saam soek op God" as 'n metafoor van iets veel meer. Dit is tog belaglik om te dink dat Pienaar en die mense wat soos hy dink werklik, by wyse van spreke, met 'n flitslig op soek is na God. Ek dink hulle "soeke" lê meer in presies sulke vrae soos wat König hier opper. Na saam besin oor die goddelike in ons daaglikse realiteit. Wat maak sin in die hier en nou?

Die God wat aan ons op skool verkondig is, het 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Want glo my, dít wat my pa as NG-predikant gepreek het, het anders geklink as die preke wat ons vandag vanaf 'n NG-preekstoel sal hoor. Iets het mos dan verander? Dan is dit mos te verstane dat 'n mens moet besin, moet "soek". Hoe moet ons nou hierdie "God" verstaan wat baie duidelik anders tóé aan ons voorgehou is, as nou.

Daardie God het byvoorbeeld groot vrede met apartheid gehad. Daardie God moes soldate wat nog kinders was, in die Bosoorlog beskerm, terwyl baie Swapo-lede ook saans uit hul Bybels gelees het. 'n Paar dekades later is dit ondenkbaar om God aan "apartheid" te koppel. En vandag kyk ons met ander oë na die Bosoorlog, wat ons toe, saam met God, van die Rooi Gevaar moes red.

In 'n onlangse onderhoud met 'n paar mansstudente, was ek verras om hul sienings oor God te hoor. Volgens die NG-kerk dogma, gaan hulle almal hel toe. Want die NG-kerk verkondig steeds die oordeel van God aan diegene wat nie Jesus Christus as die enigste weg tot Saligheid sien nie. En die ewige verdoemenis is vir hierdie sulkes beskore. Vir altyd en altyd.

Nou sien, hierdie ding klop nie met die prentjie van hoe ek die goddelike in my lewe ervaar nie. Dit maak net eenvoudig vir my nie sin nie. Indien ander mense vrede daarmee het, kan ek nie met hulle stry nie. Solank dit vir hulle sin maak, is dit reg.

Maar regtig, die kerkleiers moet weet dat baie gewone Afrikaanssprekendes steeds gelowig is, maar dalk net "anders" glo as wat mense geslagte gelede geglo het.

Nou wil ek weet? Gaan hulle almal hel toe? Gaan hierdie God hul opregte worsteling met die goddelike net eenvoudig van die tafel afvee. Sien dit verstaan ek nie.

Die dilemma is, ons weet nou soveel meer. Ons weet dat 'n baba nie uit 'n maagd gebore kan word nie. Ons weet dat iemand nie in die lug kan opvaar nie. Ons weet dat mense van vlees en bloed besluit het watter boeke in die Bybel moet kom. Ons weet dat kosbare geskrifte soos bv. die Evangelie van Thomas, willens en wetens uit die Bybel uitgehou is.

Nou moet ons al hierdie nuwe inligting net ignoreer en steeds bly glo soos 30-40 jaar gelede. Wel, ek het glad nie 'n probleem met mense wat hierdie keuse maak nie. Maar ek kan nie. Dit is egter nie te sê dat ek nie steeds kan getuig van God se werking in my lewe nie. En dit is nie te sê dat 'n maagdelike geboorte as metafoor geen waarheid vir my inhou nie. Die beeld van Jesus wat opgevaar het na die hemel hou vir my steeds 'n besondere betekenis in. Maar dat dit regtig, egtig gebeur het ... Aikona!

Hierdie debat oor "soek" en "God" mis na my mening heeltemal die punt. Gelowiges wat nie kan glo soos hulle geleer is nie, is meestal bewus van die Groot Misterie in hul lewens. Hulle hoef dit nie te "soek" nie. Hulle weet dit is daar. Hulle is ook nie besig om iets te "skep" wat by hulle denkwyses sal pas nie. Hulle sit net met 'n klomp nuwe feite en wonder hoe hulle dit met die "goddelike" wat hulle in hulself en rondom hulle waarneem, kan versoen.

Dit is maar al.

Rothea Kleynhans is 'n vryskut-joernalis. Sy het 'n besonderse belangstelling in religie en spiritualiteit. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za