Waar kom my waardes vandaan?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 November 2011

"Watter godsdiens beoefen jy?" word ek onderbreek deur 'n emosionele jong student. Dit was tydens 'n aanbieding van my by 'n groep filosowe in Stellenbosch. Hy vra die vraag na aanleiding van my opmerking dat elkeen van ons self moet besluit wat vir ons belangrik is en self vrae moet beantwoord soos: Wat is moreel en wat is eties? Watter waardes is vir ons ononderhandelbaar en watter nie?

Die student het sterk gevoel dat sonder godsdiens die mens maar net soos 'n dier is. Hy glo dat slegs godsdiens die mens waardes en deugde kan gee. Daarsonder sal die "wêreld in totale chaos verval..." sê hy met baie drif voor hy skielik gaan sit.

Die vraag wat hieruit voortvloei is natuurlik, is mense sonder godsdiens (in die geval van die student, Christen) totaal barbaars en sonder enige waardes? As iemand byvoorbeeld sy geloof verloor, word hy dan ook ewe skielik oneerlik in sy verhoudings en werk, of begin hy mense besteel, verkrag of vermoor? Want dit is wat die student se vraag impliseer.

Die feit dat ek my geloof verlaat het, het tog nie gemaak dat ek my integriteit verloor het nie. So, moreel gesproke het godsdiens eintlik net mooi niks verander aan my waardesisteem nie. Ek ken ook baie mense wat aan geen godsdiens of geloof behoort nie, en wat van die mees edele waardes in hulle lewens handhaaf. Net so is daar baie godsdienstige mense wie se waardesisteem so onbeduidend is dat dit nie eers in hulle lewens sigbaar is nie.

Die vraag – speel godsdiens enige rol in mense se waardes en norme? – is daarom 'n geldige vraag.

Dat waardes verseker nie net te danke is aan godsdiens nie, is tog voor die hand liggend. Daar is baie faktore wat 'n rol speel in die vorming van 'n mens se waardesisteem. Dink maar net aan 'n paar voorbeelde soos DNA, kultuur, omstandighede, beïnvloeding deur rolspelers: ouerhuis, die skool, die samelewing waaruit jy kom. En ja verseker speel godsdienstige indoktrinasie ook 'n rol daarbinne, maar verseker nie die enigste nie.

"Human well-being is not a random phenomenon. It depends on many factors – ranging from genetics and neurobiology to sociology and economics." So skrywe die Amerikaanse neuroloog Sam Harris in sy nuwe boek, The Moral Landscape. Ek stem natuurlik heelhartig met hom saam. Hy gaan verder en sê dat godsdiens, volgens hom, in 'n groot mate gefaal het as waardeskepper:

"The problem with religious morality is that it often causes people to care about the wrong things, leading them to make choices that needlessly perpetuate human suffering. Consider the Catholic Church: This is an institution that excommunicates women who want to become priests, but it does not excommunicate male priests who rape children. The Church is more concerned about stopping contraception than stopping genocide. It is more worried about gay marriage than about nuclear proliferation. When we realize that morality relates to questions of human and animal well-being, we can see that the Church is as confused about morality as it is about cosmology. It is not offering an alternative moral framework; it is offering a false one."

Aansluitend hierby dink ek, dat as 'n mens iemand (byvoorbeeld) nie doodmaak nie, bloot omdat hy/sy bang is vir die straf van hulle God, het so 'n optrede eintlik niks met morele waardes te doen nie, maar word so 'n besluit beheer deur vrees.

En aan die ander kant, as 'n mens goed doen en voorbeeldig leef, net omdat jy eendag beloon wil word met die hemel, doen so 'n mens eintlik ook geen goed nie, want sy of haar optrede word gedryf vanuit eie belang, en nie uit morele oortuiging nie!

Godsdiens kon ons dalk in die verlede gehelp het om deugde en waardes beter te verstaan omdat dit in die kerk so aan ons verduidelik was, maar dit was nooit die kerk se alleenreg of skepping nie. Die byvoeglike naamwoord van "Christelik" of "Moslem", as voorbeeld, in die term "waardes" sê eintlik ook mooi niks, want nie een morele waarde is eie of uniek aan enige spesifieke godsdiens nie.

Alle waardes bestaan buite godsdienste ook. En hierdie waardes is veel ouer as byvoorbeeld, die Christendom. Die Christendom het dit bloot oorgeneem; het dit "vertaal" en dit deel van hulle geïnstitusionaliseerde sisteem gemaak.

So, of jy nou aan 'n spesifieke godsdiens behoort of nie, dit kan jou nie keer om respek te hê vir ander mense of vir die lewe nie. Dis nie godsdiens wat maak dat jy liefde hoër ag as haat, of dat nederigheid vir jou 'n beter deug is as hoogmoed nie, of dat geregtigheid vir jou belangriker is as onregverdigheid nie.

Selfs jou spirituele groei vind nie net binne jou godsdiens plaas nie, maar is soos moraliteit eintlik gesetel binne jouself. Die Duitse digter en skrywer Hermann Hesse (1877-1962) beskryf dit akkuraat as hy sê: "There is no reality except the one contained within us. That is why so many people live such an unreal life. They take the images outside them for reality and never allow the world within to assert itself."

Uiterlike wette, reëls, belonings en strawwe is dus eintlik net 'n verwysingsraamwerk, rigtingwyser, metafoor en simbool na jou eie innerlike waarheid. Seker daarom dat Hesse so sterk gevoel het dat "The true vocation of man is to find his way to himself." Elkeen se Ware Self is geanker in die waarheid van liefde.

En as jy dan die formele godsdiens agterlaat, soos ek gedoen het, verander dit eintlik min in wie jy is en hoe jy leef. Want wie ek is, is veel meer my innerlike kern, as wat dit gaan oor in watter godsdiens ek my bevind.

In die boek van die Franse filosoof en ateïs André Comte-Sponville met die titel: The Little book of Atheist Spirituality, skryf hy juis oor sy belewenis van spiritualiteit sonder godsdiens. Daarin skryf hy 'n gedeelte oor hoe spiritualiteit vir hom nie iets is wat met godsdiens te doen het nie, maar hoe dit 'n ervaring is van sy eie teenwoordigheid in hierdie wêreld. Hy vertel op 'n treffende wyse hoe hy ervaar het hy word deel van die groter geheel en hoe hierdie bewussyn 'n spirituele ervaring vir hom was.

'n Goeie en sinvolle samelewing is volgens my, 'n samelewing waarin die innerlike werklikheid uitvloei in uiterlike deugde en waardes soos: liefde, deernis, medemenslikheid, verdraagsaamheid, oopheid, vertroue, kreatiwiteit, die skepping van welvaart, vriendelikheid, regverdigheid, en ander klassieke menseregte wat die ideaal is van 'n vreedsame demokrasie. Binne bepaal buite.

Die "goeie" hou dus direk verband met innerlik konneksie met jou "goeie". Die "goed" is klaar daar, ons het net vergeet dit is daar. Ons het los van ons eie waarheid begin lewe en sodoende slawe geword van ons begeertes en drange. Marianne Williamson beskryf dit, "In our natural state, we are glorious beings. In the world of illusion, we are lost and imprisoned, slaves to our appetites and our will to false power."

'n Morele lewe, kan dus opgesom word as 'n lewe in lyn met jou innerlike waarheid. Meer nog as 'n innerlike en uiterlike wat in lyn is (of in Mohandas Gandhi se woorde, "...when what you think, what you say, and what you do are in harmony") – is die vreesloosheid om dit te leef!

Moraliteit is 'n eerlike en innerlike oortuiging wat eerlik en openlik geleef word. En elkeen moet self die keuse maak. Niemand kan vir jou instaan of namens jou dit doen nie, selfs nie enige offers van sogenaamde gode nie. Jy moet kies. Jy moet dit leef.

So, terug by die student wat my onderbreek het met die vraag: "Watter godsdiens beoefen jy?" Wel, ek antwoord dit met Gandhi se woorde:

"I reject any religious doctrine that does not appeal to reason and is in conflict with morality." En dit is my oortuiging wat ek probeer leef. Dit is my innerlike waarde-kompas!

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za