.

Waar is die kerk se sosiale geregtigheid?

Deur Bettina Wyngaard op 1 April 2019

(Soos gepubliseer op Litnet.)

Elke nou en dan moet organisasies bestek opneem van waar hulle staan, en waarheen hulle op pad is. Besighede hersien hulle visie en missie.

Burgerlike organisasies kyk of hulle nog relevant is, 'n verskil maak aan mense se lewens en die regering verantwoordbaar hou vir vergrype. Vrywilliger-organisasies stof hul grondwette af en kyk na hulle ledetalle.

Of hulle dit wil erken of nie, is ook kerke vrywilliger-organisasies, en al meer lede is nie meer gewillig om te behoort nie. Anders as by burgerlike organisasies organiseer kerklede nie plakkate en optogte en toi-toi nie. Nee, hulle stem met hul voete. Sommiges kies om te skuif van tradisionele kerke na meer charismatiese gemeentes. Die meeste kies om heeltemal buite georganiseerde godsdiens om te beweeg – nie sonder rede nie.

Die Katolieke Kerk is in sommige lande op die rand van bankrotskap as gevolg van hofsake wat voortspruit uit priesters se misbruik van kinders en die kerk se toesmeerdery. Met sommige charismatiese kerke is dit volwasse vroue wat misbruik word. Of geestelike leiers kan nie hul vingers uit die geldlaai hou nie.

Die meeste mense wat die kerk verlaat, kies om dit om ander redes te doen. Die voorbeelde hierbo genoem, beeld duidelike kriminele oortredings uit. Tog is daar in elke gemeente groot getalle kerkgangers wat kies om die geestelike leier te ondersteun en die klaers soos uitgeworpenes te laat voel. Dis hoekom so baie vergrype so lank aanhou. Dié wat weet, moet kies of hulle ook hul geestelike familie wil verlaat wanneer hulle die leier beskuldig.

Hoe gemaak as die kerk immoreel optree deur landswette te gehoorsaam en daardeur onreg versterk? Die beweging wat Jesus gevolg het, was nooit bedoel om die status quo te ondersteun nie. Inteendeel, die doel was om 'n morele doring in die korrupte leiers se lewens te wees. Dalk daarom dat die dissipels se grootste teenkanting van die gevestigde kerk gekom het.

Gedurende apartheid was dit maklik vir kerke met 'n sosiale gewete om sigbaar protes aan te teken en aktief die status quo te onderbreek. Die Anglikaanse Kerk byvoorbeeld het 'n geskiedenis van priesters wat hulself voor stootskrapers ingegooi het om te keer dat die regering huise platstoot, soos David Russell. Trevor Huddleston het in Sophiatown 'n gerekende anti-apartheidsaktivis geword juis rondom die gedwonge verskuiwings van gemeenskappe. Of dat hulle die regering kritiseer het, en die regering hulle met briefbomme probeer vermoor het, soos met Michael Lapsley gebeur het. Desmond Tutu se aktivisme het hom die Nobelprys besorg. Kerkeiendom is gebruik om aktiviste te versteek wanneer hulle vir die polisie gevlug het. Die kerk het 'n morele besluit geneem om geregtigheid na te volg, selfs wanneer dit tot verbreking van landswette gelei het.

Aan die ander kant was daar die NG Kerk, wat gekies het om die apartheidsregime in stand te hou deur politieke besluite met die Bybel te ondersteun. Die skade wat daardie besluit die land en die oorgrote meerderheid landsburgers berokken het, kan nie bereken word nie. Die NG Kerk betaal nou nog die prys, in verminderende ledetalle en wantroue van lidmate en buite die kerk om. En selfs nou nog kies hulle telkemale om eerder te onderdruk as op te bou.

Nou is dit 2019, en die eertydse onderdruktes is nou in beheer. Juis nou, in die aanloop na 'n verkiesing, is dit relevant om te vra waar die kerk vandag staan. Hoekom was die kerk grootliks tjoepstil in die Zuma-jare? Wanneer daar wel reaksie was, was dit laat en baie lae-profiel. Die kerk se funksie as "speaking truth to power" het tog nie verval nie. As die waarheid gefluister was, was dit so sag dat niemand, insluitend dié in magsposisies, dit kon hoor nie.

Hoekom is dit in aanloop tot die verkiesing relevant? Politici onthou nou skielik dat hulle eintlik kerkgangers is, al was hulle met die vorige verkiesing laas in 'n plek van aanbidding. En kan hulle asseblief die gemeente toespreek?

Ons almal weet geestelike leiers het ook politieke voorkeure. As hulle dan die altaar beskikbaar stel vir een politieke party, behoort hulle dit nie ook te doen vir al die ander nie? Of is die korrekte morele posisie om eerder weg te bly van politieke uitsprake, veral as jy as gemeente jou nie sterk teen ongeregtigheid uitspreek nie, of nog erger, as jy deur jou optrede binne of buite die kerk ongeregtigheid toesmeer?

Getalle in kerke mag aan die afneem wees, maar die mag wat leiers uitoefen oor die oorblywende gemeentelede, is onveranderd. Al meer word daai mag gebruik om leiers te verryk eerder as gemeenskappe te verander.

Die gevolg? Irrelevante kerke en immorele gemeenskappe. Ons maai wat ons saai. Hierdie verkiesing gaan 'n bumper crop wees van politici wat nie omgee vir hul kiesers nie. En die kerke, dieselfde kerke wat voorheen vir geregtigheid gestaan het, is hierdie keer weifelend, skoorvoetend om hul nek vir geregtigheid uit te steek.

Dieselfde aktiviste wat destyds gevlug het en versteek was, is nou in beheer. Dit moet moeilik wees om te sien hoedat ideale verwring word deur haat of gulsigheid of magsbeheptheid. Dit gebeur. Die kerk se taak was nog altyd om afstand te hou van mag af en daardie afstand te gebruik om perspektief te behou.

Net soos wat die NG Kerk destyds te na aan die apartheidsregering was, is die liberale kerke nou te na aan hierdie korrupte regering.

Kom ons hoop hulle maak die nodige koersverandering voordat hulle ook in irrelevantheid verval en in die proses 'n nasie vernietig.

Bettina Wyngaard is 'n Overbergse skrywer, dromer en aktivis. Haar debuutroman, Troos vir die gebrokenes, word in 2010 met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon. Haar tweede boek, Vuilspel, is nou beskikbaar.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.